Is die EFF se einde in sig?

Een van die dinge wat ek hierdie jaar geleer het, is dat die EFF probeer om soos boelies op te tree terwyl hulle eintlik net blaf eerder as byt.

Aan die begin van die jaar het hulle die Hoërskool Overvaal geteiken nadat daar deur ’n hof beslis is dat die skool vol is en nie nog Engelssprekende leerlinge kan toelaat nie. Ek was die dag daar toe hulle saam met die ANC en ander organisasies se lede getoi-toi het omdat die skool kwansuis rassisties is. Hulle het nogal ’n magsvertoon probeer hou en dit tot ’n sekere mate reggekry, maar uiteindelik het hulle almal onverrigter sake weer vertrek (terwyl hulle vir ons dreigemente skree) en die skool staan vandag steeds as ’n Afrikaanse enkelmediumskool.

Later vanjaar is onteiening sonder vergoeding deur die EFF op die spits gedryf. Ek het ’n voorlegging namens AfriForum by twee van die openbare verhore hieroor gelewer. By die Westonaria-verhoor was dit ’n see van rooi wat later al hoe rooier geword het. Mens kan daar sien (en talle peilings het dit sedertdien aangetoon) dat Gauteng hul sterkste provinsie is, ondanks hul leier, Julius Malema, se Limpopo-herkoms en -bande.

Daar het hulle heeldag openlike rassistiese onwaarhede kwytgeraak en alle wit mense selfs as moordenaars en diewe uitgekryt. Ek was later een van die min wit mense daar oor en het nogtans teen die einde van die verrigtinge my voorlegging gemaak. Hulle was uiteraard nie ingenome dat ek van AfriForum is nie, maar het my spreekbeurt ten minste gerespekteer. Ek het gevra hoekom Afrika juis so arm is (wat grotendeels met swak beleid verband hou) en ’n hele paar ongemaklike werklikhede uitgelig. Hulle het gebrom, maar kon eintlik geen teenantwoord bied nie. Ek en ’n paar kollegas het na afloop hiervan rustig uit die saal gestap terwyl die rooi see vir ons oopgemaak het.

Daardie dag het dit miskien in daardie saal gevoel of die EFF die beheer het oor die hele diskoers in die land en dat ’n 6%-party die politieke septer swaai. Ek het egter daar besef dat dit opsluit nie so is nie en dat hierdie groep verslaan kan en moet word – nie met mensgemaakte wapens of valshede nie (want dis húl terrein), maar met feite en moed. Ek het ook begin besef dat hierdie roekelose, rasbehepte en histrioniese party mettertyd hulself gaan ontbloot vir die leë blikke wat hulle werklik is en vir hulself genoeg tou gee om hulself op te hang. En so het dit nou begin uitspeel.

EFF-leiers het Dinsdag onder luide toejuiging klagte teen min. Pravin Gordhan by Brooklyn se polisiekantoor ingedien. Foto: ANA

Baie en komplekse vyande

Die Britse premier Harold Wilson het eenkeer opgemerk dat ’n week ’n lang tyd in die politiek is. Dus is ’n paar maande ’n ewigheid en vreeslik baie kan gebeur. In Julie en Augustus, toe die openbare onteieningverhore in volle swang was, het die EFF op die kruin van hul mag gelyk. Dit was die stertjie wat die ANC-hond rondgeswaai het en ’n peiling deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het getoon dat hulle wel besig was om steun by die regerende party af te rokkel.

Dinge het die laaste ruk aansienlik begin verander. In die afwesigheid van enige werkbare planne om die land vorentoe te neem (en hul Marxisme en radikalisme het histories nog nooit veel inslag onder Suid-Afrika se kiesers gevind nie), is histerie en bombasme al wat die EFF het om te bied. En hulle kon vir lank daarmee wegkom omdat die ANC hulle toegelaat het.

Ofskoon die EFF en ANC vanjaar skynbaar hand-om-die-blaas met mekaar is en voorspellings oor ’n moontlike koalisie ná volgende jaar se nasionale verkiesing oral gehoor kan word, het hierdie twee se verlowingskippie onlangs in rowwe vaarwater beland omdat die EFF sy hand oorspeel. Malema het vir Pravin Gordhan, minister van staatsbeheerde ondernemings, ’n “hond van witmonopoliekapitaal” en “korrup” genoem en gesê Gordhan haat swart mense. Dis bitter harde woorde en ook baie onwaar. Gordhan het vervolgens strafregtelike klagtes teen hom gelê en pres. Cyril Ramaphosa het Gordhan verdedig. Die EFF-leier het die openbare mening hiermee verder teen hom en sy party gedraai.

