Is God werklik kleurblind?

klavier

Foto: Cocoparisienne/Pixabay.com

Deur Ds. Schalk Strauss

Die Afrikaanse sanger Bouwer Bosch se liedjie “Kleurblind” het al in November 2014 op YouTube verskyn. Met die onlangse vlaag van rassisme wat Suid-Afrika getref het, het hierdie liedjie nuwe prominensie verkry en is dit wyd op sosiale media versprei. In die lied sing Bosch onder meer dat God nie wit is nie, dat niemand tegelyk ’n Christen en ’n rassis kan wees nie en dat Jesus vir niemand se velkleur gesterf het nie. Volgens hom mis mense die punt wanneer hulle óf net op die wit klawers, óf net op die swart klawers van die klavier fokus aangesien albei belangrik is om ’n lied te laat sin maak.

Dit is duidelik dat Bosch se liedjie daarop gemik is om bepaalde problematiek binne die Suid-Afrikaanse samelewing te ontbloot en daarop ’n antwoord te bied. Rassisme en mense se onvermoë om mekaar met respek te hanteer word op die voorgrond geplaas terwyl Bosch kleurblindheid bepleit as oplossing vir die probleem.

Dat hy daarin slaag om op ’n paar gevoelige senupunte te druk, is nie te betwyfel nie. Die vraag is egter of kleurblindheid ons regtig in staat gaan stel om verby die problematiek te beweeg en of ons nie maar bloot net ’n nuwe problematiek daardeur skep nie?

Globalisasie is ’n faktor wat lank reeds ’n baie groter invloed op ons denke het as wat ons wil toegee. Die koms van iets soos die internet het nie net ’n era van groter toegang tot inligting ingelei nie, maar ook ’n era waarin die wêreld waarin ons woon, kleiner geword het. Deur middel van die media beleef ons gebeure wat in ander lande afspeel asof dit op ons voorstoep plaasvind. Met ’n uitgebreide lugvaartnetwerk het selfs die mees afgeleë plekkies vir ons bereikbaar geword.

Gereeld word na hierdie nuwe wêreld waarin ons leef as ’n “global village” verwys.

Een van die meesleurende newe-effekte van globalisasie is dat dit ook die gesig van plaaslike gemeenskappe verander. Reeds in 2003 het prof. Mirriam Adeney van die Seattle Pacific-universiteit hierdie effek as een van die grootste gevare van globalisasie uitgewys. Volgens haar is “creative destruction” ’n noodwendige gevolg van globalisasie, aangesien daar in ’n poging om nuwe geleenthede daar te stel en vooruitgang te bevorder, noodwendig ongevalle gaan wees. Etnisiteit is ook een van die slagoffers aangesien globalisering die gevolg het dat gemeenskappe en etniese groepe hul uniekheid verloor en aangemoedig word om op te gaan in ’n nuwe wêreldburger-identiteit.

Uniekheid gaan verlore in ’n gesiglose samelewing waarin die man op straat se identiteitloosheid uiteindelik lei tot ’n gevoel van waardeloosheid. Ten diepste kan hierdie proses as liefdeloos beskryf word aangesien dit die mens van sy Godgegewe uniekheid en waarde as beelddraer van God stroop.

Bosch is bekommerd oor die afwesigheid van liefde. Die vraag is egter of Bosch se oproep tot ’n kleurlose, kleurblinde gemeenskap nie dalk die gevaar loop om gemeenskappe en individue nog meer waardeloos te laat voel nie? Is dit nie ook liefdeloos nie?

Bosch se waarskuwing dat ons beklemtoning van etnisiteit en verskeidenheid nie eenogig behoort te wees nie, moet ernstig geneem word. Sedert Thabo Mbeki se beroemde toespraak in 1996 getiteld “I am an African” waarin hy sy herkoms omhels en lede van etniese groepe aanmoedig om hul identiteit te waardeer, was daar ’n geweldige oplewing in etniese bewussyn.

Die tragiese is egter dat hierdie oplewing ook tegelykertyd die vernietiging van ander etniese groepe tot gevolg het. Die voorreg om jou identiteit, wat ook jou etnisiteit insluit, te omhels, word net aan sekere groepe in Suid-Afrika gegun. Die eensydigheid van hierdie bewuswording word beklemtoon deur die feit dat groepe soos die Afrikaner hierdie einste voorreg ontneem word.

