Is daar ʼn verband tussen ekonomiese groei en die politieke stelsel?

sukses-notas-aantekening

Dit blyk dat daar geen politieke stelsel is wat ekonomiese voorspoed vir ‘n land se burgers kan waarborg nie. Foto: Rawpixel/Pexels.com

Hierdie vraag is ʼn meta-onderwerp waarop daar geen klinkklare antwoorde bestaan nie. Daar is verskeie teorieë wat kortliks aangestip word asook sekere breë bevindinge.

Daar bestaan die liberale, Westerse ontwikkelingsmodel waarvolgens politieke liberalisering oftewel demokratisering en ekonomiese liberalisering wat groei en voorspoed veroorsaak in ʼn tandem beweeg, m.a.w. hulle beïnvloed mekaar en beweeg onstuitbaar vorentoe. Hoe meer politieke vryheid, hoe meer ekonomiese vryheid, hoe meer voorspoed, hoe meer politieke vryheid, ensovoorts. As voorbeelde word veral die geskiedenis van die Weste geneem, waar die teorie wel ʼn groot mate van geldigheid het.

Historici soos David Thompson in sy groot werk, Europe since Napoleon, vergelyk die verskillende Europese state van Europa in veral die 19de eeu met mekaar, en sien ʼn duidelike verband tussen politieke en ekonomiese ontwikkeling. Engeland, wat ʼn oeroue demokratiese tradisie het (ongeag die monargie), was ook tegnologies en industrieel die mees gevorderde een, gevolg deur België, Nederland (eweneens met ʼn goed gevestigde demokrasie onder ʼn verligte, grondwetlike monargie) en Frankryk.

In almal was die burgerstand, die klas wat geld gehad het en ondernemend was, asook polities meer verlig was as die adel, goed gevestig. Lande soos Pruise, die Habsburgse Ryk en nog meer Rusland met hulle absolute monargieë en sterk adelstand was ook ekonomies ver agter, met veral ʼn landbou-ekonomie en argaïese vorme van eienaarskap (feodalisme), om van lande soos Spanje en Portugal of die Balkanlande nie eens te praat nie.

ʼn Hedendaagse voortsetting van dié teorie sou ʼn mens kon vind in Francis Fukuyama se veelbesproke boek, The End of History and the First Man, wat kortweg sê dat, ná die einde van die Koue Oorlog en die val van kommunisme, Westerse demokrasie en die vrye mark wêreldwyd die aanvaarde en gevierde model geword het en tot algemene vrede en ekonomiese voorspoed lei. Ook Daron Acemoglu en James Robinson met hulle boek, Why Nations fail, volg ʼn vergelykbare benadering, wat ʼn baie sterk klem op die ontwikkeling van instellings plaas en geografiese ligging, kultuur en politieke leierskap as onbelangrik ag. Hoekom gesonde instellings egter veral in Westerse lande of lande onder Westerse invloed, soos Japan en Suid-Korea, ontwikkel het, word nie verduidelik nie.

As ʼn mens kyk na Oos-Europa (oftewel die lande wat nou deel van die EU is) wat kommunisme agtergelaat het, gedemokratiseer het en ná ʼn tydperk van aanpassing en krisis intussen goed vorder en ontwikkel en ingetrek is in die EU, mag dit voorkom asof die model algemene geldigheid het.

As ʼn mens verder oos kyk, na Rusland en die voormalige deelstate van die Sowjetunie, dan het die teorie geldigheid in die sin dat daar ʼn gebrek aan politieke vryheid en demokrasie saamgaan met ʼn sukkelende en wisselvallige ekonomie. Dit bly ʼn hoendereiervraag oor wat eerste kom, politieke demokratisering of ekonomiese liberalisering. In die ou Sowjetunie het Mikhail Gorbatsjof inderdaad al twee gelyk probeer (Perestroika, die ekonomiese hervorming, en Glasnost, die politieke opening) en terwyl demokratisering soos ʼn veldbrand versprei en kommunistiese strukture vinnig verkrummel het, was die ekonomiese sukses gemeng gewees en het dit heelwat langer gevat.

Nog verder oos, in Asië, beleef ons juis die teendeel van die teorie, naamlik vinnige ekonomiese groei en modernisering sonder politieke hervorming, soos wat dit in ʼn onlangse artikel in The Economist beskryf word. Sjina is die beste voorbeeld, met ekonomiese groei van meer as 8% al vir amper twee dekades en geen einde in sig nie, terwyl die kommunistiese party nog steeds ʼn ystergreep op die land het en geen demokratisering plaasgevind het nie. Soortgelyk is die geval van Viëtnam, Laos en Kambodja, almal kommunistiese of outokratiese lande met merkwaardige ekonomiese groei en modernisering.

