Is daar nog beskaafdheid in ʼn internet-era?

internet-tabletrekenaar-koffie

Foto: Karolina Kaboompics/Pexels.com

As ’n mens iets oor die peil van die hedendaagse openbare gesprek in die internet-era wil sê, moet jy met verskeie inleidende opmerkings begin.

Ten eerste: Die openbare gesprek was nog nooit iets vir sissies nie. Veral die Britte het uitgeblink in “beleefde beledigings”. Soos Winston Churchill wat van sy politieke aartsvyand, Clement Attlee, gesê het dat hy “’n skaap in skaapsklere” is.

Of die leier van die Duitse Groenes, Joschka Fischer (later minister van buitelandse sake), wat in 1984 in die Bundestag sarkasties-beleefd aan die voorsitter van die parlement gesê het: Mit Verlaub, Herr Präsident, Sie sind ein Arschloch (“Met u verlof, meneer die president, u is ’n p**ph*l.”)

Met ander woorde, as jy aan die openbare gesprek, veral oor die politiek, wil deelneem, moet jy ’n dik vel en breë skouers hê.

Die tweede is dat verreweg die meeste van ons, langs die braaivleisvuur of in die kroeg, dit nog nooit nodig gevind het om ons vooroordele weg te steek of oordele met feite en logika te onderbou nie. Die Engelse begrip is gut (oftewel “derms”). Wat jy sê, kom by wyse van spreke uit jou derms.

Maar die “beleefde” beledigings van die politici het nooit ’n sekere grens oorskry nie. En daardie praatjies uit jou gut het in die kring van die aanwesiges gebly; dit is nie die wye wêreld ingegooi waar almal dit kon sien nie.

Nie meer nie. Ons leef in die digitale era, waar elke woord wat jy op die internet, Facebook of Twitter (plus die horde ander programme waarvan iemand van my ouderdom geen benul het nie) tot in alle ewigheid aangeteken staan.

Ten derde “sensureer” talle forums nie meer bydraes nie.

Ek het my professionele joernalistieke verstand gekry in die tyd dat ’n senior joernalis spesiaal afgesonder is om briewe aan die koerant se briewekolom te hanteer. Hy of sy moes toesien dat geen laster gepleeg word nie (volgens wet sou die koerant dan mede-aanspreeklik wees), dat die taalgebruik parlementêr bly en dat die seleksie ’n billike weerspieëling van die verskeidenheid standpunte sou wees.

Bydraes wat op koerante en sommige ander media se webwerwe geplaas word, word nog bekyk, maar die “sensuur” is aansienlik ligter as in die verlede. Met die gevolg dat sommige wat op menings reageer, só skel en te kere gaan dat dit ’n naarheid is – soms teen die skrywer, soms teenoor mekaar. Slegs af en toe kan dit nog ’n ordentlike en beskaafde gesprek genoem word.

Vierdens: Steeds meer trek mense hulself in hul eie “eggokamer” terug, waar hulle slegs aan menings wat hulle welgevallig is blootgestel word. Veral Facebook is wat dit betref ’n boosdoener, want die program is só opgestel dat hy dophou wat jy bekyk, en dan gee hy vir jou wat jy wil hê. Is jy ’n linkse ekstremis wat hoofsaaklik linkse webwerwe besoek, gee Facebook vir jou linkse materiaal, en andersom.

Vandeesweek kon gesien word tot welke morele dieptes die internet ons ingetrek het met die nuus dat die Amerikaanse sen. John McCain, ’n gematig-konserwatiewe Republikein met skerp kritiek op pres. Donald Trump, terminale breinkanker het.

Die Amerikaanse nuustydskrif Newsweek het iemand op die kletswebwerf 4chan aangehaal wat geskryf het: “The last president for McCain wil be Trump. There’s some godly justice right there.”

En iemand anders: “I’m pretty sure that God is punishing him. God made it pretty clear that he supports New Right now.” Op Twitter is gesê: Hey John!! How’s the headache??”

