Is die VSA dán ’n Derde Wêreld-land?

Pres. Donald Trump (Foto: Alex Brandon, AP)

Dis interessant, eintlik amusant, om die hoofstroommedia in Suid-Afrika se diepte-artikels oor die Amerikaanse president Donald Trump te lees. Die boodskap is duidelik, Trump is boos en moet onmiddellik verwyder word as president. Die strekking is dat Trump ’n kompulsiewe leuenaar is en sy alie gaan sien in die komende Amerikaanse presidentsverkiesing op 3 November.

Trump word beskuldig van alles

So asof ons hier ter plaatse gedurig daaraan herinner moet word dat Trump die wortel van alle kwaad is. Dis nou dieselfde massamedia (saam met sy politieke opponente) in die VSA wat dit nooit aanvaar het dat Trump verkies is nie en van dag een af probeer het om hom uit die Withuis te kry.

Eers was daar die (valse) bewerings dat Trump met die Russe geheul het om die 2016-verkiesing te bekook. Dan ook dat hy vir sy uiteindelike 2020-opponent, Joe Biden, probeer uitskakel het deur die president van Oekraïne te vra om Biden vir korrupsie te ondersoek. Dit het selfs tot ’n staat van beskuldiging-verhoor in die Kongres gelei, waarin Trump van die blaam onthef is.

Nou word hy verkwalik vir die dood van Amerikaners tydens die Covid-19-pandemie en dis ook blykbaar sy skuld dat daar “sistemiese rassisme” in die VSA bestaan wat kwansuis teen anderskleuriges diskrimineer. Dus moet die gewelddadige betogings deur Black Lives Matter (BLM) en sy handperd, Antifa, ook Trump se skuld wees.

Dus, wat gaan hier aan? Hoekom moet almal wêreldwyd deur die linkse media herinner word dat Trump amper letterlik Hitler is? Ons kan dan nie eers stem in die VSA se verkiesing nie.

Maak geen fout nie. Trump is ’n verdelende figuur. Om die waarheid te sê, jy kan so ver gaan deur te sê dat Trump nie ’n goeie president is nie aangesien sy persoonlikheid die Amerikaners (wat erg verdeel is tussen konserwatiewes en linkses) verder verdeel. Hy is liggeraak, egoïsties en het ’n aggressiewe persoonlikheid. Een ding is wel seker, Trump is ’n Amerikaanse patriot wat net die beste vir sy land wil hê. Dit is egter die grootste rede vir die haat teen Trump.

Trump teen globalisme

Trump staan tussen die versnelde implementering van die nuwe wêreldorde en ’n outydse patriotisme wat nie meer geduld word nie, daarom moet hy verwyder word. Biden, die Demokrate se kandidaat, kan skaars ’n volsin saamflans, want dit is duidelik dat sy kognitiewe vermoëns weens hoë ouderdom te kort skiet. Hy is ook erg oninspirerend en eintlik ’n swak keuse as presidentskandidaat.

Trump is gekant teen onwettige immigrasie en het gedeeltelik daarin geslaag om ’n heining aan die grens met Meksiko op te rig om onwettiges uit te hou. Hy opponeer ’n kruipende sosialisme wat posvat in die VSA en is onbeskaamd ’n voorstander van kapitalisme en gekant teen globalisme – hy het immers die VSA uit die Parys-klimaatverdrag en Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) laat onttrek.

Op handelsgebied is hy erg gekant daarteen dat die VSA benadeel word deur onregverdige handelsooreenkomste. Hier is hy veral teen China se aggressiewe handelspraktyke gekant wat die VSA toenemend afhanklik maak van Chinese produkte, insluitende medisyne. China se dominering van handel met die VSA word beskerm deur Amerikaanse politici – deur Demokrate en selfs Republikeine, wat deel is van Trump se party.

Dus steun Trump eerder bilaterale ooreenkomste as multilaterale handelsooreenkomste, wat gelei het tot sterk ekonomiese groei onder Trump. Wel, dis nou totdat koronavirusinperking die ekonomie laat inplof het. Trump is ook gekant teen die toenemende morele verval wat in die VSA posvat, onder meer “wit skuld” rondom BLM, aborsie en die aanslag teen die tradisionele gesin en godsdiens.

