Is jou werk-lewe-balans uit balans?

stress-3

Foto: Gamerfitnation.com

Jy het seker al gehoor dat Suid-Afrikaners gesog is by oorsese werkgewers omdat ons sulke harde werkers is. Die Bybel stel dit mos duidelik: “In die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien” (Genesis 3:19). Harde werk is dus ʼn Bybelse opdrag, maar so is rus ook. Ons moet daarteen waak dat ons nie met ʼn verkeerde opvatting ons brood in die sweet van die maanskyn wil verdien nie – dit benadeel ons gesondheid en kan gesinsverbrokkeling veroorsaak.

Die prys van ʼn dolle, gejaagde lewe

Volgens ʼn 2014-verslag van Statistieke Suid-Afrika (SSA) was daar 24 689 egskeidings in 2014, wat ʼn 5%-toename in die egskeidingskoers vanaf 2013 verteenwoordig. Daar is talle redes hiervoor, maar een rede is werksverwant en ʼn onlangse studie deur Bloomberg het getoon dat Suid-Afrika, naas Japan, die hoogste “stressed out” werkerskorps in die wêreld het. Suid-Afrika is ʼn nasie van werkoliste en in ʼn Ipsos Global- en Reuters-studie is bepaal dat 53% van ons werkende bevolking nie hul jaarlikse verlof neem nie.

Die SSA-verslag het verder aangetoon dat werknemerafwesigheid, wat hoofsaaklik met werkplekstres en uitbranding verband hou, ons ekonomie tot R16 miljard per jaar kos. Werkers, hul gesinne en die Suid-Afrikaanse ekonomie betaal dus die prys vir oorwerkte werknemers.

ʼn Ongebalanseerde en ongesonde werk-lewe-verhouding het mode geword. Ek was saam met my vrou by haar werkgewer, ʼn bekende selfoonmaatskappy, se jaarlikse prysuitdelingsfunksie. Die uitvoerende hoof begin toe met trots pryse uitdeel aan die een “ster-werknemer” wat bykans nooit voor 20:00 saans huis toe gaan nie; die ander “ster” wat nagte deur aan ʼn tender gewerk het; nog ʼn ander “wonderlike” model van ʼn werknemer wat om 04:00 die oggend ʼn pas voltooide sakekontrak by die uitvoerende hoof se huis afgelewer het en 07:00 weer op kantoor was – alles so verwronge. Die hoof is self bekend om die lang ure wat sy op kantoor insit en sy het ook ʼn prys hiervoor betaal. Hoofde soos dié het moontlik al met hul verwronge idee oor werk baie bestuurders en huwelike vernietig.

Om die balans te vind is nie altyd maklik nie, want om die pot aan die kook te hou eis sy pond vleis, en om jou werk te behou te midde van die stortvloed van afleggings, verg dikwels dat jy die ekstra myl moet loop. Die gevolge is egter vernietigend. Ek het by ʼn manne-ontbyt na die formidabele Brand Pretorius, McCarthy-groep se vorige grootbaas, geluister. Hy het ons gewaarsku om uit sy foute te leer, want die prys wat hy vir sy sukses betaal het, was té hoog – sy gesin, sy gesondheid en sy geloofslewe het daaronder gely en nou gaan almal se lewens aan en hy sit met die gevolge en skuldgevoel.

Die Amerikaanse droom teenoor lesse uit Europa

Tydens ʼn onlangse besoek aan Nederland en België het dit my opgeval hoe die Europeërs ʼn weersin opgebou het in die Amerikaanse lewenstyl van lang werkure. Volgens die ekonoom Alexander Bick van die Arizona-staatsuniversiteit werk die gemiddelde Europeër 19% minder uur as die gemiddelde Amerikaner of, anders gestel, ten minste twee uur per dag minder.

Europa het die voortou geneem wat betref pogings deur multinasionale maatskappye en regerings om ʼn sogenaamde werk-lewe-balans te vestig. So byvoorbeeld kry pas getroude paartjies in Italië twee weke se statutêre wittebroodsverlof, nie net om hul huwelik ʼn hupstoot te gee nie, maar ook om die huwelik as instelling te bevorder. In Duitsland bepaal wetgewing dat werkverwante e-posse nie buite kantoorure gestuur mag word nie en dat ʼn werknemer nie tydens sy of haar verlof deur die werkgewer gepla mag word nie – dit staan as die “teenstreswet” bekend. Soortgelyke konsepwetgewing dien tans voor die Franse parlement.

