Is geluk maar ʼn dag lank?

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Dit staan so in die VSA se verklaring van onafhanklikheid: elke burger het die reg op lewe, vryheid en die navolging van geluk.

Maar is navolging van geluk ʼn reg wat prakties bewerkstellig kan word? Wat wetlik afdwingbaar is? Is dit ʼn individuele aangeleentheid wat elkeen op sy/ haar eie moet najaag? Of is daar ʼn rol vir die regering om te speel? En na alles: Wat is geluk nou eintlik?

Geluk klink na ʼn konsep wat verhewe is bo die politiek. Dis ʼn staat van welsyn wat elke dag in vreedsame vriendelikheid teenoor en saam met geliefdes, in jou gemeenskap en land, beleef word.

Die meeste mense beleef seker net sulke stukkies geluk per dag – klein dingetjies wat jou vervul met behae − soos die eerste beker goeie bone-koffie van die dag. Of talle dinge oor tyd wat jou geestesingesteldheid ʼn bietjie woema gee. Of om geluk toegewens te word op die dag van jou verjaarsdag. Maar wat is die geluk dan wat jy so gewens word?

So, belewenis van geluk is dikwels maar net vlietend. Dis daardie diepe ervaring van binne genoegdoening. Dit kan binne sekondes in die bloute verdamp om vervang te word met onbehae.

En dis die toestand waarin seker die meeste Suid-Afrikaners vandag verkeer. Noem maar die kranke en skete op: Die Covid-19-pandemie, beurtkrag, hoë elektrisiteitskoste en brandstofpryse, werkloosheid, armoede, misdaad…

Sê nou die regering kan op ʼn daaglikse basis betroubare landswye inligting kry oor ʼn reeks emosies wat mense ervaar. Dit kan dien as ʼn soort barometer van die dinge wat mense gelukkig of kwaad maak. As die politici slim is, kan hulle dan ag slaan op die data en dienooreenkomstig optree om faktore wat negatief inwerk op die geestesingesteldheid van mense te verminder en die positiewe te bevorder.

Sulke data is nou beskikbaar. Dis die werk van pionier prof. Talita Greyling en haar span van die Universiteit van Johannesburg. Sy is ʼn navorser oor die ekonomie van welstand. Sy het internasionaal naam gemaak met haar ontwikkeling van die bruto-nasionale geluksindeks. Hulle gebruik die data van sosiale media, Twitter en Google-soektogte, as basis. Letterlik miljoene boodskappe word gedurig deur ʼn sterk rekenaarprogram deursoek vir sleutelwoorde wat saam ʼn emosie soos geluk kan weerspieël. Die navorser kan dan omvattend en gou ʼn blitsblik kry van ʼn bepaalde emosie wat mense ervaar. Dit maak die abstrakte gevoelsgewaarwording meetbaar. Dis dinamies en interaktief. Die navorser kan ʼn byna werklikheidslesing kry van enige emosie soos versoek.

Hulle het byvoorbeeld ʼn ondersoek gedoen na die emosielading van geldende geluk onder Suid-Afrikaners tydens die eindstryd van die Rugbywêreldbeker in 2019. Tydens die wedstryd het die werlikheidsstroom van Twitter-boodskappe aangetoon hoe mense se emosies gewissel het. Die wedstryd het begin met ʼn lesing van 7,1 uit tien. Toe die fluitjie blaas met Suid-Afrika as die wenner, was dit 7,9 – die hoogste nog wat vir Suid-Afrika gemeet is. Dis ʼn duidelike aanduiding dat prestering in internasionale sport ʼn baie sterk positiewe gemoedstoestand onder Suid-Afrikaners skep.

In ʼn vergelykende studie wat prof. Greyling-hulle saam met navorsers van Australië en Nieu-Seeland gedoen het, het hulle probeer bepaal hoe die Covid-19-pandemie mense se emosies beïnvloed het. Hulle het miljoene Twitter-skrywes en Google-soektogte op die internet dopgehou vir woorde soos verveeldheid, alleenheid, kommer en treurigheid. Gesamentlik kon al die skrywes duidelik aandui dat mense se gelukkigheid afgeneem het en met hoeveel. So kon hulle aantoon dat streng beperkings nie net ʼn regstreekse negatiewe uitwerking op die bruto binnelandse produk gehad het nie, maar ook ʼn wesenlike invloed gehad het op die geestesgesondheid van miljoene mense. Mense was minder produktief en gemotiveerd.

