Is die Kaap Hollands, Afrikaans of Kaaps?

afrikaans-01

Argieffoto.

Verlede Saterdag het Die Burger die volledige toespraak geplaas wat Jeremy Veary onlangs voor die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch gelewer het. Veary is ’n oudlid van die ANC se MK, gewese polisie-offisier (hy het dit tot generaal-majoor gebring) en skrywer van sy outobiografie, Jeremy vannie Elsies.

As ek Veary se boodskap reg verstaan, pleit hy vir die erkenning van Kaaps as volwaardige variëteit van Afrikaans. Dis nie vir my duidelik of hy dit náás Standaardafrikaans soek en of hy dit in die plék van die standaardvorm wil hê nie.

Dat hy ’n hekel aan die standaardvorm het, blyk duidelik uit dié woorde:

“Ai, hoe verpes ek daardie deftige Mercedes- of Fakulteits- of Burokratiese of Germaanserige Aferikaans met sy korsette en Tanglippe en Akkedemies en Hoofkantore! Gee my die lekker bokkem-en-biltong bruin taal, proletêr en mens!”

Veary is nie die eerste wat Kaaps van ’n patois tot ’n volwaardige taal wil verhef nie. Voor hom het iemand soos dr. Michael le Cordeur dit ook al gedoen, terwyl dr. Gerda Odendaal in 2014 selfs gepleit het dat Afrikaans “herstandaardiseer” moet word omdat die standaardvorm “diskriminerend” sou wees.

Nou ja, dis maklik om as wit Afrikaner wat met die standaardvorm grootgeword het, kwaad te word en emosioneel te reageer. Dit bring jou nêrens nie. Kom ons benader die saak kalm en logies.

Dis natuurlik volkome waar dat ons Afrikaners baie lank die aandeel van die bruin mense in die oorspronklike skepping van Afrikaans óf aktief ontken óf verswyg het. Dit was verkeerd.

Iemand soos wyle Achmat Davids het op grond hiervan ’n standpunt verkondig wat eintlik daarop neergekom het dat die bruines die alleenskeppers van Afrikaans was, en dat die Afrikaners die taal gesteel het. Ek het die standpunt ook by sommige ander bruin intellektuele teengekom.

Dis die ander uiterste, ewe verkeerd as die ontkenning van bruines se aandeel. Afrikaans is in sy vroeë jare deur sowel wit as bruin geskep in ’n samelewing waar die grense behoorlik vaag was.

Sedert ek my meer as ’n dekade (agter die liefde aan) in die Lae Lande gevestig het, luister ek na hoe mense praat. Wat my veral interesseer, is dialekte wat in mindere of meerdere mate van Standaardnederlands afwyk.

Dit val my op dat die dialekte wat veral in die kusgebiede gepraat word, op baie dieselfde manier van die standaardvorm afwyk as Afrikaans. Byvoorbeeld: Skoen pleks van “schoen”; zeun pleks van “zoon”; perd pleks van “paard”; die dubbele ontkenning in die Vlaamse kusgebiede; noem maar op – daar is talle voorbeelde.

Die verwyt van Odendaal en ander is dat die standaardisering van Afrikaans in die 20ste eeu gepaard gegaan het met ’n “oordrewe” staatmaak op Nederlands. Sy wys byvoorbeeld daarop dat die tipies Transvaalse gebruik van woorde soos doet, slaat, gaat vervang is met die Nederlandse “doen, slaan, gaan”.

Daarby ignoreer sy egter dat doet, slaat, gaat tipies Nederlandse vorms is – die derde persoon enkelvoud van die werkwoord.

Dis vir my duidelik dat die mense wat so teen Standaardafrikaans agiteer en die geskiedenis van die taal wil herskryf, geen studie van Nederlands in al sy variëteite gemaak het nie. Die belangrikste wortels van Afrikaans – ook Kaaps – lê in die Nederlandse dialekte.

