Is méér regulering die antwoord op SA se ekonomiese krisis?

airbnb-slaapkamer-gastekamer-02

Foto ter illustrasie. Foto:
Christopher Jolly/Unsplash.com

Deur Chris Hattingh van die Vryemarkstigting

Suid-Afrika sit tans met 38% werkloosheid. Amper 10 miljoen mense het nie werk nie – baie van hulle het probeer, maar hulle kry eenvoudig nie werk nie. As gevolg van ’n magdom arbeidswette en regulasies is hierdie skokkende syfers miskien nie so onverwags soos wat party mense dink nie. Die regering sukkel voortdurend om ’n oplossing te vind. Gelukkig is daar ’n paadjie wat hulle kan volg: ekonomiese en persoonlike vryheid. Maar die departement van toerisme het besluit om ’n ander rigting in te slaan – die rigting van staatsbeheer oor besighede en ekonomiese groei.

Die departement het onlangs die Wysigingswetsontwerp op Toerisme uitgereik. Die publiek kan nog tot in Julie kommentaar lewer, en daarna sal die Wetsontwerp deur die parlement gaan voor die president sy goedkeuring moet aandui en dit onderteken.

In sy vorm tans gaan hierdie Wet alle korttermynhuurinstellings, byvoorbeeld Airbnb en LekkeSlaap, onder die beheer van die minister van toerisme plaas. Die minister sal die diskresie hê om vir ’n Airbnb-gasheer te sê hoeveel aande gaste by hom mag oorbly, hoeveel geld hy mag verdien, ens. Die Wet gaan ook gepaard met nakoming: ’n verteenwoordiger van die departement sal moet kom seker maak dat jy al die reëls nakom – net nóg meer burokrasie wat jy moet probeer oorkom.

In plaas daarvan om dit so maklik as moontlik te maak vir mense om hul huise en woonstelle te gebruik om hul eie ekonomiese situasie te verbeter, gaan die Wet die effek hê om mense wat probeer om entrepreneurs te wees, te straf.

Hierdie situasie is nie ’n geval van wen-verloor nie. As ons dit kan regkry om die regulasies op B&B’s en gastehuise aansienlik te vereenvoudig en te verminder, kan sowel die tradisionele toerismemark as die nuwe mark, in die vorm van Airbnb, groot wins maak. Die filosofie van hierdie Wet is gebaseer op die veronderstelling dat Airbnb se sukses altyd ten koste is van ouer, tradisionele instellings. Maar dit is maklik om te vergeet dat dit mense is wat Airbnb en LekkeSlaap gebruik om hulself te probeer ophef. Met die laer pryse wat hulle kan aanbied, motiveer dit ook dan ander gastehuise om hulle pryse te verlaag, wat goed is vir die verbruiker.

Elke besigheid moet meeding met ander om die verbruiker of gas se “stem” te wen, in die vorm van daardie verbruiker se geld. Om iemand te oortuig om in jou Airbnb of gastehuis te kom bly, moet jy dit so aantreklik as moontlik maak. En mens moet nie die fout maak om te dink dat net ryker mense Airbnb kan gebruik om geld te maak nie. Mense in Soweto en ander townships kan die toerismelokale om hulle gebruik om meer toeriste soontoe te lok. Die kernidee van Airbnb is dat dit meer opsies oopmaak vir mense wat probeer om geld te maak. Hoe meer opsies en geleenthede vir mense, hoe meer ekonomiese groei gaan ons sien.

Hierdie Wet maak eenvoudig nie ekonomiese of morele sin nie. Dit is nie die regering se gepaste rol om vir mense te sê hoeveel hulle mag verdien of nie mag verdien nie. As daar enige wette en regulasies moet wees, moet dit so min en so verstaanbaar as moontlik wees. Dit is tans heeltemal te moeilik vir gastehuise om besigheid te doen.

chris-hattingh

Chris Hattingh van die Vryemarkstigting. Foto: Verskaf.

’n Paar voorbeelde van al die struikelblokke: hersonering, besigheidslisensies, nakomingskoste en massiewe oorhoofse koste. Dit is geen wonder dat gastehuise en B&B’s bekommerd is oor Airbnb nie – hulle moet probeer om al hierdie struikelblokke te oorkom. Die speelveld moet gelyk gemaak word, en nie deur meer regulasies in te bring nie. Minder is altyd beter.

Die hotelgroep Marriott het in April ’n nuwe diens aangekondig: Homes & Villas. Deur hierdie opsie gee Marriott vir gaste nog ’n opsie. Gaste kan kies uit enige van 2 000 huise in 100 stede oor die hele VSA, Europa en Suid-Amerika, met ’n minimum verblyfperiode van drie aande. Marriott se wêreldwye hoof kommersiële beampte, Stephanie Linnartz het gesê: “The effort part of the company’s ongoing commitment to innovation as consumer travel needs evolve.”

Marriott het besef Airbnb bied toeriste en gaste baie meer opsies, en in plaas daarvan om hulle eie geld te mors om die regering te laat ingryp, gaan Marriott probeer om met Airbnb mee te ding. Dit is presies wat ons in Suid-Afrika wil hê.

Die Wet is die nuutste voorbeeld van ’n regering wat definitief nie ekonomiese groei en werkskepping op die hart dra nie. As dit die geval was, sou die departement baie meer daarop gefokus het om wette en regulasies rakende toerisme te verminder. Toerisme is een van Suid-Afrika se groot sterkpunte. Duisende werkgeleenthede wag om ontsluit te word, mits die voortuitgang van tegnologie omhels word.

Suid-Afrikaners word versmoor deur wet ná wet ná wet, meer belasting, meer staatskoste en minder hoop vir enige betekenisvolle ekonomiese groei. As die departement en die regering hierdie Wet kan laat vaar, sal dit ’n fantastiese boodskap van aanmoediging stuur aan gewone mense wat net hul bes probeer om hul eie lewens te verbeter. Regulasies moet nie ’n geval word van een groep teen ’n ander nie, anders gaan een groep, en verbruikers, altyd verloor.

Airbnb, B&B’s, gastehuise en hotelgroepe moet die regering druk om hulle te laat asem skep, om onnodige wette en regulasies te verwyder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Schalk ·

Nee , oor-regulering in enige bedryf kelder die groei en voortbestaan van besighede. Daar is bewyse genoeg daarvan in die huidige SEB register van besighede wat toemaak as gevolg van dieselfde konsep.

Gert ·

DIs maar hoe sosialiste oral op aarde maak. Sosialisme is gebaseer op afguns: gun niemand anders om meer as jy te verdien nie. So, as jy nie ‘n deel kan kry van iemand se inkomste nie, probeer jy sy besigheid toemaak of ten minste benadeel.

Diefie ·

Plaas dat hulle ‘n verbod op hulle salaris, die krag, water en kos pryse plaas! MMMM

Christo du Plessis ·

Baie deeglike artikel. Baie dankie daarvoor . Alles word tot die dood toe gereguleer. Ek kan nie genoeg beaam t.o.v die skrywer se standpunt nie. Almal wat adres en ID nommer het
moet maar net bars en knars , maar korrupsie en tenderbedrog vier hoogty.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.