Is die Konstitusionele Hof in ʼn krisis?

Deur Cerneels Lourens

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Ek is van mening dat die direkte gevangenissetting van oudpresident Jacob Zuma deur die Konstitusionele Hof met die uitspraak op 29 Junie 2021 nie in ooreenstemming met die vorige Suid-Afrikaanse regspraak is nie.

Ek stem dus saam met die minderheidsuitspraak van regters LV Theron en C Jafta dat hy ʼn opgeskorte vonnis moes kry onderhewig daaraan dat hy met die Zondo-kommissie moes saamwerk. Na byvoorbeeld 30 dae sou die vonnis dan in werking tree indien hy nie sy samewerking sou gee nie. Die hof moes geregtelik kennis geneem het dat die Zondo-kommissie uitstel vir nog drie maande op 28 Junie 2021, ʼn dag voor hierdie uitspraak, vir afhandeling van sy werksaamhede gekry het. Die Konstitusionele Hof het die direkte gevangenisstraf gelas. Hierdie presedent sal deur ʼn parlementswet reggestel moet word, want anders gaan siviele litigante hierdie proses misbruik om siviele vonnisse af te dwing en mense in stryd met artikel 12 en 35(3) van die Grondwet vir siviele vonnisse tronk toe te laat gaan.

Ek stem saam dat Zuma minagting van die hof gepleeg het. Ek dink egter die saak gaan waarnemende hoofregter Raymond Zondo, wie se termyn by die Konstitusionele Hof oor drie jaar afloop, die hoofregterskap kos. Ek het gefrons toe hoofregter Mogoeng Mogoeng vir Zondo as hoof van die kommissie genomineer het, want dit het effektief hierdie bekwame regter vir sowat drie jaar van die Konstitusionele Hof se bank gehaal terwyl daar verskeie goeie oudregters beskikbaar was.

Die Zondo-kommissie het baie kritiek ontvang tydens die aanvanklike saak van einde Januarie 2021, toe Zuma gelas is om voor die kommissie te verskyn. Die “met handskoene” hantering van Zuma en die verkeerde prosedure wat die Zondo-kommissie gevolg het, blyk duidelik uit die saak. Die hof het direkte toegang tot die Konstitusionele Hof verleen omdat die kommissie se werk so ʼn groot openbare belang dien, en direkte toegang impliseer verder dat dit jou laaste geleentheid in ʼn hof is.

‘Die Zondo-kommissie moes jare terug al vir Zuma gedagvaar het om voor hom te verskyn en nie net vriendelike briefies en direktiewe gerig het nie,’ is in mooier regstaal deur die eenparige uitspraak van regter Chris Jafta gesê. As dit nie Zondo was wat hierdie aansoek om direkte toegang gebring het nie (want hy het mos ʼn goue sleutel tot die Konstitusionele Hof), vra ek myself af of die Konstitusionele Hof steeds direkte toegang sou gegee het?

Ek het ook gewonder of Zondo vir president Cyril Ramaphosa krities genoeg hanteer het tydens sy verskyning as leier van die ANC, want die president moet oor so drie maande ʼn nuwe hoofregter aanwys. Ramaphosa neig myns insiens daartoe om ʼn vrou as hoofregter aan te wys. Die groot kraak in die Konstitusionele Hof, naamlik dat regters van dié hof net vir twaalf jaar mag dien, gaan regter Sisi Khampepe (wie se termyn in Desember tot ʼn einde kom) van hierdie geleentheid ontneem, maar nie vir regter LV Theron nie.

Die Konstitusionele Hof het die afgelope ruk ‘n paar regters verloor. ʼn Groot probleem is egter dat nuwe regters nie net met ervaring instap nie.

Die Konstitusionele Hof gaan waarskynlik die vonnis verminder ten einde sy eie skade te beperk en as hulle so lank neem soos wat hulle gewoonlik doen, is Zuma dan dalk reeds op mediese parool uit. Die Konstitusionele Hof gaan sleg lyk as hulle die gevangenissetting tersyde stel en gaan groot reputasieskade lei, maar suiwer juridies gesproke behoort hulle dit te doen. Ons het dus “die doel heilig die middele”-uitspraak, wat populêr was, maar dit is regstegnies onsuiwer. In praktyk is dit ʼn rekordplasing van die hoogste hof dat daar nie groot vertroue in die SAPD en die direkteur van openbare vervolging bestaan nie, net so min as wat daar vertroue bestaan in die lang pad wat ʼn gewone litigant deur al die appèlle moet stap; ʼn kortpad was dus nodig.

Die lompheid van die hoogste hof om ʼn tersydestelling van eie vonnis te moes oorweeg, onderdruk hierdie sterk minderheidsuitspraak van regter LV Theron en dui myns insiens op ʼn leierskapsvakuum in die hof. Die twee standpunte kon maklik versoen gewees het as die verlenging van die Zondo-kommissie se termyn voor die hof gebring is. ʼn Tersydestellingsaansoek is gewoon net nie regtens houdbaar nie, maar die regsfout in die aanvanklike uitspraak het hierdie regsplafon gekraak en ʼn hof van finale instansie is gerelativeer.

Ek dink nie hoofregter Mogoeng sou ʼn verskil gemaak het nie, maar sou regter Zondo so ʼn situasie suksesvol kon bestuur, sou die dilemma nie ontstaan het nie. Hy is natuurlik ook baie nou in hierdie spesifieke saak betrokke. Die Zondo-kommissie wou egter, soos hulle in die hof gevra het, vir Zuma tronk toe stuur en sy minagtende optrede ná Januarie se bevel het daartoe bygedra dat die meerderheidsuitspraak van objektiewe regspleging gewyk het. Die Konstitusionele Hof kon geregtelik van die verlenging kennis geneem het en die rede vir die meerderheidsuitspraak – dat daar nie meer tyd vir ʼn opskortingstermyn is nie – is dus feitelik onakkuraat. Die versuim van die Zondo-kommissie om die Konstitusionele Hof formeel in kennis te stel, is dalk ʼn aspek waaroor gefrons kan word en gaan hom dalk nog duur te staan kom.

Daar moet dringend daarna gekyk word om die 12-jaartermyn van regters tot minstens 18 jaar te verleng, aangesien ons te veel ervaring in die Konstitusionele Hof met hierdie gedwonge aftrede verloor. Ek is eintlik ten gunste van lewenslange aanstellings, soos in die VSA, maar met ʼn beperking op die hoofregter se termyn tot sewe jaar. My voorkeurkeuse vir die nuwe hoofregter is steeds Zondo, wat darem dan sowat nege jaar as hoofregter sal kan ageer.

Die vonk, wat hierdie arres in die Zuma vs. Ramaphosa-kruitvat gegooi het en die plundering veroorsaak het, is deels aan hierdie verkeerde uitspraak te wyte. Die twee hofsake is besonder interessante leesstof, veral die laaste een van 29 Junie 2021.

  • Cerneels Lourens is ʼn prokureur van Brits en bekende taalkampvegter.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Maar hy weier dan om voor regter Zondo te verskein.Hoe sou ‘n opgeskorte vonnis dit verander het?

Boerkind ·

Met die plunderaars (ANC) aan bewind en linkse Marxiste (EFF) teenwoordig, is die land in ‘n krises…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.