Wat ook vir my opvallend was, is dat “beroepsgesondheid” en “beroepsveiligheid” dieselfde status in Europa geniet. Die beywering vir ʼn korter werkweek en minder werkure, wat in bykans elke Europese land die norm geword het, het die verstewiging van gesinsbande ten doel. In Nederland word werknemers ook aangemoedig om hul minder werkure te benut deur welsynswerk te doen om só hul lewens meer sinvol te maak. Nog ʼn Nederlandse verwikkeling is die gewilde Nederlandse “De Luie Donders”-beweging wat hulle ook beywer vir minder werkure. Hul standpunt is dat ʼn mens se persoonlikheid buite die werkplek gevorm word en hoe langer jy werk, hoe minder geleentheid is daar vir jou ware persoonlikheid om te ontwikkel.

ʼn Samevatting van Europese inisiatiewe verskyn op die MyDomain-webwerf waar Genéviève Fish verskeie voorbeelde noem van hoe Europa daarin slaag om ʼn werk-lewe-balans te bevorder:

  • Verhoogde verpligte verlof: In Frankryk en Finland is die statutêre verlofbepaling ʼn verpligte 40 dae per jaar en in Swede is dit vyf weke.
  • Werkdag met perke: In Swede mag bestuurders nie ná 17:00 op kantoor wees nie en ouers mag om 16:00 vertrek om hul kinders te gaan oplaai. In Denemarke word werkers wat lang ure werk as onverskillig beskou omdat dit hul gesondheid in gevaar stel en ʼn maatskappy se winsgewendheid benadeel.
  • Fleksi-werkplek: In Skandinawiese lande is dit standaardpraktyk dat werknemers hul werk rondom gesinsverpligtinge beplan en ʼn sinvoller lewe skep om gelukkiger en gesonder werknemers te hê, wat weer verhoogde produktiwiteit tot gevolg het.
  • ʼn Verpligte etensuur: Die Europese norm is dat werknemers óf die kantoor verlaat vir ʼn driegangmiddagete, óf om in gesofistikeerde personeelrestaurante vir ʼn uur lank aan die werk te ontsnap.
  • ’n Platter kantoorhiërargie: Die toenemende oopplankantoorkonsep gaan nie bloot oor spasiebenutting nie, maar om spanwerk deur ʼn platter gesagstruktuur te bevorder. Elke spanlid se bydrae word gemotiveer deur die lid se unieke rol in die span en dit gaan nie oor die blote uitvoering van bestuurders se opdragte nie.
  • Koffietyd: Twee koffietye per dag, wanneer die spanleier en spanlede in ʼn ontspanne kuier-area rondom ʼn koppie koffie ʼn werksgesprek gevoer, is die norm. Terloops, Inspiration Office, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, wou onlangs van 12 000 kantoorwerkers in Suid-Afrika weet wat die belangrikste element is om ’n werkplek beter te maak. Toegang tot goeie koffie is deur 95% van die respondente as die belangrikste geag, gevolg deur veiligheid (91%) en ’n gesonde werkomgewing (87%).
  • Werknemers is ook ouers: In talle Europese werkplekke geniet gesinstyd dieselfde prioriteitsvlak as werk. Die Ducati-motorfietsfabriek in Bologna, Italië, is ’n klassieke voorbeeld – hulle moedig werknemers aan om hul kinders by die skool te gaan af- en oplaai en, en waar moontlik, moet die gesin saam middagete nuttig – dit word volgens ʼn fleksi-tydbeginsel toegepas. Die personeel se verhoogde lojaliteit en motivering bring ook verhoogde produksie mee.
  • Vaderskapsverlof en ’n pro-gesinsbeleid: In Skandinawiese lande het ʼn egpaar ʼn kollektiewe 52 weke gesinsverantwoordelikheidsverlof tot hul beskikking. Die Deense pro-gesins-regeringsbeleid maak onder meer voorsiening vir kindersorg en bykomende finansiële voordele vir werkende ouers met klein kindertjies.
  • “Aflyn” vakansies: Benewens Duitse wetgewing wat werkaktiwiteite gedurende verlof verbied, hou die Europeërs meestal in die buiteland vakansie (dikwels in ʼn ander Europese land) wat die band met die werkplek onmiddellik knip en heelwat minder e-poskontak met die werkplek moontlik maak. Volgens Fish geld die teenoorgestelde veral onder die Amerikaners.