In teenstelling met hierdie ontwaking in Afrika-identiteit word die bewustheid van Afrikaner-identiteit as veragtelik beskou. Trots en waardering vir die Afrikaner se eie word verander in ’n skaamtekultuur van selfveragting. Die juk van hierdie skuldgevoelens is vir sekere Afrikaners, soos Terblanche Delport, so swaar dat die Afrikaner eerder aangemoedig word om kulturele selfmoord te pleeg deur in sy eie swaard te val. Wanneer een groep sy uniekheid verhef tot die hoogste goed, raak daardie uniekheid op sigself boos.

Wie die skeppingsgeskiedenis van Genesis 1 lees, kan nie anders nie as om bewus te word van die kleurvolheid van God se skepping. Hy het nie ’n gryse, eenvormige wêreld sonder enige verskeidenheid geskep nie. “Volgens hulle soorte” impliseer dat diversiteit ingebed is in die DNS van die skepping. Wanneer God voorgestel word as kleurblind deur ’n samelewing van grys wêreldburgers te bepleit, word sy liefde vir verskeidenheid geïgnoreer. Wanneer etniese en kulturele eilande geskep word waarin die uniekheid van gemeenskappe en volke verhef word tot die hoogste goed, word God se liefde vir kleurvolheid gereduseer tot ’n liefde vir een kleur. Nie een van die twee kompleteer God se wese nie.

Psalm 96 beklemtoon die feit dat God nie kleurblind, maar ook nie eendimensioneel is nie. Hy is ’n God wat die kleurvolle verskeidenheid van sy skepping lief het. Daarom moedig die psalmdigter gelowiges aan om God se lof en eer en verlossingsdade onder al die nasies te verkondig, sodat die geslagte van die volke aan die Here eer en sterkte kan gee.

Wie die kleurvolheid van God se skeppingsverskeidenheid tot sy reg wil laat kom, kan nie anders nie as om die liefdesgebod in die gesigsveld te bring. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ’n Gebod wat in ewewig gehou word deur die fyn spanning wat daarin opgesluit is. Aan die een kant die opdrag om die naaste lief te hê, maar aan die ander kant die opdrag tot selfliefde. Om ’n ander lief te hê, om respek te toon vir ’n ander se uniekheid, impliseer ’n gesonde vorm van selfliefde. Wie nie die waarde van sy eie, Godgegewe uniekheid besef en waardeer nie, sal ook geen respek en waardering vir die uniekheid van ’n ander hê nie. ’n Kritieklose selfliefde lei egter tot bose selfverheffing en loop uit op die miskenning en in sommige gevalle selfs op die vernietiging van ander se uniekheid. Uiteindelik kom die kleurvolle kaleidoskoop van God se skepping in gedrang.

Alleen die evangelie van Jesus Christus kan hierdie ewewig verseker en die kleurvolheid van God se skepping tot volheid bring. Die evangelie gee ’n gesonde verstaan en waardering van die eie aangesien Christus se verlossing ook die boustene van identiteit onder sy heerskappy plaas. Die evangelie bewerk ’n sensitiwiteit vir sondige selfverheffing, maar stel ons ook in staat om nie vir God te reduseer tot ’n kleurblinde God nie. Die evangelie bevry ons om nie net onsself lief te hê nie, maar uiteindelik ook die andersheid van my naaste lief te hê. Die evangelie bevry ons omdat dit gemeenskappe, etniese groepe en volke in staat stel om brûe te bou. Brûe van geloofsverbintenis wat die eilande van elkeen se uniekheid aan mekaar verbind sonder om die kleurvolheid van God se skepping in gedrang te bring.

Is Bosch reg? Is God kleurblind? Moet ons opgaan in ’n kleurlose samelewing waarin ons nodig het om God te verander ten einde in te pas by ’n wêreld wat omvorm is deur ons eie sondigheid en liefdelose selfverheffing?

“Sonder aansien des persoons” noodsaak nie ’n eenvormige grysheid nie. Die probleem is nie ’n kleurvolle, multi-etniese samelewing nie. Die probleem is nie die teenwoordigheid van kleur nie, maar wel die afwesigheid van liefde – liefde vir jouself en liefde vir jou naaste. Hierin is Bosch reg. Alleen Jesus Christus kan hiervoor ’n oplossing bied. Wanneer verskeidenheid gekoester word as ’n gawe en nie verheerlik word as ’n afgod nie, word God se wêreld verander en kry ons ’n voorsmakie van die hemel waarin elke volk en taal en nasie in en deur hulle kleurvolle verskeidenheid aan die grote God lof sal betuig (Openbaring 7:9-10)!

