Is kernwapens steeds die absolute wapen?

‘n Reuse-sampioenwolk het oor Hirosjima gevorm nadat Little Boy op die stad gewerp is. (Foto: Wikimedia Commons)

Op 6 Augustus 1945, magtig die president van die Verenigde State van Amerika (VSA), Harry S. Truman, ‘n spesiaal aangepaste B-29 bomwerper, die Enola Gay, om ’n kernwapen, genaamd Little Boy, op die Japannese stad Hirosjima te werp. Drie dae later volg ’n tweede een, Fat Boy, dié keer op die stad Nagasaki.

Beide het grootskaalse lewensverlies tot gevolg gehad. In Hirosjima, met ’n bevolkingstal van ongeveer 350 000 voor Augustus 1945, het byna 140 000 mense onmiddellik of binne die eerste vyf maande omgekom, die uiteinde van die 15 kiloton Little Boy. In Nagasaki, met ’n bevolkingstal van ongeveer 270 000 voor Augustus 1945, is byna 73 000 sterftes onmiddellik of binne die eerste vyf maande aangemeld, met die 21 kiloton Fat Boy wat hiér verwoesting gesaai het. Baie waarnemers is dit eens dat dié syfers uiters konserwatief is en dat die werklike dodetal na alle waarskynlikheid veel hoër is. Teen dié agtergrond kondig die Japanse keiser, Hirohito, op 9 Augustus 1945 sy onvoorwaardelike oorgawe aan.

In 1946, byna onmiddellik ná die eerste (en laaste) gebruik van kernwapens, skryf Bernard Brodie, die doyen van strategiese denke oor kernwapens, dat kernwapens “die absolute wapen” is. Met dié stelling wys Brodie op vier onderling verbonde eienskappe van kernwapens. Eerstens, kernwapens is uiters verwoestend, dog uiters klein. Tweedens, nie net is kernwapens meer verwoestend as enige ander wapen wat voorheen vervaardig is nie, maar die spoed waarteen verwoesting plaasvind, is ongekend. Soos Brodie, het Thomas Schelling dié werklikheid ook reeds vroeg in die kernera raakgesien: “To compress a catastrophic war within the span of time a man can stay awake drastically changes the politics of war”.

Gedurende November 1973, ten tyde van ’n gesprek met lede van die Amerikaanse kongres, noem die Amerikaanse president, Richard M. Nixon, dat hy sy “kantoor kan binnegaan, die telefoon optel, en binne 25 minute sal 70 miljoen mense sterf”.

Nixon se opmerking was nóg wensdenkery nóg hiperbool, maar ’n juiste begrip van die werklikhede van ’n kernwêreld. Derdens, om die tweede slaanaanvalsmagte van kernstate ontrefbaar vir ’n eerste slaanaanval te maak, is ’n betreklik maklike onderneming. Met ’n “eerste slaanaanval” word bedoel dat ’n vyandige kernstaat poog om ál die kernmagte van ’n teëstander uit te wis, sodat laasgenoemde oor geen tweede slaanaanvalsmagte beskik nie. Luidens die Verklarende Politieke Woordeboek, kan ’n tweede slaanaanval beskryf word as “die eerste teenaanval met kernwapens in ’n oorlog nadat ’n eerste slaanaanval met ’n voldoende vermoë tot effektiewe vergelding oorleef is”.

Laastens, daar bestaan geen voldoende verdediging teen kernwapens nie.

Is kernwapens stééds die absolute wapen? In allerlei opsigte, ja. In der waarheid, die plofkrag van vandag se kernwapens verdwerg dié van Augustus 1945, ’n onmiskenbare feit indien ons oorweging skenk aan hoe ’n kernoorlog, veral met spesifieke verwysing na die dodetal, vandag sal uitsien.

Die historikus en kernnavorser, Alex Wellerstein, het ’n uiters nuttige program, NUKEMAP, geskep, wat data voortspruitend uit die aanvalle op Hirosjima en Nagasaki gebruik om te probeer vasstel wat die dodetal sal wees indien ’n kernaanval vandag sou plaasvind.

Die bevindinge is skrikwekkend, om dit maar sagkens te stel. Vervolgens, ’n aanval deur ’n Amerikaanse Ohio-klas-kernduikboot, gewapen met Trident II D5 LE-missiele (elk met ’n 415 kiloton W88-plofkop), op die hoofstad van Rusland, Moskou, sal na beraming ’n onmiddellike dodetal van 737 000 teweegbring en byna 2,7 miljoen mense ernstig beseer. Hier moet ek noem dat een Ohio-klas-duikboot oor 24 Trident II D5 LE-missiele beskik en dat bogenoemde syfer die gevolg van slegs een missiel is.

Indien die Amerikaners sou besluit om hul grootste kernbom, die 1.2-megaton B-83, op Beijing te werp, sal die onmiddellike dodetal meer as 1,5 miljoen mense wees en die aantal beseerdes meer as 3,3 miljoen. ’n 150 kiloton-kernwapen, soos dié getoets deur Noord-Korea gedurende 2017, sal 416 820 mense dood en amper 1,9 miljoen beseer indien Seoel die teiken is. En, indien Pakistan sy 45 kiloton-kernwapen op Nieu-Delhi rig, sal die dodetal 367 000 bereik en die aantal beseerdes ongeveer 1,3 miljoen. Twee waarnemings is hier tersaaklik: een, die dodetal in elk van dié scenario’s is enorm en is die effek van slegs één kernwapen; en twee, die groot lewensverlies is byna oombliklik.

