Is jy ‘n Breivik?

Liberaliste is geskok dat slegs 12% van Beeld-lesers die Suid-Afrikaanse grondwet gunstig vind. Tog looi hierdie koerante hul behoudende lesers pal met linkse propaganda. Asof ons ander keuses het, asof daar kompeterende nuus of alternatiewe pers in ons taal is, verwar hierdie media sy lesers met ideologiese dissipels.

Wat is jou keuses op Sondae as jy wêreldnuus in jou eie taal wil lees? Rapport? En haar siek kleintjie Sondag? En moenie begin glo een koerant is genoeg nie. Vergewis jou van die parallelle heelal waarin een land kan verkeer deur op een Sondag die menigte Engelse koerante te lees langs die enigste Afrikaanse koerant.

In die Afrikaanse pers se eie meningspeilings is dit lank reeds duidelik dat redaksies en lesers op verskillende kontinente woon. Redaksie peper ons met linkse propaganda. Ons reageer behoudend. Redaksie spandeer soveel moontlik spasie om ons verkeerd te probeer bewys. Ons bly behoudend. Redaksie sluit kommentaar.

Kyk na Beeld se By van Saterdag 23 Julie 2011 en oordeel vir jouself.

  • Die bylaag skop af met ʼn volbladartikel aan Eusebius McKaiser oor wit skaamte (met gratis sushi by The Fishmonger).
  • Dit word gevolg deur ʼn volbladartikel gewy aan Karen Zoid.
  • Dan is daar ʼn volbladartikel deur Wilhelm Jordaan wat verduidelik dat swart agterstand onder wit regerings ontstaan het.
  • Hierna volg die gebruiklike artikel wat die SAW in die verleentheid stel.
  • Volgende is ʼn dubbelbladartikel oor Afrika-literatuur. (Word die Liberiese skrywer Hawa Golakai enigsins in Afrikaans vertaal?)
  • Hierna lees ek ʼn redelik interessante artikel oor die leemtes van swart rugby.
  • Daar word afgesluit met ʼn volbladartikel oor die swak musieksmaak van Abel Malan en sy VVK.

En ek vind Beeld die mees gebalanseerd van alle Afrikaanse koerante!

Anders Behring Breivik

In Amerika word die Demokrate en Republikeine vet gevoer met media, pers en veral keuses. Ons is nie so gelukkig nie. Ons sit en wag vir ʼn skaars meningspeiling om te dien as die Suid-Afrikaanse redaksionele weergawe van objektiewe kennisname. Hulle maak almal regs van hul beleid af as mamparras en tjank dan as iemand 76 mense afmaai met ʼn arsenaal wat hy op eBay aangekoop het. “Open societies” en so. En kyk die wonderlike versoeking van liberale redaksies om die 32-jarige Anders Behring Breivik uit te maak as geestelik versteurd.

Ek self word gereeld “roekeloos” genoem deur mense wat te lafhartig is om te erken dat dit eintlik my denke of ideologie is wat hulle nie aanstaan nie. Hierdie minagting is ek al gewoond. “Jy moet dink voor jy praat, Steve,” ensovoorts. “Jy en Dan Roodt klink soos daai bomplanter van Oslo,” sê iemand anders.

Goeie vraag: Het ek “the makings of an Anders Behring Breivik?” soos een twiet dit stel? Die antwoord: Beslis. Maar daar is een groot verskil: Ek beveg sterftesyfers. Ek verkies meer mense lewend as dood.

Vir weke is Noorweë die “hot topic” op CNN. Een van die opskrifte lees: “Prime minister: Norway still ‘an open society’ despite ‘the horror’”. En daar lê sy antwoord. Soos die res van Europa sal Noorweë eersdaags met hulle stemme wys dat die gaping van daardie “oopte” weer gemeet moet word. Want die ongewenste glip al weer deur.

Suid-Afrika het twee probleme na aanleiding van die afskuwelike gebeure in Noorweë: Ons pas die profiel vierkantig. Ons het ʼn vetgesmeerde liberale grondwet wat hierdie ‘ooptes’ afforseer op ʼn versameling van die mees konserwatiewe stamme in die wêreld. Die Breiviks loop in hul hordes tussen ons rond. En voor die lont van die tragedie staan die Afrikaanse redakteur met ʼn minagtende glimlag en flikkerende vuurhoutjie.