  • Hierdie meningstuk is oorspronklike op die webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk gepubliseer en met die toestemming van die skrywer op Maroela Media gebruik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Christo ·

Dit gaan nie oor kleur nie maar oor gesindheid,karakter,integriteit en kultuur van mense.Mense is so gemaak en ons sal meer verdraagsaam wees sodra mense besef ins is almal anders aan mekaar gesit.Mense gooi die ras kaart omdat hulle nie in hulle self glo nie en hulle tekortkominge wil wegsteek.

Henk Booysen ·

Ja, en dissiplinne. Voeg waarde toe tot jou samelewing dan sal jy ń plek van rus kry.

Pieter ·

Die verhaal van die toring van Babel maak dit tog duidelik dat die mens probeer het om almal dieselfde te wees en dan groter as God te wees omdat hulle dan dieselfde uitkyk en beginsels wil nastreef. Die van mense. Daar kom die internet en bou vir ons ‘n nuwe elektroniese toring en. Ons beweeg in dieselfde rigting.

Tobias ·

Die karakter van God se kinders, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing definieer ons, nie die kleur van ons vel nie.

Jeanette ·

‘n Uitstekend beredeneerde meningstuk wat groot kalmte in ‘n mens se gemoed skep.

Ek hoop van harte dat elke leser wat hiermee saamstem, dit sal aanstuur na soveel vriende en familie as moontlik.

John ·

Die basis van die huidige beheptheid met rassisme is na my mening nie diepsinnig nie. Dit hang saam met die datum vir die komende verkiesing. In ‘n land met miljoene werkloses en met aan die anderkant die frustrasie van mense wat voel hul lewensgenietinge word ingeperk deur massas mense met groot verwagtinge, raak dit die teelaarde vir skermutselings. Die politieke partye speel die situasie fyn met ‘n geen-reel-geld houding, want elkeen se regte as burger van die land is mos belangriker as die volgende een s’n. Die apartheid- en rassisme- speletjie is in ons land ontwerp. Ons hou die kopiereg en die politici maak beurte om die kaarte te skommel.

Eugene j. van Vuuren. ·

Stem saam God is die Skepper van hemel en aarde, die see en alles wat daarin is; MAAR HY het ook diversiteit in elke spesie geskep. Jy kry bv. Rooibokke, Koedoes ,Steenbokke ens. ens. almal Bokke maar met GROOT verskille. Alle mense kom (by geboorte ) , op gelyke voet , op hierdie Aarde maar as ek bv. e.a. van my mense vir onsself n naam maak van diewe, moordenaars, en totaal immorele mense gaan dit ons niks help om andere daarvoor te blameer en my eie gemors te probeer wegrasionaliseer nie !!!!!

Cilliers ·

Hier’s ‘n oulike ironie: Bosch sê, “seergemaak” deur onreg, minagting, vooroordeel en haat tussen rasse hy WENS, wel wetende dat dit nie moontlik is nie, dat hy kleurblind was. Hy “bepleit” beslis nie “kleurblindheid as ‘n oplossing van die probleem” nie. Sý oplossing en aanbeveling, juis nes die skrywer s’n, is respek en naasteliefde, so Christelik as wat kan kom.

Nou’s die vraag: waarom hoor die skrywer net “kleurblind”, en maak dan ‘n strooipop daarvan? Hoor hy dalk ‘n ander stem as Bosch s’n, en wat sê dié stem?

Die ironie? Hoe liefde- en respekvol is dit om nie te luister nie, wat die kleur van die spreker/sanger ook al mag wees?

Johannes Meintjes ·

Na mening berus die grootste uitdaagings by SA leierskap op alle vlakke en terreine. Self meen ek dat die Skrif volke, tale, nasies en stamme beklemtoon, saam met die verslossende krag van die Kruis. Maar … ons mense word ongefokus en doelloos aan hulself oorgelaat, in plaas daarvan dat daar doelgerigde fokus en ywer in die ekonomie en welsyn aan die bevolking voorgehou en gefasiliteer word. Nou is die oog op ons verkille, en nie op ons voordelige en samewerkende doelwitte nie.

