Is jy bestand teen seindistorsie deur die staat?

russell-lamberti

Russell Lamberti is die hoofstrateeg van die beleggingsadviesfirma ETM Analytics en skrywer van die boek ‘When money destroys nations’. Foto: Reint Dykema.

Lamberti was ʼn spreker by AfriSake se onlangse konferensie oor staatsbestande sakeondernemings en hierdie is ʼn vertaalde weergawe van die toespraak wat hy tydens die geleentheid gelewer het:

Daar is ’n uiters belangrike kenmerk van ’n staat en ’n staat se optrede wat – ongelukkig – byna nooit begryp word nie.

Ons weet state is territoriale monopoliste – hulle eien hulle die alleenreg toe om binne hul grondgebied mag (wat uiteindelik berus op geweld) te gebruik, onderworpe aan beperkinge wat van ’n magdom sosiale, kulturele en ekonomiese faktore afhang. Met hierdie territoriale monopolie op geweld kan state verskeie dinge doen. Maar, in die heel eerste plek, wil hulle hulself beskerm. Hulle wil tot elke prys oorleef.

En dit doen hulle natuurlik op verskillende maniere, maar – soos die groot ekonoom en filosoof Murray Rothbard argumenteer – die weë en middele wat hulle gebruik kan breedweg saamgevat word as geweld en bedrog.

Uiteindelik gebruik state dus geweld om te oorleef en bedrog om die geweld te verdoesel.

Nou, Rothbard bedoel nie slegs bedrog in die eng wetlike sin van die woord nie, maar eintlik in die breedste sin die dinge wat state aanvang. Hy bedoel propaganda, leuens, wetlike en wetgewende maneuvers. Maar naas dit als bedoel hy iets wat ek vir die doel van hierdie praatjie seindistorsie wil noem.

Seindistorsie, of die verwringing van seine en tekens, is wanneer state die inligting wat ons gebruik om van ons sosiale omgewing sin te maak en doeltreffend daarin te funksioneer, deurmekaar krap en verwring.

Komplekse ekonomieë en maatskaplike stelsels word deur tekens en seine georganiseer. Data, pryse, lone, verkope, koste, mededingers se optrede, wisselkoerse, rentekoerse – al dié dinge gee voortdurend vir ons seine wat ons optrede rig en motiveer. Ons neem dié seine as vanselfsprekend aan, maar daarsonder is behoorlike ekonomiese beplanning en koördinering doodeenvoudig nie moontlik nie.

Hierdie seine is van lewensbelang juis omdat hulle uit die spontane orde van die mark voortspruit en dus die onderliggende werklikheid van daardie mark weerspieël. En dit is juis daardie werklikheid wat raakgesien en onder die oë gesien moet word wanneer ekonomiese sake bedryf word.

Hierdie seine is so belangrik omdat hulle uit mense se ongedwonge voorkeure beslag kry. Op sy beurt stel dit ons elkeen weer in staat om kommersieel op hierdie ongedwonge voorkeure te reageer, op ’n toepaslike wyse tyd en hulpbronne toe te wys en in harmonie met mekaar te produseer en te verbruik.

State verwring – en vernietig dikwels – dié kardinale seine. En wanneer hulle dit doen, kan hulle die sosiale orde in chaos dompel.

zimbabwe

Argieffoto.

Zimbabwe se meta-les

Ons kan baie lesse uit Zimbabwe se ervaring van die afgelope 30 jaar leer, maar daar is ook meta-lesse te leer – en ’n besonder belangrike meta-les uit Zimbabwe is dat seindistorsie en selfs seinvernietiging deur die staat integraal en endemies aan Zimbabwe se ekonomiese en maatskaplike ineenstorting was.

Ek wil dit so duidelik moontlik stel, omdat ek meen dit so krities belangrik is. Dit is nie net dat die Zimbabwiese staat plase afgevat en stapels geld gedruk het nie, hoe sleg dié dinge ook al was. Dit is dat die staat elke belangrike organiese sein in die ekonomie radikaal verwring het, tot by die punt waar die samelewing nie kon funksioneer nie.

