Is ʼn landelike Bantoestan ons voorland?

butterworth-oos-kaap

Butterworth in die Oos-Kaap. Foto: Travelblog.org

Die Transkei was die enigste tuisland of Bantoestan met ware territoriale integriteit wat onder die bewind van die Nasionale Party tot stand gekom het – anders as die ander onverbinde snippertjies wat ook “selfregering” gekry het.

Dit het alles gehad wat nodig was vir sukses: goeie reënval van tussen 1 300 en 650 mm per jaar, van die land se beste grond, groot potensiaal vir besproeiing en enorme geleenthede vir toerisme. Altesaam 50 jaar ná sy onafhanklikwording is die Transkei steeds ʼn hartseerstorie ondanks al die projekte en miljarde rande kapitaalbesteding.

Een van die groot probleme lê by eiendomsregte. Die staat en sy stamhoofde besit reeds ongeveer 30% van die land se grond. Sonder die reg van die individu om eiendom te besit wat behoorlik begrens is en met oordraagbare titelaktes sal die Transkei en ander landelike gebiede nooit hul fenomenale potensiaal bereik nie.

Dit kan net beteken dat ons landelike toekoms dieselfde is as dié van ʼn mislukte Bantoestan.

Tans is almal in die landelike gebiede – van bestaansboere tot die “eienaars” van hotelle – uitgelewer aan die giere van die stamhoof wat die grond besit waarop hulle as’t ware plakkers is. Die eiendom kan nie verkoop, gesedeer, as sekuriteit aangebied of bemaak word nie.

Grondonteiening is lank reeds boaan die ANC-regering se lys en ʼn belangrike bestanddeel van die jongste politieke retoriek genaamd Radikale Ekonomiese Transformasie. Die staat besit reeds ongeveer 30% van die land se grond, maar wil nou plase wat in wit besit is sonder vergoeding onteien en (sonder titelregte?) aan swart mense oordra.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het onlangs in die parlement gesê 90% van die titelaktes van grond wat vir grondhervorming aangekoop is, bly in die hande van die regering.

Boonop is sowat 7 419 van die grondeise wat voor 1999 ingedien is, nog nie afgehandel nie. En die druk op nuwe grondeise neem net toe!

Hoeveel huisbewoners wat hul wonings huur, sal bereid wees om aanbouings of groot verbeteringe uit hul eie sak aan te bring?

Niks het verander nie

Ondanks al die projekte wat die ou regering aangepak het – onthou, die geloofwaardigheid en uitvoerbaarheid van sy tuislandbeleid was op die altaar – het die Transkei nie geblom nie. Ná nog ʼn kwarteeu van ANC-betrokkenheid is dit steeds ʼn arm streek wat dien as arbeidsreserwe, eers vir die myne en nou vir Suid-Afrika se nywerhede in Kaapstad, Gauteng en die streek in en rondom Pietermaritzburg en Durban.

In sy hart is die Transkei die hartland van Xhosasprekers wat hul vakansies vanuit die land se ekonomies produktiewe hartland daar deurbring. Bestaansboerdery vorm steeds die streek se landbou.

Toerisme ook ʼn mislukking

ʼn Rubriekskrywer wat die streek – hierdie skrywer se grootwordwêreld – onlangs ná etlike dekades weer besoek het, sê niks het verander nie. Die hoofpad tussen Oos-Londen en Kokstad het effens verbeter, maar die takroetes is genoeg om enige toeris af te skrik. Hier en daar is daar verbeteringe aan geriewe, maar die geboue (of aanbouings) is amateuragtig en lukraak.

Nog ʼn onlangse besoeker aan Hole in the Wall – een van die hoofaantrekkings aan die Wildekus – skryf hoe ʼn nagmerrie dit was. Sy is ʼn toerismeskrywer:

“Afgesien van die slaggate moes ek plek-plek letterlik uit my kar klim om die beste roete deur die dongas te vind. Ek is van alle kante af toegesak deur informele toergidse wat my kar sal oppas en my te voet verder sal neem. Dit is nie wat toeriste wil ondervind nie. Ek het onveilig gevoel en besluit dat Hole in the Wall nie deel van my besoek sal wees nie. Ek sal voornemende toeriste maar aanraai om plek op ʼn toer met viertrekvoertuie en ʼn opgeleide gids te bespreek.”

