Is Engels nou die taal van die broederliefde?

bybel-lees-hand

Foto: Gksa.org.za

Deur dr. Wikus Buys

Tien redes hoekom die Doppers dié keer gevaarlik verkeerd is.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika hou hulle sinode. In die kerkgange en galerye is alle aanduidings dat een van die eerste besluite gaan wees om die sinode net in Engels te hou. Die verduideliking is skynbaar vol lig en liefde: dis die een taal wat al die afgevaardigdes verstaan en dit sou liefdeloos en aanstootlik wees om aan te dring om in jou eie taal sinode te hou. Kerkeenheid vereis immers Christelike liefde en nederige selfopoffering. Engels is die taal wat die liefde wys.

Die vraag is egter of die stem van Potchefstroom nou geskors word? Die GKSA se moontlike besluit volgende week om net in Engels te vergader, is gemeenskaplik gevaarlik. Hier is tien redes waarom die besluit verkeerd is, en niks goeds spel vir die toekoms van die Afrikaanse kerke, en vir die Afrikaner as geheel, nie.

  1. Die liefdesargument is skynheilig, dit moet eerder as twee woorde gespel word. Liefde is om die ander een se belange eerste te stel. Wat die kerk vir homself sê, sê hy ook vir die wêreld. Die kerk sê vir die wêreld dat tale in die pad van kerkeenheid staan. Ware liefde vereis die prysgee van jou eie taal. Dié argument is juis monopoliserend en kom uit die Empire-handboek en nie die Bybel nie.
  2. Die kerk toon in sy besluit juis ʼn swak omgang met die Skrif. Die uitstorting van die Heilige Gees [in Handelinge 2] toon die liefdeswil van God juis aan en dat oor “die groot dade van God in tale, in ons eie taal” gepraat word. Die Heilige Gees is die liefdesband van God, en wanneer Hy die mensdom begin vernuwe, is een van sy instrumente juis verskeie tale. Eenheid in liefde word juis bereik deur tale hulle plek te gee: die plek wat die Gees van God hulle toeken. Swak eksegese moenie met ʼn liefdesousie bedek word nie. Die kerk kan en mag nie vir die mensdom probeer sê, eenheid met God en mekaar vereis dat tale ondergeskik gestel word aan een taal nie. Dít is brutale liefdeloosheid en ʼn ongehoorsame voorbeeld.
  3. Die besluit is koloniaal geïnspireerd. Die stem van Potch vertoon eerder “his master’s voice and choice” as gehoorsaamheid aan die stem van God. Suid-Afrika is ʼn postkoloniale territoriale eenheidstaat weens die Engelse koloniale en imperiale magsvergrype. In al die postkoloniale lande word die taal van die onderdrukker oorgeneem en sit die elite daarna – juis met dié koloniale taal – hulle eie magsmisbruik voort. Nie net ʼn staat kan gekaap word nie, mens kry ook so iets soos koloniale kerkkaping.
  4. Een van die stappe wat lei tot volksmoord is ekstreme vervreemding. Die teologiese stemme wat vir die Afrikaanse gemeenskap met skynliefde lok om hulle taal in kerklike byeenkomste af te gee, berei die weg tot uiteindelike kulturele selfmoord vir ʼn monolitiese kultuur en maak vervreemding van een gemeenskap juis aanvaarbaar. Die kerk wat liefde preek, mag juis nie gemeenskapsvervreemding aan die hand werk nie. Polities korrekte voetwassery is nie Christelike versoening nie. Watter waarborg is daar dat dekolonisering nie ook ont-Christeliking gaan behels nie? Wanneer word ʼn broederlike sinode ʼn raad van kerke of ʼn comrade-konferensie? Anti-apartheid-sentiment – ook op Bybelse gronde – moet juis nie magsvergrype handhaaf of nuwes help skep nie.
