Is die skending van ’n gemeenskap se erfenishulpbronne ’n skending van hul menseregte?

Hierdie is die verwerking van ’n referaat aangebied deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake van AfriForum by die jaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis in Simonstad op 18 Oktober 2019

Die Internasionale strafhof en die skending van erfenishulpbronne

‘n Man bid by ‘n beskadigde graf in Timboektoe in April 2014. Foto: (AP Photo/Baba Ahmed, File)

In 2016 is ’n saak in die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, oor die vernietiging van godsdienstige monumente in Timboektoe, Mali, aangehoor. Dié vandalisme het plaasgevind toe magte van Al-Kaïda-verwante groepe die stad in 2012 beset het. Die aangeklaagde, Ahmad al-Faki al-Mahdi, is skuldig bevind daaraan dat hy opdrag gegee het dat hierdie monumente vernietig word. Ten spyte van betoë ter versagting, is hy tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis. In Augustus 2017 is verder beslis dat skadevergoeding ter bedrae van byna €3 miljoen aanvullend tot Al-Mahdi se straf aan die plaaslike gemeenskap in Timboektoe betaal moet word.

Dit was die eerste keer dat iemand op klagtes rakende die skending van erfenishulpbronne deur die Internasionale Strafhof verhoor is – ’n reg wat die Statuut van Rome aan die hof verleen. Dié statuut bepaal, onder meer, dat die vernietiging van historiese geboue en monumente met godsdienstige betekenis, ’n oorlogsmisdaad is.

Die konsep van bewaring van kwesbare erfenisbates, veral in tye van konflik, is egter veel ouer as hierdie saak.

Reeds in 1899 en 1907 is die Haagse Konvensies geskep om erfenis te probeer beskerm. Dit het nie juis sukses behaal nie, as die Eerste Wêreldoorlog se gevolge in gedagte gehou word.

Die Russiese advokaat, skilder en skrywer, Nicholas Roerich, wat getuie was van die vernietiging van kulturele bates in Rusland tydens die Oktober-revolusie, asook tydens die Eerste Wêreldoorlog, was verantwoordelik vir die Roerich-verdrag van 1935. Dit het gepoog om meer omvattende beskerming aan kulturele bates tydens gewapende konflikte te bied. Helaas het grootskaalse vernietiging egter weer in die Tweede Wêreldoorlog gevolg.

Tydens die Neurenberg-verhore, ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog, is mense in 1946 die eerste keer vir die vernietiging van erfenishulpbronne aangekla. Die sukses van dié vervolgingsprosesse het aanleiding gegee tot die Den Haag-Konvensie vir die Beskerming van Kulturele Eiendom in die Geval van Gewapende Konflik van 1954.

Daarna het die Statuut van Rome in 1998 gevolg. Dit het die reeds genoemde vervolging van Al-Mahdi deur die Internasionale Strafhof moontlik gemaak, maar steeds gaan die vernietiging voort.

Skade wat deur Isis aangerig is in antieke plek van Nimrud, Irak. (AP Photo/Maya Alleruzzo, File)

Die aard van militêre en ander tipes konflik wat erfenis bedreig, het tot gevolg dat die sukses van enige ooreenkoms ter beskerming daarvan, gebrekkig is. Organisasies soos Geneva Call kom selfs tot stand om die belang van erfenis onder die aandag van sogenaamde gewapende niestaatlike optreders te bring. Hulle 2018-publikasie, Culture Under Fire: Armed Non-state Actors and Cultural Heritage in Wartime, wat deur UNESCO geborg is, probeer bewusmaking in dié verband skep.

Betoë wat tydens die Al-Mahdi-saak gelewer is, is van kernbelang wanneer ons oor erfenis praat. Die aanklaer van die Internasionale Strafhof, Fatou Bensouda, het byvoorbeeld gesê:

“Vandag se verhoor is inderdaad histories. En dit is des te meer histories, gesien in die lig van die vernietigende woede wat ons era kenmerk, waarin die mensdom se gesamentlike erfenis onderwerp word aan herhaaldelike en beplande vernietiging deur enkelinge en groepe wat hulself ten doel stel om die verteenwoordiging van enige wêreld wat van hulle s’n verskil, uit te wis deur die fisieke manifestasies daarvan wat aan die hart van gemeenskappe lê, te verdelg. Die verskille en waardes van hierdie gemeenskappe word sodoende eenvoudig ontken en uitgewis.”