Daar is ook gevalle waar ʼn minder demokratiese bewind selfs beter vir ekonomiese ontwikkeling was as ʼn demokratiese een. Dink aan die ou Suid-Afrika met sy sterk ekonomiese groei onder die NP teenoor die nuwe Suid-Afrika onder die ANC met sy resessie of beperkte groei. Ook Chili onder die diktator Pinochet of Spanje onder Franco het ekonomies uitmuntend presteer. In Afrika is dit outokratiese lande soos Rwanda, Egipte en Ethiopië wat ekonomies die meeste groei en die “modeldemokrasie” van Afrika, Suid-Afrika, sukkel.

Dit wil nie sê dat ʼn outokratiese bewind beter is vir ekonomiese ontwikkeling as ʼn demokratiese een nie. Dit sê wel dat bogenoemde teorie nie universele geldigheid het nie.

Waar daar ʼn sterk burgerstand of middelklas bestaan, is dit beter om hulle polities en ekonomies vrye teuels te gee, iets waarop talle Westerse lande se sukses gebou is. Waar daar egter geen middelklas bestaan nie en waar demokrasie tot die heerskappy van die arm massas ontaard, is outokratiese beheer soms beter vir ekonomiese ontwikkeling.

Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat ekonomiese groei en ontwikkeling min met die politieke stelsel te doen het, maar eerder met volke en rasse se ingesteldheid, dissipline en vaardighede. Dit is natuurlik ʼn gevaarlike (en ook aanvegbare) verklaring wat, al word dit wetenskaplik begrond, baie vinnig die etiket van rassisme en meerderwaardigheid kry en waaraan die meeste wetenskaplikes, en nog minder joernaliste en skrywers, nie eens wil vat nie.

Die ekonomiese stelsel het wel ʼn effek op die ekonomiese ontwikkeling. Nog geen land kon met ʼn kommunistiese ekonomiese stelsel (plan-ekonomie) vooruitgaan nie, nóg Oos-Duitsland, Sjina en die Sowjetunie en vir seker nóg minder Kuba, Mosambiek of Viëtnam. Demokratisering alleen lei egter nog nie tot voorspoed nie.

Daar is eenvoudig nie een teorie wat ekonomiese voorspoed klinkklaar kan verduidelik nie, en vir ʼn gevallestudie wat een teorie staaf, is daar ʼn ander een wat dit weerlê. Elke land moet op sy eie bestudeer word en dan sal daar verskillende bydraende faktore gevind kan word, soos politieke deelname, goeie bestuur, goeie werksetiek, kulturele faktore, sterk instellings en geografie, maar ook historiese gebeure.

Dit help ook om elke vasteland of streek wat darem breedweg ʼn vergelykbare kultuur, historiese wedervaring en geografiese ligging het op sy eie te bestudeer. Dit is makliker om byvoorbeeld afleidings te kan maak waarom Botswana suksesvol is maar nie die DRK nie, as om Taiwan met Madagaskar en Denemarke met Paraguay te wil vergelyk.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Nico K ·

Goeie artikel. Dit is so dat Sjina sonder demokrasie ekonomies groei. Maar dit is omdat daar redelike ekonomiese vryheid is. Karl Marx se teorie dat die mens sal werk al word hy nie daarvoor beloon nie, was duidelik verkeerd. (Nie dat ‘n ekonomie nie staatsinmenging nodig het nie, maar binne perke.) En ja ‘n outokrasie kan goed wees vir ‘n land, (sien Hobbs se teorie) as jy ‘n goeie oukraat aan bewind het. Maar hoe bepaal jy dit vooraf en wat doen jy as jy sien die regeerder verryk net homself. Jy kan nie van hom ontslae raak nie! So in praktyk bly demokrasie, (met al sy nadele) die enigste model wat ek wil hê.

John ·

Alles verlede-tyd-konsepte en daar is nie ‘n terugkeer moontlik nie want die appel is reeds tot in die kern besoedel. Selfs die Jode het op ‘n kol hul naaste se vleis geeet al was hulle almal van dieselfde gene. Hogere waardestelsels en edele bedoelings is woorde in woordeboeke of stories langs kampvure…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.