  5. Kulturele selfmoord van ʼn gemeenskap, gepreek as liefdesdiens, klink eerder na ʼn kultusleier se siening tot selfverwoesting as na die evangelie van Christus. Die kultuur, ook die taal van ʼn gemeenskap, moet geheilig word, volledig in diens van God gestel word: dit wil die Heilige Gees juis doen ook met die Afrikanerkultuur.
  6. Mense wat in die versoening van Christus glo, soos wat die kerk opreg doen, moet die versoening met God en medemens léé Die “Engels-über-al” lyk meer soos die neo-liberale skuldrit oor die nimmereindigende skuldbult. Is die afgee van Afrikaans die boeteprys vir apartheid of is die bloed van Christus die afbreek van die middelmuur van skeiding [Ef 2:14]?
  7. Filosofies gesien is die besluit deur en deur modernisties. Die modernisme breek radikaal met die verlede en die tradisie. Tans is slegs die geredde individu op die teologiese radarskerm. Dit is teen die vebondsdenke wat juis so deel is, of was, van die Doppers se teologiese weefsel. Die verbond ken nie net individue nie, maar ook gemeenskappe, verbonde aan God en mekaar. Die Doppers se Engelse gatomswaai verraai hulle modernisme, en antiverbondsteologie. Dit is teen die gereformeerde tradisie wat juis so mooi met die verbond in al sy rykdom omgaan. Die kerk moet eerder help om vanuit die verbondsteologiese tradisie vindingryke gemeenskapsfederalisme as alternatief vir die kerkkaping daar te stel.
  8. Dit is juis die Reformasie wat teen die onverstaanbare Latyn die omgangstale van die mense op die voorgrond gestel het met Bybelvertaling en kommentare. Dink maar aan die enorme invloed van Luther en Calvyn op Duits en Frans – benewens hulle teologiese invloed. Moet die Afrikaanse kerke die 500-jarige herdenking van die Reformasie vier met taaltotalitarisme?
  9. God het ʼn saak ook met tale en volke. Dit is vir Hom deel van sy reddende verskynende heerlikheid [Gen 18:18 en Op 21:24]. Die Drie-eenheid is in wese ʼn verbondsgemeenskap. Daaruit volg alle ander liefdesverbindings – ook in taal en volksgemeenskappe. Christus en die Gees van Christus herstel juis hierdie verbond wat God met sy skepping het en handhaaf.
  10. Die besluit gaan uiteindelik lei tot kerkvervanging [iets anders as kerkskeuring]. Die goedgelowige Christene ken die stem van die Herder. Hulle gewete gaan hulle nie aankla as hulle in Afrikaans bid en Bybel lees en erediens hou en vergader nie. Hulle gaan ook nie teen sy wil in op ʼn vals kerklike offeraltaar, taal – ʼn gawe van God – offer nie. Hulle weet Christus se offer is genoeg, en die groot gawe van die Gees gee juis dankbare waardering vir al God se guns en gawes, waarvan geheiligde taal en kultuur beslis nie die minste is nie.

