Is ‘Hunexit’ en ‘Polexit’ volgende?

(Argieffoto: Pixabay)

Vir die eerste keer sedert sy totstandkoming in 1993 is die voortbestaan van die Europese Unie (EU) as vrywillige groepering van liberaal-demokratiese state in ʼn sekere mate op die spel. Brittanje het reeds padgegee, en nou maak Hongarye en Pole ook geluide wat “Brexit” met ’n halwe of hele “Hunexit” en “Polexit” kan opvolg.

Die EU se voorgeskiedenis strek terug tot in 1945, toe Europa ná die Tweede Wêreldoorlog letterlik ’n smeulende ruïne met ’n oneindige aantal massagrafte was. Met twéé verwoestende wêreldoorloë (1914-’18 en 1939-’45) agter die rug het ’n groep staatsmanne, veral uit Duitsland, Frankryk en Brittanje, by wyse van spreke uitgeroep: “Tot hiertoe en nie verder nie!”

In 1952 het hulle die daad by die woord gevoeg en die Europese Steenkool- en Staalgemeenskap gestig. Dis ses jaar later opgevolg deur die Europese Ekonomiese Gemeenskap met ses lidlande op die Europese vasteland. In 1973 het Brittanje aangesluit, en ná die verbrokkeling van die Ystergordyn het feitlik die hele Sentraal- en Oos-Europa hom ook by die nuwe EU gevoeg.

Die grondliggende idee van al dié modelle was om ’n herhaling van die rampspoedige konflikte van die 20ste eeu onmoontlik te maak en ekonomiese samewerking te stimuleer. Integreer die Europese ekonomieë, maak die landsgrense poreus, en verhoog só die prys vir ’n nuwe oorlog tot die mate dat politici nie eens daaraan sal dínk nie, was die redenasie.

Sommige oningeligte Suid-Afrikaners verkeer onder die misverstand dat die onderliggende ideologie op internasionalisme, of selfs ánti-nasionalisme, berus. Dis eenvoudig onwaar; dit gaan om ’n baie pragmatiese benadering.

Vir sover ideologie ter sprake is, gaan dit om ’n gemeenskaplike geloof in die regstaat en liberale demokrasie, soos dit reg oor die Weste beoefen word. En dís waar die skoen nou druk.

Twee EU-lidstate beweeg die laaste jare stelselmatig weg van dié gesamentlike liberaal-demokratiese idee. Hulle is Hongarye en Pole. In Hongarye regeer die party Fidész, met Viktor Orbán as premier. Orbán is ’n felle Hongaarse nasionalis wat nie veel sien in samewerking met ander Europese lande of die EU nie. Hy is ook gekant teen die toelating van vlugtelinge of immigrante uit ander wêrelddele. Hy sê dis sy plig om Hongarye se Christelike kultuur te beskerm. Hy sien ook nie veel in die liberale demokrasie nie. Hy het al meermale gespog dat hy ’n “illiberale demokraat” is.

Wat beteken dit in die praktyk? Sedert Maart verlede jaar het hy die reg om na goeddunke en per dekreet te regeer, sonder om die parlement, die howe of enigiemand anders in ag te neem. Dit het Hongarye in beginsel omskep in iets wat nogal na ’n baie outoritêre staat lyk.

Die staatsregsgeleerde prof. Gábor Halmai van die Europese Universiteitsinstituut in Florence (’n gebore Hongaar) meen Hongarye kan dus nie meer as ’n demokrasie beskou word nie. Ook die Amerikaanse nie-regeringsorganisasie Freedom House noem Hongarye nou ’n “hibriede land” wat nie meer as ’n demokrasie beskou kan word nie. Die land word as “gedeeltelik vry” geklassifiseer.

Pole, so lyk dit, is op ’n soortgelyke glybaan. Dié land word geregeer deur ’n party wie se naam op Afrikaans as “Reg en Regverdigheid” (PiS) vertaal kan word. Ook hier klassifiseer Freedom House die land as “gedeeltelik vry”.

In ’n onderhoud met die konserwatiewe Duitse dagblad Die Welt sê die Fransman prof. Laurent Pech: “Regverdige regsprosesse, ongeag voor welke hof, word nie meer gewaarborg nie … Dit is die gevolg van die sogenaamde regshervorming van die laaste vyf jaar.”

Hy wys daarop dat ’n Amsterdamse hof onlangs gekeer het dat ’n Poolse burger aan sy vaderland uitgelewer word omdat Pole geen regverdige verhoor kon waarborg nie. Dit gaan gepaard met dissiplinêre dreigings teenoor regters wat hulle met die geval moes bemoei.

Daarbenewens, sê Pech, word joernaliste “sistematies getreiter en onder druk geplaas”. In die land is homoseksueel-vrye sones ingestel waar daar sonder straf teen sulke mense gediskrimineer kan word.