Maar daar was nog ’n verdere aanloop. Vroeg in November het AfriForum ’n bevel bekom om op Malema en die EFF se roerende bates beslag te lê om derhalwe regskostes te verhaal. ’n Proses is ook nou aan die gang om hom bankrot te laat verklaar. Die DA het duidelik ook teen sy eertydse koalisievennoot gedraai en sy verkiesingsfokus verskuif na om die EFF verdag te maak en hulle aan die ANC gelyk te stel. Die probleem is die EFF het te vroeg uit die DA-bed geklim terwyl hulle nog nie die ANC heeltemal gepaai en oorgewen het nie. Die ANC het duidelik ook moeg geword vir die EFF se voorskriftelikheid en die beeld dat hulle deur ’n veel kleiner party aan die neus rondgelei word. Die feit dat hulle onlangs die mosie oor onteiening sonder vergoeding eensydig teruggetrek het, was juis ’n manier om vir die EFF ’n toffie te druk – al is dit ideologies onverteerbaar vir hulle. Hulle het in wese vir die EFF hiermee gesê: “Ons sal besluit of hierdie mosie gaan slaag of nie; nié julle nie.” En dit is waar, sonder die ANC se steun kan dit onmoontlik slaag.

Voorts het die media ook grootliks teen die EFF begin draai. Waar veral linkse joernaliste hulle aanvanklik met fluweelhandskoene hanteer het, het selfs húlle nou begin wakker skrik nadat Malema die media gedreig het. Dit het mense soos Pieter du Toit en Max du Preez aanvanklik nie gepla dat die EFF vir AfriForum en minderheidsgroepe dreig en aanval nie, maar noudat hulle ook sy skyf geword het, is dit tog alte onregverdig. Oom Max, jy het baie laat by hierdie geveg opgedaag (soos by baie ander), maar ten minste het jy opgedaag en jy is welkom.

Voeg hierby die SAKP en Cosatu wat ook nou hul visier op die EFF begin rig het en mens wonder wie nog aan die EFF se kant is. ’n 6%-party kan eenvoudig nie alleen baklei nie en hulle het al hul waarskynlike bondgenote die harnas ingejaag en te veel magtige vyande gemaak. Hul hubris en beledigings het te veel geraak.

Laastens, moet ook nie vergeet van hul korrupsie-blik oor VBS Mutual Bank en ander aangeleenthede wat nou wyd oop is en wurms uitspoeg nie – asook die toenemende aantygings oor die straffelose seksuele teistering en vrouehaat in die party.

Julius Malema (regs), die EFF-leier, het onlangs sy adjunk, Floyd Shivambu (links), op ’n nuuskonferensie in Johannesburg verdedig. Foto: ANA

Die EFF-keiser is kaal

Die EFF is in Julie 2013 gestig nadat Malema uit die Jacob Zuma-beheerde ANC geskors is. Die EFF se bestaansrede was sedertdien om veral Zuma, maar breedweg ook die ANC, onverbiddelik aan te val. En dit was maklik, want die Zuma-era was uiters destruktief en ongewild. Hulle het ook nie nodig gehad om ’n behoorlike visie uit te spel nie. Beledigings en oorvereenvoudigde goeie/bose kategorisering langs rasselyne was goed genoeg en hul sensasiesoekery het gewerk. Hulle het gedy in ’n anti-Zuma atmosfeer.

Maar met Zuma weg en ’n ANC wat klaarblyklik nie meer lus het vir hul speletjies nie, is die EFF-keiser kaal. In die politiek is dit onafwendbaar om vyande te maak, maar as ’n 6%-party kan jy nie almal vervreem nie. Die EFF het dit egter tot ’n kuns verfyn en dis besig om hulle hard te byt.

Is dit die begin van ’n kreeftegang wat op hul ondergang gaan uitloop? Dis straks te vroeg om te sê, maar dit wil blyk asof dit wel so kan wees. Kom ons hoop dit is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

Jannie ·

Nee boetie, jy slaan die bal mis. Net soos die AWB destyds op aandrang van binne die Nasionale Party gestig is om die druk op hulle elders te kanaliseer; net so is die EFF in wese deur die ANC gestig. Hierdie gerasery is oëverblindery en ons is dom genoeg om daarvoor te val

Bul ·

Bewys of bevestig jou punt dat die AWB gestig is agv strategie van binne die NP ?