Die Doppers moet Skriftuurlik optree. Hulle moet die be-Geesterde voorbeeld stel en weë soek om lieflike kerkeenheid – in gemeenskap met God en mekaar – te wys. Taaluitsluiting is allermins broederliefde.

  • Dr. Wikus Buys is ’n gereformeerde predikant by Innesdal in Rietfontein, Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Gerhardus Petrus Padda ·

Mooi geskryf Dr Buys, maar ek wil graag n belangrike toevoeging maak.

Sosialisme word tradisioneel teenoor Kapitalisme gekontrasteer, asof dit n “ekonomiese” stelsel is. Dit is egter glad nie waar nie. Sosialisme is n totalitere morele ideologie, en dit kompeteer direk met ander gelowe, soos Christenskap. Dit doen dit egter op n agterbakse en slinkse manier.

Om dit uit te wys wil ek graag n baie oorhoofse vergelyking doen tussen Sosialisme (S) en Christenskap (C) en dan kan julle self besluit waar die “Kerk” heen beweeg.

1. C – Die mens het sonde (woede, selfsug, jaloesie ens) in die wereld ingebring deur ongehoorsaamheid aan God en ELKE mens word sondig gebore. A.g.v. die sondeval leef ons in n gebroke wereld en elke mens is inherent ongelyk en inherent sondig.

1 S- Daar is slegs een sonde, naamlik ongelykheid en dit is in die wereld ingebring deur “mag stelsels” soos Feudalisme, Kapitalisme en natuurlik Apartheid. Let wel, elke mens is inherent gelyk (nie sondig) en “mag stelsels” veroorsaak die gebroke wereld (ongelykheid)

2. C – Die oplossing vir die sondige wereld is deur geloof in Jesus, persoonlike wedergeboorte, vergewing van anderse sonde en die leef in n gemeenskap waar medegelowiges mekaar ondersteun in liefde. (Koningkryk van God)

2. S – Die “oplossing” vir ongelykheid is die afbreek van die “mag stelsel” en in SA word dit onder andere gedefinieer as Afrikaans.

Besluit self wie se moraliteit is in beheer.

JC ·

Antwoord tot hierdie verraderlike daad= die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK)-wat ook reeds hulle eie Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) het !

Boerseun ·

Net so. Lyk vir my of die groot Afrikaner skeur uiteindelik oppad is. Hopelik kan ons dan die jeuk van die Engels en reenboog nasie gesindes eens en vir altyd afskud en weet wie ons broers eintlik is.

Eish ·

Ek moes die artikel twee keer lees om te kon inneem wat hier staan. Die Dopers verengels!
Mensig maar 2018 skok(ja Skok!) af op n hoë noot!
Artikelskrywer gee n baie goeie uitleg van wat hier besig is om plaas te vind.
Verstommend dat dit so saam-saam met Mogoeng-Mogoeng se uitspraak oor UVS se taalbeleid loop. Politiek en godsdiens bly maar bedmaats. Dié kerk is so te sê al klaar leeg en ek dink Afrikaansprekendes wat oor is, het hul Quo Vadis oomblik bereik.
Regte klomp joiners!

Ben ·

Laat daar openlik met name gestem word want my Kerk gaan nie gekaap word nie , diegene wat in engels wil sinode moet maar hul eie nuwe kerk stig en dan nou pad vat
Genoeg is genoeg my voorouers draai in hul grafte om
Stig julle eie moet nie soos aasvoëls altyd net wil aas nie

John ·

Waarom het mense die vermoe om verskillende tale te ontwikkel gekry wat in die Bybel as aanvaarbaar aangedui word. Die Nuwe-wereld-orde beweeg juis na die uitwissing van individualisme en etnisiteit om sodoende ‘n totalitere wereldryk te vorm wat almal op deeske aarde gelyke kanse sou gee (terwyl die Bybel waarsku dat die armes altyd met ons sal wees)… dus volmaakte kommunisme/sosialisme… En wat of wie gaan aanbid word in so ‘n globale mega-propolis wat see en grense oorspan. Mens kan raai watter wese hierdie siek plan uitgedink het. Die eindtyd kom nader en die erge dae wat voorle is oor en oor in die Bybel voorspel. Wie beter as juis die glo so heilige/vrome kerklikes om die vuilwerk te begin…

Pierre de Villiers ·

Mnr. P.W. Botha het aan mnr. Nelson Mandela twee vereistes gestel voordat hy vrygelaat sou word.
Afsweer van juis kommunisme ( Sosialisme) en geweld. Wat sien ons vandag in ons land gebeur? Juis die punte wat ek hier noem.

Tersia Delport ·

Sonder al die kerklike en Bybelse argumente wonder ek net of daar werklik soveel anderstaliges in die Gereformeerde Kerke is om so ‘n besluit te regverdig? My ondervinding van die susterkerke is dat dit net Afrikaans is.

bloues ·

Jy mag nie vry nie, want vry lyk soos dans en dans is sonde. Miskien as jy in Ingels vry sal dit nou toegelaat word. Ai Dopper vriende waarnatoe is julle oppad (met n spoed)

Hennie ·

Arme bloues. Onkunde!!! Die doppers het 27 jaar gelede al dans ontsondig…

Hermi Pelser ·

Die Doppers moet pasop! Ons handjievol mense wat nog gereeld kerk toe gaan, doen dit omdat dit nog die enigste plek is waar mens vry van politieke druk kan wees. Ons is klaar vreemdelinge in ons eie land. Moenie wonder hoekom die kerke leegloop nie.

