Die toekoms van Suid-Afrikaanse universiteite bekyk

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Deur prof. Theo Neethling

Prof. Jonathan Jansen se jongste boek, As by fire: The end of the South African university, was in die Afrikaanse media vinnig omstrede vanweë sy somber uitsprake oor Afrikaans as taal van onderrig op ons universiteitskampusse. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tereg in Rapport, 23 Julie 2017, op Jansen se uitsprake oor Afrikaans gereageer. Wat egter belangrik is, is om in te sien dat die hoofbetoog in Jansen se boek inderwaarheid aansluiting vind by Buys se slotrede in Rapport dat Afrikaans al meer gaan privatiseer.

Dit klink vreemd en ironies om te sê, maar op die keper beskou, is Jansen en Buys ewe mismoedig oor die toekoms van ons openbare (staatsgefinansierde) universiteite en uiteindelik kom hulle min of meer by dieselfde gevolgtrekkings uit. Hulle vertrekpunte en gesigspunte verskil wel, maar albei sien ewe min lig in die tonnel vir ons openbare universiteite – en dit is waar hulle gemene grond het. Waar Buys dan in sy perspektief miskien net meer eksplisiet oor die toekoms van (Afrikaanse) private onderriginstellings en reeds by ʼn projek soos Akademia betrokke is, is privatisering inderwaarheid ʼn saak wat ook in Jansen se boek opduik as ʼn toekomsopsie in hoër onderwys.

Om my argument te verduidelik wil ek graag by ʼn kernvraag in Jansen se boek uitkom, naamlik dat daar “geen toekoms” (bl. 249) vir Suid-Afrika se openbare universiteite is nie. In sy boek ontleed hy die #FeesMustFall-veldtog wat hy terugvoer na sake soos die #RhodesMustFall-veldtog by die Universiteit van Kaapstad en die sosiale dinamika wat dit onderlê het.

Op soek na antwoorde het Jansen met 11 ander visekanseliers onderhoude gevoer aangaande hulle ervarings en perspektiewe. Plek ontbreek om hier op al die insiggewende perspektiewe in te gaan. Wat ek wel saaklik kan noem, is dat die boek ʼn goeie oorsig bied van die enorme persoonlike en bestuursuitdagings wat visekanseliers moes verduur in 2016 en die aanloop daartoe. Etlike visekanseliers is trouens persoonlik verneder en moes deurloop onder radikale of militante studente wat nie vir redelike gesprekvoering oop was nie – waaronder óók die saak van Afrikaans.

Wat ek nou wil doen, is om uit te kom by bogenoemde vraag rakende die toekoms van ons universiteite, soos veral saamgevat in hoofstuk 10. Jansen se betoog is dat Suid-Afrika se “elite-instellings van hoër onderwys” op die afdraande pad van universiteite in Oos-Afrika (gaan) beweeg. In Oos-Afrika het staatsfinansiering opgedroog met die gevolg dat goeie studente en akademici gekanaliseer is na buitelandse en private hoër onderwysinstellings. Veral top-akademici het gefrustreerd geraak met onstabiliteit en gebrekkige infrastruktuur en opvoedkundige hulpbronne.

In Suid-Afrika staan etlike universiteite ná jare lange afnemende staatshulp nou finansieel met die rug teen die muur en visekanseliers kan nie langer op die staat reken om hulle uit hulle verknorsing te help nie. Die grootste knelpunt is eenvoudig dat subsidie-inkomste afgeneem en studentegetalle progressief gegroei het.

Die probleem is ten diepste dat universiteite in die afgelope jare vir alle praktiese doeleindes verplig was om die akademiese hekke wyer oop te gooi vir toelating, omdat subsidie-inkomste van die staat vir universiteite sterk gegrond is op studente-inskrywings. Die probleem is egter dat die toename in studentegetalle gepaardgegaan het met laer toelatingsvereistes. Tog kon duisende studente met agterstande die akademiese pyp nie rook nie. Universiteite se dilemma is dat subsidie-inkomste ook gekoppel word aan slaagsyfers en om subsidies nie te verbeur nie het universiteitsbesture druk op akademiese departemente uitgeoefen om slaag- of deurvoerkoerse so hoog moontlik te kry – maar in die proses het die gehalte van onderwys skade gely. Hiermee saam is bedryfsuitgawes ten opsigte van infrastruktuur ook teruggesnoei wat veral beteken dat instandhoudingsuitgawes afgeskaal is.