Dit bring my by die volgende punt.

Niemand kan in beginsel beswaar hê dat Kaaps tot ’n volwaardige taal ontwikkel word wat op eie bene staan nie (solank dit lángs Standaardafrikaans staan en dit nie verdring nie). Maar is dit moontlik?

Enigiemand wat iets weet van die geskiedenis van ons taal (gaan lees maar Jaap Steyn se seminale ‘Ons gaan ’n taal maak’ – Afrikaans sedert die Patriot-jare), sal begryp dat dit geslagte se sweet en trane en ’n ongelooflike intellektuele belegging geverg het om Afrikaans van ’n kombuistaal tot ’n literêre, akademiese, wetenskap- en handelstaal te ontwikkel. Wie verder weet hoeveel minagting daardie belegging onder ons Engelssprekende landgenote uitgelok het, sal begryp dat ’n mens nie dieselfde fout teenoor die bruin mense se houding oor Kaaps moet maak nie.

Ons het, sy dit met moeite, daarin geslaag om Afrikaans te ontwikkel en die Engelse verkeerd te bewys. Die vraag is nou: Het die bruin mense die nodige intellektuele voorraad om dit met Kaaps te doen?

Geen wit Afrikaner is geregtig om ’n antwoord uit die hoogte daarop te gee nie; slegs die bruin mense kan dit doen deur dit te probeer. En waar hulle dit probeer, kan ons ons eie ervaring met hulle deel.

Die antwoord sal uiteindelik lê in die sukses, al dan nie, van hul pogings.

Intussen is dit verkeerd om teen die standaardvorm van ons taal te kere te gaan. Elke taal het ’n standaardvorm wat weens uiteenlopende historiese omstandighede ontwikkel het.

Hoogduits en Standaardnederlands was albei die gevolg van Bybelvertalings – Duits van Martin Luther se vertaling en Nederlands van die Statebybel.

Luther het die dialek gebruik wat gangbaar was in die omgewing van die Saksiese stad Meissen, wat mettertyd die standaardvorm van die hele Duitssprekende gebied (Duitsland, Oostenryk, die grootste deel van Switserland) geword het.

Wat die Statebybel betref, die Sinode van Dordrecht (1618) het bepaal dat geen enkele dialek by die vertaling die botoon mog voer nie. Dié Bybel is vertaal deur twee Oos-Vlaminge, twee Friese, ’n boorling van Zeeland en een van Holland.

Hulle het koppe bymekaar gesit en telkens ’n kompromis tussen die verskillende vorms gesoek. Waarby ’n mens moet voeg dat die dialekte van die provinsie Holland, polities en ekonomies die oorheersende streek, tog dikwels die botoon gevoer het.

Soortgelyke geskiedenisse kan ook vertel word van Frans, Italiaans, Spaans, ensovoorts.

Die punt is dat elke taal ter wêreld ’n standaardvorm het wat deur almal verstaan word. Standaardafrikaans het ontwikkel uit die taal wat in die 18de en vroeë 19de eeu aan die Oosgrens gepraat en in die Groot trek na die Noorde geneem is. Aangesien Transvaal nou eenmaal polities en ekonomies die belangrikste streek in Suid-Afrika geword het, het dít die grondslag vir die ontwikkeling van Standaardafrikaans in die 20ste eeu geword.

Ja, die mense wat die taal help standaardiseer het, het doelbewus na Nederlands teruggegryp. Dit lyk of Veary, Odendaal en ander dit as ’n misdaad sien.

