Is dit dan God se skuld?

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Genesis 16:12; 21:18

Prof. Johan Janse van Rensburg.

Almal ken die geskiedenis van Abraham en Isak, die wonderkind wat gebore is toe Abraham en Sarah reeds oud was. Isak was God se beloftekind, verbondskind en vader van ʼn nasie wat so omvangryk sou wees soos die sterre aan die hemel en die sand by die see.

Die geskiedenis van Hagar en Ismael (Gen. 16) is egter minder bekend en ietwat van ʼn verleentheid. Toe Sarai nog onvrugbaar was, het sy inisiatief geneem en Abraham oortuig om Hagar as vrou te neem. Hagar het swanger geraak en ʼn onverkwiklike spanning het tussen Sarai en Hagar ontstaan. Sarai het Hagar en haar kind sleg behandel en sy het gevlug. God het haar egter ontmoet en aan haar ook ʼn belofte gemaak wat, as ons dit vandag lees, verwarring veroorsaak.

Hagar kry die opdrag om haar seun Ismael te noem en God sê vir Hagar: “Jou seun sal ‘n man wees, so ontembaar soos ‘n wildedonkie. Hy sal teen almal wees en almal sal teen hom wees. Hy sal in vyandskap leef met sy bloedverwante.” (Genesis 16:12). Hierdie belofte word weer in hoofstuk 21:18 herhaal.

Het ons hier ʼn voorspelling wat in die wêreldgeskiedenis sou gebeur of het ons ʼn bewys dat die konflik tussen Israel en Palestina God se plan en wil was? Die Midde-Oosterse konflik duur al so lank en veroorsaak bitter smart en haat. Dit is ʼn ondraaglike gedagte as die betrokke Skrifgedeeltes sou beteken dat die oorlog tussen Israel en Palestina God se plan en wil was. God is immers heilig en sonder sonde. Kan God dan die kwaad wíl? Tóg is die geskiedenis van Israel oorspoel met oorloë wat God se goedkeuring weggedra het. Dit is nie ʼn maklike eksegetiese vraagstuk nie en daar is nie simplistiese antwoorde of oplossings nie. Daar is egter ʼn paar belangrike riglyne:

Die vertrekpunt vir die verstaan van die dramatiese konflik tussen Isak en Ismael (Israel en Egipte) is die belofte van God aan Abraham. In sy uitverkiesende genade het God Abraham sonder verdienste gekies om die vader van ʼn verbondsnasie te word. Die belofte van die verbond was: Ek sal vir jou ʼn God wees en jy moet vir my ʼn volk wees. Aan hierdie verbond was God getrou, omdat Hy nooit die werk van sy hande laat vaar nie. Om die God van die verbond te wees, het beteken dat God vir Abraham en Israel in sy beskerming sou neem. Daaruit moet die heilige oorloë in die Ou Testament verklaar word. Israel, as klein en onbelangrike nasie, moes behoue bly teen die aanslae van ander volkere omdat die belofte van die verbond die geboorte van die Messias uit die nageslag van Abraham ingesluit het.

God het Hagar en Ismael se ellende gehoor en ter wille van Abraham ʼn belofte gemaak om Ismael te seën en tot ʼn groot nasie te maak. Dit sou noodwendig en onafwendbaar tot konflik tussen die nageslag van Isak en Ismael aanleiding gee. Die beste eksegetiese verklaring vir God se woorde aan Hagar met betrekking tot die toekoms van Ismael, is dat dit ʼn vooruitskouing was van wat in die onafwendbare konflik sou gebeur. Vandag beleef ons die vervulling van hierdie woorde van God aan Hagar.

Die huidige stand van die Midde-Oosterse konflik, met die soveelste onlangse vuurpylaanvalle, kan as ʼn vervulling van die voorspelling gesien word. Realisties is dit egter uiters moeilik om tussen die twee hoofpartye kant te kies. ʼn Oorlog is eenvoudig té ingewikkeld en té gekompliseerd. Beide kante glo dat hulle rede het om aggressief te wees, om hul regte te beskerm. Dit is daarom ondenkbaar dat buitestanders, selfs hier in Suid-Afrika, kant kies en pleit vir die regering se steun by een of die ander party.