Die laaste punt is veral relevant vir Suid-Afrikaners in die toenemende elektronies verbinde wêreld waar slimfone ons 24/7 in kontak met ons werkplek hou. Dit raak gevolglik al hoe moeiliker om ʼn werk-lewe-balans te vind. Dit maak die werkdag langer wat verhoogde werkstres tot gevolg het, wat weer tot gesinsverbrokkeling kan lei. Tegnologie kan egter sorg vir ʼn beter werk-lewe-balans omdat dit die geleentheid bied om, wanneer moontlik, van die huis af te werk – dit sal ook die verkeerstres van werknemers in die stede verlig.

Adam Henderson het op sy webwerf, Millennial Mindset, sy 2015-navorsing geplaas waarin hy bevind het dat ’n buigbare werkopset (fleksi-tyd, alternatiewe werkstasies en werktye) vir die meeste moderne werknemers belangrik is. Altesaam 91% van werknemers het aangedui dat ʼn buigbare werkomgewing vir hulle belangrik is, terwyl 92% aangedui het dat hulle van tyd tot tyd van die huis af wil werk as hulle geen afsprake of vergaderings het nie.

Ware werkplektransformasie word benodig

As dit by werkplekproduktiwiteit kom, is my vrou se gunsteling slagspreuk dat “werk ʼn ding is wat jy doen en nie ʼn plek is waarheen jy gaan nie”. Die beginpunt van ’n werk-lewe-balans is ʼn produktiewe werkplek, veral omrede dit uitdagend sal wees om meeste van die buitelandse inisiatiewe te implementeer. Werkplekdissipline, waar kollegas, spanleiers en bestuurders nie deur selfsug, ondoeltreffendheid en swak oordeel veroorsaak dat ʼn werknemer onder druk verkeer of ná kantoorure moet werk om op te vang nie, sal ’n goeie beginpunt wees. ʼn Gebrek aan delegeringsvermoë speel dan ook ʼn rol.

As vakbonde sal ons ook meer aandag moet gee aan beroepsgesondheid en ’n werk-lewe-balans vir ons lede vanweë die negatiewe uitwerking wat ʼn wanbalans op werknemers, hul geliefdes en die samelewing het. Werkplektransformasie, wat op ʼn werk-lewe-balans gefokus is, is een vorm van “transformasie” wat ʼn groter kans op sukses bied en gelukkige werknemers tot gevolg sal hê en ʼn gesonder werksomgewing vir die volgende geslag werknemers sal skep.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Gesondheid, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Skaap 1 ·

Ek stem 100% met die studie wat gedoen is. Gelukkige mense maak produktiewe werkers. Maar soos meeste van ons werk ons vir geld dienende slawedrywers wat vir niks anders omgee as vir geld nie.Meeste van ons smag na n gebalanseerde familie en geloofs lewe maar word dit nie gegun nie want daar word alles van jou verwag- jy moet alles gee net om te kan eet en in warm bed te slaap. En al gee jy ook jou hele lewe en nog meer vir n maatskappy dan soek hulle nog want dit is nie genoeg nie. En laat jy net wil verlof vat dan is jy weer die luiste,slegste werker in die maatskappy en jou telefoon hou nie op lui nie, so dis maar beter om by die werk te wees.

Theuns ·

Ek was ook n’werkholis. Ek het ‘n swartman ge-mentor om my werk oor te neem en op ‘n dag was ek oortollig. Al my arbeid het my niks in die sak gebring nie! Ek begin toe my eie besigheid en tot nou het dit net voorspoedig gegaan todat Zuma op die toneel verskyn het! Die swartman se nerwe het ingegee en na drie maande het hy groener weivelde gaan soek. My vorige werkgewer wou my terug he maar kon nie my salaris betaal nie! Was dit nou lekker scadenfreugde!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.