Is George Soros die duiwel van die Kinderbybel?

george-soros

George Soros. Foto; Commons.wikimedia.org

George Soros. Daar is baie menings oor die 86-jarige biljoenêr. Vir baie is hy ʼn redder, ander haat hom met ʼn passie. Sy naam word wêreldwyd genoem waar daar opstande is. Samesweringsteorieë oor sy invloed word gereeld gehoor. So wie is George Soros? ʼn Filantroop wat die wêreld wil verbeter, of  ongenaakbare hooffiguur van die mitiese illuminati?

Volgens die gesaghebbende tydskrif Forbes word Soros se rykdom op $24 miljard geraam, wat hom onder die top-20 rykste mense in die wêreld plaas.

Die Joodse Nazi?

Soros was nog altyd kontroversieel. Dit het eintlik begin in sy geboorteland Hongarye as ʼn Joodse seun (hy is gebore George Schwartz). Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Soros se welgestelde Joodse pa (hy was nie ʼn godsdienstige Jood nie) homself as ʼn Christen voorgehou. Die 13-jarige George het selfs ʼn amptenaar gehelp om namens die Nazi’s Jode se eiendom te gaan konfiskeer. Soros het later laat blyk dat hy nooit daaroor wroeg dat hy homself en die Jode eintlik verraai het nie: hy sou in elk geval self weggestuur word deur die Nazi’s as hulle sou weet sy familie was Jode.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Soros vinnig besluit die kommunisme in Hongarye geval hom nie, en hy is landuit om in Brittanje te gaan studeer. Hier het hy die teorieë van die Oostenrykse filosoof Karl Popper bestudeer. Popper het kommunisme en die nasionaal-sosialisme (fascisme) verwerp as die groot euwels van sy tyd en ʼn gemeenskap bepleit wat hy die “Open Society” genoem het: basies ʼn liberale demokratiese gemeenskap waarin individuele regte en vryhede die botoon voer. In Popper se oop gemeenskap moes mense vry wees om menings te lug en in ʼn regstaat bly waarin mense met verskillende uitgangspunte vreedsaam kon saamwoon.

Soros het later self die oopgemeenskap-teorie verder gevoer en die markekonomie en die nasiestaat as die noodwendige euwels van die moderne samelewing beskou, wat basies soos fascisme en kommunisme vernietig moes word.

Nieteenstaande het Soros ingeskakel in die kapitalisme en aangesluit by ʼn investeringsbank in Londen. Hierna het hy met verskansingsfondse (hedge funds) begin werk en in die 1970’s na New York getrek en sy eie verskansingsfonds begin bestuur. Basies behels ʼn verskansingsfonds die investering van geld van individue, maatskappye en fondse soos pensioenfondse in verskeie opsies, soos aandele, staatseffekte, en so meer. Opsies kan ook basies op die termynmarkte uitgeoefen word, wat amper soos ʼn weddenskap werk: jy wed basies daarop dat byvoorbeeld ʼn aandeel, die olieprys of ʼn geldeenheid gaan versterk of verswak (lang of kort posisies).

Hoe dit ook al sy, Soros was goed in sy werk en het sy fonds dermate opgebou dat dit later oor miljarde dollars beskik het.

Verwoestende spekulasie

Teen 1992 was Soros reeds stinkryk, maar daarna het sy naam oneindig verstewig nadat hy verreken het dat die Britse pond hopeloos oorwaardeer was teen ander Europese geldeenhede. Hy het ʼn kort posisie ingeneem en in effek 10 miljard Britse pond verkoop. Die pond het so verswak dat die Britse reserwebank genoodsaak was om die rentekoerse aan te pas nadat die pond daarna nog veld verloor het. Soros het een miljard dollar wins gemaak en daarna bekend gestaan as die “man wat die bank van Engeland gebreek het”.

Soros was nou so invloedryk dat blote spekulasie dat sy fonds ʼn kort posisie teenoor ʼn geldeenheid sou inneem, die geldeenheid kon laat verswak het. Met die Asiese finansiële krisis van 1997 is hy deur die Maleisiese eerste minister Mahathir daarvan beskuldig dat hy die Asiese geldeenhede laat verswak het. Dit was nie heeltemal korrek nie. Hoewel Soros deelgeneem het aan geldmarktransaksies, was hy nie eiehandig verantwoordelik vir die krisis nie. Die mark het basies vertroue verloor in die Asiese beurse. Nietemin was dit die begin van die groot samesweringsteorieë teen Soros.