Biden self is links georiënteerd, maar nie ultralinks soos sommige van sy partygenote nie. Nietemin sal Biden geen sterk figuur uitmaak as president nie en eerder ’n tipe seremoniële rol kry terwyl radikale planne van die Demokrate uitgevoer word.

Die VSA onder die Demokrate

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Dis reeds duidelik dat die VSA onder die Demokrate binne jare onherkenbaar sal verander en toenemend soos ’n Derde Wêreld-staat sal begin lyk. Ons kan amper sê die Demokrate gaan ’n staat skep met hul planne wat die ANC se goedkeuring sal wegdra. Uiteraard met dieselfde gevolge as wat ons hier in Suid-Afrika beleef. Globalisme sal omarm word wat grootskaalse werkloosheid gaan bevorder en daarmee saam die inneem van miljoene ekonomiese vlugtelinge uit veral Sentraal-Amerika wat stemvee vir die Demokrate sal word.

Kruipende sosialisme sal meer gestalte kry en armer Amerikaners gaan afhanklik word van staatstoelae. Morele waardes gaan verder verval en ’n situasie sal ontstaan waar byna enigiets wat tans as taboe beskou word, geduld gaan word.

Die BLM-beweging se opstande en die gevolglike verval van die VSA se regstaat is reeds ’n voorspel hiertoe. “Witheid” en “wit bevoorregting” gaan in die naam van antirassisme ’n groter pro-anderskleurige institusionele rassisme skep waarin wit mense in die VSA gemarginaliseer gaan word.

Enorme projekte vir son- en windkrag gaan aangepak word in die naam van klimaatverandering. Hierdie projekte gaan baie geld kos en die middelklas in die proses verarm. So, byvoorbeeld, word kragonderbrekings tans in Kalifornië ondervind ten spyte van enorme uitgawes op “groenkrag”, wat maar net nie die kragnetwerk aan die gang kan hou nie. Die VSA gaan dus “ge-Eskom” word.

Burgerlike vryhede soos vryheid van spraak gaan verder afgewater word en “sosiale geregtigheid” gaan selektief toegepas word teen sekere dele van die bevolking, net soos in Suid-Afrika. Wapenbeheer en die verval van die polisiemag is uiteraard gevolge daarvan en gevolglike toename in misdaad.

In die proses gaan die Demokrate, soos die ANC/EFF-alliansie in Suid-Afrika, basies hulself verskans as regering en gaan nie sommer ooit weer uitgestem kan word nie weens die nuwe sosialistiese staat wat arm burgerlikes met staatstoelae sal beheer. Regstellende aksie, kompensasie en sekerlik “transformasie” sal aan die orde van die dag wees.

Trump kan egter die Demokrate se planne voorlopig stuit deur vir nog vier jaar verkies te word.

Trump is ver agter

Die komende Amerikaanse presidentsverkiesing is dus nie oor Trump die persoon vs. Biden nie; ook nie oor Trump se twiets en sy houding teenoor joernaliste nie. Dit gaan oor die toekoms van die VSA en as wêreldleier. Waar Trump China trompop die stryd aansê, gaan die Demokrate, meestal omdat heelwat van hulle reeds in transaksies met China betrokke is, nooit die Chinese die stryd aansê nie. Moet ook nie verbaas wees as die Demokrate weer teen een of ander land in die Midde-Ooste oorlog voer nie.

Trump is, soos in 2016, ver agter in die meningspeilings. Hy het nog altyd sowat 40% van die (konserwatiewe) bevolking se steun gehad, maar sy uitdaging gaan wees om weer die “swaaistate” soos Florida, Michigan, Pennsilvanië, Ohio, Minnesota, ensovoorts te wen. Hier is hy ook ver agter in die meningspeilings.

Nietemin is die swyende meerderheid heel moontlik keelvol vir die BLM/Antifa-beweging wat soveel skade en plundering veroorsaak het, asook die Demokrate se agenda vir die toekoms van die VSA. Dit kan in Trump se guns tel en hom steeds laat wen. Trump behoort ook die vloer met Biden te smeer in die verkiesingsdebatte wat nog moet plaasvind, as Biden nie vooraf (soos verwag) onttrek daarvan nie.

