Is dit die einde van globalisering?

globalisering

Foto: Scottjtogher.com

Deur Christoff van Wyk

In ’n verslag wat onlangs deur die navorsingsinstituut van die internasionale bank Credit Suisse bekendgestel is, dui alle koersaanwysers daarop dat globalisering besig is om af te neem. In dieselfde verslag word globalisering beskryf as “… the most powerful economic force the world has witnessed in the past seventy years”.

Die vraag wat nou ontstaan is: Hoe gaan die enorme impak van ’n afname of selfs verdwyning van globalisering die wêreld verander en wat kan ons doen om onsself teen die moontlike gevolge te beskerm?

In die verslag word drie moontlike scenario’s geskets oor die toekoms van globalisering.

Eerstens kan hierdie afname van tydelike aard wees waarna globalisering nie net sal herstel nie, maar in ’n groter mate toeneem. Dit sal inhou dat die wêreldekonomie steeds deur die Weste en veral die VSA en die dollar oorheers word en dat algemene stabiliteit sal voortduur met internasionale handel wat toeneem en sosio-politieke omstandighede wat wêreldwyd, oor die algemeen verbeter.

’n Tweede scenario behels die opkoms van Asië wat tesame met ’n meer stabiele Europa gevolglik ’n wêreldekonomie sal skep wat op drie pilare rus, naamlik die Amerikas, Europa en Asië. Asië sal in dié verband deur China gelei word. Hierdie scenario sal teweegbring dat internasionale instansies en organisasies, soos die Wêreldbank, vervang word deur selfs groter, maar meer streeksgeoriënteerde finansiële instellings.

Ontwikkeling op verskillende vlakke sal meer gefokus word om te voldoen aan plaaslike behoeftes wat sal lei tot die totstandkoming van meer plaaslike kern- ekonomiese sentrums, asook minder internasionale migrasie. Daar kan verwag word dat die vorme van regering ook sal aanpas tot die verskillende streke met ’n wegval van die eenvormige internasionale strewe na demokrasie volgens die Amerikaanse model.

Die derde scenario wat voorgehou word, skets ’n donker prentjie waar globalisering totaal in duie stort met gevolglike omstandighede wat soortgelyk is aan die gebeure in 1913 met die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog. Die globale finansiële krisis tesame met ’n toename in terreuraanvalle die afgelope paar jaar het tot gevolg gehad dat nasies nou minder geneig is om saam te werk om sodoende ’n herhaling van hierdie gebeure te verhoed.

Hierdie situasie kan verder versleg namate die wêreldekonomie afneem. Die faktore tesame met hoë vlakke van skuld, ongelykheid en immigrasie kan verder aanleiding gee tot groter proteksionisme, militêre skermutselinge tussen magtige lande, volskaalse wedywering tussen geldeenhede, die opgang van anti-globaliseringsbewegings en politieke partye, ’n aanslag teen internasionale maatskappye en uiteindelik ’n verval van demokratiese waardes.

Hierdie scenario, wat tot onlangs toe nog as hoogs onwaarskynlik gesien is, het uiteraard nou ’n moontlikheid geword. Die Brexit-uitslag tesame met die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president, wat ten spyte van die algemene verwagting wel plaasgevind het, is hiervoor verantwoordelik.

In hul gevolgtrekking maak die samestellers van die verslag die volgende opmerking: “… our view is that globalisation has now come to an end and is slowly being replaced by a world where very distinct poles are forming – economically, socially, ethically and politically. This process has the potential to provoke friction, specifically as regions develop different ways of ‘doing things’”.

In Suid-Afrika sal die verdere afplatting van die ekonomie en gepaardgaande toename in armoede die disfunksionele politieke stelsel en faksiegevegte binne die ANC op die spits dryf. Dit kan verder veroorsaak dat die regerende party in ’n desperate poging om aan bewind te bly, skerp aanvalle loods op vryheid, asook eiendomsreg om sodoende die massas te probeer paai. Indien ’n meer gefragmenteerde internasionale orde ons voorland is, sal Afrikaners hand in eie boesem moet steek om hierdie situasie te beredder. Wat ook al die oplossing behels, die basis vanwaar ons sal moet optree, lê in die herwinning van die gemeenskapsgedagte. Dis waar ons krag lê.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cyber Sakkie ·

In sy boek Speed and Politics, verduidelik Paul Virilio dat tegnologie verantwoordelik is vir die toename in globalisering sedert skeepvaart in die laat-middeleeue oorgeneem het, en vliegtuie in die 20ste eeu. Daarby wil ek voeg die elektriese netwerk wat Edison moes skep om sy gloeilamp by mense uit te bring. Die werklike probleem tans is dat outomatisering te veel werk by mense oorneem- daar word beraam dat Frankryk in 2025 40% werkloosheid gaan he. Dit terwyl die wereldbevolking toeneem. Moderne ekonomie (in sy verskeie vorme) is obsessief oor surplus: surplus produksie, verbruik en nou ook ‘n surplus van mense. Die kameel se rug gaan dit nie kan uithou nie.

JC ·

Baie dankie, die gemeenskapsgedagte sal ons heil wees.
“EN HOOR JY DIE MAGTIGE DREUNING…DIE LIED VAN ‘N VOLK SE ONTWAKING” :-) Eitemal.

John ·

Ongelukkig het ons te make met ‘n groot wereldbevolking met groter verwagtinge as ooit. Mediese kennis verbeter en sterftes word met hand en tand beveg tot in arm lande waar die aanwas en armoede mekaar omhels. Aan die eenkant word sterftes ten alle koste beveg, maar die versorging van die massas word ‘n nagmerrie. Globalisering is veelkantig. Die botsing van godsdienstse en ideologiee sal bly, die oerbron van oorloe, en peste en hongersnood word in die Bybel tot in die eindtyd voorspel Mag/geld bly die vlieg in die salf en die spelers van die spel gooi daagliks hul dobbelstene in die hoop op beter dae…

Henry ·

Jammer, maar wat Suid Afrika betref is ek daarvan oortuig dat ons nie verder as Noordwaarts van ons hoef te kyk en te sien, wat vorentoe in hierdie staat met sy oorweldigende meerderheid van inheemse Afrika volkere, gaan gebeur nie.

Ag ja. En die bewyse/voortekens/waarskuwings/ooreenkomste is so voor die hand liggend, dat ek nie eers daaroor wil uitwei nie.
Is maar hoe dit is.

Henry ·

Indien daar enige twyfel oor die voortekens/waarskuwings ens bestaan, word u vriendelik na ons eie Afrikastaat se jongste parlementsitting en die voordrag van “ons president” se rede verwys.
:-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.