Soros het ʼn finansier van “progressiewe” stryde wêreldwyd geword. Ironies genoeg het hy hiermee begin toe hy in 1979 in Suid-Afrika verskeie beurse vir swart studente uitgedeel het in teenkanting teen apartheid. Hy het dieselfde gedoen in Oos-Europa en die Sowjetunie, deur opposisiegroepe wat teen kommunisme gekant was, finansieel te ondersteun.

Dit word bereken dat hy tot $12 miljard vanaf 1979 aan duisende organisasies en groepe geskenk het wat verskillende kwessies ondersteun. Verandering word ondersteun teen regerings wat as ondemokraties of onbuigsaam gesien word, asook sosiale aksies soos die bevordering van menseregte vir groepe en mense wat diskriminasie ervaar, hetsy op politieke, sosiale of ekonomiese vlak. Hy finansier vryheid van spraak, deursigtigheid, toerekeningsvatbare regering en gemeenskappe wat geregtigheid en gelykheid ondersteun.

Hier moet ons Soros gelyk gee. Sy aksies het in baie gevalle wel hierdie beginsels wêreldwyd bevorder en uitgedra en ʼn rol gespeel om korrupte, ondeursigtige regerings bloot te stel en ook hulp te verleen aan mense in krisis. ʼn Groot deel van sy filantropie is om geld uit te deel vir agtergeblewenes, armes en diegene wat uitgebuit word. ʼn Voorbeeld hiervan is die $500 miljoen wat hy vir armlastiges in Haiti uitgedeel het.

Dit is alles edele motiewe, maar in praktyk het dit meestal neergekom op finansiering van ultra-liberale kwessies soos aborsie, onwettige immigrasie, nasionale gesondheidstrukture, wettiging van dwelms soos dagga en uitbreiding van die welsynstaat. Daarteenoor is hy gekant teen nasionalisme en patriotisme.

“Open Society Foundations”

Om sy idees te verkondig en te versprei, het Soros ʼn wye netwerk van organisasies gestig, waarvan die mees bekende die “Open Society Foundation (OSF)” is. OSF-takke is eers in Oos-Europa in 1984 gestig en daarna wêreldwyd. Daar is ʼn OSF in Suid-Afrika (gestig in 1993) en ook in elke streek van Afrika. Enige organisasie wat regte wil bevorder, ongeregtighede wil beveg of identiteitspolitiek wil bevorder, kan die OSF nader vir geld.

In Suid-Afrika (volgens die nuutste jaarverslag van die plaaslike OSF) is ongeveer 100 Suid-Afrikaanse organisasies en groepe in 2015 gefinansier. Dit sluit in organisasies wat ons daagliks van hoor, onder meer die Afrika Check (ʼn mediawaghond), amaBhungane (ondersoekende joernalistiek), Black Sash (siviele geregtigheid), Corruption Watch (korrupsiewaghond), Daily Maverick (aanlyn nuusmedia), Freedom of Expression Institute (haatspraak), GunFreeSA (vuurwapenbeheer), Helen Suzman Foundation (bevorder demokrasie), Institute of Security Studies (geregtigheid), Lawyers for Human Rights (regshulp), Mail & Guardian (koerant), Right2Know (oop informasie), Section 27 (regshulp), Social Justice Coalition (anti-xenofobie), Sonke Gender Justice (MIV/vigs-aktivisme) en Treatment Action Campaign (MIV/vigs-aktivisme). R67 miljoen is net in daardie jaar aan sulke organisasies in Suid-Afrika uitgedeel.

Anders as wat samesweringsteorieë beweer, is dit nie waar dat Soros of die OSF voorskryf of beheer neem van hierdie groepe nie, maar die feit dat die groepe of organisasies gefinansier word, speel natuurlik ʼn groot rol in hul aksies. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die voormalige liberale politikus Van Zyl Slabbert, wat in 1985 uit die politiek in Suid-Afrika getree het oor sy onvergenoegdheid met die (destydse) politieke stelsel in Suid-Afrika.