Jacobus ·

Die Bybel laat ongelykheid toe, Koning David, Abraham en Moses is enkele gevalle daarom is die argument dat ongelykheid ‘n sonde is nie reg nie, ek dink en voel anders oor die saak.

Waarmee ons hier te doen het is ‘n linkse liberale marxistiese aanslag op Suid Afrika.

Dit is waar dat daar ‘n totale aanslag is op die Afrikaanse gemeenskap. Cyril Ramaphosa het gesê dat die ANC 25 jaar gaan vat om die Afrikaner gemeenskap uit te wis. Van 1994 tot 2019 = 25 jaar.

Daar moet onthou word hoe het kerke die ANC ondersteun, waarom sal hulle nie tehulp wees met die finale spyker in die doodskis van Afrikaans in Suid Afrika nie.

Die meesters in Engeland, lees die Britse Koningshuis en die Kerk van Engeland het van 1899 af probeer om die Afrikaanse gemeenskap af te vernietig omdat ons nie nuwe wêreld orde wil of wou aanvaar, daarom was en is ons gehaat en moes vernietig word.

Die ander stamme van Suid Afrika; Zulu, Xhosa ens. het die meesters aanvaar en hulle gewoontes aanvaar en doen soos die meesters beveel.

Daar is ‘n totale aanslag op die Afrikaanse gemeenskap, of dit nou Blank, Bruin, Swart of Indiër is wat hulle self met Afrikaans assosieer.

Die kerk gaan gebruik word om dit wat nog gaan kom in 2018/2019 te regverdig.

Jou taal, kultuur, geloof, ras, kinders, ens. gaan teen jou gebruik word in die finale aanslag en die wêreld en nie eens Trump gaan kom help nie.

Veritas ·

Dankie tog ek is nie alleen nie. Jacobus ek het my weersin in die Engelse koningshuis, geopper in my kommentaar op die artikel oor die ‘skattige prinsessie’ en is wyd tereggewys. Onkunde oor die vyand is ons Afrikaners se grootste probleem.

Jack ·

100% korrek. Baie goeie insig oor wat in die wêreld aangaan. Dankie.

Basson ·

Baie goed Jacobus!!!
Oorweeg asb om vir MM ook meningstukke te skryf, jy weet bepaald waarvan jy praat.

bgj van der westhuizen ·

wel laat hulle dit doen en mense verander van kerk of stig in nuwe een wand sonde jou geld is die kerk niks nie

Barend ·

Net die feit dat daar so ‘n voorstel op die tafel is, gaan my verstand te bowe. Het dit nooit van die Gereformeerde Kerk verwag nie – nie eens so ‘n voorstel nie!

Andries Opperman ·

Dankie Dr Buys.
Verdere gedagtes oor GKSA se sinodale taalkrisis:

“Stoker beskryf taal as ʼn geskenk van God wat soos enige ander gawe nie verwaarloos mag word nie, maar uitgebou moet word. Die uitbouing van ʼn taal noem Stoker (1967:162) die beheersing van jou gawes. Om te heers oor die skepping is die roepingsopdrag van God aan die mens. Stoker (1967:162) beskryf die suigeling se poging om taalklanke uit te bring en te herhaal as poging om te heers oor die skepping. Die afgee van ʼn mens se taal of die doelbewuste verswakking van ʼn mens se taal is dus in wese onverantwoordelik teenoor
God se opdrag om te heers oor die skepping, omdat wat God gee nie geag word ʼn gawe van God nie, maar as ʼn toevalligheid of ʼn menslike verskynsel wat nie deur God beskik is nie.” – uit H.G. Stoker se gedagtes oor die gemeenskapsuniversiteit deur Diedericks & Potgieter 2015

