Is dit die laaste dae?

Deur dr. Isak Burger

Dr. Isak Burger (Foto: Facebook)

Kersfees word vir ’n tweede opeenvolgende jaar deur nóg ’n vlaag van die Covid-19-pandemie oorskadu. Dis ironies en hartseer dat hierdie tyd van feesvreugde weer so gedemp word.

Benewens die feit dat talle meer mense geïnfekteer word, siek word en sterf, is daar ook die hoogs-onverkwiklike spanning en konflik tussen die sogenaamde vaxers en anti-vaxers. Dit het ’n ongekende verdeeldheid tussen mense gebring – hier en internasionaal.

Terwyl mense weens verskillende redes hulle standpunte motiveer, is daar ’n aansienlike groepering – veral uit Christelike agtergrond – wat die oënskynlik-onstuitbare en voortgesette pandemie as ’n teken van die “laaste dae” beskou. Sommige is oortuig dat hierdie misterieuse siekte van êrens af deur mense en/of demone gemanipuleer word. Oor die verskillende teorieë in die verband wil ek my nie uitlaat nie.

Die vraag is: Is daar enige substansie in die bewerings dat hierdie pandemie en die moeilike tye wat daarmee gepaard gaan, die eindtyd vooraf gaan?

Hierop moet mens eerstens besef dat daar kwalik ’n geslag deur die eeue was wat nie moeilike tye en een of ander katastrofiese gebeurtenis beleef het nie. Ek kyk na van my preeknotas sedert die middel-sewentigs en sien hoeveel keer ek net in my leeftyd verwys het na die “moeilike tye” waarin ons lewe. So was daar van die begin van die mensdom gereeld een of ander katastrofiese gebeurtenis – soms beperk tot sekere lande, soms globaal.

Dink maar net aan die laaste eeu: die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Griep-pandemie van 1918/9, die Tweede Wêreldoorlog, die opkoms van kommunisme en spanning tussen die Ooste en die Weste, die huidige opbouende spanning tussen China, Rusland en die Weste, die groeiende spanning in die Midde-Ooste en dan natuurlik die Covid-19-pandemie.

Jesus het in sy profetiese rede kort voor sy dood in Mt. 24 en Luk. 21 ’n hele paar duidelike stellings oor die tekens van die tye en die gebeure kort voor sy wederkoms gemaak. Hy het gepraat van oorloë en konflik tussen nasies; van hongersnode, pessiektes en aardbewings; van kosmiese gebeure, die benoudheid van nasies; die vrees en paniek onder mense.

’n Mens kan onmiddellik (en tereg) reageer deur te sê dat hierdie gebeurtenisse van die begin van die mensdom plaasgevind het. ’n Bietjie navorsing dui egter ondubbelsinnig daarop dat daar oor die laaste dekades ’n onontkenbare toename in die frekwensie asook die intensiteit van hierdie onnatuurlike gebeurtenisse is. Dis byvoorbeeld maklik om ʼn Google-soektog te doen oor hoeveel keer aardbewings die laaste eeu voorgekom het. Die frekwensie en omvang/grootte van die aardbewings het met rasse skrede toegeneem. So kan elkeen van Jesus se voorspellings oor die tekens wat sy wederkoms vooraf sal gaan, nagevors word.

Die belangrikste hiervan (wat ook die huidige pandemie insluit) is egter dat Jesus sélf dit voorspel het. Dit beteken dat dit God nie onkant betrap en dat Hy bloot ’n verbaasde toeskouer hiervan is nie. Natuurlik maak dit God nie die outeur van al hierdie katastrofes en krisisse nie; dit sê vir ons dat God vooraf van hierdie verwikkelinge weet en dat Hy dit as deel van sy groot Meesterplan belyn. Déúr en ná alles was en is God steeds die Een in beheer. Hy gebruik selfs die mees negatiewe faktore en gebeurtenisse om sy ewige doel te verwesenlik.

Anderkant hierdie gebroke bestel en planeet wat vroeër of later op ’n gewisse einde afstuur, wag daar ’n Nuwe Hemel en ’n Nuwe Aarde waarop geregtigheid sal woon. Met dit in gedagte, kan Christene hierdie Kersfees – en die toekoms – meer as ooit, blymoedig en hoopvol tegemoet gaan.

  • Isak Burger is ʼn voormalige kerkleier en skrywer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter9 ·

Dankie; alles baie waar… Ons mense kom met ons eie oplossings vorendag, eien al meer vir myself toe – dan werk dit nie uit en kry God die skuld.

Francois Le Cochon ·

Dit was gisteraand op die nuus gewees, dis nog nie die einde van die wereld nie. Gelukkig nou nog tyd vir die afgedwaaldes om op die smal weg te kom.

Andries ·

Geagte dr Burger.

Besef u dat om Kersfees te vier beteken dat die mens van die GOD van WAARHEID verwag om te aanvaar wanneer mense HOM met ‘n leuen vereer?!

Die Bybelse YESHUA is op die 15 Tishrei gebore – die eerste dag van die LoofHutteFees.

melaney ·

Het dit nooit geweet nie. Sal maar my boom bêre. Nog iets Andries?

Francois Le Cochon ·

Hou maar die boom en geskenke vir die kinders, en laat hulle “fun” he^, saam met die uitgebreide familie.

Pieter9 ·

Daar is ‘n nuwe bedeling… As ek die geboorte van Jesus Christus 25 Des wil gedenk/fier en Hom vir Sy genade en liefde eer en aanbid is
daar absoluut geen fout mee nie.

Mossiemos ·

Andries, niemand weet die presiese datum en tyd wat Jesus gebôre is nie. En die vier van die “loofhuttefees” val in die ou testamentiese tyd en is nie meer van toepassing in vandag nie. Ons behoort elke dat die geboorte van Jesus te vier!!

Gert ·

Die grootste leun wat die kerk julle leer is dat die ou testament nie meer van toepasing is nie. Die Vader sê dan duidelik in die skrif dat Hy die verbond met Sy volk sal vernuwe. Daar staan nie dat Hy dit sal vervang nie. Uit watter deel van die Bybel het die Messias dan self vir die mense geleer?

Anoniem ·

Korrek, selfs die uitverkore volk glo vandag nog net in die Ou Testament.

MakersMark ·

Die eindtye het begin toe Jesus opgevaar het hemel toe. Hy het reeds gesê Hy gaan vir Sy volgelinge plek voorberei. Maar die dag van Sy weerkoms weet net die Vader. Spekuleer maar lekker.

Erika ·

Net soos die weerpatrone vir ons se dit gaan reen Net so gaan daar tekens wat ons as Christene gaan sien
Die Gelowiges wie Hom aangeneem het gaan van ongelowiges geskei word

kaplyn ·

Die uitverkore volk van Israel het Jesus verwerp as verlosser en saligmaker.

Moereloosverby ·

Baie dankie, dr Isak vir insig en ‘n gebalanseerde skrywe uit u pen soos altyd. En die noodsaaklike herinnering dat God altyd in beheer is. Hy is nie ‘n God van wanhoop en chaos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.