Slabbert het in 1986 Soros in New York gaan spreek om ʼn buite-parlementêre drukgroep, Idasa, te finansier. Soros het sonder om te blik of bloos ʼn tjek vir $75,000 uitgeskryf (ʼn reusebedrag vir daardie tyd). Slabbert en ander het hierna in 1987 met Soros se finansiële hulp die ANC in Dakar, Senegal, ontmoet. Dit was die eerste kontak van afvallige Afrikaner-sakelui, joernaliste en akademici met die ANC. Slabbert, Idasa en soortgelyke groepe het ongeveer R3 miljard in die volgende dekade van Soros en sy organisasies ontvang.

Soros het ook ʼn geweldige impak op sy streek van herkoms, Oos-Europa, gehad ná die val van kommunisme. In 1984 het hy sy eerste OSF in Hongarye gestig en miljoene dollars betaal aan die opposisie en alternatiewe mediagroepe. Dit het die kommunisme verswak en uiteindelik met ʼn liberale demokrasiestelsel vervang. Soros, wat nou nie juis as ʼn beskeie persoon bekend is nie, het later gesê hy was verantwoordelik vir die demokratisering van Oos-Europa.

Hy het ná die val van kommunisme ʼn rol gespeel in die opbreek van Tsjeggo-Slowakye en regeringsveranderinge in lande soos Georgië, Kroasië, Joego-Slawië, Serwië, Slowakye en Macedonië en die Oekraïne. Die fokuspunt van die aanslag in Oos-Europa was die Soros-gestigte Sentrale Europese Universiteit, wat gebaseer is in Boedapest (Hongarye), maar ook kampusse in Warskou (Pole) en Praag (Tsjeggiese Republiek) het.

In Serwië het Soros se OSF $100 miljoen bestee om van die nasionalistiese Slobodan Milosevic ontslae te raak. Dit het duidelik geword dat Soros se belangstellings in Oos-Europa nie net oor politieke verandering gaan nie. Sodra ʼn regering tot ʼn val kom, het Soros en sy organisasies gesorg dat globalisme ʼn vastrapplek kry en grootskaalse “ekonomiese hervorming” en “ekonomiese liberalisering” plaasvind. Soros en vriende sou dan groot staatsentiteite opraap teen ʼn appel en ʼn ei.

In 2014 het Soros die International Renaissance Foundation (IRF) en sy OSF-organisasies gebruik in die Oekraïne om seker te maak dat die demokraties-verkose, maar pro-Russiese president Viktor Yanukovich omver gewerp word in die EuroMaidan-rewolusie. Soros het agterna in ʼn onderhoud met CNN daarop geroem dat hy van die Oekraïense leier ontslae geraak het.

Dalk vergroot hy sy rol in die opstand, maar die feit is dat Soros-gefinansierde nie-regeringsorganisasies gehelp het om die Oekraïense president uit te skop. Dit het natuurlik gelei tot ʼn burgeroorlog, met die een deel van die land wat deur pro-Europese politici beheer word en die ander deel wat die Russe ondersteun. Duisende is in gevegte dood.

Soros het ook sy OSF gebruik om in 2012-opstande teen een van sy vernaamste vyande, Wladimir Poetin van Rusland, te ondersteun. Dit het Poetin vinnig laat optree en die OSF en verwante organisasies is in Rusland verban. In 2014 het Rusland ʼn internasionale inhegtenisnemingsbevel teen Soros uitgereik.

Soros het ook sy visier op die godsdienstige konserwatisme in Islamitiese lande, asook Arabiese lande met diktature en ander soos Pakistan en Turkye. Die onstabiliteit in Moslemlande het egter weer gelei tot vlugtelinge na Europa, waar Soros-gefinansierde organisasies eweneens betrokke is.

Rol in die EU en VSA

Victor Orban, die Hongaarse president, het in 2016 Soros daarvan beskuldig dat hy die vlugtelingkrisis in Europa veroorsaak het. Soros, wat gekant is teen die konsep van die nasiestaat, het alles in die stryd gewerp om die Europese grense oop te hou vir die vlugtelinge.

Soros-gefinansierde organisasies het boekies in Arabies aan vlugtelinge wat op pad was na Europa versprei om raad te gee hoe hulle Europa kan binnedring en vlugtelingstatus verwerf. Tot twee miljoen Moslems het net in 2015 ingestroom. Hy het ook daarop aangedring dat Europa jaarliks een miljoen vlugtelinge huisves.