Skeptici het wel ná die tyd verklaar dat die verhoor eerder ’n beeldbou-oefening vir die strafhof was, met ’n “maklike wen” om die relevansie van die hof te probeer bewys, maar dit doen nie afbreuk aan die feit dat ’n baie sterk standpunt oor erfenisbewaring daar ingeneem is nie.

In ’n ontleding van die saak wat op die blog, Justice in Conflict, verskyn, word verklaar:

Die Al-Mahdi-saak is ’n kragtige bewys daarvan dat die Internasionale Strafhof kulturele misdade in dieselfde ernstige lig as enige ander oorlogsmisdade beskou.

Maar dan voeg die ontleder sinies bly:

“Dit is egter onwaarskynlik dat ’n Isis-terroris in Palmyra of ’n Taliban-vegter in Bamijan sal stilstaan en sê: ‘Wag, iemand is onlangs vervolg vir die vernietiging van grafmonumente in Timboektoe. Ek beter eerder my koevoet neersit’.”

Voorvalle van erfenisskending

Irakese polisiebeamptes hou wag by die Mosul-museum in Maart 2017 nadat Isis groot skade aangerig het. Foto: (AP Photo/Khalid Mohammed, File)

Van die ergste voorvalle van erfenisskending in die onlangse verlede, het aan die hand van Isis plaasgevind. Op 26 Februarie 2015 het lede van die groep ’n video-opname vrygestel wat toon hoe hul artefakte in die Mosul-museum doelbewus vernietig word. Hul doelstellings was, onder meer, om duidelik te maak dat niks en niemand wat voor hulle bestaan het, van enige betekenis was nie. Die optrede is beskryf as “ ’n poging om die wêreld se gesamentlike geheue te vernietig”.

Van die voorwerpe wat vernietig is, was faksimilees, ander was oorspronklik en onvervangbaar. Dit is moontlik dat die video-opname ’n rookskerm was, en dat sommige van die artefakte nie vernietig is nie, maar gesteel, om wapenaankope te finansier – maar dalk is dit te veel om voor te hoop.

Hierdie skokkende voorval speel ook ’n groot rol in ’n uitstalling wat tans by die Imperiale Oorlogsmuseum in Londen te sien is. Die tema daarvan is “Kultuur onder aanval”. Besoek asseblief die museum se webwerf vir baie insiggewende inligting en beeldmateriaal (https://www.iwm.org.uk/history/culture-under-attack).

In hierdie uitstalling word die verskynsel van erfenisskending in fyn besonderhede ondersoek. Onder meer word gesê dat dit ’n verwerping van diversiteit is, asook ’n grafiese manier waarop ’n skrikwekkende boodskap oorgedra word, naamlik: “Gee toe aan ons, of verloor alles wat vir jul kultuur van betekenis is”.

Sodanige aksie kan egter die teenoorgestelde doel bereik, omdat dit iets raak wat só kosbaar vir ’n gemeenskap is, dat dit juis groter weerstand teen die skender kan aanmoedig.

Die uitstalling noem ook dat mense ongelooflike stappe sal doen om kulturele erfenis te red. Soms sal hulle selfs bereid wees om te sterf daarvoor.

’n Voorbeeld in dié verband is die “Monumente van die Skone Kunste en Argiewe-program” wat in 1943 van stapel gestuur is as teenvoeter van die Nazi’s se sistematiese veldtogte van vernietiging en plundering, asook van die Geallieerde Magte se aksies wat soms ewe vernietigend vir erfenis was. Die deelnemers aan dié program staan in die volksmond as die “Monumente Manne” bekend. In 2014 is ’n rolprent, The Monuments Men, met onder meer, George Clooney, Matt Damon en Cate Blanchett oor hul avonture vrygestel. In hierdie geval is die ware gebeure waarskynlik selfs meer spannend, interessant en opwindend as die silwerdoek-weergawe daarvan – twee van die groep manne het inderdaad gesneuwel tydens pogings om erfenis te red.