— Luister hier na ‘n insetsel wat op RSG se program Spektrum uitgesaai is oor Steve se bydrae:

[soundcloud url=”http://api.soundcloud.com/tracks/20421041″]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr is onder meer skrywer, aktivis en geselsprogramaanbieder. Hy het meer as 2 miljoen CD's op sy kerfstok en is 'n driemalige SAMA-wenner (insluitende Besverkoopte Suid-Afrikaanse Kunstenaar 2004). www.stevehofmeyr.co.za

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Anoniem ·

André, my vrees is dat ons meer protes onder Afrikaanssprekendes gaan uitlok as ons besluit om al die jakarandas in Pretoria met maroelas te vervang, as wat ons gaan uitlok met ‘n sterk bewoorde opinie soos Steve s’n…!

B ·

Dis danksy die “vetgesmeerde liberale grondwet” dat ons nog welkom is in hierdie land. As die meerderheid regering besluit het om ‘n grondwet te implementeer soos die een wat “ʼn versameling van die mees konserwatiewe stamme” voor 94 as geskik beskou het, dan was ons regtig in die moeilikheid!

Slana Alaska ·

B: Jy vereenvoudig. Dit hoef nie die een of die ander te wees nie. Dit het Afrika juis bewys. Die Afrikastamgrondwet is net so belaglik soos die Westerse liberale grondwet. Afrika soek ‘n unieke oplossing uit Afrika vir Afrika. En die Afrikaners is deel van daardie oplossing!

André Alkema ·

Die media preek ‘n reënboognasie. In die sogenaamde reënboognasie is daar nie eintlik plek vir die Afrikaner nie. Ons word net verdra.

Ons word skaam gemaak vir ons verlede ons geskiedenis, sodat ons ons rug daarop kan draai en ‘n goeie kandidaat vir die reënboognasie (wat dit ookal mag beteken) word.

Nee man, ek is in verset teen dié onreg.

Anoniem ·

Hendrik, dit klink of jy verskil van Steve…? Gee jou opinie?

Slana Alaska ·

Ek dink sou die Afrikaner regop uit sy stryd om oorlewing kom sal daar monumente vir reguitpraters gebou word. Die meeste van ons loop met presies die gevoelens wat Steve hier noem, maar niemand is bereid om dit te sê nie.

Daar is vir my een groot voordeel aan bekende mense: Die feit dat hulle oor die mag beskik om die media aan te vat sonder dat dit hulle werklik benadeel. Sou die meeste van ons die media aanvat sal die media dit net ignoreer of ons selfs benadeel. Wanneer ‘n volksheld soos Steve dit doen moet hulle daaroor berig en weens sy gewildheid sal hulle in die toekoms steeds van hom berig! Wat ‘n lekker posisie – maar ook ‘n broodnodige posisie, want Naspers is besig om een van die grootste bedreigings vir die Afrikaner se toekoms te raak.

Anoniem ·

Het jy geluister na die insetsel wat pas vandag op Spektrum (RSG) uitgesaai is? Dit was ‘n onderhoud na aanleiding van sy opinies in hierdie blog. Ek dink jy sal dit interessant vind! Die klankinsetsel is elders op hierdie bladsy. Luister gerus en laat weet wat jy dink!

Anoniem ·

Het jy geluister na die insetsel wat pas vandag op Spektrum (RSG) uitgesaai is? Dit was ‘n onderhoud na aanleiding van sy opinies in hierdie blog. Ek dink jy sal dit interessant vind! Die klankinsetsel is elders op hierdie bladsy. Luister gerus en laat weet wat jy dink!

Dirk Hall ·

Steve jy het ‘n paar pinte raak maar die meeste mis jy! Jy is reg as jy se die Afrikaners se nuusbronne is beperk tot media 24 en RSG. Die Oslo bomplanter en Abel is na my mening slagoffers van die media. Die media het net een doel wereld wyd. Dit dwing die massa in ‘n donker kamer in. As jy nie so dink nie is jy so. As jy nie sis nie is jy ‘n rassis. As jy nie humanisties is ny kan jy nie ‘n christen (ja klein letter is reg) wees nie.

Dus word die massa op ‘n seker manier deur die media geprogrameer.

Soos die moslem verhewing die Oslo bomplanter activeer het het die ou poefter prof van geenkerk Anton aktiveer om op ‘n bepaalde wyse op te tree. Aktivering het weereens deur die selfde bron as programering plaasgevind – die media.

Die doel daarvan is sonder twyfel om die gene wat nie vatbaar is vir programering nie op ‘n ander wyse terug te druk in die donkerkamer. Stel hulle in ‘n swak lig deur die onwillige agente soos die bomplanter en Abel.

Wat is die reaksie uit die byna onprogrameerbares? Ons is nie deel daarvan nie. Ons keur dit nie goed nie! Die gevolg is dat poog hulle weer poog om so ‘n biedjie aansien terug te wen vir die dit wat hulle nie eindlik gedoen het nie.