Die korrupte, totalitêre, rowerstaat kom nie volledig tot uiting in slegs geweld, diefstal en die uitoefening van dwang nie, maar manifesteer veral in die saai van grootskaalse verwarring ten opsigte van juis daardie seine wat ’n beskaafde samelewing moontlik maak.

Wanneer ons dus probeer verstaan wat die Zimbabwiese krisis beteken en watter lesse dit vir ons en vir die bou van ’n staatsbestande lewe inhou, is dit noodsaaklik om te vra: Wat is waar? Watter seine is in die war? Watter tekens is vernietig? Hoe herontdek ons die regte seine en tekens? Of, anders gestel, die korrekte mate en gewigte van dinge?

Hoe word seine deur state verwring?

So, wat is die belangrikste seine en hoe word hulle deur state verwring?

Pryse is verreweg die belangrikste ekonomiese seine. Pryse bestaan uit verbruikerspryse, insetkoste, lone en salarisse, huur, wisselkoerse en – uiters belangrik – rentekoerse.

State verwring dié seine op talle maniere. Hulle skep doelbewus skommelende inflasie. Hulle pas prysbeheer toe om te keer dat pryse vrylik in die mark fluktueer. Hulle maak wette oor minimumlone, huurbeheer en vaste wisselkoerse vir fiatpapiergeld. State kan ’n vloerperk én boperk op rentekoerse instel. En selfs belastings en subsidies verwring prysseine in wese.

Dit is egter nie net wanneer die staat verorden dat pryse X of Y of Z moet wees of wanneer die staat ’n vloerperk of boperk aan pryse stel nie. Dit is ook wanneer die staat pryse beïnvloed deur op verskillende maniere by die mark in te meng. State meng in deur met wetgewing onnatuurlike aansporings in te stel. Hulle meng in deur met fiskale beleid en die aangaan van staatslenings te bepaal waarheen hulpbronne gaan. En hulle meng in deur hul toepassing van monetêre beleid en hul reg om papiergeld te druk.

Staatsaansporings deur wetgewing het ’n legendariese vermoë om seine te verwring.

Dink maar aan die verwronge werklikheid wat geskep word wanneer beleidsmaatreëls vir ’n gedwonge skeiding van rasse sosiaal-maatskaplike seine verwring. Of die groot distorsie van die Amerikaanse behuisingsmark wat teweeggebring is deur die Clinton- en Bush-administrasies se pogings om huiseienaarskap kunsmatig aan te help. Of wat van die verwringing wat teweeggebring word deur lisensievoorregte in professionele beroepe of in die taxibedryf en in soveel ander beskermde klein koninkrykies.

En dan het ons die staat se vermoë om te belas en te subsidieer, geld te leen, te bestee en te druk, wat als tesame ’n warrelwind van seindistorsie meebring.

Dink aan die verwronge seine in bateborrels, of gesubsidieerde energiesektore wat opbloei en ineenstort, of die omvattende en onstabiele afhanklikheid wat uit staatswelsyn voortspruit. Wat van die enorme invloed wat state op rentekoerse het deur die grootste marginale leners te wees, pensioenfondse te dwing om hul staatseffekte te koop, en so te sê gratis aan gesubsidieerde banke gedrukte geld te leen.

Dié “intervensies” is nié onskadelik nie. Omdat hulle op dwang en die enorme hulpbronne van die staat steun, is hulle hoogs onnatuurlik en erg verwringend van aard.

Wanneer state met dié soort ingryping by die spontane orde van die mark inmeng, gooi hulle die seine en tekens waarop ons steun om belangrike besluite te neem, in ’n warboel. Dit krap die seine waarop ons staatmaak om ons te help besluit wat om te koop, wat om te verkoop, wat om te produseer, waarheen om te verhuis, hoe om te investeer en te belê, wanneer om mense aan te stel, hoeveel om te leen, wanneer om uit te leen en so meer, heeltemal deurmekaar.