Die Imperiale Oorlogsmuseum se uitstalling verwys ook na ’n verskynsel wat “die uitwissing van geskiedenis” genoem word. ’n Byskrif definieer dit as ’n “deel van doelbewuste pogings om mense uit te wis: hul verlede, sowel as hul hede en toekoms”.

Hierdie aspek hou ’n belangrike waarskuwing vir Suid-Afrika in, soos later verduidelik sal word.

Debatte oor gedenktekens 

rhodes-standbeeld

Foto: Twitter

In die Verenigde State van Amerika word deesdae voortdurend debatte oor gedenktekens, wat met kolonialiste en ondersteuners van slawerny te make het, gevoer. Dit is ook die geval in Nederland, waar enkele standbeelde al gevandaliseer is.

In September vanjaar het die Amsterdamse Museum besluit om met die benaming “die Goue Eeu” vir die sewentiende eeu weg te doen, omdat dié tydperk volgens hulle nie “goudkleurig” was vir slawe en gekoloniseerdes nie. Daarenteen het die Ryksmuseum besluit om die benaming te behou.

In debatte soos hierdie speel die filosofie van Frantz Fanon (1925-1961), met sy fokus op dekolonialisasie en wit bevoorregting, ’n vername rol.

Dit is ook die geval wat Suid-Afrika se eie “beeldestorm” betref – ’n stryd wat met die #RhodesMustFall-protesbeweging in Maart 2015 ’n aanvang geneem het.

Nadat die landwye #MustFall-veldtog oor standbeelde gaandeweg deur die stryd vir gratis tersiêre onderrig oorskadu is, het dit stoom verloor, maar voordat dít gebeur het, het gemoedere só hoog geloop, dat die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, op 17 April 2015 ’n beraad oor die transformasie van erfenis gehou het. Daaruit voortspruitend is ’n taakspan aangewys wat riglyne vir so ’n transformasieproses moes skep – ek was een van die taakspanlede.

Die span het aanvanklik landwyd openbare raadplegingsessies met bewaringskundiges en ander gemeenskapsleiers onderneem. Daarna is met die opstel van ’n verslag en aanbevelings begin – baie hiervan aanvegbaar en hoegenaamd nie vir my of vir AfriForum aanvaarbaar nie, maar voorlopig eers meer oor die raadplegingsessies.

Die een feit wat in alle provinsies duidelik was, is die ongelooflike onkunde oor die geskiedenis wat onder Suid-Afrikaners heers. In KwaZulu-Natal het een deelnemer byvoorbeeld verklaar:

“Niemand praat oor die rol van swart mense in die Tweede Wêreldoorlog nie; in stede daarvan word ons vertel dat die Tweede Wêreldoorlog oor die vergassing van Jode gegaan het, net omdat die Jode die ekonomie besit en bepaal het wat in die media gesê word.”

Ten spyte van die #MustFall-bewegings, het min mense gevra dat enige standbeelde verwyder moet word. Inteendeel, in die Wes-Kaap het gemeenskapsleiers juis hul honger na meer inligting oor eie geskiedenis uitgespreek.

Diegene wat ten gunste was van die oprig van meer standbeelde wat die breër gemeenskap verteenwoordig, het in die Oos-Kaap bloot gevra dat nuwe beelde dan net so groot en van dieselfde gehalte as bestaande monumente moes wees om nie teen bestaande beelde en monumente af te steek nie.

In die Vrystaat het een na die ander teenwoordige eenvoudig gevra: “Gee vir ons werk en hospitale en skole. Meer of minder standbeelde maak aan ons geen verskil nie.”

Byna vyf jaar later het ek uiteenlopende herinneringe aan die proses, maar ook aan die spanlede met wie bande van wedersydse erkenning en respek gebou is, al het ons ooreengekom om te verskil. Ek bly egter staan voor die vraag of dit ’n egte proses was, of bloot ’n noodmaatreël om die vandalisme te probeer stop, of ’n ideologiese verskoning om van die laaste spore van ’n koloniale, Afrikaner en/of wit erfenis ontslae te raak?