Verval ook in dorpe

Die gebrekkige ontwikkeling en verval strek baie verder as net die streek se platteland. Dorpies soos Butterworth en Dutywa is in algehele verval. Butterworth (ook bekend as Gcuwa) het digby 44 000 inwoners en is een van die hoofdorpe. Daar was eens industrieë soos ʼn Coca-Cola-fabriek wat werk aan duisende verskaf het, maar ná 1994 was daar ʼn uittog na groter stede. Die gevolge was groter werkloosheid en ʼn skerp stygende vlak van misdaad.

Maar dis nêrens meer skokkend as in die hoofstad Mthatha nie. Mthatha se naam was voorheen Umtata, maar dis lank nie al wat verander het nie. Wat voorheen ʼn gerespekteerde sake- en administratiewe sentrum en die hoofsetel van Kaizer Mtanzima se Bantoestan was, is nou amper ʼn spookdorp met min ekonomiese aktiwiteite.

Slaggate is besig om dongas in die middel van die stad van sowat 150 000 mense te word en die hospitaal is skaars nog ʼn skaduwee van wat hy was. Die meeste van sy opgeleide dokters en verpleërs het vertrek en daar is skaars nog spesialiste maar wel ʼn nypende tekort aan medisyne. Die stad is oortrek met gebarste rioolpype en opgehoopte vullis.

Elders in die streek gaan dit net so power. Lusikisiki, die derde grootste dorp in die Transkei, se eens puik hospitaal het dieselfde pad as Mthatha s’n geloop. Sterftes het die hoogte ingeskiet en Panado is dikwels die enigste vorm van medisyne vir mense met erge pyn. Die hoofstraat is disfunksioneel en daar is oral nog mense wat hul onbehandelde water uit riviere moet aandra.

Die Magwa-teeplantasie was een van die wêreld se grootstes, maar het in 1994 bankrot gegaan en is minstens twee keer aan buitelandse maatskappye verkoop wat dit nie tot sy eertydse glorie as werkskepper kon herstel nie.

Die landerye lê onbewerk. Inwoners wil nie meer bestaansboerdery beoefen nie en die enigste bron van inkomste vir baie is toelaes van die nasionale regering en die geld wat familielede elders by nywerhede verdien.

Transkeise politici het tenderpreneurs geword wat net hul eie sakke vul en sonder enige ubuntu vir hul mense leef.

Dis dan wat geword het van ʼn landgebied wat leiers soos Mandela, Tambo, Walter Sisulu, die twee Mbeki’s en Chris Hani opgelewer het: ʼn mislukte en totaal onderbenutte stuk aarde wat ten gronde gegaan het.

Is dit die toekoms van die res van ons landelike gebiede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ken2 ·

Dit is skokkend om te dink hoe hierdie aarde van 1960 tot nou vernietig is. Dit is ook die wortelgebied van die ANC, wat nou net so agteruit gaan.

janneman ·

Baie raak gevat. Dit kan nooit anders wees nie, dis die hele Afrika se politieke resep. Alle grond behoort aan die staat, maar volgens die staat behoort die grond aan almal. Daar is soort van n ongeskrewe ooreenkoms dat jy die grond direk om jou behuising(stat) mag bewerk vir eie gebruik, maar daar bestaan geen grense nie, daarom ook geen grensdrade nie. Gaan toer maar gerus 3nige van ons buurstate, dis almal so, behalwe waar n westerling metbtoestemming van die regering boer, daar sal jy heinings kry. Afrika rege4ings is glad nie ingestel op eknomiese vooruitgang vir die lande self nie, net die verryking van die staatskas waaruit die heersende lede van die regering dan almal soos konings leef, en dit dus elke kind se droom is om eendag in “government” te kan werk, want dan kan jy uitstyg bo jou mede burgers. Suid Afrika is die laaste land waar westerse beginsels nagevolg was, en dit gaan verseker nie so bly nie. Dis elkeen se keuse hoe ons daarop reageer, en ons is nou in n tydstryd gewikkel met Afrika…….om die voordele van westerse kapitalisme aan Afrikane te verkoop en hulle inkoop te kry om RSA verder te ontwikkel tot voordeel van ALMAL, of ingesluk te word in die Afrika manier van dinge doen.

jan van riebeeck ·

daar kom n groot konflik en al die slim praatjies en idees gaan niks doen om dit te keer nie , beter om jou energie te spandeer om voor te berei op die ergste

Johann ·

En die grootste lieg nog in die land se geskiedenis, is die ANC. Korrup of te not.