Hoe ook al, Standaardafrikaans bestaan nou eenmaal en het ’n nuttige funksie. As die bruin mense daarin slaag om Kaaps tot dieselfde vlak te ontwikkel – uitstekend. Maar los Standaardafrikaans uit!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Baardbek ·

Geagte mnr. Scholtz, (Leopold), mag ek beskeie reageer op u bostaande artikel?
Ek doen dit maar, (sonder u eksplisiete toestemming?), en versoek vriendelik u genadige oorweging/lees daarvan.
Skrywer is inderdaad ‘n trotse Afrikaanssprekende, hoe swak my taalgebruik, spelling, sinsbou en dergelike “geleerde” aspekte ookal mag wees. Ten eerste dankie vir u altyd keurige, en na my mening korrekte gebruik van die Afrikaanse taal; seker dan nou die “Standaardafrikaans” waarna u artikel verwys.
Dit veroorsaak vir my persoonlik, sonder uitsondering, ‘n ernstige wroeging, wanneer die taal bykans daagliks, kom ons sê maar, “mishandel” word!
Iets wat spesifiek grensloos pla, is die hedendaagse algemene verwysing na die sogenaamde “lewende taal”, om die, mag ek dit noem(?), “verkragting” van ons suiwer taal te verwys!
Al die “nuwerwetse” woorde, wat dikwels eintlik niks minder is as anglisismes nie, en wat selfs in die nuutste WAT opgeneem word, is vir sommige van ons meestal walglik en kwetsend.
Daarmee word nie impliseer dat nuwe woorde nie gevind mag word nie, maar waarom bloot ander tale se bog “oorneem”, met somtyds slegs ‘n effens aangepaste spelling!
Ek koes solank by voorbaat vir al die klippe wat waarskynlik na my geslinger sal word, maar dit is slegs my persoonlike mening!
Hoor graag u kommentaar hieroor.
Geseënde dag verder!

Leopold Scholtz ·

Al wat ek hierop kan s^e, is: So ‘n bek moet j^em kry! Dankie vir die reaksie.

Charles ·

Ek stem 100% persent saam Leopold!

Asseblief, ontwikkel Kaaps, maar los ons standaard Afrikaans in vrede!

Dit is JUIS waarom daar verskillende dialekte (eintlik vorme) is, want dit is behorende in ‘n bree sin tot verskillende groepe, en dit is REG so en ‘n viering van diversiteit, maar weereens, los asb. ons taal uit en moenie eers waag om daarteen te diskrimineer nie!!

Paul ·

Dr. Leopold, ek hoop van harte die opstellers van die AWS lees hierdie rubriek van jou en neem dit ter harte. Die lede van die Taalkommissie wat verantwoordelik was vir die 2017-AWS uitgawe, is Herman Beyer, Frank Hendricks (ondervoorsitter), Sophia Kapp, Frikkie Lombard, Phillip Louw, Jana Luther, Marné Pienaar, Suléne Pilon (sekretaris) en Gerhard van Huyssteen (voorsitter).

Charles ·

Leopold,as gekyk word na die argitektuur van die Afrikaanse taalmonument in die Paarl(nl.Europa,Afrika en Asie-ERKENNING),asook die werk wat bv.die taalkundige, G.S.Nienaber(broer van P.J en C.J.M.)gedoen het om die verskeidenheid m.b.t. die ontstaanstorie van Afrikaans uit te wys[sy belangrikste bydrae is op die gebied van die taalgeskiedenis.Saam met S.P.E. Boshoff skryf hy Afrikaanse etimologieë.In Hottentots gaan hy die uitgestorwe Kaapse dialekte na en maak interessante vondste,onder meer ten opsigte van taalwette oor die variabiliteit van konsonante.Sy Khoekhoense stamname is in 1992 op die kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.Met hierdie twee publikasies maak hy ’n besonder waardevolle bydrae tot die boekstawing van hierdie dialekte op die ontwikkeling van Afrikaans.In 1994 lewer hy ’n bydrae in die huldigingsbundel aan Edith Raidt,Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans.Sy artikel is getiteldDie ontstaan van Khoekhoe-Afrikaans,waarin hy argumenteer dat Afrikaans met sewentiende-eeuse Nederlands as basis uit drie hoofstrome ontwikkel,naamlik Burger-Afrikaans, Khoekhoe-Afrikaans en Maleis-Afrikaans.Van sy ander publikasies sluit in bv. Afrikaanse woorde in Xhosa]is die stelling dat Afrikaners die aandeel van bruinmense in die ontstaan van Afrikaans ondermyn of verswyg het heeltemal aanvegbaar-en soveel meer is die vyandigheid v/d genoemde mense en bruinmense teenoor Afrikaans in die lig van bg.BAIE VREEMD. Maar hoe dit ookal sy,baie dankie vir die geleentheid om die wonderlike werk wat die Nienaber broers verrig het uit te wys!

