Is Duitsland se ekonomiese suksesverhaal se dae getel?

(Foto: Pixabay)

Duitsland is internasionaal veral bekend vir sy gehalteprodukte en sy Wirtschaftswunder (ekonomiese wonderwerk) wat kort na die Tweede Wêreldoorlog begin het en afgesien van enkele kort insinkings nog al die tyd voortstoom.

Die resep wat die land by uitstek ʼn ekonomiese suksesverhaal gemaak het, was ʼn getemperde vrye mark (soziale Marktwirtschaft), wat ʼn balans tussen winsbejag deur ondernemings en goeie salarisse en maatskaplike sekerheid vir werknemers gehandhaaf het. ʼn Goeie werksetiek, fokus op gehalte en ʼn magdom gespesialiseerde middelslagondernemings (Mittelstand), aangevul deur enkele internasionale maatskappye, was alles boublokke van dié sukses. Dit het die ekonomie meer bestand teen krisisse en strukturele veranderings gemaak en werkloosheid was altyd matig. Selfs tydens die oliekrisis in die 1970’s het Duitsland minder skade as byvoorbeeld Groot Brittanje gely.

Vervaardigings was sedert die Tweede Wêreldoorlog die ekonomiese ruggraat en is deur ʼn sterk en groeiende dienstesektor aangevul, terwyl landbou en mynbou toe reeds ʼn geringe rol gespeel het. Belangriker nog, die vervaardigingsbedryf was nie op enkele groot maatskappye en enkele sektore gebou nie, maar was en is baie gediversifiseer, wat dit meer veerkragtig teen markskommelings maak. Motors, masjiene en elektriese goedere was daarby die hoofuitvoerprodukte en was selfs teen toenemende mededinging uit Japan en later China bestand weens die beter gehalte. Nog elke regering, links of regs, het besef dat nie met die ekonomiese suksesmodel gepeuter moet word nie en tydelike skeeftrekkings is mettertyd reggestel. Die vakbonde was ook minder radikaal met hulle eise en is in besluitneming op ondernemingsvlak ingebind.

Daar is egter nou vraagtekens of die ekonomiese suksesverhaal sal voortduur. Veel hang van die nuwe regering wat tans aan die ontstaan is af. Dit sal ʼn regering wees met ʼn linkse agenda deur Sosiaal-demokrate en Groenes, maar getemper deur die provryemark-Liberales as kleinste vennoot. Die groot bedreiging vir die ekonomiese suksesmodel is die klimaatpolitiek as hoogste doelwit van die nuwe regering. Om te verseker dat die wêreldtemperature net matig in lyn met die Paryse klimaatooreenkoms styg, wil Duitsland op die voorpunt wees en is bereid om alles te doen om dié doelwit te bereik. Sowel Groenes asook Sosiaal-demokrate het die stryd teen klimaatverandering op hulle vaandels geskryf. Dit beteken dat energiekoste en brandstofkoste, wat reeds buite verhouding hoog is, nog verder deur nuwe wette en belastings opgejaag word. Dit beïnvloed elke bedryf. Meer nog, die toekomstige regering glo aan ʼn sterk rol van die staat, wat reeds onder kansellier Angela Merkel uitgebou is.

Die links-groen ekonomiese model is die ontwikkelingstaatmodel wat reeds talle kere misluk het, en dit is ook die model wat dikwels deur die ANC as oplossing aangehaal word: Die staat gebruik sy geweldige belastinginkomste om daarmee die ekonomie aan die gang te skop. Dit klink goed, maar het net in enkele gevalle gewerk en net daar waar ʼn land weens oorlog op sy knieë was en die ekonomie eers weer geskep moes word, soos in Japan na die Tweede Wêreldoorlog. Dit kan werk waar die staat die belastinggeld gebruik om infrastruktuur te skep of uit te bou wat tot ekonomiese oplewing lei.

In ʼn mate was dit so met die New Deal in die VSA onder president Franklin Roosevelt in die 1930‘s. Duitsland het wel ʼn sekere behoefte aan die uitbou van die digitale netwerk en verbetering van paaie, maar die model van die Sosiaal-demokrate en Groenes is nie op die stimulasie van die ekonomie gerig nie. Dit is wel op die bereiking van hulle klimaatdoelwit gemik, wat beteken dat die onbetroubare wind- en sonkragstelsels geweldig uitgebou gaan word terwyl alle ander kragstasies soos steenkool en kernkrag buite werking gestel word. Duitsland is nóú al van die invoer van krag uit die buiteland afhanklik, wat hom kwesbaar maak. Voeg daarby ʼn beleid van fiskale nalatigheid, waar meer en meer skuld opgehoop word om al die doelwitte te bereik, plus ʼn nuwe minimumloon, en jy kry ʼn ekonomiese suksesverhaal, in wese deur die sentrum-regse Christendemokrate van ouds gebou en onderhou, wat op dun ys is.

Groot maatskappye soos BMW, Mercedes, Volkswagen, Siemens en ander, wat tans goeie winste maak, beweeg naby aan die Groenes en baat by regeringsbevordering van alternatiewe energie, batterymotors en waterstof. Dit is egter veral die kleiner bedrywe wat gaan swaarkry wat nie die stygende koste kan absorbeer nie en ook nie hulle produksie so maklik by nuwe vereistes kan aanpas nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Duitsland se ekonomiese dae is getel die land was en is oorstroom met immigrante uit Afrika wat soos parasiete op hulle toegesak het,frau Merkel het nie aan die gevolge gedink nie en nou is dit te laat.

annie ·

… ekonomiese wonderwerke… werklik? En binnekort wil Duitsland Rusland weer binneval oordat hul eie voortvarendheid tov klimaatsverandering hul holderstebolder laat afsien het van bestaande kragvoorsieningsmetodes om die wêreld te beïndruk. Die komende winter gaan groot tekorte opstandigheid bring onder (EU-)inwoners en (-)migrante, wat glo alles in ‘groen’ moet doen en droom. Moekie Merkel, die lomp blommekind, sal dan nie meer die blom op elke lapel wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.