Onder ʼn nuusberig oor McCain se kanker op die regs-ekstremistiese webwerf Breitbart was een se reaksie: “You are sentenced to being dirt napped in a painful way John McCain and you deserve it. Burn baby BURN.”

Maar dié soort vitrioel kom nie net onder regse ekstremiste voor nie. Ook dié aan die linkerkant kan met oorgawe laat waai.

Op die links-ekstremistiese Britse webwerf Another Angry Voice beskryf die redakteur, Thomas G. Clark, “regse ekstremiste” (onder wie hy die premier, Theresa May, reken) se taktiek: “It doesn’t really matter what the story is, the extreme-right will always find a way of framing it as a piteous victim narrative in order to dupe people into wallowing in self pity instead of actually engaging their critical thinking skills. This tactic works a treat because once the extreme-right have inflated people’s victim complexes to the size of hot air balloons, it only takes the slightest puff of hot air to get them all floating in the political direction they want them to ….”

Die gematig-linkse New Statesman se kommentator Helen Lewis twiet: “As someone on the centre-left, there’s a huge difference between the abuse I get from right and left. The right doesn’t put the hours in.”

Die gerespekteerde nuustydskrif The Economist se kommentaar hierop lui: “The left is more likely to use nastiness as a political tool.” Dis nou sý waarneming, wat egter nie noodwendig klop nie. Die tydskrif voeg nietemin by: “The great achievement of parliamentary democracy is that it takes potentially violent political conflicts and civilises them. That achievement is now threatened – not just by foam-flecked maniacs in bedsits, but by some of the highest in the land.”

In Oktober 1967 het een van die beskaafdste en skerpste verstande in Suid-Afrika, die filosoof wyle prof. Johan Degenaar, ’n essay in die intellektuele tydskrif Standpunte gepubliseer met die titel “Die oop gesprek”. Hy het, heel profeties, geskryf:

“Die feit dat intellektuele integriteit so dikwels opgeoffer word aan irrasionaliteit, maak dit nie ’n minder belangrike eienskap van ’n oop gesprek nie. Dit bly ’n belangrike eienskap en ons word juis opgeroep om dit sy regmatige plek te gee.

“Intellektuele eerlikheid vereis van my dat ek nie sal terugskrik van die eis van redelikheid nie, en dit impliseer dat alle uitsprake getoets moet word deur die logiese konsekwensies van ’n uitspraak te trek, deur die maatstaf van nie-kontradiksie toe te pas, deur ’n gedurige toetsing aan die feite wat ter beskikking is, deur die gee van geldige redes vir afwykende interpretasies van erkende feite. Geldige redes veronderstel uitsprake wat waar of vals gemaak kan word, en dit is hierdie uitsprake wat verifieerbaar of valsifieerbaar is wat ’n sentrale rol speel in die oop gesprek. Sodra een van die deelnemers terugval op mistieke aanvoelings, word die oop gesprek vertroebel.”

Helaas is Degenaar dood. En, so lyk dit, sy fyn beskaafdheid saam met hom!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

CJ ·

Leopold. Dankie vir hierdie stuk. So waar staan Maroela Media in hierdie verband? Daar was op ‘n stadium verskeie insette toegelaat van persone wat gekla het dat ‘n ander inset van hulle “gesensor” is. Deesdae word selfs sulke klagtes nie meer geplaas nie. Verlede week het ek beswaar gemaak teen die verwydering van iemand anders se inset, en my beswaar is ook verwyder. Nog ‘n inset van my, wat volgens my (eie, subjektiewe) mening nie verdien het om gesensor te word nie, is verwyder. Die probleem is dat indien die verwagting geskep word dat mens jou mening kan huldig, maar dit dan gesensor word, skep dit frustrasie. Die frustrasie is hoër as wat dit sou wees indien mens geweet het jy kan nie ‘n mening kan uitspreek nie. Ek is bekommerd dat Maroela Media dalk onwetend meer frustrasie skep, as wat hulle besweer, deur (baie selektief) insette toe te laat.