’n Voorstel wat deurgaans in konsepverslae en die finale weergawe opgeduik het, is dat alle standbeelde wat “aanstoot gee”, met ander woorde uit die eras voor 1994 dateer, in temaparke uitgestal moet word – ’n voorstel wat sy ontstaan aan die Muzeon Park of Arts in Moskou te danke het.

Die verwydering van enige erfenishulpbron uit die openbaar omdat dit vir een of ander segment van die gemeenskap aanstoot gee, kan as ’n vorm van geskiedenisuitwissing beskou word, selfs al sou so ’n stuk steeds bewaar word, of elders toeganklik wees. Die historiese voetspoor wat ’n vorige geslag nagelaat het, word daardeur gemanipuleer. Dit beteken allermins dat ons alle gebeure of individue van die verlede hoef te vereer, of dat alle gebeure van die verlede bo kritiek verhewe moet wees – geskiedenisbeoefening laat ons immers met die ruimte om hul invloed opnuut te herinterpreteer, maar om dit te kan doen en die openbare debat daaroor lewendig en gesond te hou, moet hierdie spore in konteks sigbaar bly.

Persoonlik vra ek: As my voorvaders se standbeelde soveel pyn veroorsaak dat hulle uit die openbaar moet verdwyn om nie aanstoot te gee nie, hoe lank is ek en my nasate dan nog hier welkom?

Hierdie risiko word ook in die Imperiale Oorlogsmuseum se uitstalling beklemtoon.

Daar word beklemtoon dat volksmoord, soos die Holocaust of gebeure in die voormalige Joego-Slawië, telkens deur erfenisvernietiging voorafgegaan is. Die optrede is deel van pogings om groepe mense met ’n bepaalde nasionale, etniese, rasse- of godsdienstige identiteit te vernietig. Daardeur word die vermoë van oorlewendes om hul identiteit uit te druk en te behou, verswak. Uiteindelik word dit pogings om alles wat van hulle bestaan getuig, uit te wis.

Die beskerming van erfenis 

‘n 3D-gedrukte weergawe van ‘Unknown King of Haar’ in die Imperiale Oorlogsmuseum in Londen. Die oorspronklike standbeeld wat in die Mosul-museum was, is deur Isis vernietig. (AP Photo/Natasha Livingstone)

Dit is drasties en beslis nie waar ons tans staan wat erfenis in Suid-Afrika betref nie, maar ’n risiko waarvan ons bewus móét bly in ons hantering van erfenishulpbronne en die boodskap wat verskuiwing daarvan oordra.

In gesprekke met dr. Maarten van Alstein van die Vlaamse Vredesinstituut in Desember 2015 het hy aan my genoem dat erfenis in konteks uitgebeeld moet word, met inagneming van alle standpunte daaroor, maar nie uit die openbare oog verwyder moet word nie. Hy meen verskuiwings demp debat oor die verlede, verander geen realiteite nie en mag selfs bydra daartoe dat waar vergrype plaasgevind het, ontkenning kan volg, in plaas van die bevordering van wedersydse begrip en respek.

In November 2018 het ek die kwessie ook bespreek met dr. Amy Strecker, ’n deskundige oor erfenisskendings, tans verbonde aan die Universiteit van Leiden. Dr. Strecker meen gemeenskappe behoort seggenskap oor hul eie erfenis te behou. Waar besluite namens hulle daaroor geneem word, kom dit op ’n ernstige skending van hul menseregte neer.

Die gevolge strek ook wyer. Die kernboodskap van die Internasionale Strafhof se uitspraak was dat wanneer erfenis geskend word, dit nie net ’n enkele gemeenskap benadeel nie, maar die mensdom as geheel.

Hopelik sal ’n tyd van meer genuanseerde standpuntinname en respek vir die menseregte, wat ook in erfenis gesetel is, tog mettertyd in Suid-Afrika en elders aanbreek.

Tans lyk dit egter of dit nog ’n ver pad daarheen mag wees.

Dit dwing ons soms om erfenis ook op kreatiewe wyses te bewaar, selfs waar vernietiging al plaasgevind het. Een opwindende wyse is deur kuns. Die Irannese kunstenaar Morehshin Allahyari het byvoorbeeld ’n projek van stapel gestuur om die vernietigde erfenisskatte van die Mosul-museum te herskep. Sy maak driedimensionele uitdrukke daarvan en binne-in die voorwerpe word geheuestokkies gevoeg wat afbeeldings, dokumente en video’s, wat met die oorspronklike voorwerp verband hou, bevat. Inligting daaroor word ook aanlyn gedeel en die publiek is genooi om by die projek (Material Speculation: Isis) betrokke te raak.

