Is die skeidsregter getoets vir kleurblindheid?

rugby

Argieffoto

ʼn Groot sug van verligting het onder die Bloubulondersteuners opgegaan nadat die Bulle ʼn naelskraapoorwinning oor die Cheetahs behaal het. Die verligting was seker net so groot by die afrigtingspan, want die kritiek teenoor hulle het byna oorweldigend geraak.

Die Bulle het nog geen rede om goed te voel nie, want die Vrystaat het te gemaklik teen die einde die wedstryd byna omgeswaai. Om met slegs 4 punte te wen teen die span wat nou tweede-laaste op die rangleer lê, is niks om oor huis toe te skryf nie . Die 4 punte vir die Bulle beteken egter dat die Cheetahs nou laaste op die punteleer lê.

Die wedstryd tussen die WP en die Griekwas het getoon dat die WP tog goeie aanvallende rugby kan speel. Dit is egter verwarrend as die truie van die spanne dit moeilik maak om objektief te blaas  Is die skeidsregter getoets vir kleurblindheid? Om in ʼn losgemaal te onderskei tussen ligblou en wit strepe teenoor poublou en wit strepe was vir my verwarrend en ek kan julle verseker dat ek glad nie kleurblind is nie. Nadat die truie van die Griekwas vervang is, het dit ietwat beter gegaan met die onderskeid tussen die spelers, maar dit moes die Griekwas ontsenu het, want voor hulle hulle oë kon uitvee was die telbord aan die rol en alhoewel hulle moedig teruggeveg het, was daar geen keer aan die WP nie.

Die Sharks het afgesit teen ʼn tempo wat gelyk het of hulle die wedstryd sommer in die eerste helfte wou beklink. Elton Jantjies het egter die telbord vir die Leeus aan die rol gehou en stadig maar seker het die Leeupak, soos ʼn stadige gif, die verlammende druk op die Sharks begin toepas. Oordeelkundige gebruik van plaasvervangers het die wedstryd in die Leeus se guns geswaai.

Die Leeus het met ʼn effe twyfelagtige drie die neus voorgekry, maar toe plaasvervangerflank, Jaco Kriel, met die groot nommer 17 op sy rug 60 meter deurnael met een of twee halfhartige pogings om hom te keer, was die koeël deur die spreekwoordelike kerk . Dit was beslis die aanskoulikste wedstryd van die naweek.

Nou lê daar nog drie wedstryde voor voordat die uitspeelwedstryde kan begin. Hopelik kan die Bulle nog so een op twee wedstryde wen en in die vierde plek eindig. As dit gebeur sal dit van hulle self afhang wat met hulle sal gebeur.

Dit bly egter vir my moeilik om te glo dat die Kings teen die swakste span in die Curriebeker die pyp gaan rook in die promosie relegasiewedstryd wat aan die einde van die seisoen volg.

Die Springbokkeurders het nog opwindende nuwe spelers nadergeroep en een veteraan. Mag hulle nou ook die insig hê om die beste span – en nie die beste reputasies nie – te kies.

Alle sterkte aan ons T20-krieketspan. Hulle skuld ons nou al lankal ʼn beker in ʼn uitklopkompetisie.

Rugbygroete uit die Bosveld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.