In die VSA het Soros net so ingemeng. Eers het hy in 2004 $27 miljoen dollar bestee om George W. Bush in daardie jaar in die VSA se verkiesing te laat uitstem. Dit was tevergeefs, maar hy het in Barack Obama die perfekte kandidaat gevind om sy agenda uit te dra deur die landsgrense oop te maak en globalisme te bevorder. Toe het hy ook $25 miljoen geskenk om seker te maak Hillary Clinton (ʼn ou vriendin) word in 2016 verkies. Dit het natuurlik nie uitgewerk nie en Donald Trump is teen die verwagting in verkies.

Soos te wagte het Soros ook sterk invloed en vriende in die media, dieselfde media wat tans president Trump se grootste opposisie is. Hy en sy organisasies het bande met meer as 30 van die grootste nuusmediahuise in die VSA. Dit sluit in The New York Times, Washington Post, Associated Press, CNN en ABC. Elkeen van hierdie mediahuise het senior joernaliste (soos CNN se Christiane Amanpour) in die direksie van Soros-gefinansierde media-operasies. Sy rol om die media en die media se agenda te manipuleer kan dus nie onderskat word nie.

Oor Trump het Soros onlangs gesê demokrasie is “in krisis” ná Trump se oorwinning en laasgenoemde as ʼn bedrieër en ʼn diktator uitgekryt. Dit kan met redelike sekerheid aangeneem word dat Soros se organisasies ʼn sentrale rol speel in die protesaksies teen Trump. Veral omdat sy seun Alex een van die voorbokke van die anti-Trump-beweging is. Soros speel ook ʼn rol in die Black Lives Matter-beweging, ʼn swart, anti-wit vigilante beweging wat heelwat oproer veroorsaak het in die VSA, deur mildelik skenkings deur ander organisasies aan BLM te maak (volgens berigte tot $33 miljoen).

Kapitalisme moet val

As globalis het Soros ʼn sterk geloof dat die Verenigde Nasies, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds die dryfvere moet wees wat die pas aangee op politieke, ekonomiese en sosiale terreine. In sy boek, The Age of Infallibility: Consequences of the War on Terror, het Soros aangedui dat kapitalisme, waaruit hy sy rykdom bymekaar gemaak het, ʼn bedreiging is vir die “oop gemeenskap”. In hierdie geval is die VSA onder Trump dus seker Soros se nuwe grootste vyand.

Soros beskou homself as die “wêreld se gewete”, maar het in die proses vir konserwatiewes die superskurk in James Bond-flieks geword. Maar nee, George Soros is toe nie die duiwel van die Kinderbybel nie, ten spyte van samesweringsteorieë oor die rol wat die miljardêr wêreldwyd speel om veral behoudende instellings te ondermyn. Wat wel waar is, is dat Soros sy bes doen om die beginsel van die nasiestaat af te breek en globalisme te bevorder.

Kortliks blaas Soros tans protes in die VSA aan en breek terselfdertyd die Europese state se nasionalisme finaal af weens die vlaag van immigrante. Trump se verkiesing het egter sy planne verongeluk. Hy destabiliseer lande, bevorder etniese burgeroorlog en finansier rasse- en geslagskonflik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

tamboti ·

Nico, baie goeie rubriek. Dit is duidelik dat die lyn tussen goed en sleg, gebroke en krom is.
Daar steek groot waarheid in die JinJang filisofie van die oosterlinge.
Soros is taamlik swart – seker van al die groot geld se ink wat afsmeer.

ken benoni ·

Dankie vir hierdie artikel, hoop die anti- Trump mense het iets raak gelees!

Henrietta Klaasing ·

BAIE dankie, ek maak geruime tyd al inligting oor Soros bymekaar, en hier het ek heelwat nuwe dinge geleer!

skorra ·

Goeie navorsing, twyfelagtige konklusie. Toegegee, Soros is nie die kinderbybelduiwel nie. Hy is iets ergers…

Bert ·

Hy destabiliseer lande en bevorder konflik ten einde sy ideologie te bevorder maar die outeur kom tot die gevolgtrekking dat Soros nie die duiwel is nie. Vreemd.

Loeis ·

Volgens Wikipedia was Helen Zille in die 1980’s baie betrokke by die Black Sash, wat volgens die artikel ‘n Soros befondste organisasie is, en hard saam met die ANC geveg het.

Sien nog iemand die ironie in, met verwysing na mense se keuses vandag?