N Lourens Reitz ·

Ek stem saam Bul.
Jannie sal moet mooi verduidelik hoe kom hy daar by uit?

Huh? ·

Los die EFF uit dat hulle voortgaan om met die enigste ding wat hulle wel kan doen voort te gaan. Praat. Hulle is besig om aan wit SA n gemeenskaplike vyand te voorsien, die enigste manier waarop hulle nog kan saamstem.

Derick ·

Dit is die grootste euwel wat SA nog getref het. EFF is die ondergang van SA en van die land se ekonomie. Hoe gouer hulle verdwyn hoe gouer is die kanse vir SA om reg te kom.

Werner ·

EFF se taak is nie om n verkiesing te een nie maar om n oorlog te begin hulle is nog vêr van klaar af

t ·

EFF = Economic Freedom Fighters. Fighting to be free of an economy?
Baklei lank en hard genoeg en eendag wen julle dalk die fight teen die economy. Die dag wanneer die ekonomie tot niet is sal julle bly wees, maar dit sal net julle wees.

Paul ·

Hierdie artikel maak baie sin. Ons sien nou dat die Media die EFF se vyand nommer 1 is. My raad aan die Media is om die EFF totaal te ignoreer in beriggewing. Swyg hulle dood. Dit sal baie help om die EFF verder te isoleer en irrelevant te maak!

Lex Luger ·

Ek dink ook jy sit die pot mis. Ons hoop ook hulle verdwyn net, maar hulle gaan nie. Hulle gaan die oorsaak van ‘n lang en vernietigende burgeroorlog in die land wees. Onthou daar word nie miljoene mense vereis om oorlog te begin nie. Net een onverantwoordelike uitspraak deur Malema en slegs ‘n duisend of twee van sy ongeskoolde volgelinge en ons is in oorlog gedompel. Onthou ook SA het nie ”n funksionerende weermag of polisiemag nie. Kyk maar Noord dan sal jy sien watter gevolge karakters soos Malema in lande in Afrika het

John ·

Kyk maar wie gaan eerste by die eerste plaashekke wees om amok te maak en die chaos te begin. Om met werkersoorpakke rond te loop maar die duurste horlosies en rugsakke te dra is nogal ‘n weerspraak. Inligting word heel moontlik deur sekere mense aan hulle deurgegee om die skip water te laat skep. Wie lig hulle bv in oor Gordhan se glo sake of andere wat hul vyande probeer sink? Wie borg hul kostes vir advokate?

Andrew ·

Hulle verwar almal met hulle oorlogspraatjies, dan is die ANC se “gematigde” verregaande oplossing net meer aanvaarbaar omdat almal die ergste gevrees het.

Adriaan ·

Die EFF se opruiende retoriek is daarop gerig om sondebokke te identifiseer vir diegene wat glo almal behalwe hulle self is verantwoordelik vir hulle gebrek aan vooruitgang. Dis op emosie gerig, feite tel nie. Ek weet nie of die EFF verder gaan groei nie maar dink nie hulle gaan gou verdwyn nie.

ZAR ·

Hoop is goed, ons kan altyd hoop. Ek lees egter ‘n berig van 2013 waar daar vertel is hoe hard Malema geval het en dat sy politieke stryd tot ‘n einde gekom het. Soos ons weet was dit nie waar nie, hy het net sy eie party gestig en by die jaar sterker geword. Net so glo ek nie dat dit die einde van hom nou is nie. Hy het baie truuks in sy hoed, die een meer geweldadig as die ander. Die armoede van die nasie word deur sy party gebruik om stemme te werf. Ek dink nie hy is klaar nie, inteendeel, hy werk op sy beste wanneer hy onder druk is. Hy het nog altyd
‘n demagogiese taktiek gebruik, dit wat die meerderheid wil hoor, bied hy vir hulle aan. En iemand wat soveel mag een keer geproe het wil nie afstand daaraan doen nie, nee, desperate mense is gevaarlike mense. Ons kan net hoop dat die mense intelligent genoeg sal wees om deur sy truuks te sien. Dis nog te vroegtydig om te vier.

Martin ·

Jy sit defnitief die pot mis of jy is blind vir wat aan die gebeur is, EFF n vertakking van die ANC, hulle stirr, kom met idiees na vore en voor jy jou kan kry doen die ANC juis dit. Dink net aan gratis Varsity, grond sonder betaling om maar net n paar te noem.