Sue ·

Volgens die Nuwe Testament behoort die enigste verskil onder gelowiges die verskil te wees van ware geloof en ongelowiges te wees. Daar is baie gelowiges onder alle bevolkingsgroepe en volgens die Bybel is hulle ons familie. Ander rasse is ook uitverkore al wil die Afrikaner bly gloo dat hy alleen Israel is – dit grens aan ‘n sekte geloof – dit kan vergelyk word aan IS tereurgroep wat tereur pleeg omdat hulle glo dat NET hulle begrip van geloof die ware geloof is.

Dirk Breytenbach ·

Sue, ek verwerp jou aantyging dat die Afrikaner glo dat hulle een of ander verhewe of uitverkorene volk is met minagting. Ons is wel ‘n groep met sy eie identiteit en kultuur wat jy nie uit die geskiedenis kan weg lieg of redeneer nie. Ons het verantwoordelikheid vir dinge in die verlede aanvaar en kan nie verder in die verlede leef nie. Ds Strauss se ontleding van die situasie is vernuftig en samehangend saamgestel, ons kan dit tot ons voordeel aanwend of ignoreer of verval in die negatiwiteit van ANC propaganda wat ons demoniseer, of ons kan trots voortbou of positiewe elemente van ons groep as ‘n geheel. Ek weet nie van watter bevolkingsgroep jy afkomstig is nie maar die Afrikaner volk sal nie kulturele selfmoord pleeg om mense met verdagte idelogiee ter wille te wees nie of om vir ewig met ‘n jammer ek lewe houding om te gaan nie.

John ·

Sue, ek verstaan nie hoekom jy dink Afrikaners dink net hulle is die uitverkorenes nie. Nie eers die Jode is meer die uitverkorenes nie nadat Christus aan die kruis gesterf het en die voorhangsel van die tempel geskeur het. Daar was toe ‘n gelykmaking en nou kry almal toegang tot die Hemelvader deur Christus. Die situasie in die land is nou soos tussen twee ongelukkige huweliksmaats. Dit raak mettertyd venynig en familielede begin ook eiertjies le. Die aakligste resep om te volg is om die Bybel nader te trek en die ander daarmee by te kom. Miskien moet die swartes in die land begin aanvaar dat Afrikaners ‘n eie identiteit en kultuur het en respek daarvoor kry. Die Afrikaners moet die heeltyd ‘leer’ en ‘verstaan’ en ‘aanvaar’ ens ens maar nie die ander nie. Dit sal baie beter in die land gaan as die swart regering die talente van die witman tot voordeel van die land aanwend in plaas daarvan om dit die heeltyd te verkleineer. Ongelukkig is daar mense van elders wat dan voordeel put uit die situasie.

elsabe ·

Dankie John…jy verwoord wat ek dink maar nie noodwendig kon verwoord! Voorspoed en seen vir jou!

Marisa ·

Joann, dra jou eie water, en kap jou eie hout. Dis soos dit behoort te werk. Daar is nie spesifieke werke vir spesifieke mense nie.
Liefde vir die naaste, en wedersydse respek is die dinge wat belangrik is.

Frans C ·

Omdat daar ‘n ander ‘Frans’ wat ook kommentaar lewer gebruik ek van nouaf ‘Frans C ‘om verwarring te voorkom.
Die ANC het tot stand gekom as ‘n bevrydingsbeweging waarin alle etnisiteit met die grond gelyk gemaak en uitgevee is.Die beeld na binne en buite was een van ‘n homogene swart bevolking wat deur ‘n wit minderheid onderdruk en van alle regte ontneem is en in ekonomies gestremde tuislande ingedruk en aan hul eie lot oorgelaat is.

Mense binne en buite Suid Afrika het geval vir die fyn beplande kommunisties gedrewe taktiek en dus in politiekgedrewe organisasies aan die proses deelgeneem en aan onder die dekmantel van beloftes van ‘n nuwe en verbeterde Suid Afrika aan die onderhandelingsproses deelgeneem waarin taal en kultuur en geskiedenis van die talle volke wat Suid Afrika bevolk geen rol gespeel het nie maar wel humanistiesgedrewe wigte en teenwigte en Christus en sy verlossingswerk op dieselfde vlak as die ‘bevryders’ geplaas is.

Politieke leiers en nie volksleiers het dus ‘n bedeling onderhandel waarin taal, kultuur en geskiedenis soos pionne op ‘n skaakbord rondgeskuif kan word met die uitsluitelike doel om die ander party in ‘n skaakmatposisie in te skuif en magtelose oorgawe te dwing.

Ons sal moet leer as ons meer as pionne wil wees om op te staan vir ons regte en aan te sluit by die organisasie wat ons belang op die hart dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.