Een gevolgtrekking was dat regerings goeie resultate kan kry deur spesifiek daarop ingestel te wees om mense se geluk te bevorder… Soos die politici volgens die Amerikaanse grondwet behoort te doen. Die bruto-binnelandse geluksindeks kan dus ʼn belangrike instrument word om mense positief te beïnvloed. Hulle meen gelukkige mense is meer onbaatsugtig op die lang duur. Hulle is ook meer aktief, meer kreatief, beter probleemoplossers, meer sosiaal en hulle toon minder anti-sosiale gedrag. Gelukkige mense is gesonder, leef langer en stel hulleself minder bloot aan riskante gedrag soos rook en alkoholmisbruik.

Die navorsers het bevind hoewel Nieu-Seeland en Suid-Afrika van meet af aan besluit het om streng reëls neer te lê tydens die pandemie, was Nieu-Seelanders baie meer geneig om hulle vrywillig daarby te hou. Voor die pandemie toegeslaan het was die geluksindeks van Nieu-Seeland 7,14, Australië 7,09 en Suid-Afrika 6,32.

Die geluksindeks het met pres. Ramaphosa se aankondiging van vlak vier van die Covid-inperkings in Junie 2021 gedaal tot ʼn rekordlae 4,02. Wat interessant is, is dat die indeks toe ʼn verdere rekord in Suid-Afrika geslaan het van 3,6 tydens die onluste in Julie 2021 in KwaZulu-Natal. As ʼn mens deur die indeks die vlak van ongedurigheid dopgehou het, sou jy kon sien dat moeilikheid aan die broei was. Owerhede sou voortydig stappe kon doen om moles te keer voordat dit uitgebars het.

Prof. Greyling se uitvindsel het internasionale belangstelling gewek en word nou in 11 lande gebruik. Daar is ook navraag van ander soos die VSA. Prof. Greyling se werk is beloon met die rektor se prys vir uitnemendheid in innovasie in 2021.

Die gemoed in Suid-Afrika is swaar. Dit weet elkeen van ons. Jy voel dit sonder twyfel aan eie bas. Maar nou kan dit gelees word op grond van feite. Dié feite sê die gemoedstoestand in die land is reeds slegter as verlede jaar. As die owerhede wil luister na wat die mense sê, is die boodskap duidelik: Ons soek ʼn bietjie volgehoue geluk. Ons is siek en sat van korrupsie en beurtkrag, verdeeldheid, gebrek aan leierskap en swak dienslewering. Ons soek streng optrede teen misdaad. Ons soek meelewing van die politici wat aan ons dink en nie net aan hulle eie sakke nie.

In Japan tydens die Rugbywêreldbeker het die Springbokke ons binne ʼn kwessie van twee uur ʼn langdurende oorweldigende gevoel van welgeluksaligheid gegee. Seer sekerlik kan die regering (en Eskom) iets doen in die kiestermyn tot 2024 om ons ʼn trappie vorentoe te gee na groter geluk. Die feite is beskikbaar op die geluksindeks. Dis net ʼn kwessie van luister en doen. Aan medeburgers: veelvuldige wense van geluk!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Freek Robinson

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
B-Man

Vir jou ook, Freek.☺

annie

Watter twak! Moet tog net nie saam met die volgende sensus so ‘n opname maak nie. Dit sal presies so suksesvol wees soos ‘n sensus self. Wanneer hoor ons die uitslae van die onlangse sensus waartydens miljoene aan werkloses uitbetaal het, terwyl hulle totaal onsigbaar was. Nou beraam navorsers net die uitslae en versprei die raaiskoot as die waarheid. Wat Freek wou sê is Suid-Afrikaners se geluk hang bloot daarvan af of die Bokke wen of nie. Shame. Bang Bokke skop tog môre die bal mōre soos Rassie wil hê en noudat NZ dit weet kan hulle ons uitoorlê vir… Lees meer »

Groen Ghoen

Suid-Afrika wat finaal en vir ewig en altyd permanent ontslae is van die ANC en die EFF = geluk vir ewig.