John ·

‘The Pie in the Sky Inc.’ Watter lekker sluwe la-la-land! Sjoe! En die outeur staan buite alles?

E.K. ·

Die paragraaf beginnende “Vierdens…” is veral waar. Mense word op so manier “gemanipuleer” om te “kry waarna hul soek” en dan dinge in die kuberruim te sê wat hul telkemale in die moeilikheid bring. Gister lees ek in ‘n Afrikaanse vrouetydskrif dat SA die ongeskikste is uit 14 lande wat by ‘n digitale peiling van Microsoft oor digitale hoflikheid gedoen is. Dat ons nou in SO iets eerste moet wees! Daarom my, by die tyd seker vervelige opmerking, dat dit nie sosiale media is nie, maar meerendeels sosiale euwel.

Christiaan Jooste ·

Die probleem met die versugting na beskaafdheid in die oopgesprek is dat die elektroniese medium nie voorsiening kan maak vir liggaamstaal, stemtoon, houding, en soveel meer nie. Verder is dit duidelik dat selfsensuur maar ‘n eina begrip by meeste kommentators in die oopgesprek is. Dit is eenvoudig om kommentaar vanuit my rusbank of van agter my lessenaar te lewer op persone, uitsprake en bydraes, maar daar is geen gevolge nie. Natuurlik behalwe as dit ‘n rasse implikasie het. Ek bly van menig dat kommentaar op berigte en koerant artikels via sosiale media niks bydrae tot sinvolle openbare gesprek nie. inteendeel

MCH ·

Jan FE Celliers se gedig, Trou, skiet my by die lees van die artikel te binne. Die tweede en laaste strofes:

Ek hou van n man wat sy moeder eer,
in die taal uit haar vrome mond geleer,
die verraaiers geslag, in sy siel verag
wat, haar verstotend, homself kleineer.

O ‘k hou van n man wat sy man kan staan;
ek hou van n daad wat soos donder slaan,
n oog wat nie wyk, wat n bars kan kyk
en n wil wat so vas soos klipsteen staan!

As n persoon wat ook in die vorige era grootgeword het, tegnologies ietwat gestremd is, geniet ek Maroela Media uit die diepte van my hart. Met groot respek teenoor die skrywer, die volgende gedagtes uit n ongeleerde Afrikanerhart:
Al die opmerkings gemaak in die artikel dra gewig. Dit is dan ook logies dat ons gaan verskil oor kwessies vanweë elk se verwysingsraamwerk en die invloed daarvan op ons vertolking van feite. As mens, is dit om die rede ongelukkig bitter moeilik om emosie uit besprekingspunte te hou. Die skerpte van die woord in voorbeelde aangehaal bewys dit.

Die groot omwenteling wat die Internet myns insiens teweeggebring het, is om aan die stille massa n stem te gee, onmiddellik, hoorbaar en met beperkte blootstelling van identiteit. Die enigste beperkings wat geld is die platform se sensuurbeleid. Uit die aard hiervan, word gewone mense se mening redelik getrou weerspieël. Hetsy in vitrioel vorm, of meer met heuning gekwas.

chrisp ·

Ek is weer van mening dat kommentaar uiters belangrik is en die sensuur daarvan totaal onodig en stremmend op ‘n oop gesprek.Die taal en emosie vertel baie keer meer van die “klas” persoon waarmee jy tedoen het en sodoende word so persoon se kommentaar eintlik deur homself “gesensor”.Dit bly egter sleg om sulke kommentaar te lees.

Kommentaar is uiters nodig omrede bykans alle HSM(hoofstroom media) wissel tussen liberaal en uiters liberaal,feitlike foute word ook so uitgelig.Verder word daar meestal ‘n agenda gedryf wat by meeste skrywers duidelik sigbaar is en kommentaar op skrywes wys dit duidelik uit.
Die tyd is verby vir die “meningsvormers” se eenogigge bombardement van dalk net verskillende kleur kartetse maar met dieselfde missie. Dankie tog.