Tegnologie skep ook ander wyses waarop erfenis bewaar kan word, soos deur die digitalisering van dokumente, of die inspan van hommeltuie om opnames van erfenisterreine te maak.

Op dié wyse kan ons tog iets daarvan behou wanneer ideologiese optrede, misdaad, ontwikkeling, natuur of ander rampe die oorspronklikes laat verdwyn, beskadig of vernietig.

Op die vraag waarom soveel moeite gedoen word, antwoord die uitstalling in die Imperiale Oorlogsmuseum dat dit aangepak word sodat hierdie kosbare en geliefde plekke en voorwerpe aan toekomstige geslagte oorgedra kan word, in die hoop dat die mensdom steeds deur die bestaan daarvan verryk sal word.

Om voorspraak vir erfenisbewaring te maak, te beskerm waar nodig, te herstel of selfs te herskep ná vernietiging, is die plig wat op elkeen van ons se skouers rus – nie net as erfenisbewaarders in diens van die nageslag nie, maar ook as verdedigers van menseregte.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie Alana…dit is nou een vd sinvolste en insiggewende artikels wat ek in n lang tyd gelees het. Ek het nie geweet dat daar op so n vlak erkenning en aandag gegee wor aan die erfenisse en kultuuroordrag van mensegroepe nie. Dis wonderlik bemoedigend. Mag jou kennis….en andere sn……nog n groot rol speel in die bewaring v dit wat ons geërf het. Dink aan die De Wet standbeeld in Bloemfontein wat nou onder skoot is……mag daar betyds die nodige wyse aksie geneem word met hd artikel as agtergrond.

Therese van Schalkwyk ·

Insiggewende stuk oor ‘n onderwerp na aan die hart!
Sterkte en voorspoed aan Alana Bailey en kie. met die erfenisbewaring.

Die woorde van Fatou Bensouda oor “die vernietigende woede wat ons era kenmerk”, som die hele kwessie mooi op.
Na my mening is die algemene verdomming van die mensdom verantwoordelik vir hierdie drang tot uitwissing van historiese erfenisse wêreldwyd. Verdomming (onkunde) en afguns.
Wanneer die Amsterdamse Museum, sekerlik mense wat van beter behoort te weet, se stiksienige optrede oor die “Goue Eeu”- benaming beskou word, is daar inderdaad bitter min hoop dat hierdie tendens ooit gestuit sal kan word.

Therese ·

Nog ‘n ding: Die temapark-voorstel, waar alle standbeelde wat aanstoot gee op een misrabele hoop weggesteek word, het geen, maar géén, waarde nie. Dit is, om die waarheid te sê, benouend en spookagtig.
Verbeel jou ‘n Europa waar al die standbeelde op een marksplein saamgebondel is.

Feite ·

Die Afrikaner se belangrikste erfenis was die afrikaanse universiteite en die behoud van afrikaans by die afrikaner se erfenis universiteite. Niks wat diegene se of doen, wie geveg (bedrieg) het vir die behoud van afrikaans by universiteite, gaan dit verander nie, ook nie die persepsie dat afriforum of uiters onbevoeg is, of aandadig is aan die uitfassering van afrikaans by universiteite. Erfenisbewaring is dus nou soos mostert na die maal, omrede die Afrikaner se erfenis en menseregte reeds geskend is deur die ANC owerhede en deur afriforum se onbevoegdheid/aandadigheid (hofsaak uitspraak van saak tussen afriforum vs UV). Elke liewe afriforum meningsvormer moet inderwaarheid hulle menings lug oor die bou van n sakeryk uit afrikaans. Dit blyk die ware motief te wees, die motief is beslis nie erfenisbewaring!

AndrewL ·

Feite, waarom word Afriforum altyd beskuldig van samewriking wanneer hulle ‘n saak verloor. Wat het jy gedoen as bydrae?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.