Dié seine is lewensbelangrik!

Pastoor Evan Mawarire se #ThisFlag-ondersteuners buite die landdroshof in Harare, Zimbabwe (13 Julie 2016). Foto: ANA

Zimbabwe se seindistorsies

Zimbabwe en sy tragiese ineenstorting is ’n argetipe van die gevolge wat ’n staat se ongebreidelde seindistorsie uiteindelik het.

Die buitensporige druk van geld en wegholinflasie het prysseine in ’n algehele wanorde gedompel. Om sake te doen, het byna onmoontlik geword. Om die wilde prysskommelings te beveg, het die staat probeer om prysverhogings te verbied, maar dit het bloot tot rampspoedige tekorte gelei. Winkels se rakke het leeg geraak. Mense het probeer om weer akkurate seine te vind deur stabiele buitelandse betaalmiddele te gebruik, maar is in die tronk gestop omdat hulle in Amerikaanse dollar handel gedryf het.

In die knellende greep van hiperinflasie kon bankrentekoerse van selfs 8 000% nie keer dat spaarders al hul spaargeld verloor nie.

Vals seine het geseëvier.

Dit was egter nie net in die donkerste uur van die krisis wat seindistorsie die land en sy mense geknou het nie. Die harde werklikheid is dat die staat reeds ’n dekade of langer voor die finansiële krisis Zimbabwe getref het, seine verwring het.

Toe die Zimbabwiese dollar in November 1997 so skielik en drasties 75% van sy waarde verloor, het dit vir die land ’n dekade van rampspoed ingelei. Inderwaarheid was dié gebeurtenis egter minstens ’n dekade lank in wording, ’n dekade van wanbestuur van die finansiële stelsel en die opbou van nasionale skuld wat opgeloop is by die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), daardie uiters insiglose instellings.

Dié voorafgaande dekade, van 1987 tot 1997, was ’n dekade van seindistorsie. In dié tydperk het Zimbabwe oënskynlik taamlik normaal gefunksioneer. Die geldeenheid het verswak, maar nie in duie gestort nie. Skuld het toegeneem, maar daar was nie ’n skuldkrisis nie. Inflasiekoerse het gestyg, maar nie buite beheer gespiraal nie. Maar onder die oppervlak, in groot mate vir almal verskuil behalwe vir die mees staatsbestande mense, was vals seine besig om miljoene na ekonomiese ellende te lei.

En toe die ellende in 1997 aanbreek, het die staat natuurlik gekies om ’n strategie van nóg groter seindistorsie te volg, eerder as om onmiddellik toe te laat dat die regte ekonomiese seine hul herverskyning maak.

russell-lamberti

Russell Lamberti van ETM Analtyics, ʼn makro-ekonomies en finansiële markontleder in Johannesburg. Foto: René Roux/AfriSake.

Seindistorsie verlaag die ontwikkelingspeil van ’n beskawing

’n Onverantwoordelike omgang met die seine wat ’n komplekse sisteem rig en stuur, laat die risiko ontstaan dat menslike handeling self ondoeltreffend en disharmonieus geskied. Wanneer state dít doen, kalwe hulle na my mening die onderbou van ’n sosiale orde weg.

Om dit onomwonde te stel, seinverwringing deur die staat is ’n proses wat die beskawingspeil van ’n samelewing verlaag.

En dit is die kernboodskap wat ek vandag aan julle wil oordra.

State verwring seine. Die ergste state vernietig seine geheel en al. En seindistorsie en die vernietiging van seine is ’n mag wat meebring dat die ontwikkelingspeil van ’n beskawing verlaag word.