Ek kan eerlik se dat ek meer uit kommentaar geleer en gebaat het as uit skrywers se penne deur hulle teregwysings na te slaan as waar of vals.

Sonder sosiale media sou Brexit,Trump en die konserwatiewe bewegings in Europa dood gebore gewees het.

Leopold Scholtz ·

Beste Crisp, jy is 100% reg, liberale skrywers het ‘n agenda. Wat jy egter blykbaar nie raaksien nie, is dat dit nie net “liberale” skrywers is wat ‘n agenda het nie; elke liewe een het dit. Jy ook. Of meen jy – en dis bedoel as ‘n vriendelike vraag – dat slegs konserwatiewe mense objektief kan wees? Is objektiwiteit nie eerder ‘n poging om alle kante van ‘n saak te belig en dan op rasionele gronde ‘n gevolgtrekking te maak nie? Dit is ook hoe Degenaar se beskaafde oop gesprek gevoer word. Helaas kom veels te min mense dit na. Ek hoor graag van jou.

chrisp ·

Leopold.
Graag antwoord ek soos ek dit sien.
-Alle skrywers het ‘n agenda. Stem volkome saam en ek sien dit raak.
My probleem is dat net een tipe skrywer of as jy wil een agenda wat oorkoepelend as liberaal gesien kan word (en ek veralgemeen nou) in die HSM opgedis word.Visioneel en geskrewe.

-Objektief .Ek dink dit is bitter skaars indien dit werklik in sy suiwer vorm erens bestaan.Ek glo totale objektiwiteit bestaan nie.Verder is ek van mening dat korrekte gevolgtrekkings gemaak word deur harde debat wat feitlik is dws sodra my “feite” verkeerd bewys is, is dit nie meer feite nie en sou ek bloot dwaas en domastrand wees om nie van mening te verander nie. Dit is hoekom ek kommentaar as uiters belangrik sien sonder enige sensuur en ek bedoel enige en die weglaat van enige kommentaar selfs op MM vir my geen sin maak nie. Dit noem ek eerlike debat. Baie van my kommentaar is weggelaat en ek weet tot vandag toe nie hoekom nie. .Wat ons in die HSM(visioneel) sien is debat wat gevoer word deur meestal een groep met klein verskille maar dieselfde agenda en ek verpes dit. Om nie eens van blatante leuens te praat nie.Die geskrewe HSM dra amper deur die bank net liberale skrywers en sienings. Slegs die elektroniese media het beide.

Johan ·

Leopold raak ‘n baie ernstige punt hierbo aan want sensuur van gedagtes is ‘n wêreld van onbeleefde taal. Kritiek op liberale leiers byvoorbeeld is nie van meet af so verkeerd dat dit gesensor moet word nie. Maroela mag baat by ‘n besinning in die rigting want die artikel raak werklik belangrike sake aan

Jana ·

Dit is ook belangrik om in ag te neem dat die woorde wat jy uiter op sosiale media verder strek as net ‘n oop debat. Dit kan soms wetlike implikasies tot gevolg hê.

Kosie ·

E.K. noem Microsoft se peiling. Ek het al 5 boodskappe vir Bill Gates gelaat, en 2 op MS se webwerf oor `n spesifiek probleem – geen antwoord; jy word eenvoudig geignoreer. Dan Roodt se Praag plaas geen kommentaar wat ek lewer nie; ek is seker te gematig na hulle sin. Jare gelede het koerante soos Beeld nie sommer enige brief geplaas nie. Toe wyle Thys Uys hul brieweredakteur word het my briewe skielik week na week verskyn. Maar toe hy sterf, het ek weer `n droogte beleef.
Vryheid van spraak en menseregte is `n utopie – net `n handjievol beskik werklik daaroor. En mediadiensverskaffers, soos Maroela, sal hul reg op “bepalings en voorwaardes” uitoefen. NS. John McCain is `n hedendaagse Joseph McCarthy; hy was tweekeer op die Maidanplein in die Oekraine, voor die coup d’etat van 21 Februarie 2014. As ek lelik kan wees oor hom: jy kan net breinkanker kry as jy `n brein het. Iets wat hy en sy neocons nie het nie.