DIE MEDIA SAL NOOIT TOELAAT DAT DOE GROOT PLAN IN DIE WIELE GERY WORD NIE!

Piet le Roux ·

Dirk, een van die dinge wat ons aan hierdie kant nog uitpluis is Maroela Media en Die Groot Debat se kommentaarbeleid. Ons lesers se menings is kernbelangrik en ons wil natuurlik die beste kommentaar moontlik ontlok. Die belangrikste riglyn wat ons op hierdie stadium gestel het is: ons wil ‘n beskaafde toon handhaaf.

Maar “beskaafde toon” – daar is verskillende menings oor wat dit beteken.

Prof. Van Niekerk het die laaste tyd vir redelik baie omstredenheid gesorg en jy laat duidelik merk hoe jy oor hom voel wanneer jy – kortliks binne ‘n groter argument – hom ook as “poefter” beskryf. Ek sal graag jou en ander lesers se mening wil inwin: soos wat Maroela Media groei en groter word, hoe moet ons met ons kommentaarbeleid maak ten opsigte van beskrywings wat heelwat mense dalk as onvanpas sou ervaar?

Dis ‘n moeilike een: mens wil graag veral die argumentering vrye teuels gee, maar dit ook nie stroop van meelewing nie. Wat dink jy – hoe sal mens in ‘n sin of twee so ‘n beleid oor persoonsbeskrywings saamvat?

Johan Lombaard ·

Piet, ek dink dit sal hartseer wees as die kommentaar op Maroela soos op Media24 ontaard in ‘n bekgeveg tussen onvolwasse mense wat nie ons taal kan gebruik sonder om kru en barbaars te raak en ander te beledig nie. 
Ek wil graag almal se menings oor sake lees, maar ek hoop dat mense dit hier sal regkry om volwasse op te tree en die saak aan te spreek, eerder as om mekaar te beledig.
Sterkte met die uitpluis van die kommentaarbeleid. Julle gaan Salomo se wysheid nodig hê.
Viva Maroela !

Helizna Kilian ·

Kan u dalk ‘n redigerende aspek handhaaf? Sit ***** op ‘n vloekwoord, en op all caps. Dit sal egter ‘n aktiewe modereerder vereis, met alle kommentare wat eers gemodereer moet word.

Piet le Roux ·

Die aktiewe moderering is op hierdie stadium nog moontlik – terwyl daar nog relatief min mense is wat deelneem. Maar soos die kommentaartempo toeneem sal dit nie moontlik wees nie. Miskien is die beste benadering om dan juis nou, terwyl daar nog hanteerbare volumes kommentaar is, ‘n kultuur by ander kommentators te skep dat die lesersgemeenskap hier self ‘n soort modereringsreaksie het wanneer die kommentaarkultuur aangetas word.

Anoniem ·

Hoe lank is Steve se kerfstok as hy 2 miljoen CD’s daarop kan inryg en hoe op dees aarde kry hy daarna nog plek vir cheries ook?

Helena Eloff ·

Ek is nie n Breviek nie, maar ons sal iets aan ons Land moet doen voor dit onder gaan. Wat dink julle moet ons doen?

Benita Botha ·

STONE ALONE a.k.a 88A, ai dude, jou kommentaar is, om die minste daarvan te sê, lagwekkend, aan die een kant spreek jy Christlike seën uit, maar aan die ander kant skel jy vir Steve…..verduidelik daai een, of nee…moet eerder nie….

Anoniem ·

Die moeilikheid is, in my opinie, dat die Afrikaner in Suid-Afrika net twee opsies gegun word (en ek stem hier saam met Steve dat dit deur die Afrikaanse media vererger word):  jy is of polities korrek, of jy is rassisties.  Hier word nie ruimte gelaat vir enigiets buite hierdie twee blokkies nie.  Omdat ons so bang is om die “rassis” bordjie om ons nek te hang, kies meeste Afrikaners dus maar om liewer net “polities korrek” te bly.  En die Afrikaanse media dra daartoe by dat ons ‘n eensydige idee het van wat “polities korrek” is…

Ek wil wel verskil van Steve oor die impak en die krag van die media.  Met die groei van elektroniese- en sosiale media, is die impak van tradisionele media besig om kleiner te word.  Ek kies watter berigte ek op my BB wil lees – as die berig op Nuus24 te “polities korrek” is (of volgens Steve te links), gaan toets ek dit graag teen dieselfde onderwerp in Mail & Guardian, The Times en dies meer.  Dalk gee Steve sy ouderdom weg?