PvZ ·

Ja, dit is ons voorland. Daar is dus net drie opsies. Een, pak op en emmigreer. Twee, aanvaar dat dit so gaan word, en hou op om vir Zuma te kritiseer. Glo my, Ramaphosa gaan met dieselfde problem sit, en met dieselfde kapasiteit om dit op te los. Derdens, help met die ontwikkeling van Orania, en baklei vir ons eie tuisland.

Thuunda ·

Ek help Orania ontwikkel, dis waar ek my kapitaal spandeer. Ek wil nie emigreer nie, ek kan ook nie bly waar ek is nie (met die storm wat is en wat nog kom), so dis die enigste uitweg wat sin maak…vir my en my gesin.

Hendrik ·

Ek gaan vir die derde opsie waar daar ‘n konsentrasie van Afrikaners in ‘n gebied is. Moet die gebied nie ‘n volkstaat of tuisland noem nie. Mense in ‘n omgewing moet so ‘n gebied identifiseer wat naby hulle is en dan hierdie gebied ontwikkel sonder groot bohaai. Dit neem lank want ‘n infrastruuktuur moet ontwikkel word en as jy so gelukkig is soos Orania, is daar reeds so infrastruktuur. Dit is soos om ‘n sekuriteitsdorp te ontwikkel vir net Afrikaners.

Val ·

Die Zulus se Ingonyama Trust is nog ‘n voorbeeld. Besit 33% van KZN wat of leeg le of bewoon word deur bestaansboere. Mense wat al vir generasies op die trust grond bly kan nie eindomsreg kry nie. Dit bly die koning se lappie aarde en as die induna se jy moet waai dan is jy uit. Afrika se verstokte tradisies maak dinge baie moeilik vir sy mense.

Gysbert Stander ·

Ek was verlede week in die Wildekus met vakansie (Port St Johns tot by Keimond) en het in 3 natuurreservate gebly (Silaka, Hluleka en Dwesa). Dis juis die onontwikkeldheid wat die vakansie so lekker gemaak het. Geen goeie teerpaaie wat al die skares lok nie, so ons het elke aand amper die hele reservaat en strand vir onsself gehad. Bygesê, dit was natuurlik ook buite seisoen. Ons het sover as moontlik die agterpaaie gery (almal grondpaaie) en amper geen ander toeriste gesien nie. Kos by spaza winkels gekoop (dankie tog daar is geen Woolies naby nie).

Die Wildekus sien my beslis weer, maar die keer op my motorfiets.

Pieter ·

Interesant , dog nie verrassend nie . Die hele Afrika lyk so . Daar waar geen apartheid was vir jare nie , is slegter daaraan toe as daar waar wel apartheid was. Daarmee se ek maar net dat apartheid nie die probleem was of is nie. Is net jammer dat die liberale wat als georkestreer het , nou net terugskuif na hulle gemaklike rusbanke . Hulle moeilikheid is egter insig sommer daar in hulle skuilplekke , nl ISLAM

humor ·

Om rond te rits in onontwikkelde gebiede waar nie veel meer is as grondpaaie en skaars toerisme agv onderontwikkeling is beslis nie volhoubaar nie.

Annatjie Kruger ·

Die stamleiers en sogenaamde konings is ‘n uitgediende idee wat afgeskaaf behoort te word, want dit voorkom behoorlike vooruitgaan van baie mense.

Gemsbok ·

Orania tot aan die weskus lê daar ongerep vir ons om op te bou tot die juweel van Suidelike Afrika wat met plekke soos Singapoer, Nieu-Seeland, Ierland, Noorweë, Denemarke en Finland gelykstaan wat ontwikkeling en welvaart betref.

Kyk net wat kon ‘n 1000 Oraniërs regkry. Dink wat 3 miljoen Afrikaners kan regkry.

Haan ·

Afrika sit nog vas in n stamlike (soos die Engelse sê tribal) ingesteldheid. Dis al. So eenvoudig soos dit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.