Ben ·

Verwys Johan Rupert se woorde” Julle besef nie in watter moeilikheid SA is nie”. Die EFF praat met die jeug ,met groot aanklank en gaan vorentoe net groter raak.Die Afrikaner staar uitwissing in die gesig ,en met die EFF se groter steun,gaan dit die proses versnel.

Johan ·

Ek hoop Eugene is reg in sy analise en voorspellings – want regtig die EFF saai onmin met sy uitsprake. Ongelukkig is daar steeds vele ongeletterde swart jeugdiges wat val vir die EFF retoriek. Vele wat glo die EFF is die antwoord, nou dat Zuma (en die ANC) drooggemaak het. Daar is steeds baie swartes wat (veral nou) glo dat die ANC hulle jare aan die neuse rondgelei het en net Malema en die EFF sal ons “nou help”. Ons moet net hoop dat daardie groepie nie te groot word en ‘n daadwerklike verskil by die stembus maak nie.

alida ·

Dit mag die einde van die EFF as party wees maar hulle dom volgelinge sal aanhou om die blankes te vermoor vir die lekker en om wraak te neem. Nugter weet waarom.

GP ·

Soos dinge nou lyk gaan die EFF vorentoe bekend staan as die party wat blankes finaal uit SA gedryf het. Honderd duisende blankes emigreer uit die land terwyl miljoene ongeskooldes ons land binne stroom uit die noorde. Moorde en aanvalle op blankes in n daaglikse gebeurtenis.
Ek dink oor ‘n paar dekades of dalk 100 jaar/e gaan hierdie ‘n algemene wereld verskynsel wees. Reg oor die wereld is blankes besig om uitgedruk te word. London is reeds minder as 50% blank. Die blanke populasie in VSA neem aansienlik af. Duitsland, res van Europa selfde storie. Dink ons in net een van die eerste lande wat hierdeur gaan.

MTSteyn ·

Met daardie 6% steun het die EFF meer vermag as enige ander politieke groepering in Suid-Afrika. Ek sukkel om ‘n koerant oop te maak waarin hulle nie gratis publisiteit ontvang nie.

Malema is Suid-Afrika se mees populere politikus, en volgens my is daar niks wat hierdie man stop om ‘n toekomstige minister of selfs president te word nie. Met ons westerse uitkyk, lees ons die gebeure verkeerd, en terwyl ons redes soek vir die EFF se bestaan en probeer uitklaar of die party ‘n toekoms het, het Julius Malema op sy eie (natuurlik met die steun van sy hanteerders) die NDR revolusie ‘n massiewe hupstoot gegee met die voltrekking van grondroof. Die NDR het vir alle praktiese doeleindes ‘n stille dood onder Zuma gesterf, maar is wonderbaarlik deur die nuwe, meer sosialistiese ANC van CR en veral Malema afgestof, reg vir implementering.

Terloops, Malema vuur ‘n aanvalsgeweer voor ‘n skare mense af, voor ‘n kamera wat dit opneem, en wat presies was die gevolge? Maar dan kan mens ook tereg vra, hoe durf jy teen jou toekomstige leier optree?

Al ·

Ek stem saam met die rubriekskrywer.
Ek glo hierdie is net die begin van hul ondergang.
Ek glo en vertrou en bid daagliks dat hul verslaan word en die ANC.

Stephan de S ·

Die nut vd EFF is dat hulle darem n bietjie die stemme verdeel en die ANC se mag n bietjie inperk.

D B ·

Jammer Eugene, maar ek stem nie saam nie. Die EFF is op ‘n “goeie pad”, wel volgens hulle. Hul steun word al meer, maar wie steun hulle? Die ongeskoolde werkloses, en ons almal weet die werkloosheidsyfer word al hoe meer.

Dan teiken hulle ook die jeug, en die klomp is net so “swak ingelig” en ook werkloos, so jammer, maar die EFF kry spoed, en vinnig ook. 6% van die bevolking (ja, ek weet dis minder) is omtrent so 3,4 miljoen. As net 1 miljoen hom volg en ‘n oorlog begin, wie gaan hulle stop? Niemand!

Out of Africa ·

Die EFF mag dalk klaar raak maar die nonsens sal nooit klaar raak nie. As jy kan, dan moet jy trek, as jy nie kan nie, sterkte! As jy kan trek, maar nie wil nie, dan moet jy nie kla nie.