Suid-Afrikaners het baie jare lank seindistorsie meegemaak, beide onder die vorige staatkundige regime én onder die huidige een, in die besonder in die afgelope 17 jaar of so. Om dit te illustreer, wil ek ’n voorbeeld gee van chroniese seindistorsie wat uiteindelik as ’n akute en stelselbedreigende ellende manifesteer.

Dié voorbeeld is Kaapstad se waterkrisis.

Suid-Afrika se waterstelsel is ’n sosialistiese waterstelsel. Die regering besit in effek die produksiemiddele vir onbehandelde en geretikuleerde water en die verspreiding, verkoop en prysbepaling daarvan. Soos enige sosialistiese stelsel, kan die staatsmonopolis nie behoorlik bepaal wat markpryse moet wees nie. In Suid-Afrika se geval manifesteer dit in waterpryse wat hopeloos te laag is. Baie van die drinkbare water is inderdaad geheel en al gratis vir die verbruiker.

Suid-Afrikaners leef met prysseine saam wat erg verwring is. Ons het geen behoorlike verwysingsprys vir die mark nie, slegs die geadministreerde, feitlik gratis pryse wat deur burokrate uitgedink is.

Hoekom is burokratiese water so goedkoop?

Wel, in die eerste plek hou burokrate daarvan om dinge gratis uit te deel in ruil vir stemme. Tweedens, sodra die vorige burokrate belastingbetalers se geld deur die koste van infrastruktuur laat opslurp het en daar geen werklike aandeelhouers is aan wie ’n opbrengs gelewer moet word nie, maar slegs ’n eindelose stroom belastingbetalers om leeg te suig, is daar vir die huidige burokrate geen behoorlike kosteoorweging en winsaansporing nie.

In ’n mark met geen prysmeganisme om aan te dui hoe groot die vraag is nie, en min institusionele aansporing om in nuwe voorsieningsvermoë te investeer as jou teenstander wat jou opvolg dalk die glorie daarvoor gaan kry, reageer pryse nie op groter skaarste deur hoër te klim nie.

Pryse wat te laag is, en te onbuigsaam, beteken uiteindelik dat tekorte ontstaan. Dit is eenvoudige Ekonomie 101.

Waarheen ek hiermee op pad is, is die volgende: Kaapstad se waterkrisis is die gevolg van jare en jare – en ek bedoel dekades – waarin mense mislei is.

Of mens nou daaraan wil dink as sosiale selfmisleiding, of ’n polities gemotiveerde misleiding waartoe ons blindelings ingestem het, die nare waarheid is dat sosialistiese waterpryse ’n groot en noodlottige leuen is – ’n chroniese seindistorsie. Dit is nie net ’n fout of gebrekkige tegnokratiese oordeel of die een of ander swak weervoorspelling nie. Dit is ’n heelhartige, sistemiese, ingeboude, polities ingebedde bedrogspul.

En die groot bedrogspul is dit: dat pryse na die burokratiese wil gebuig kan word sonder gevolge.

Dit is hierdie soort bedrieëry wat ’n stelsel, selfs ’n samelewing, kan sink.

Seindistorsie skep ’n broosheid. ’n Broosheid maak die samelewing weerloos teen skielike regstellings. Dit is waarskynlik die belangrikste bron van wat ons nielineêre of asimmetriese ekonomiese risiko kan noem.

Die Griekse skuldrisiko het ontstaan weens die enorme seindistorsie wat die projek van die euro as geldeenheid meegebring het. Die sakesiklus van skadelike bloeiperiodes en resessies spruit voort uit die enorme seindistorsie wanneer geld deur sentrale banke geskep word en die uitbreiding van bankkrediet gesubsidieer word, wat meebring dat die beskikbare spaargeld in ’n samelewing oorskat word.

Oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe. Foto: ANA

Wat beteken dit om staatsbestand te wees?

So, vir my beteken staatsbestand eerstens om te verstaan dat state groot skade kan aanrig deur die seine te verwring waardeur komplekse samelewings georganiseer word.