Hoe ontrefbaar is kernstate se tweede slaanaanvalsmagte? Vandag, soos vantevore in die kernera, is dit betreklik maklik vir kernstate om hul tweede slaanaanvalsmagte te versteek en aan te wend. Dié wapens is lig en kan maklik verskuif en versteek word. Voorts bestaan daar byna oneindige maniere om te verseker dat dié wapens hul teikens bereik en geen volmaakte missielverdedigingstelsel om kernwapens te onderskep nie. Benewens die meer tradisionele maniere om kernwapens aan te wend, te wete deur middel van interkontinentale ballistiese missiele (IKBM), kernduikbote en bomwerpers, kan kernwapens óók hul teikens deur onkonvensionele maniere bereik.

Onkonvensionele maniere sluit in: kernwapens kan op vragmotors vanaf naburige lande ingery word; torpedo’s kan vanaf klein bote wat buite hawens geanker is, afgevuur word; kernwapens kan in klein houers op vragskepe versteek word en deur middel van ’n elektroniese sein ontplof; en, indien alle ander middele uitgeput is, kan dit selfs deur ’n oskar vanaf ’n naburige staat vervoer en ontplof word. Voorts kan kernstate ook van fopwapens (dummies) gebruik maak ten einde ’n toekomstige aanvaller te oortuig dat ’n staat se kernarsenaal aansienlik groter voorkom as wat dit werklik is.

Wat kan ons vandag sê oor pogings om die bom te keer? Kortom, daar is géén keer aan die bom nie. Die beheptheid met missielverdedigingstelsels gaan onverpoosd voort, met biljoene Amerikaanse dollars wat aan dié stelsels spandeer word. Hoewel daar oor die afgelope dekades vordering gemaak is met die doeltreffendheid van hierdie stelsels, is die donker waarheid van missielverdedigingstelsels dat selfs die beste stelsels somtyds misluk.

Terloops, enige ontwikkeling in die doeltreffendheid van missielverdedigingstelsels kan eenvoudig ondermyn word deur óf meer missiele af te vuur óf missiele teen ’n laer vlakbaan af te vuur. Ook kruismissiele bied ernstige uitdagings vir missielverdedigingstelsels. Eweneens word daar vandag tereg gevrees dat hipersoniese missiele, wat teen vinniger as 5 000 km/h (oftewel Mach5) beweeg, alle missielverdedigingstelsels sal oorweldig. Sodanige uitdagings sal in die toekoms vermeerder. Na verwagting sal die Amerikaanse Lugmag se AGM-138A Air-launched Rapid Response Weapon (ARRW) teen meer as Mach20 beweeg. Soos vantevore in die kernera, bestaan daar vandag verskeie maniere om missielverdedigingstelsels te fnuik en om te verseker dat kernwapens hul teikens bereik. Dít sal na alle waarskynlikheid nie in die toekoms verander nie. Trouens, hoe meer state onverpoosd arbei om missielverdedigingstelsels te ontplooi, hoe meer sal ander kernstate poog om dit te fnuik.

Vandag, byna 75 jaar ná die eerste en laaste gebruik van kernwapens, is dié wapens steeds die absolute wapen.

Ek wil afsluit deur na te dink oor die volgende: Is die vraag of kernwapens steeds die absolute wapen is, slegs van akademiese belang? Allermins nie. Daar word vandag toenemend gemor dat kernwapens weinig waarde tot die internasionale veiligheidsituasie toevoeg, dat dié wapens oneties is en dat kernstate dikwels kosbare staatsgeld op die instandhouding van dié wapens verkwis.

Hoe dit ook al sy, één feit is duidelik: die geskiedenis van die kernera wys daarop dat géén kernstaat al ooit ’n aanval op die klaarblyklik noodsaaklike belange van ’n ander van stapel gestuur het nie. Kortom, géén grootskaalse konvensionele oorlog (óf kernoorlog) het al ooit tussen kernstate plaasgevind nie. Die feit dat kernwapens steeds die absolute wapen is, dra tot hierdie gelukkige toedrag van sake by.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fluisterwind ·

Die Bybel het baie te sê oor wat in die toekoms gaan gebeur. En een van die mees verbasendste, asemrowendste en ontsagwekkendste profesieë bevat voorspellings wat soos NUCLEAR OORLOG klink. Sag 14:12 “En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. “

Dirk Mostert ·

Lees Openbaring 13 oor die Dier en sy merk. Google” ID2020″. Laat mens wonder oor die ‘pandemie’.

Frans ·

Dit is natuurlik niks in vergelyking met dit wat ons uit die buitenste ruimte kan tref.’n Asteroïde wat bv die Vredefort koepel veroorsaak het se deursnee word beraam op 10 tot 15 km . As so iets bv
New York moet tref gaan min indien enige van sy 8 miljoen inwoner dit oorleef want die Vredefort koepel se deursnee is ongeveer, oorspronklik 300 km (186 myl ).New York staat is bv 530km lank en
455 km wyd met 19.4 miljoen inwoners.

Dit is ook een van die redes waarom God lag vir mense pogings want in God se arsenaal is daar ‘wapens’ wat die mens se pogings na kinderspeletjies laat lyk en die 10 plae wat Egypte getref onbenullig maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.