DC ·

Hou net julle geldelike bydrae terug vir n paar maande en die sinode sal vinnig van besluit verander vir volgende jaar se sitting. Groetnis en geniet die ekstra sente in julle sakke

My opinie ·

Is dit net ek of het ek dit verkeerd… maar die GKSA laat nog nie eers die vrou in die amp toe nie… maar wil nou Sinode in Engels hou. Iewers het hulle groot ondudelikheid oor hulle identiteit.

Jerry ·

Alles wat die Afrikaner prysgee sal hy nooit weer terug kry nie. Gee die pinkie en dit is koebaai Maraai. Dit het alles by 1994 begin en sal nou duur totdat die Afrikaner geen meer se in sy eie sake het nie. Die Woord waarsku dat God se mense nie ooreenkomste mag aangaan met diegene wat jaloers is op God en sy mense. Die Afrikaner het toegelaat dat dit gebeur in 1994. Die gevolge wat die daad van 1994 inhou vir n ongehoorsame volk soos die Afrikaner is welbekend in die geskiedenis van God se volk. Dit is om die minste te se verdoemend, maar God is n genadige God en hy het sy volk 2 keuses gegee. Die verdoemende een is die een wat Afri-Forum gekies het. Die ander keuse, die een waaroor daar nie eers in die kerke gepraat word nie, ook nie eers deur Angus nie, daardie keuse kies ek. Ek groet u my mede Afrikaners, u het dan reeds ook klaar u keuse gemaak.

Gerad ·

Tydens die hitte van dié stryd om homosektualiteit en die kerk trek ‘n vriend my uit ‘n gesels kring buite die kerk:

“Kom staan net so 20 tree terug, dan wys ek jou. Sien jy die driehoek front van die gebou? Sien jy die toring langsaan? Dit loop nouer na bo met die piramied-vormige kop op. Kan jy sien die driehoek verteenwoordig ‘n piramiede en die toring ‘n obelisk? Die simbole van die songod amun-ra (sien Wikipedia). Hulle hou kerk op Sondag en sê amen na gebed.

Net oor die bult is ‘n susterskerk. Selfde simboliek. Ook voor die Vatikaan, by die Vroue Monument en voor die Withuis (Amerikaner het meer as 15 geveg om dit te keer). Dieselfde simboliek by honderde kerk in SA.

Alle kerktorings simboliseer obelisks uit Egiptiese songod tradisie. Jy weet natuurlik kersfees (kersvader) en paasfees (paaseiers) is pagan feeste net soos halloween (pampoenspoke)!

Verkeerde plek op verkeerde bladsy, kom ons loop”. Toe ons so wegstap is sy laaste opmerking: “dis hoekom hulle praat van die mens-dom”.

Fanie ·

Gerad, jou stelling maak my wanhopig oor die mensdom, want dis so dom.

rassie ·

Dr Buys,

U merk onder andere in u tweede paragraaf op dat hierdie aangeleentheid niks goeds spel vir die Afrikaner in geheel nie.

“Die Afrikaner” as geheel bestaan lank al nie meer nie. Daar bestaan slegs Afrikaners wat hulself in verskillende losse groeperinge met uiteenlopende standpunte en onversoenbare toekomsvisies bevind. Hierdie is maar net nog weereens ‘n bevestiging daarvan, reg uit die hart van die detydse Afrikanerdom.

Boerseun ·

Die Afrikaner konsep het nie bestaan met die groot trek, met bloedrevier, met die twee vryheids oorloe nie so wat is jou punt? Afrikanerskap was n paai om ons in die Unie van Suid Afrika te hou, een groot gelukkige reenboog groep. Maar nou ja die 92 se stemming was die stemming wat die Afrikaner as konsep gesink het. Gee die Boere hul republieke terug!!