Die genoemde uitdagings moet ook verder gekwalifiseer word. Studente uit arm gemeenskappe het besonder toegeneem. Jansen wys byvoorbeeld daarop dat ʼn informele navorsingsopname van hom aangedui het dat die oorweldigende meerderheid studente op die Bloemfontein- en Qwaqwa-kampusse van die Universiteit van die Vrystaat (UV) uit huishoudings kom wat deur staatstoekennings (grants) ondersteun word. Talle van hierdie studente is dan ook oortuig dat die universiteit en die staat ʼn soort welsynsverpligting teenoor studente het. ʼn Soort staatsafhanklikheidsindroom bestaan dus en dit bring mee dat universiteite buite hulle tradisionele verpligting rondom die akademiese projek moes beweeg na ʼn punt waar die materiële behoeftes van studente, veral rakende kos en verblyf, toenemend aandag kry. Kortom, talle eise en uitdagings sentreer rondom hierdie sake en word via studenteleiers gekanaliseer na die kantore van visekanseliers wat gewoon nie die nodige geld en antwoorde vir al die probleme het nie. By die UV was dit in die afgelope tyd byvoorbeeld die geval dat tot 60% van studente nie genoegsame voedsel het nie.

Oor die gewelddadige protes op kampusse landwyd maak Jansen ʼn paar belangrike punte. Universiteitskampusse is nie meer immuun teen die geweld wat so dikwels die Suid-Afrikaanse samelewing kenmerk nie. Trouens, hy maak ʼn sterk punt dat iets soos strafregtelike optrede tydens studenteprotes, waaronder intimidasie van universiteitsbesture en nieprotesterende studente en dosente, asook brandstigting, ʼn blote keersy geword het van wat gereeld buite kampusse in die strate afspeel.

Daar is nog ʼn probleem wat openbare universiteite in die gesig staar. Jansen voer tereg aan dat elke visekanselier in die land graag meer swart professore wil aanstel. Die beskikbare kundigheid en nodige ervaring is egter dun gesaai en die probleem is veral dat die finansiering van goeie salarisse vir senior akademici toenemend onder druk is.

Vir my persoonlik is Jansen se toekomsverwagting aangaande ons openbare universiteite op bl. 249-250 ʼn kernaspek van sy reguit betoog. Ek vertaal vryelik met ʼn bietjie parafrasering: Die deure sal steeds oop wees, maar junior dosente sal sterk verteenwoordig wees. Nuwe professore sal aangestel word, maar sonder die nodige ervaring en op grond van gebrekkige bevorderingskriteria. Instandhouding van geboue sal nagelaat word en kampustuine sal minder aandag geniet.

Massas arm studente sal met beperkte regeringshulp geregistreer word en hulle bevind in oorvol klasse. Tussendeur sal daar min opgradering van klasse, onderwyshulpmiddels en rekenaartoerusting wees, en biblioteke sal nie langer kan voorsien in die nodige vakjoernale en boeke nie. Navorsing sal skade ly en universiteitsbesture sal al meer energie laat ingaan op onderhandelinge met radikale of militante studente. Universiteite sal – soos in 2016 – soms genoodsaak word om te sluit vanweë onveiligheid vir studente en personeel en potensiële onstabiliteit sal geïnstitusionaliseer word.

Al dié probleme sal goeie akademici toenemend ontmoedig om top-universiteitsbestuurders te word. Uiteindelik sal openbare universiteite hulle steeds voordoen as universiteite, maar inderwaarheid kolleges wees waar massas arm studente opleiding en graadsertifikate ontvang met beperkte waarde vir die “mark”. Om die kroon te span, sal die regering gereed staan om in te gryp by universiteite waar sake skeefloop in gevalle waar armoedige en ontstoke studente tot geweld oorgaan.

Daar is nog talle ander insiggewende perspektiewe in die boek, maar persoonlik dink ek bogemelde sake vorm die kern van sy hoofbetoog. Die bogemelde somber prentjie word afgesluit met ʼn skamele drie bladsye wat fokus op moontlike oplossings. Dit is volgens Jansen opgesluit in die hoop dat gewone Suid-Afrikaners hulle universiteite as’t ware sal terugneem asook dat ʼn beter finansieringsformule vir universiteite gevind word. Baie sal ook afhang van die gehalte van leierskap by ons universiteite.

Laastens, volgens my eie gevoel en ervaring is Jansen se ontleding oortuigend en stewig begrond. Die boek moet universiteitsleiers diep laat dink en natuurlik ons politieke leierskap ook. Laasgenoemde is egter veral waar die spreekwoordelike kinkel in die kabel is. Juis daarom is ek toenemend daarvan oortuig dat baie van ons openbare universiteite moeilike dae tegemoetgaan en dat private hoër onderwysinstellings – wat reeds ʼn belangrike deel van die landskap vir hoër onderwys uitmaak – op lang termyn nuwe moontlikhede gaan bied. Dit is juis op hierdie punt waar die lyne van Jansen en Buys se denke en slotbetoë kruis – hoe vreemd en ironies dit ook al mag klink.