Lena Jonk ·

Eugene jou geskrewe deel se vir my baie, EFF is besig om stadig maar seker agteruit te gaan, daar is baie van sy ondersteuners wat begin sien wat gaan gebeur as dinge verkeerd loop vir SA. Na my mening moet daar gebid word, soos ons gereeld doen vir daardie pragtige land, ander uitweg is daar nie, saamstaan, saam bid vir vrede en voorspoed. Dankie AfriForum vir julle harde werk.

ChrisE ·

Ek gesels nou die dag met ‘n vriend van my wat in die Baai bly. Hy het te vertelle dat hy met een van sy kollegas/werkers gesels het wat beweer die blankes moet uit die “swart poltiek” uitbly. Hulle sal dit op hul manier “uitsort” . Ek is geneig om saam te stem.

GP ·

Ek sal eerder se die politiek raak ons almal en ons het ook n se. As daar die laaste 20 jaar geen teenkanting was deur bv die media en groepe soos Afriforu nie was ons nou baie slegter af. Hulle sal nie wil he ons moet inmeng nie.

lewies ·

Wat bly vir die rykes in die ANC oor as hulle, hulle werk en poste verloor het, As al hulle sondes ontbloot is hoe handhaaf jy die lewensstyl waaraan jy gewoont geraak het as jy nie meer werk het nie. Dit voorspel moeilikheid wat nie op hierdie stadium vereken kan word nie. Ons soek na die waarheid wat nie sonder ‘n prys gaan wees nie.

My naam is Willem ·

Jy sit die pot mis. Die EFF verwoord die nuwe generasie swartes se haat teenoor blankes. Hulle gaan maklik hieruit ontsnap. Malema en die radikale in die ANC gaan ons eersdaags “regeer”. Natuurlik gaan dit katastrofiese wees. Vir almal.

Andrea ·

Ek weet min van politiek maar redelik baie van my mede-landsburgers. En hulle is verenig in hul diepgewortelde haat en wantroue teen ons. Natuurlik kom baie van ons bo-langs goed oor die weg en geniet ons wedersydse insette. Maar dis net oppervlakkig. Ons is die gemeenskaplike vyand. Moet nooit ooit radikale haatspraak afmaak as praatjies en leëblikgeraas nie. Baie Jode in Europa het ook so gedink in die 1930’s.

Johan H. ·

Die eff is n vertakking van wat die anc wil se en dien,,, Hulle toets die water deurgangs,,, Bid net daar is nie n boertjie wat begin skiet voor die verkiessing nie,, Want dan stem die dommes n hul miljoenne weer vir die anc

Jerry ·

Die boertjie wat gaan begin skiet gaan die domme wees. Hy gaan sy mede boere in groot ellende dompel. Die geskiedenis kan homself herhaal synde “gooi hom in die sloot, trap op sy kop, dan is hy dood”. Pasop!

What a joke! ·

Die Eff se onderhandelingstroef is amper uitgespeel en wat dan?
N goeie stukkie skaakspel van die Anc. Hulle die Eff se radikale anti blank retoriek is hul sterkste wapen maar hul is besig om hulself uit te woed in hul haas om die blankes te ondermein en te ontneem. Wat kan hul volgende bied om hulself te verkoop aan hul ongeskoolde volgelinge aangesien al wat hul offer is rassehaat aanblaasing teen die blankes van Suid Afrika?
Ongelukkig soos hul tans hul sin kry so gaan die land se ekonomie ook verder verbrokkel.

Hul speel mooi in die hande van die anc en wil selfs voorkom om kop in een mus te wees met die anc aangesien hul al hul vuil werk doen en los die anc met n taamlikke skoon reputasie in die internasionale oog om te onderhandel vir bellegers en sanksies vry te spring…
Ek kan nie sien hoe die ekonomie gaan verbeter met grondonteiening nie.Inteendeel n mens kan maar net hoop ou Cyril het geleer uit die Zim gemors maar ek twyfel.
Hoekom sal hy bekommerd wees, hy het homself mos lekker verryk uit kapitalisme maar skree in dieselfde asem kommunisme!
Nes mugabie sal hy nie een nag honger gaan slaap nadat hy die land verwoes het nie!!
Ai ou Afrika ai…

Ken ·

Die EFF sal net aanhou groei. Met hul anti-wit sentiment sal hul steun ekponensieel groei en sal baie goed doen met 2019 verkiesing. Dis ‘n feit. Ons wit velle is nie meer welkom in SA nie. Kyk maar om jou rond….