Totsiens ·

Nou kan ek maar netsowel na enige ander kerk gaan. Totsiens aan my oud geliefde kerk, jul is nou ook gekaap.

Zachrys ·

As mens die komentare onder hierdie berig lees, en die een op die hoofnuus, dan sien ek dievolgende :
1. Daar is regtig baie mense wat komentaar gee
2. En almal sê NEE, (behalwe enkeles met name wat engels klink).
So lykmy daar is tog hoop vir ons as dit oor saamstaan gaan….

Annatjie Kruger ·

Ek het juis die Engelse kerk waarin ek die afgelope 20 jaar was verlaat omdat ek gevoel het dat ek in my eie taal in die kerk waarin ek groot geword het wil aanbid. Nou vertel daardie kerk vir my dat die sinode en heelwaarskynlik later ook die gemeentes alles in Engels gaan doen. Ek het na die Engelse kerk gegaan omdat dit die naaste aan my is, maar nou wil ek in my eie taal aanbid. As ‘n Afrikaanssprekende persoon na ‘n anderstalige kerk gaan moet hulle aanbid in die taal van daardie kerk en word die sinode in daardie taal gehou. Hoekom moet ons as Afrikaanssprekende mense altyd terugstaan en die minste wees?

Gert Kruger ·

Hierdie probleem het begin toe daar tydens ‘n Raadsvergadering van die destydse PU vir CHO gehou op 30 November 1983 op die glybaan van rasse-integrasie beland het en besluit is dat: “……..in beginsel aanvaar is dat binne die raam van die ooreenkoms met die Minister van Nasionale Opvoeding, anderskleuriges as studente ook op voorgraadse vlak en wel vir voltydse en na-uurse studie op beide kampusse van die PU vir CHO toegelaat kan word….” (Notule 7.3.1) en dat “…….diegene wat as studente aan die PU vir CHO registreer, gewoonweg as studente aan die PU vir CHO behandel word – ongeag ras of kleur. Dit impliseer ook dat almal wat ‘n bepaalde kursus volg of vir ‘n bepaalde vak inskryf, gesamentlik die kursus deurloop, in die vak klasse ontvang en wel tydens dieselfde geleentheid by dieselfde dosent……” (Notule 7.3.5).

Elizabeth ·

Gelukkig gaan ek lankal nie meer kerk toe nie. Dit is hierdie soort liefdelose, selfgesentreerde, kortsigtige en selfsugtige politiek wat my laat besluit het ek kan maklik sonder julle klaarkom.

Wim ·

Elizabeth
Lyk my jy hunker tog na n kerk.Hoekom sal jy dan die moeite doen om hier kommentaar te lewer.

Micky ·

Wat maak dit tog saak hoe jy die Here aanbid….Engels Afrikaans. ……
Asb jul leef in n droom wereld!!
Die kerk gaan lankal al oor net Geld en niks meer nie

Willie ·

Wanneer elke navolger van Jesus Christus eendag besef dat hy of sy self is die kerk en dat elke persoon eendag persoonlik gaan verantwoordelik wees vir sy doen en late hier op aarde, gaan die sogenaamde georganiseerde kerk al sy mag en praal kwyt wees. Daar is opregte geroepe boodskappers van God, maar jy as die kerk moet bid vir insig en onderskeiding. Vergeet al die hoogdrawende taalgebruik van die slimmes, gaan leef in liefde teenoor almal en kyk wat gebeur. Dit is jou keuse, – God meng nie in met ‘n mens se vrye wil nie, net baaspelerige “leiers”.

Elizabeth ·

Willie, jy is SO reg! As ons almal net in liefde en sonder selfbelang optree, het ons nie instellings nodig waarin mag, eie reg en eersug die belangrikste is nie, instellings wat gedurig baklei oor aardse dinge nie. Liefde vir God en jou naaste is die Groot Gebod – in alle ware religieë, en dit is al wat ons nodig het om as gemeenskap te funksioneer en floreer.

Max ·

Ja, alle metodes sal aangewend word om Christen Afrikanerskap te vernietig. Hulle kan en sal nie slaag nie !