  • Prof. Theo Neethling is hoof van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die UV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Breytie ·

Ek het op private basis ervaring van onderrig aan volwassenes wat nie Engels toereikend verstaan om werklik akademiese en professionele terminologie te deurgrond tot ‘n vermoë om gemaklik daarmee om te gaan en dit in die praktyk raak te sien en toe te pas nie. Gevolglik kry hulle uiteindelik ‘n sertifikaat maar hulle is nie werklik bekwaam nie. Daarom is my oortuiging dat dit beter sal wees as die regering die staatsuniversiteite doodregeer sodat die stroom onbekwame “geleerdes” kan stop.

Die enigste manier waardeur ons die akademiese standaarde van die verlede sal kan handhaaf en verbeter, sal deur privaat fasiliteite wees. Die virtuele moontlikhede vir stigting van deurlugtige plekke van opleiding moet behoorlik verken en benut word, want die tyd is vir altyd verby dat die tradisionele model van waardige instellings wat omhang is met atmosfeer bekostigbaar kan wees. Natuurlik is dit tragies, maar die jong geslagte wat studeer sal nie daarvan weet nie en dit dus ook nie kan mis nie.

Gerhardus Petrus Padda ·

In meeste aspekte van ons lewe het ons dramatiese groei in produktiwiteit gesien wat meeste produkte en dienste goedkoper (in reële terme) en beter gemaak het, veral na die industriële rewolusie.

Daar is egter 3 areas wat in die teenoorgestelde rigting beweeg. Dit is koste van behuising, onderwys en mediese sorg. Al 3 se koste groei teen n baie hoër koers as inflasie (veral die laaste 30 jaar) wat natuurlik nie volhoubaar is nie.

Ek persoonlik dink dit is van kritiese belang dat ons verstaan hoekom en dan oplossings kry om die koste van al 3 dramaties af te bring. As ons dit nie doen nie, is daar nie n toekoms vir ons kinders nie.

Fanie ·

Onderwys, gesondheidsorg en staatsdienste bly duur omdat hierdie diensbedrywe hoëvlak-arbeidsintensief is.

Gerhardus Petrus Padda ·

Fanie:

Dit is juis die punt. Dit kan slegs goedkoper gemaak word deur dit minder arbeidsintensief te maak. Daar is al baie tegnologiese deurbrake wat in hierdie opsig gemaak is wat hierdie bedrywe baie minder arbeidsintensief kan maak, maar nie regtig deurgevoer word in die praktyk nie.

Daar is politieke, kulturele en ander teenstand teen verandering wat almal n rol speel. Ek dink net ons het nie meer ander keuses nie. Veral medies en tersiere onderwys is doodeenvoudig te duur.

Gerhardus Petrus Padda ·

Enige persoon wat glo dit is “reg” om die taal en kultuur van enige ander persoon af weg te vat, onderhandel met euwel.

Kosie ·

Beste Gerhardus,

Ek was onder die indruk dat die koste van behuising n.a.v die Guptagate skandaal val. As ‘n student kan ek ook nie noemenswaardige prysveranderinge in die laaste paar jaar optel in die Vrystaat nie.
Dan kan die universiteite gerus goeie kafeteria’s bou wat teen kosprys goeie kos aan die studente verskaf, soos in Duitsland die geval is.
Momentum het wel ‘n laekoste mediese plan vir studente met goeie voordele.

Groete

Gerhardus Petrus Padda ·

Kosie:

Jy is reg dat huispryse na 2009 nog glad nie gestyg het in reële terme in SA nie (Daar is woonbuurte wat uitsonderings is), wat in n groot mate ons politiek en hoë onstibiliteit reflekteer Ek verwys egter nie daarna nie, ek verwys na die koste om n nuwe huis te bou.

In SA is dit grootliks geafekteer deur die massiewe styging in elektrisiteit, wat energie intensiewe bedrywe soos baksteen en sement maak baie duurder gemaak het as wat dit voorheen was.

Ek verwys egter na produktiewe (doeltreffendheid) verbeterings wat ons in ander bedrywe sien soos landbou en vervaardiging. Die gevolg is dat die bedrywe waarna ek verwys se koste baie vinniger styg as inflasie (of dan jou en my salaris) wat onvolhoubaar is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.