VSA kan in chaos verval

Kenosha, Wisconsin, het die ergste onder die geweld, plundering en brandstigting deurgeloop. (Foto: AP Photo/Morry Gash)

Die groot geveg gaan egter uitbreek ná die verkiesingsuitslag, wat die VSA se tekortkominge verder gaan ontbloot. Dit lyk tans of die verkiesing enige kant toe kan gaan en dit is waar die knoop lê. Beide kante het reeds aangedui dat hulle nie die verkiesingsuitslag gaan aanvaar nie. Die groot probleem hier is dat die Demokrate eis dat kiesers weens die koronavirus eerder hul stemme per pos uitbring. Dit is ’n resep vir chaos, aangesien ’n posstem maklik gemanipuleer kan word. Dit is ook afhanklik van die VSA se posstelsel om die stem betyds te voorsien en terug te stuur.

Dit sal dus nie verbaas as daar iewers duisende posstemme gevind word wat die legitimiteit van die verkiesing gaan betwis nadat die verkiesingsuitslae reeds uit is nie. Hoewel albei kandidate reeds aangedui het dat die ander die verkiesing wil bekook, is dit redelik duidelik dat die Demokrate in ’n posisie is om veral posstemme in die “swaaistate” te manipuleer.

Die vraag is wat dan? Selfs al wen Trump die meeste stemme in die verkiesingskollege, gaan die VSA se verkiesing se uitslag heel moontlik deur die hoogste hof bepaal word. Die hof se samestelling is omtrent ewe veel konserwatiewes as linkses, dus kan hoofregter John Roberts die beslissende stem word. Hy word geoormerk as konserwatiewe, maar leun heelwat links oor verskeie aangeleenthede.

’n Trump-oorwinning sal beslis nie deur die linkse radikales aanvaar word nie. Linksgesinde state soos Kalifornië, Oregon en Washington het al aangedui dat hulle wil afstig as Trump wen. Aan die ander kant gaan Trump-ondersteuners ook nie aanvaar as hulle verloor nie. Hulle sal dit as ’n verneukspul bestempel. Wat ook al die uitslag, die chaos kan wel bloed laat vloei in die VSA se strate.

’n Ernstige aanslag deur die kommunistiese Antifa/BLM sal Trump toets om deur beslissende optrede wet en orde te herstel, wat hy tot dusver in die hande van die deelstate self gelos het. Trump, wat in elk geval nog president is tot Januarie 2021, selfs as hy verloor, sal beslissend moet optree om dit te beëindig.

Natuurlik is dit nie net die presidentsverkiesing wat plaasvind nie. Al die huis van verteenwoordigers se 435 setels word betwis, asook sowat ’n derde van die senaat se setels. Dit lyk of die Republikeine ’n kans het om die huis van verteenwoordigers te wen, maar aan die ander kant kan die Demokrate weer die senaat inpalm.

Die tafel is dus gedek vir chaos, onsekerheid, gewelddadige protes en konflik in die VSA. Hierdie onsekerheid kan vinnig wêreldmarkte – en dus ons almal – beïnvloed. Sommige politieke waarnemers in die VSA praat selfs van burgeroorlog en die ingryping van die weermag.

Kan die VSA tot sulke Derde Wêreld-uiterstes daal?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Pieter ·

Nee VSA is nie, maar as jy derde wereld burgers toelaat sal jou land so agteruit gaan.

Therese ·

Puik artikel!
Trump word aanspreeklik gehou vir die verdeeldheid en rasse-polarisasie, terwyl Hillary Clinton se “Never stop fighting”-toespraak gerieflik vergeet word. Sy het tot vandag nog nie haar nederlaag verwerk nie, en reis die wêreld vol met anti-Trump-praatjies. Dit is híér waar die saadjies geplant is vir die chaos wat tans heers.
Politieke kommentators wat die Amerikaanse kiesstelsel as “eienaardig” beskryf wanneer die ‘regte’ kandidaat volgens hulle nie wen nie, bevorder geensins demokrasie soos dit hóórt in ‘n Westerse demokrasie nie.

Tomas ·

Baie goeie en insiggewend artikel. Geluk Nico. Trump is ook ‘n baba Christen. En sy beleid sal Christene en Israel vriendelik wees.