Indien Steve die spyker op die kop slaan, dink ek nie ons moet wag totdat die redakteurs van die tradisionele Afrikaanse media verander nie.  Ons kan deur sosiale media en forums soos Maroela Media sélf inspring om die opsies meer te maak as òf polities korrek òf rassis.  Ek is moeg vir eersgenoemde, maar ek is beslis nie laasgenoemde nie.

Christo Pretorius ·

Van Niekerk se verklaring dat ‘afsonderlike ontwikkeling’ en die ‘Grensoorlog tot frustrasie bygedra het is misplaas.  Afrikaners, mans in die besonder, moet daagliks beleef dat hulle geviktimiseer word en dat hulle bestaansreg ontken word deur ‘Arbeids-diskriminisasie, taalmiskenning, ekonomiese ondergrawing en ‘n legio van ander ‘liberaal’ getinte maatreels.

Anoniem ·

Ek was vanoggend ‘n Breivik. Het hom in die stilligheid beny. 
Ek’t ‘n vriendin. Sy’s 28 en een van die hardwerkendste mense wat ek ken. Sjef in ‘n klein restourantjie in Kameeldrift omgewing Noord-Oos van Pta. Mense ry van Jhb af vir een van haar steaks. Die week pas sy huis op vir inwoners in die omgewing. Pragtige plot. Laasnag 02:00 kom hulle by ‘n skuifdeur in wat spesiaal oopgesluit gelos is (soveelste inside job). Hulle is barbaarse wesens wat hulleself die reg wil toe-eien om mense genoem te word. Hulle martel haar deur vuiste in die gesig te plant, haar oor haar hele lyf te skop terwyl sy le, haar met voorwerpe te slaan, haar hare uit te trek. Hulle vloek en dreig haar, druk pistole teen haar kop en nek. Gooi haar van die trappe af. Sleep haar na buite en gaan genadeloos met die geskop en slaan voort. Een staan met sy hele gewig op haar rug terwyl twee ander die huis leegdra. Hulle weet presies waar’s die ligskakelaars (in ‘n huis met vreeslik baie hoeke en draaie), en stap na kaste toe om dinge uit te haal asof dit hulle eie huis is. Dus, hulle was al daarbinne. Die honde by haar hou aan om op hulle af te storm, probeer haar beskerm. Hulle ore word getrek en hulle word meedoenloos met pistoolkolwe oor die kop geslaan. Goddank sy’s nie verkrag nie, en sy lewe. Een verhaal uit duisende. Die gedagte aan haar vrees en lyding is te veel om aan te dink. Te erg om te verduur. Ek haat niemand nie. Maar vanoggend toe sy bel en sukkel om die verskriklike detail oor te vertel omdat sy moeg, getraumatiseerd en ‘n seer gesig het, voel dit of ek ‘n geweer kan gryp, in die straat uitstorm en skiet en skiet en skiet… Een van my vriende, al vir laaste 15 jr, ‘n wonderlike Afrikaner, is 2 maande gelede in sy eie huis, in sy eie kombuis, koeelbloedig doodgeskiet voor sy vrou en gaste op hulle huweliksherdenking. ‘n Goeie vriend is 3 weke gelede in sy bed oorval, verneder en geslaan deur rowers wat alles gevat het wat hulle wou….Dit gaan nie ophou nie. Dit gaan erger word. Moet ons maar angstig sit en wag tot dit ons beurt is? Moet ons? WAT moet ons? WAT? Ek stel voor ons word stil, bid, en vra GOD. Want net die HERE weet!Net HY.

Elmari Potgieter ·

Fransien ek het die boek, Left to Tell van ‘n Ruwandese vrou,  gelees.  En alhoewel dit ‘n massaslagting was in 1994 het  ek ook vir God gevra waar staan ek.  Hoe moet ek dink en hoe moet ek voel as ek stories lees soos in jou brief.  Sy het vergewe! – kan ek vergewe? En ‘n regering wat nie sê een moord is een te veel nie.  Dit kan tog net satan wees wat lustig besig is.

Deon Opperman ·

Aan Anoniem

Net lafaards skuil agter “anoniem”. Ek waardeer dat jy jou se^ se^, maar staan op en se^ wie jy is, soos dit in enige forum ter we^reld tussen volwassenes gedoen word.
Tot dan kan niks wat jy kwyt raak ernstig opgeneem word nie.

Deon Opperman

Piet le Roux ·

Die kommentaar hieronder was geskryf deur ene Fransien. Dit blyk dat daar ‘n probleem met sekere van die vroeëre kommentare is en dat diegene wat kort na Maroela Media van stapel gestuur is kommentaar gelewer het, nou as ‘Anoniem’ vertoon terwyl hulle aanvanklik hul name verskaf het. Ons gee aandag aan die saak. ~ Red.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.