Mens het altyd ‘n keuse…

JC ·

Die wiel draai wel stadig, maar draai, draai hy, vir Soros ook.
Soros gaan nog uitvind dat al sy pogings net die teenoorgestelde gaan bereik as wat hy beoog, hy is net te kortsigtig om dit te besef. Ongekende en ongebreidelde immigrasie het juis(dankie tog!) aanleiding gegee tot ‘n grootse opbloei in nasionalisme, nie net in Brittanje, die VSA en Europa nie, maar wereldwyd.

JC ·

Die wiel draai wel stadig, maar draai, draai hy, vir Soros ook.
Soros gaan nog uitvind dat al sy pogings net die teenoorgestelde gaan bereik as wat hy beoog, hy is net te kortsigtig om dit te besef. Ongekende en ongebreidelde immigrasie het juis(dankie tog) aanleiding gegee tot ‘n grootse opbloei in nasionalisme, nie net in Brittanje, die VSA en Europa nie, maar wereldwyd.

DewaldS ·

Daar is heelwat mense wat die idee van die afbreek van nasie-state steun (tensy dit natuurlik ‘n redelik omstrede staat iewers in die Midde-Ooste is – haha!). Die probleem is natuurlik dat die nasie-state (op grond van die definisie en die grense van die nasie-staat) groot hoeveelhede belasting insamel en dikwels reeds geweldige bates besit waarvoor daai nasie betaal en gewerk het. Dalk wil hulle eers ophou belasting insamel vir ‘n jaar en daarna kyk of hulle nog lus is om die nasie-staat te laat vaar?

Dit is nog meer interessant hoe hierdie soort mense beginsels op nasies en state van toepassing wil maak wat hulle nooit-ooit in hulle eie besighede sal oorweeg nie. Sommer net bates of aandele uitdeel? Nooit gesien nie! Mense in die besigheid innneem en betaal sonder dat hulle werk? Nooit nie! Mense in jou besigheid inneem wat jy nie doodseker is of hulle die besigheid dalk wil skade aamdoen nie? Nooit nie! Maar vir ‘n nasie-staat moet dit aanvaarbaar wees? En as hulle teenstribbel dan noem jy hulle verkramp, rassiste, xenofobe, ens, ens? Net die mees naïewe en oningeligte moroon gaan mos nou dit glo wat hulle sê reg is om binne jou belange-sfeer te doen as dit glad nie strook met wat hulle binne hulle eie belange-sfeer doen nie?

JC ·

Soos ek tevore al gese het, die hippokrasie van die mense verbaas my nie meer nie…

Johan II ·

Goeie skrywe Dewald. Die wereld gaan n beter plek wees sonder die ou. Klink of hy baie bloed op sy hande het, seker ook een van die voorste vuur stokers teen Duitse Nationalisme gewees met hul media veldtog en “holocaust” liegstories?

Rian ·

Ek weet darem nie so mooi nie. Die artikel is so geskryf dat hy lyk na n nice ou met n dodgy agenda…maak nie lekker sin nie. Of hy voer n agenda uit of hy doen nie. Persoonlik dink ek dat hy en mense soos hy en sy organisasies baie skadelik is vir ons samelewing. Hoekom moet hy genoodsaak voel om in te meng in die sake van ander lande en dan wanneer dit handuitruk of skeefloop net ontken en n ander koers inslaan.

DewaldS ·

Op die ou end gaan dit maar net daaroor om die nasie-state se bates en belasting-inkomste oor te gee aan internasionale besighede en organisasies wat hulle besit en beheer.

DewaldS ·

Die nasie-staat is in kompetisie met die internasionale besigheid-seekat. In kompetisie vir die bates van die nasie-staat, vir die belasting-inkomste en vir totale beheer oor werkende mense se uitset. Dit is hoekom die nasie-state afgebreek moet word.

Theo ·

Ek was nog altyd in die war oor die term “Globalisering” en “een wereld regering”. Dalk kan die skrywer my daaroor inlig. Net dalk is Soros wel die Satan in die volwasse wereld.

Lampies ·

Stegmann hanteer vir Soros heeltemal te sagkens. Die man is erger as mambagif. Hy is die verpersoonliking van die duiwel!

Sarie ·

Vandag op RT gesien dat ‘n klomp hekse in Amerika vergader het om ‘ oordeel oor Trump uit te spreek. Hulle het in ‘n kring gestaan en ‘n boek verbrand. Die joernalis wat oor die gebeurtenis berig het is glo oor die vingers getik. Snaakse dinge gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.