Sowel Von Hayek as Von Mises het hieroor uitgewei. Te min mense verstaan dit, of is selfs daarvan bewus, en ek glo dit is iets waarvan sakeleiers intens bewus moet wees wanneer hulle strategiese besluite oor hul sakeondernemings neem.

Ons kan nie sommer net aanvaar die seine wat ons waarneem en gebruik, is geldig nie.

Tweedens beteken staatsbestand ’n intellektuele en strategiese strewe na seinhelderheid.

Indien seindistorsie beskawingskapitaal verteer, is die ander kant van die munt dat beskawingskapitaal opgebou kan word deur in alle ondernemings die werklikheid so duidelik moontlik voor oë te hê. En dit beteken dat vooruitgang, selfs persoonlike vooruitgang, grondliggend steun op ’n onverbiddelike soeke na wat eg en waar is.

Dit beteken om staatsintervensionisme baie meer krities te beskou, en te ontleed watter seine jou in groter gevaar kan laat beland.

Dit beteken op sy beurt om jouself nie alleen teen seindistorsie te beskerm nie, maar dit ook tot jou voordeel te gebruik deur die sakesiklus, inflasierisiko’s, of die waarskynlike ekonomiese impak van prysbeheer beter te verstaan, of te begryp waar wisselkoers- en inflasiekoersrisiko’s besig kan wees om op te bou terwyl dit nie maklik raakgesien word nie.

Om kapitaal aan te wend, winste te bank, bates te diversifiseer, risiko teen die regte koste te verskans. Dié besluite moet minstens gedeeltelik op ’n begrip van die dinamiek van seine berus.

Derdens beteken om staatsbestand te wees die gebruik van strategieë, private en vrywillige institusionele reëlings, ruil- en valutanetwerke, en tegnologieë wat tot ’n stel seine lei wat grootliks of geheel en al bestand is teen die staat se seindistorsie.

Dit is die werk van hierdie konferensie – om die kwessie aan te pak van hoe ons miskien nie slegs die verstandige korporatiewe strategieë wat vroeër uitgestippel is, kan invoer nie, maar selfs verder kan gaan en, as jy dit so wil noem, ’n parallelle institusionele geheel te vorm.

piet-le-roux-afrisake-2018-06-05

Piet le Roux, die uitvoerende hoof van Afrisake. Foto: Reint Dykema.

’n Stoutmoedige, maar noodsaaklike plan

Dit is ’n ambisieuse, selfs waaghalsige plan.

Dit is sekerlik in elke fundamentele sin buite die boks. Dit is ook moeilik. Om private instellings van die grond af op te herbedink en herontwerp is geen maklike taak nie.

Dit sal ook nie stil en rustig verloop nie. Ons kan nie verwag die staat, wat tot elke prys wil oorleef, bloot sal toelaat dat sy mag en invloed ingekort en vernietig word sonder om kwaai terug te veg nie. Hoe meer totalitêr en afdwingend ’n staat se impulse, hoe meer sal hy seine probeer verwring en die soeke na en ontdekking van helder seine probeer onderdruk.

In Zimbabwe het ons die volle spektrum van ’n staat se bose aard gesien. ’n Verswakte staat is soos ’n gewonde dier wat uiters versigtig hanteer moet word.

Jesus het sy dissipels aangesê om so opreg soos duiwe maar, so versigtig soos slange te wees. Dit klink na wyse raad vir dié van ons wat ons lewens staatsbestand wil probeer maak.

Hoe moeilik dit ook al mag wees, om ons lewens en sakeondernemings staatsbestand te maak, ís iets wat die moeite werd is om te probeer doen.

As Zimbabwe ons enigiets geleer het, is dit om te onthou watter verskriklike en skrikwekkende vermoë die moderne staat het om seine te vernietig en hoe enorm groot die koste potensieel kan wees om nie staatsbestand te wees nie.