Henry ·

Dankie tog dr Brink!
Soos gewoonlik ‘n uitstekende skryfsel met nuwe, oorspronklike insigte, ipv ‘n herhaling – tot satwordens toe – van ou temerasies wat deur al wat sogenaamde kenner en ‘politieke ontleder’ herhaal en herhaal en herhaal word. Die spoeg-en-plak brigade van ‘kenners’. :-)

Die piete en pietinne wat so kla oor die ‘mistasting’ van die skrywer, kan gerus ‘n groter poging aanwend om die inhoud van die laaste paragraaf van die artkel onder die knie te kry.

Mag die interessante moontlikheid van ‘n radikale EFF wat sy einde mag tegemoet gaan*, werklikheid word.

* self gesensor.

Gert ·

Sommige peilings wys EFF nou op 12%. Die blote feit dat so baie kiesers vir hulle gestem het of wou stem, bewys reeds dat die land verlore is. Of hulle nou binne die ANC, EFF of DA hulle wit-haat agenda dryf, die gevolge sal soortgelyk wees.
Dan het ons boonop die wit Jerrys wat Afriforum as ;n groter bedreiging sien as die EFF ondersteuners.
Red nou so ‘n land.

Jerry ·

Jy is reg Gert, AfriForum is n bedreiging omrede hulle die jeug in SA hou vir n agenda van verdeling en ondermyning, in plaas daarvan om die jeug te hervestig in ander lande waar die jeug kan leef, laat leef en herleef. Enige organisasie wat die jeug by n gemors betrek en opsweep teen nie net swart organisasies nie, maar mede Afrikaners, dra beslis nie die jeug se beste belange op die hart nie. Hulle sleep die jeug in n ding in wat gaan lelik raak en nie tot voordeel van die jeug se toekoms strek nie. Ons jeug verdien baie beter as wat AfriForum en SA hulle bied. Ellende le en wag in SA en dit kan vermy word deur soveel as moontlik witmense uit SA te kry! Wanneer die ellende intree gaan dit nie meer moontlik wees nie. Mense kan altyd weer terugkeer in die toekoms, sou hulle wou! Alle aanduidings wys daarop dat immigrasie uit Afrika SA se platteland en stede met getalle gaan verswelg. Mense en myne gaan die riviere en ondergrondse water besoedel sodat geen mens of dier dit sal kan drink nie, selfs plante sal nie groei nie. Ons weet dat hierdie dinge besig is om te gebeur en ons kan die ellende wat dit gaan bring, om nie eers te praat van konflik nie, vermy! SA bied geen lewensvatbare langtermyn oplossing vir ons mense nie, daarom kan AfriForum nie hulle aanvanklike beloftes van afsonderlike ontwikkelling en n eie volkstaat gestand doen nie!

Andrea ·

Genade Jerry, ek stem vir die eerste keer 100% met jou saam. Daar is geen toekoms hier nie.

Kowie ·

Sjoe Jerry – jy het n aaklige dag gehad! Moelik om te reageer op jou skrywe – dit is net negatiewe emosie en geen feite nie,wel halwe waarhede. Waar is geloof en vertroue in jou beredenering? Sterkte Jerry, jy het voorwaar n moelike lewe voor.

What a joke! ·

Ou Jerry alweer op daai Paarl papsak wyn van vroeg in die more af…spaar my ek lees eerder iets wat saak maak as sy alewige al in die ronde gebbabel….genade…

Gert ·

Persoonlik dink ek nie die oplossing is om die militante EFF tipes te probeer paai of aktief te probeer om hulle nie te ontstel nie, terwyl hulle ongestoord voortgaan om anti-wit haat aan te vuur. Ek voel dat iemand moet weerstand bied en hulle aanvat. Dit word baie effektief gedoen deur Afriforum. As die houding is “Vat maar ons grond as dit julle net kan kalmeer vir ‘n rukkie”, waarborg ek jou is die einde baie naby.

JAN ·

Afriforum doen uitstekend goed en baie dankie! Seenwense!
EFF is soos John Vorster se briljante plan met sy AWB. Om die kriminele elemente van eertydse Wit Terrorisme die OB te identifiseer en issoleer en beheer / bestuur natuurlik.
Die AWB pas selfs vir Malema op !!
As mens Blake se boek Wit Terroriste lees dan lyk die Ekonomic F-up Front na ‘n tweede-plek-vatter. BEE
lag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.