Is daar nog beskaafdheid in ʼn internet-era?

internet-tabletrekenaar-koffie

Foto: Karolina Kaboompics/Pexels.com

As ’n mens iets oor die peil van die hedendaagse openbare gesprek in die internet-era wil sê, moet jy met verskeie inleidende opmerkings begin.

Ten eerste: Die openbare gesprek was nog nooit iets vir sissies nie. Veral die Britte het uitgeblink in “beleefde beledigings”. Soos Winston Churchill wat van sy politieke aartsvyand, Clement Attlee, gesê het dat hy “’n skaap in skaapsklere” is.

Of die leier van die Duitse Groenes, Joschka Fischer (later minister van buitelandse sake), wat in 1984 in die Bundestag sarkasties-beleefd aan die voorsitter van die parlement gesê het: Mit Verlaub, Herr Präsident, Sie sind ein Arschloch (“Met u verlof, meneer die president, u is ’n p**ph*l.”)

Met ander woorde, as jy aan die openbare gesprek, veral oor die politiek, wil deelneem, moet jy ’n dik vel en breë skouers hê.

Die tweede is dat verreweg die meeste van ons, langs die braaivleisvuur of in die kroeg, dit nog nooit nodig gevind het om ons vooroordele weg te steek of oordele met feite en logika te onderbou nie. Die Engelse begrip is gut (oftewel “derms”). Wat jy sê, kom by wyse van spreke uit jou derms.

Maar die “beleefde” beledigings van die politici het nooit ’n sekere grens oorskry nie. En daardie praatjies uit jou gut het in die kring van die aanwesiges gebly; dit is nie die wye wêreld ingegooi waar almal dit kon sien nie.

Nie meer nie. Ons leef in die digitale era, waar elke woord wat jy op die internet, Facebook of Twitter (plus die horde ander programme waarvan iemand van my ouderdom geen benul het nie) tot in alle ewigheid aangeteken staan.

Ten derde “sensureer” talle forums nie meer bydraes nie.

Ek het my professionele joernalistieke verstand gekry in die tyd dat ’n senior joernalis spesiaal afgesonder is om briewe aan die koerant se briewekolom te hanteer. Hy of sy moes toesien dat geen laster gepleeg word nie (volgens wet sou die koerant dan mede-aanspreeklik wees), dat die taalgebruik parlementêr bly en dat die seleksie ’n billike weerspieëling van die verskeidenheid standpunte sou wees.

Bydraes wat op koerante en sommige ander media se webwerwe geplaas word, word nog bekyk, maar die “sensuur” is aansienlik ligter as in die verlede. Met die gevolg dat sommige wat op menings reageer, só skel en te kere gaan dat dit ’n naarheid is – soms teen die skrywer, soms teenoor mekaar. Slegs af en toe kan dit nog ’n ordentlike en beskaafde gesprek genoem word.

Vierdens: Steeds meer trek mense hulself in hul eie “eggokamer” terug, waar hulle slegs aan menings wat hulle welgevallig is blootgestel word. Veral Facebook is wat dit betref ’n boosdoener, want die program is só opgestel dat hy dophou wat jy bekyk, en dan gee hy vir jou wat jy wil hê. Is jy ’n linkse ekstremis wat hoofsaaklik linkse webwerwe besoek, gee Facebook vir jou linkse materiaal, en andersom.

Vandeesweek kon gesien word tot welke morele dieptes die internet ons ingetrek het met die nuus dat die Amerikaanse sen. John McCain, ’n gematig-konserwatiewe Republikein met skerp kritiek op pres. Donald Trump, terminale breinkanker het.

Die Amerikaanse nuustydskrif Newsweek het iemand op die kletswebwerf 4chan aangehaal wat geskryf het: “The last president for McCain wil be Trump. There’s some godly justice right there.”

En iemand anders: “I’m pretty sure that God is punishing him. God made it pretty clear that he supports New Right now.” Op Twitter is gesê: Hey John!! How’s the headache??”

Onder ʼn nuusberig oor McCain se kanker op die regs-ekstremistiese webwerf Breitbart was een se reaksie: “You are sentenced to being dirt napped in a painful way John McCain and you deserve it. Burn baby BURN.”

Maar dié soort vitrioel kom nie net onder regse ekstremiste voor nie. Ook dié aan die linkerkant kan met oorgawe laat waai.

Op die links-ekstremistiese Britse webwerf Another Angry Voice beskryf die redakteur, Thomas G. Clark, “regse ekstremiste” (onder wie hy die premier, Theresa May, reken) se taktiek: “It doesn’t really matter what the story is, the extreme-right will always find a way of framing it as a piteous victim narrative in order to dupe people into wallowing in self pity instead of actually engaging their critical thinking skills. This tactic works a treat because once the extreme-right have inflated people’s victim complexes to the size of hot air balloons, it only takes the slightest puff of hot air to get them all floating in the political direction they want them to ….”