Ons lewens, ons gesinne en families, asook ons gemeenskappe, is veels te kosbaar om aan die genade oor te laat van die totalitêre staat, wat meedoënloos strewe na intervensies wat die seine verwring en vernietig wat ons so broodnodig het om te floreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

Net nog n elle lange ontleding van voorsorgmaatreels wat getref moet word ten einde slegte indikators betyds te kan identifiseer. Indien die skrywer regtig ernstig is en n kundige is oor seindistorsie dan sou hy reeds geemigreer het. Die feit dat hy nog steeds in SA is se vir my hy het n “smart” konsep uitgedink wat baie praat en dinkskrums gaan verg, maar bitter min gaan doen. Die mense van Zimbabwe was almal bewus van die seindistorsies en ook dat dit een man en sy volgelinge gevat het om Zimbabwe te vernietig en hulle kon niks daaraan doen nie, want hulle het maar bly hoop op n wonderwerk. Die wonderwerk het vier geslagte later gekom in die vorm van een man en sy volgelinge. In SA het een man en sy volgelinge SA binne tien jaar tot oor die afgrond getrek, maar Suid Afrikaners, ten spyte van die seindistorsies, indikators, rooiligte, het bly hoop op n wonderwerk. Dit het een man en sy volgelinge gevat om SA terug te trek van die afgrond. Die punt is dus dat of jy die seindistorsies betyds identifiseer of nie, dit help niks, want mense bly hoop op wonderwerke en solank wonderwerke gebeur sal hulle bly hoop, seindistorsies of nie. Maar ja, die seindistorsies konsep kan geld maak, so hoekom nie, want die wat bly hoop sal vasbyt en bly betaal.

Albaster ·

@Jerry, nie almal hardloop net weg nie. Hy en die van ons wat agterbly veg terug met kennis, planne, en glo my, ek en baie ander gaan nie net opgee nie.

Inflasiesein af ·

Volgens my berekeninge, wat rof was en wat op ‘n baie groot maar verteenwoordige industrie fokus, het gewys dat StatsSA heel moontlik inflasie ernstig onderrapporteer. My rowwe berekeninge het op 14 persent gewys, wat dalk ‘n oorskatting is maar dit is verseker nie so min soos die staat voorgee nie. Ek vermoed dit is sowat 12 persent oor die afgelope 10 jaar.

Maartin ·

Inskakeling in die globale digitale ekonomie en blockchain tegnologie gaan die staat al minder kans gee om seindistorsie te doen. Ons moet almeer hiervan gebruik maak.

Eish ·

Ek is bevrees dat kleiner besighede in die huidige klimaat eenvoudig net nie oor die middele beskik om sodanige ingrypende koersaanpassings te maak nie. Selfs mediumgrootte ondernemings gaan n harde tyd hê indien in produkte handel gedryf word vir die plaaslike mark. Dis n reusetaak om n handelsmerk gevestig te kry en die mark is die meerderheid van die populasie. Tensy jy hondejassies verkoop in Kaapstad of korttermyn versekering in Afrikaans.
Ek het alkant toe gedink hoe om mieliemeel uit te voer na Europa, maar die koolstof is eenvoudig nie die sous werd nie.
Die opsie van staatsbestande besighede is ongelukkig beperk tot n dun lyn van ondernemings met n beperkte mark en feitlik geen kompetisie nie. Dit is die werklikheid.
Wat wel insiggewend is, is die dure plig van die staat om eties op te tree en omstandighede te skep waarin besighede floreer, wat die hele ekonomie bevoordeel. Wat glad nie plaasvind nie. Die hele berig bevestig basies wat die aanhangers van samesweringsteorieë lank reeds verkondig.
Dit bly maar n helhool die lappie verrotting aan die suidpunt van Afrika.

Attie ·

@Eish, met tech startups en nuwe tegnologie is dit makliker as ooit vir klein besighede om sake te doen, hulle moet net leer hoe. Daar is kursusse op Coursera hieroor, verniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.