Luke ·

Ek het alles en almal se kommentaar deurgelees. Baie oulik om so baie te se oor n ja of nee antwoord. Veral dat elke kerk n obelisk amunra whatever ding is. Eeeerm enige ander idee hie om n kerk toring te bou ou maat? As dit n boog is sal dit seker die baal simboliseer? Die hele ding is baie eenvoudig. N afrikaanse kerk gestig deur afkrikaners vir afrikaans sprekende afrikaners moet nou engels wees. Dit is hou eenvoudig belaglik simpel dit is. Engels nee. Dis dwaaslik en sotlik net om dit in oorweging te gebring het.

Christina Swart ·

Almal gee hulle menings, maar een ding vergeet hulle, God self het die mense se taal verwar. Nou probeer hulle baie hard om dit weer een taal te maak?

Andre Els ·

Die einde van die Doppers…jaammer vir my vriende wat ook doppers is….maar as die lidmate dit aanvaar…nouja…..

Sam ·

Mense, dis eenvoudig.
Ons verloor alles.
Ons identiteit.
Ons kultuur.
Ons sport.
Ons skole.
Ons land.
Ons kerk.
Ons taal.
Ons vlag.

Waarom?

Omdat hierdie volk sy God verloor! Hy sal álles van ons wegneem, want ons sport rn geld en land en taal en … ja … ons kerk het afgode geword, dít waarvoor ons sal veg en bereid is om met ons lewe voor te betaal.

Ons ken ons God nie meer nie, juis omdat ‘ons’ kerke en ins ‘skole’ ons verlei en maar net magspelers van die tyd is … word ‘ons’ kerke’ saam met die hoer van Openbaring wat op die waters (volke) ry verdoem tot vernietiging.

Die dae van rugby kyk en in jou taal skoolgaan en Sondae in ‘n heilige kerk gaan sit, is verby. Hierdie dinge het afgewyk van die Weg, hierdie dinge het belangriker geraak as die God van die Bybel, die waarheid van Sy Woord, die onderhouding van Sy wette en verordeninge.

Daar is net een uitweg tot redding. Keer terug na Hom, en Hom alleen deur terug te keer na die 1933/53 vertaling van die Woord, nie die verdraaide verdwalings van die dag nie.

H. Jacobs ·

Weldeurdag en Bybels-gefundeer. Mag die Sinode in alle erns daarvan kennis neem. Dankie!!

Gert Kruger ·

Boerseun, ek neem aan jy verwys na my. Ek was destyds ouderling op die Kerkraad van die Gereformeerde Kerk, Wierdapark, toe ek en mede-ouderling op 20 Mei 1984, ‘n dringende skriftelike versoek tot die kerkraad gerig het dat bogenoemde aangeleentheid as ‘n saak van dringende belang beskou sal word en as ‘n dringende Kerkraadsaangeleentheid ondersoek sal word. Dit was gedoen omdat dit onder ons aandag gekom het “…..dat ‘n vergadering van die Universiteitsraad op Donderdag 24 Mei 1984 gehou sal word waardtydens kommentare en besware van alle belanhebbendes in die bogemelde verband aangehoor en oorweeg sal word”, en die tyd dus kort was om ‘n beswaar in te dien. Nodeloos om te sê, hierdie beswaar is, soos klaarblyklik soortgelyke besware deur ander Kerkrade s’n, nie in aanmerking geneem nie en het die Universiteit maar net van van een glybaan van rasse-integrasie tot die ander beweeg, soveel só, dat die naam daarvan verander is en dit van sy  Christelike karakter ontdaan is en tot dit in die toestand is waarin dit vandag verkeer.