Ek het in ʼn kerklike vergadering gesit waar ʼn voorstel bespreek is om vanuit kerklike kant Palestina in die oorlog teen Israel te ondersteun, klaarblyklik om sensitief te wees teenoor Moslem-vriende se veldtog. Ek kon nie glo nie dat ons, wat niks van al die intriges en motiverings in die konflik weet nie, as buitestanders morele oordeel wil vel om een party te steun en die ander te veroordeel.

Sentimentele oorwegings kan tog nie as motivering vir morele oordeel dien nie. Net so min as wat ons die Palestynse optrede kan regverdig omdat ons met die innerlike stryd van Moslems in Suid-Afrika solidêr voel, net so min kan ons Israel sonder meer as die regverdige partye aanwys, net omdat ons met Israel en die Ou Testament sentimentele verbintenisse het. Laat ons nie vergeet nie dat Israel, wat die Messias steeds verwag, nie Christus as Messias wil aanvaar nie.

Oorlog is een van die baie verskriklike en vernietigende gevolge van die mens se onwilligheid om die gebod van liefde en vergifnis in die samelewing en politiek toe te pas. Die scenario van die wêreldgeskiedenis is ongelukkig besmet met oorloë en gerugte van oorloë (Matt. 24:6). Die rooi perd van Openbaring 6 hardloop met wilde vaart deur elke konflik van een nasie teenoor ʼn ander. Ek het êrens gelees dat daar daagliks meer as ʼn honderd verskillende oorloë in die wêreld is.

Terwyl ons almal vurig bid dat die oorloë moet ophou, kan dit in ons gewelddadige en magsbehepte wêreld ook nie anders as dat die regerings van lande hulle vir ʼn oorlog sal voorberei nie. Die beginsel is eenvoudig: “si vis pacem, para bellum” (Om vrede te bewaar, moet jy vir oorlog paraat wees).

Sou ons tevrede wees as Rusland, China en Noord-Korea wapens van vernietiging vervaardig, maar Amerika, Frankryk en Brittanje weier om voorbereidings te tref? Mags-ewewig is al wat ʼn uiters delikate en spanningsvolle wêreldsituasie in bedwang kan hou.

Sal daar ʼn dag kom dat een van die despotiese magte die grens oorskry en die laaste toneel van die wêreldgeskiedenis na vore roep?

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n predikant van die NG Kerk. In 1994 het hy ook ’n pos aan die fakulteit teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Het die VSA of Rusland eerste erge wapens geskep en gebruik? Moet Rusland niks doen nie, terwyl die VSA en Duitsland, wat ‘n ewige grief teen Rusland het, niks doen nie, terwyl die VSA plus Navo ‘n wèreldmag opbou? Is Egipte werklik Ismael se nasate of is dit Arabiese lande wat die Islam geloof naloop? Mohammed was skynbaar nie ‘n Egiptenaar nie en het ook nie ‘n rooi vlag soos diè van die Antichris in Openbaring nie. Baie mense regoor die wèreld is Moslem. Wie is die Antichriste? Vyande van Christus raak deesdae moeilik te onderskei met regerings en godsdiens-organisasies… Lees meer »

JJB

Ons dink dikwels dat stryd en oorloë daar ver heers – in Palestina, Israel en ander lande. In ons eie land en in ons eie huise woed ook ‘n vel stryd om ons en ons kinders se siele. Kinders en ouers hang toenemend sekulêre oortuigings aan, kommunistiese idees word bevorder en die Woord van God word deur sogenaamde Christene verdraai om ons eietydse idees te pas. Baie mense sien Christenskap (en geloof in die algemeen) as die “probleem” . Welvaart en materiële wins word selfs bo belangrike vryhede gestel – soos geloofsvryheid. So ontneem ons onsself en ons kinders die… Lees meer »

Petrus Albertus

Ons moenie vurig bid vir oorloë om op te hou nie, die kerk moet vurig bid ” kom Here Jesus, ja kom gou”. Die kerk se roeping is immers nie om hierdie wêreld, wat steeds aan die oordeel van God onderworpe is, te probeer volmaak maak nie, maar om te getuig van die een wat die hele skepping kom nuut maak. Oorloë is die direkte resultaat van die sondeval, so ook die selfverheffing van die mens.