apie ·

Wonderlike stuk en fantastiese kommentaar ook van almal. Hier in die Kaap is Afrikaans ‘n mix soos die mense in ‘n groot mate ook al is. Sandaard Afrikaans as akademiese taal is goed, en Kaaps Afrikaans het sy eie plek daarnaas. Dit sal groot erkenning gee aan mense wat die taal verryk het en steeds doen. Wat mense vergeet is dat baie Afrikaanssprekende mense uit die Kaapse geledere en ook die NoordKaap pragtige ou woorde steeds gebruik en hul diaklekte en insette is soos heuning om te hoor. Gee die Kaapse Afrikaanses mense asb hul status – hulle maak die hele Afrikaanse landskap baie interessanter en kleurvoller

Snowball ·

Afrikaans is vir my die soetste woorde en die mooiste klanke, indrukwekkend statig en akademies, of kwistig en wulps in alledaagse Kaapse lekkerkry. Alles, ook die dialekte bly tog Afrikaans, met Afrikaans as basis. Taal verander, word nuut en pas aan, maar dit sou dom en benouend wees om een dialek van die taal te probeer verhewe bo bv. die standaardvorm, bloot om ‘n sekere groep gebruikers tevrede te hou. Mag die taal nie maar soms uit haar statige pakkie klim en lekker los rondloop nie? Kletsrym in Afrikaans laat die tone krul, maar poësie en letterkundige vernuf praat met die siel en die hart en die intellek. Dit is dan juis wat Afrikaans so besonder divers en mooi maak – daar is plek vir almal. Die Kaap was tog mos eers Hollands, en ook Maleis en bietjie Frans en Engels en Duits, maar Afrikaans bly Afrikaans, die middelpunt waarom ons almal op ons eie ritme en klanke dans.

Twakkie ·

Puik artikel. Paar opmerkings uit my eie ondervinding: elke taal móét ‘n “standaardvorm” hê, gewoonlik die een wat op skool geleer en deur die media gebruik word, om seker te maak almal verstaan mekaar darem soms! Dialekte kan veral wat benaminge betref só verskil dat mense mekaar heeltemal verkeerd verstaan. As reeds tweede geslag taalpraktisyn in ons gesin, is Standaard-Afrikaans my spreektaal. Dit het my ‘n paar jaar geneem om ‘n skoonma uit die Sandveld nie meestal verkeerd te verstaan nie en uiteindelik het ek my verkneukel aan die benaminge vir dinge deur mense wat glad nie Engels ken nie, soos “handtakkie” vir my bruidsruiker! Die Kaapse Afrikaans van my huishulp die afgelope kwarteeu was weer ‘n heeltemal ander storie. Weer eens veral benaminge vir my ‘n onverstaanbare brousel van Afrikaans en TV-Engels wat ek nie verstaan nie en sy ook nie kan verduidelik nie. Iemand word byvoorbeeld afkeurend beskryf as “bêtlik”, maar waar dit vandaan kom, weet sy nie. Dalk “bad luck”? En dan jare se werk as vertaler in ‘n finansiëledienste-omgewing, waar die oorsprong van byna alles (veral IT) Amerikaanse Engels is. ‘n Vertaler móét die kliënt tevrede stel, dus moet jy hulle bargoens ken en gebruik. Maar daar móét ‘n standaardvorm van Afrikaans wees wat ons almal verstaan, vir belangrike kommunikasie in die openbare sfeer. Anders kan ons bloot nie kommunikeer nie. En dit sal ‘n bêtlike besigheid afgee!