Die gematig-linkse New Statesman se kommentator Helen Lewis twiet: “As someone on the centre-left, there’s a huge difference between the abuse I get from right and left. The right doesn’t put the hours in.”

Die gerespekteerde nuustydskrif The Economist se kommentaar hierop lui: “The left is more likely to use nastiness as a political tool.” Dis nou sý waarneming, wat egter nie noodwendig klop nie. Die tydskrif voeg nietemin by: “The great achievement of parliamentary democracy is that it takes potentially violent political conflicts and civilises them. That achievement is now threatened – not just by foam-flecked maniacs in bedsits, but by some of the highest in the land.”

In Oktober 1967 het een van die beskaafdste en skerpste verstande in Suid-Afrika, die filosoof wyle prof. Johan Degenaar, ’n essay in die intellektuele tydskrif Standpunte gepubliseer met die titel “Die oop gesprek”. Hy het, heel profeties, geskryf:

“Die feit dat intellektuele integriteit so dikwels opgeoffer word aan irrasionaliteit, maak dit nie ’n minder belangrike eienskap van ’n oop gesprek nie. Dit bly ’n belangrike eienskap en ons word juis opgeroep om dit sy regmatige plek te gee.

“Intellektuele eerlikheid vereis van my dat ek nie sal terugskrik van die eis van redelikheid nie, en dit impliseer dat alle uitsprake getoets moet word deur die logiese konsekwensies van ’n uitspraak te trek, deur die maatstaf van nie-kontradiksie toe te pas, deur ’n gedurige toetsing aan die feite wat ter beskikking is, deur die gee van geldige redes vir afwykende interpretasies van erkende feite. Geldige redes veronderstel uitsprake wat waar of vals gemaak kan word, en dit is hierdie uitsprake wat verifieerbaar of valsifieerbaar is wat ’n sentrale rol speel in die oop gesprek. Sodra een van die deelnemers terugval op mistieke aanvoelings, word die oop gesprek vertroebel.”

Helaas is Degenaar dood. En, so lyk dit, sy fyn beskaafdheid saam met hom!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
CJ

Leopold. Dankie vir hierdie stuk. So waar staan Maroela Media in hierdie verband? Daar was op ‘n stadium verskeie insette toegelaat van persone wat gekla het dat ‘n ander inset van hulle “gesensor” is. Deesdae word selfs sulke klagtes nie meer geplaas nie. Verlede week het ek beswaar gemaak teen die verwydering van iemand anders se inset, en my beswaar is ook verwyder. Nog ‘n inset van my, wat volgens my (eie, subjektiewe) mening nie verdien het om gesensor te word nie, is verwyder. Die probleem is dat indien die verwagting geskep word dat mens jou mening kan huldig, maar… Lees meer »

John

‘The Pie in the Sky Inc.’ Watter lekker sluwe la-la-land! Sjoe! En die outeur staan buite alles?

E.K.

Die paragraaf beginnende “Vierdens…” is veral waar. Mense word op so manier “gemanipuleer” om te “kry waarna hul soek” en dan dinge in die kuberruim te sê wat hul telkemale in die moeilikheid bring. Gister lees ek in ‘n Afrikaanse vrouetydskrif dat SA die ongeskikste is uit 14 lande wat by ‘n digitale peiling van Microsoft oor digitale hoflikheid gedoen is. Dat ons nou in SO iets eerste moet wees! Daarom my, by die tyd seker vervelige opmerking, dat dit nie sosiale media is nie, maar meerendeels sosiale euwel.

Christiaan Jooste

Die probleem met die versugting na beskaafdheid in die oopgesprek is dat die elektroniese medium nie voorsiening kan maak vir liggaamstaal, stemtoon, houding, en soveel meer nie. Verder is dit duidelik dat selfsensuur maar ‘n eina begrip by meeste kommentators in die oopgesprek is. Dit is eenvoudig om kommentaar vanuit my rusbank of van agter my lessenaar te lewer op persone, uitsprake en bydraes, maar daar is geen gevolge nie. Natuurlik behalwe as dit ‘n rasse implikasie het. Ek bly van menig dat kommentaar op berigte en koerant artikels via sosiale media niks bydrae tot sinvolle openbare gesprek nie. inteendeel

MCH

Jan FE Celliers se gedig, Trou, skiet my by die lees van die artikel te binne. Die tweede en laaste strofes: Ek hou van n man wat sy moeder eer, in die taal uit haar vrome mond geleer, die verraaiers geslag, in sy siel verag wat, haar verstotend, homself kleineer. O ‘k hou van n man wat sy man kan staan; ek hou van n daad wat soos donder slaan, n oog wat nie wyk, wat n bars kan kyk en n wil wat so vas soos klipsteen staan! As n persoon wat ook in die vorige era grootgeword het,… Lees meer »