Nico K ·

Ek is nou wel mostert na die maal, maar ek moet kommentaar lewer. Die Gereformeerde Kerk is nie ‘n Afrikaanse kerk nie. Daar is talle swart gemeentes wat nie Afrikaans praat nie en ook Engelssprekende gemeentes. Die Kerk het bande met internasionale Gereformeerde Kerke uit Brasilië, Indonesië, Korea, ens. Ek is seker daardie vergaderings word nie in Afrikaans gevoer nie. Die Afrikaanse Gereformeerde Kerke sal nog steeds in Afrikaans voortgaan, maar enige persoon wat teen meertaligheid in die Kerk is, is beslis teen die woord van God. Ek het nie een argument hierbo gelees wat uit die Bybel kom nie. En hou tog asb. op met die “Britse Ryk is gelyk aan die Antichris”. Daardie ryk het 100 terug ophou bestaan.

PLEASERS ·

Die probleem met meeste kerke is hulle wil so graag PLEASE en is so bang om te OFFEND. Jammer ek gebruik die engelse terme, maar dit lyk asof ons binnekort net in Engels gaan moet droom dink en bid. In die ou susterskerk waarin ek was, het ons vir jare na 1994 slae gekry oor apartheid, so asof die dooms self nie dit toegepas het nie. Skielik was dit net die sondaars in die banke wat apartheid toegelaat het, die dooms was nog altyd inskiklik en toegeeflik teenoor die ander kulture (not). Toe begin hulle Engelse liedjies in die kerk sing, en die ou mense wat die dominee en kerkraad daarmee gekonfronteer het is net eenvoudig stilgemaak deur hulle te laat skuldig voel omdat hulle nie wil ‘transformeer’ en ander tale toelaat om ook ‘na Jesus se Woord te kom luister nie’. Diegene wat gekla het en na jare maar opgehou het HET DIE KERK verlaat en by ander kerke gaan aansluit. Dit gesê daar is nogsteeds net een of twee Engelse mense in die kerk, want die kerk word in AFRIKAANS aangebied, so wat help die Engelse liedjies nou? Ons vertrek ook ‘n kerk wat alle kulture huisves, maar daar is spesifieke dienste in Engels en in Afrikaans. By die Afrikaanse diens word daar Engelse liedjies gesing maar nie Afrikaanse liedjies by die Engelse diens nie. Die antwoord oor hoekom so was “ons moet verander en almal tegemoetkom”!

Esmari Potgieter ·

Dr. Buys het ‘n strooipop van die GKSA gemaak en boonop die publiek uitgenooi om saam te kom slaan.
Ten eerste:
Die besluit om die sinode “net in Engels” te hou, is toe nooit geneem nie. Gister, op 11 Februarie, is besluit op ‘n funksionele veeltaligheid, waar elke afgevaardigde in sy moedertaal kan praat, tolking regdeur beskikbaar is en alle uitdeelstukke in beide Afrikaans en Engels versprei word.
Ten tweede:
Die GKSA het sigself nog nooit uitgegee as ‘n Afrikaanse kerkverband nie. In ‘n kykie na my eie provinsie, Noord-Wes, het ek 35 swart (dus meestal Tswana-sprekende) Gereformeerde kerke getel uit ‘n totaal van 78. In Gauteng is daar 34 nie-Afrikaanssprekende kerke uit ‘n totaal van 110. Dit is NIE die “Afrikaanse gemeenskap” wat byeenkom wanneer ‘n GKSA sinode gehou word nie, maar mense van ten minste 15 verskillende taalgroepe (wanneer ons GSKA afgevaardigdes uit lande soos Zimbabwe en Zambië ook in berekening bring).
Ten derde:
Geen kerk word gevra om die eie taal op ‘n “offeraltaar” neer te lê nie. Na die Algemene Sinode sal elke afgevaardigde terugkeer na sy eie kerk en daar voortgaan om die Woord in die taal van daardie kerk te bedien. Hopelik sal elke afgevaardigde ook voel dat hy kon deelneem aan wat op die Algemene Sinode bespreek en besluit is, al moes hy dit soms in die Koine Grieks van ons tyd, naamlik Engels, volg.

Dank die Here: die kerk is nie “ons kerk” (soos sommige kommentatore dit het) nie, maar Christus s’n.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.