Toktokkie ·

Puik artikel. En as mense wonder hoekom enige iemand ooit vir Biden sal stem, die Demokrate weet Biden sal “iets” oor kom soos siekte ens en dat sy vise president Kamala Harris dan president sal wees. Sy bevorder hulle ideologië so dis inderdaad ‘n woeste geveg. Mag Trump weer wen vir ons almal se onthalwes – al is dit net vir nog 4 jaar…..

Vrijburger ·

Goeie artikel en ontleding.
Jip, ek skud ook net die kop oor die artikels in SA se (s)linkse media oor Trump en VSA politiek.
Hier in die VSA is ek verbaas oor die groei in steun vir Trump onder die ‘African-Americans’.

Is jy seker? ·

‘n President is verantwoordelik om sy land bymekaar te hou. (Moet nie vergelyk met SA nie!) Wat het hy gedoen? Eis erkenning van Obama se grondwerk? Klimaats verandering is nog ‘n “hoax” en sy hanteering van covid is “beautiful” … Gaan dood in ‘n oorlog en jy’s ‘n “loser”!

Kan iemand asb. verduidelik waarom so baie Afrikaanse mense aan sy lippe hang? Google is your friend…

Michael ·

Jy is seker ook een van die ondersteuners van die kommunistiese ANC regime in SA wat nog nie agtergekom het dat hulle reeds begin het om jou regte en vryhede weg te neem in die naam van covid 19 nie

Human ·

Wat is die verskil tussen die “regime” in SA en die liegbek, korrupte narsis in die Withuis? Net die kleur van hul velle, nog 4 jaar van Trump en die VSA word omskep in `n fascistiese staat, onder beheer van Don the Con.

Therese ·

Gelukkig hoef niemand iets te “verduidelik” aan enigeen nie.
Ondersteuners van die Trump-beleid wêreldwyd, nie slegs “Afrikaanse mense” nie, het lankal die onmoontlikheid besef van redenasie met mense wat die hoofstroom-retoriek tot vervelens toe herhaal.
Google is m.i. juis vir gebreinspoeldes wat níé vir hulself kan dink nie.

Human ·

Praat van “gebreinspoeldes wat nie vir hulself kan dink”?

Cherokee ·

Ek lei af Human, dat Therese jou nou in die spieël laat kyk.

Human ·

Dan sien ek jou agter my staan wat ook ‘n stuiwer in die armbeurs probeur gooi.

Marthinus W ·

Kamal Harris het nou die dag gepraat van die “Harris-administrasie”. Was dit n tongglips ofn freudiaanse glips? Hillary Clinton staan agter haar, en dit wil voorkom asof Biden net die front is vir die verkiesing. Sou die Demokrate wen, gaan Biden gou “vervang” word deur Harris, en dan is die vet in die vuur.

Human ·

Don the Con Trump, leier van sy juigkommando, wat in ‘n sikofantiese trop agter hom aandraf en sy leuens verslind asof dit manna uit die hemel is. Hy lieg so dat hy dit self glo en dan verkondig hy die leuens aan die wat aan sy lippe hang en hom op die hande dra, want hy is hul afgod met voete van klei.

adriaan isak ·

Dus ondersteun jy eerder oop grense,oorstromimg van derde wereld vlugtelinge,brandstigting,plundering,aborsies,antichristelike waardes,vernieteging van die kerngesin,anti wit en anti westerse waardes.En is jy ten gunste van globalisme en gekant teen nasionalisme en patriotisme.
Die verkiesing gaan oor baie meer as oor Trump en sy persoonlikheid.Kyk ook na die groter prentjie.

Human ·

So wat jy sê is dat jy jou siel sal verkoop, aan die Don en al sy samesweringsteoriëe aanhang, vir die groter prentjie. Moet nie jou
verskuilde agenda van rassisme gebruik deur te praat van die groter prentjie, omdat dit jou eensydige gedagtegang pas.

Human ·

As Don Tantrum Trump jou idee is van die groter prentjie en vir wie Putin as sy ” puppet” aanhou, dan is daar min, indien enige hoop vir die VSA.

adriaan isak ·

Baie sien die groter prentjie.Wat v aborsies,nuwe wereld orde,chaos in VSA stede,oop grense ?Wat van kern gesinne,voortbestaan van die Westerse beskawing?

Human ·

Die baie wat jy van praat en Don the Con, sien net hul eie prentjie en bogger die res.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.