Gevolglik – nog steeds volgens Pech – kan daar tans nie meer van die EU as ’n “gemeenskap van reg” gepraat word nie, en dit beskadig die gemeenskap se geloofwaardigheid.

Die probleem met die EU lê in die feit dat dié die Westerse liberaal-demokratiese karakter van die bondgenootskap as onlosmaaklik deel van sy aard ag. Dus maak ’n onlangse wysiging in die Verdrag van Maastricht – die EU se “grondwet” – voorsiening vir strafmaatreëls (korting of selfs kansellering van subsidies) as lande daarvan afwyk.

(Argieffoto: Pixabay)

Dié maatreël is ná ’n lang stryd laas Desember deur ’n spitsberaad van EU-regeringsleiers goedgekeur en het op 1 Desember van krag geword. Pole en Hongarye het gedreig om dié en ander noodsaaklike maatreëls te veto, en dus is op ’n kompromis besluit: As die twee amptelik beswaar by die Europese Hof in Luxemburg (die EU se konstitusionele hof) beswaar aanteken, sal geen strafmaatreëls ingestel word solank die saak voortduur nie.

Sowel Pole as Hongarye het nou inderdaad beswaar by die hof aangeteken. Volgens die Poolse regering gryp sulke maatreëls “ontoelaatbaar in die bevoegdhede van die lidstate in”. Terselfdertyd meen die Hongaarse regering dit druis in teen die EU-reg. Sulke sake duur dikwels 10 tot 18 maande. Wat beteken dat die EU anderhalf jaar se asempouse gekry het om die saak in der minne te probeer skik.

Dit beteken ook dat die subsidies wat Pole en Hongarye van die EU kry – miljarde euro’s – nie onmiddellik in gevaar is nie. Prof. Pech sê daar is geen enkele kans dat Pole en Hongarye die saak kan wen nie. “Ek het die argumentasie van die Poolse regering gelees. Dis ’n grap.”

Maar op die ietwat langer termyn begin ’n soort “Polexit” en “Hunexit” al op die gesigseinder opdoem.

Geeneen van die twee lande wíl werklik uit die EU padgee nie; anders as in die geval van Brittanje begryp die regerings dat dit hul lande te veel sal skaad. Maar ofskoon hulle nie afstand van die voordele wil doen nie, wil hulle nie die gevraagde prys – handhawing van die regstaat en die liberale demokrasie – daarvoor betaal nie.

Hier wag dus ’n klipharde geveg. Want ook die EU wil nie twee nie loslaat nie, uit vrees dat dit die begin van die organisasie se uitrafeling kan wees. Wat die uiteinde van die saak gaan wees, weet nugter – as jy afgaan op die EU se verlede, sal dit moontlik ’n soort halfgebakte kompromis wees. Hoe ook al, alles dui daarop dat dit ’n geveg is wat geeneen van die twee kante regtig kan wen nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

“Sommige oningeligte Suid-Afrikaners verkeer onder die misverstand dat die onderliggende ideologie op internasionalisme, of selfs ánti-nasionalisme, berus.”

En sommige stiksienende Europese Suid-Afrikaners verkeer onder die misverstand dat die onderliggende ideologie nie in internasionalisme, of selfs ánti-nasionalisme ontaard het nie.

Jack ·

Dis ongelukkig ook so dat daar ‘n baie hoë prys betaal is vir die liberale demokrasie wat die EU voorgee om te wees. Lande moes van baie van hulle regte afstand doen, regte wat hulle in staat gestel het om die uitwasse wat saam met die liberale demokrasie in jou land insluip. Die oorbegunstiging van ekonomiese vlutelinge uit nie-Europese lande en die poreuse grense tussen EU-lidstate het ernsitge sosiale en ekonomiese probleme toegelaat om te ontstaan, probleme wat nog geslagte lank EU leiers slapelose nagte gaan veroorsaak. Ek het begrip vir Brexit en moontlike Hunexit en Polexit. Al gelees van ander ook bv Fraxit, Italexit ens. Die opkoms van meer behoudende politieke leiers in die EU bevestig dat die “Liberale” demokrasie ook maar sy vrot kolle het.

Vrijburger ·

Ek stem saam, die doel van die EU “…..om ’n herhaling van die rampspoedige konflikte van die 20ste eeu onmoontlik te maak en ekonomiese samewerking te stimuleer. Integreer die Europese ekonomieë, maak die landsgrense poreus, en verhoog só die prys vir ’n nuwe oorlog tot die mate dat politici nie eens daaraan sal dínk nie……..”

Ook stem ek saam met jou dat “Vir sover ideologie ter sprake is……” presies is “waar die skoen nou druk”.

Dit doel van die EU word ondermyn deur Brussels wat hul ideologie op lidlande wil afdwing en op lidlande se soevereiniteit inbraak maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.