rassie ·

Leopold, ek wonder hoekom daar deesdae so baie na die ongeinhibeerde gesprekke om die braaivleisvuur verwys word. Is dit moontlik omdat ons besef dat daardie “gut feeling” om die braaivleisvuur en in die kroeg waarna jy verwys die basiese en eerlike weergawe van die betrokke individu se lewens en omgewingsbeskoulike is.

Sosiale media is ‘n gesigslose vorm van afstandskommunikasie waar dit meerendeels nie om oog tot oog kontak gaan nie en dus moontlik makliker is om die braaivleisvuurstreke uit te haal. Die gegriefde kan jou ten minste nie net daar en dan met ‘n bottel oor die kop slaan nie.

Leopold Scholtz ·

Vir Chrisp: Dankie vir jou beskaafde reaksie. Dis soos ek dink die oop gesprek gevoer moet word. Ek kan grotendeels met jou saamstem, maar ek moet darem daarop wys dat mense soos Flip Buys-hulle heelparty blootstelling in die Media-24-koerante kry, onder nou weer met die ATKV-debat. Maar dankie. Ek wens jou ‘n aangename naweek toe.

MTSteyn ·

Watter tipe blootstelling kry Flip Buys en kie in Media24? Die tipe blootstelling wat jou vorige werkgewer (en jy self!) aan persone/bewegings/partye/organisasies gee (gegee het) is/was nou verbind aan hulle ‘lojaliteit’ teenoor die liberale (lees ‘uitgediende’) agenda. Ons onthou die miskenning/verdagmakery en absolute leuens oor bv. konserwatiewe leiers versprei en gepubliseer in die hoofstroom media in die verlede, alles in belang van die nastreef van die liberale agenda!

Rupert Ashford ·

“People talking without speaking, people hearing without listening”. Lank terug al voorspel deur ‘n slim man…

Leopold Scholtz ·

Beste MT Steyn (ek neem aan dis ‘n skuilnaam): Lees vanoggend en laas Saterdag se Beeld. I rest my case, my lord.

Rupert Ashford ·

Ek hoor waar MTSteyn vandaan kom Leopold. Die manne van die hoofstroommedia (ou Naspers) dra swaar aan die bagasie van voorbrandmakery veral in die laat 80’s en vroee 90’s vir die “oorgang na die paradys” en die gevolge daarvan waarmee ons vandag sit. Daar is ‘n geweldige gevoel van ontnugtering en gewone mense wat daardie tyd nie toegang tot die inligting gehad het anders as om dinge in ‘n paar koerante te lees nie, voel hulle is gruwelik mislei en uitverkoop deur die politieke klas en hulle meelopers in die media…en ek dink daar is ‘n mate van waarheid daarin (hoewel nie 100% nie – ons moet wegkom van die blaamverskuiwing kultuur wat so sterk loop deesdae en ook verantwoordelikheid aanvaar vir ons eie dade).

Tot ‘n groot mate kan mens ook die Suid-Afrikaanse oorgang gebruik as ‘n gevallestudie vir wat tans in die bree Weste gebeur. Om skaam te wees vir wie en wat jy is, jou prestasies van die verlede te misken en net hoog op te haal oor die foute (wie maak dit nie) wat gemaak is, koop nie vir jou welwillendheid by die “verontregtes” nie. Gee ‘n pinkie… As jy dinge wil probeer beter maak, doen dit uit ‘n posisie van mag, alle mense is toe nie dieselfde nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.