Trots Afrikaans ·

Nou wil hulle ons pragtige taal nog verder verkrag. Bring liewer Duits as twede taal terug in skole en stel onderwysers aan wat Afrikaans kan gee soos dit was in die 1940s, nie die gemors wat deesdae gepraat word nie.

Jou taal is >50% van wie jy is, MOENIE JOU TAAL VERWAARLOOS NIE!

Therese van Schalkwyk ·

Mag al die regte mense hierdie puik artikel lees!

Waarom bruin mense voel dat hul aandeel aan die ontstaan van Standaard-Afrikaans ontken of verswyg word, is nie duidelik nie. Kan nog baie goed onthou dat elke Afrikaans handleiding van standerd 6 tot matriek die ‘erfgoed’ en ‘leengoed’ uit verskeie ander tale deeglik behandel het.
Erfgoed natuurlik van Nederlands.
Leengoed uit Maleis doepa, piering, bredie, blatjang, bobotie ens.
Uit swart tale kaia, mamba, impala ens.
Bruin mense het woorde soos karos, kierie, kambro, boegoe, Karoo ens. bygedra.
Portugees, Frans, Duits, Engels het ook bydraes gelewer.

Die tragiese feit dat van Afrikaans ‘n politieke speelbal gemaak is, sal tot in lengte van dae op talle mense se gewetes rus.

Vra net ·

Ek hoop iemand kan my ‘n nugtere antwoord gee op ‘n ding wat my al jare pla. Hoekom word net woorde uit Engels as “anglisismes” gesien, maar leenwoorde uit ander tale, is aanvaarbaar? Is dit nog ‘n diepgewortelde renons wat daar is teen alles wat Engels is? Ek vra, want dit lyk my slegs Engelse woorde wat met ‘n Afrikaanse aksent uitgespreek word is anglisismes. Dit voel my asof logika ontbreek.

Paul ·

@Vra net. An Anglicism is a word or construction borrowed from English into another language.

With the rise in Anglophone media and global spread of British and American cultures in the 20th and 21st centuries, many English terms have entered popular usage in other tongues. Technology-related English words like internet and computer are particularly common across the globe, as there are no pre-existing words for them.

Paul ·

@Vra net: An Anglicism is a word or construction borrowed from English into another language. (Dus énige ander taal.)

With the rise in Anglophone media and global spread of British and American cultures in the 20th and 21st centuries, many English terms have entered popular usage in other tongues. Technology-related English words like internet and computer are particularly common across the globe, as there are no pre-existing words for them.

Wat Afrikaans betref, my waarneming is, vir 99% van die Engelse woorde was ons vindingryk en het ‘n eie woord daargestel, in ander gevalle was ons lui en het die Engelse woord gebruik.

Sarie ·

‘n Nederlandse meisie het eenkeer vir my gesê ons Afrikaanssprekendes vind altyd nuwe woorde vir nuwe tegnologie en jy vind die neiging by Duitsers ook. Interessant Breyten Breytenbach se antwoord op Veary se toespraak. Lees dit op Litnet

dejager ·

Afrikaans is onder druk as spreektaal.Ek het vir 10 jaar in ń bruin gemeenskap gewerk en kan
julle verseker duisende bruin ouers praat net engels met hulle kinders.ń Mens vind dit ook in die wit gemeenskap maar tot ń veel mindere mate—dikwels mense wat in elk geval emigrasieplanne het.
Ek dink die ‘Kaaps-dilemma’ is tydelik.Ons kleinkinders hier in die ou Transvaal gaan oor honderd jaar nog fluks ons taal besig dan
het die Kaaps-sprekers almal verbrits.(‘sad ma’true’ my bru)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.