Is ’n oop gesprek tussen Afrikaners vandag moontlik – anders as in die 1980’s en ’90’s?

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. (Argieffoto: DoC)

Goeie en billike kritiek oor ’n saak is soos die bietjie sand in ‘n oester. Die “irritasie van die sand” skep uiteindelik die pêrel.

Voor 1994 is “sand” (kritiek) op die Nasionale Party-regering dikwels as dislojaliteit, verkramptheid of as regs afgemaak. Veral die Afrikaanse koerante het geen teenstand of kritiek geduld nie.

Hierdie week het die Afrikaanse koerante met waardering oor generaal Constand Viljoen geskryf. Generaal Viljoen wat hom tydens die onderhandelinge in die negentigerjare vir selfbeskikking en die beskerming van die Afrikaner en van minderhede beywer het en besluit het om dit op die onderhandelingstafel te plaas.

Die klimaat in die Afrikaanse koerante in die tagtiger- en negentigerjare was totaal anders as vandag. Hulle het, veral in verkiesingstye, die Nasionale Party-regering onvoorwaardelik gesteun. Teoreties behoort ’n koerant se nuus akkuraat, nuuswaardig, neutraal en aktueel te wees. Die joernalis behoort dus by ’n politieke vergadering slegs die toespraak of gebeure te rapporteer, dit nie te beoordeel nie. Daarvoor het koerante spesifiek ’n hoofartikel en meningsartikels.

Enige toespraak of standpunt wat voor 1994 van die Nasionale Party se “hervormingsdenke” verskil het, is met mening deur die groot hoofstroomkoerante uit die water geskiet. Die persoon wat sulke kritiek op die Nasionale Party-regering durf waag het, is met die teerkwas bygekom en op die brandstapel van die media-geskepte openbare mening verbrand.

Die bekende Afrikaanse denker en skrywer, NP van Wyk Louw, het reeds in die vyftigerjare oor die belangrikheid van die “oop gesprek” geskryf. Hy het dit bewoord as gesprekke waarin jy oor alles kon praat, waar geen standpunt te “gewaagd” was nie en waar die gesprek nooit tot beledigings, twis of woede ontaard nie.

Met ’n verkiesing in die tagtigerjare kry Afrikaanse verslaggewers van die hoofstroomkoerante ’n memorandum oor hoe hulle verslag moet doen. Enkele gedeeltes daaruit:

“Dis seker onnodig om julle daaraan te herinner dat ons koerant hom met geesdrif vir die saak van die Nasionale Party beywer en dat geen genade teenoor ander politieke partye betoon moet word nie.”

“Wat die ander teenpartye betref: ons stel nie belang in wat hulle sê nie. Konsentreer op snaakse karakters op vergaderings: mense wat aan die slaap raak, oproerigheid, en beledigende gedrag.”

“Waar julle voel ‘n Nasionale Party-vergadering het nie veel opgelewer nie, werk gerus ‘n para of twee by om dalk net te sê dit was ‘n geesdriftige vergadering, die verhoog was pragtig versier, noem die name van ‘n paar plaaslike Nasionaliste.”

Die gevolg van hierdie eensydige mediabenadering was dat geen “oop gesprek” tussen Afrikaners kon plaasvind oor alternatiewe oplossings vir ons probleme nie. Ons is almal in twee vereenvoudigde kampe ingedeel. Geen nuanses is toegelaat tussen Willem de Klerk se “’verligte” en “verkrampte” indelings nie. Ongebalanseerde regse denkers se wilde uitsprake is in dieselfde kamp gegooi as meer gematigde standpunte op soek na oplossings.

Natuurlik kon ons in die tagtigerjare nie polities aangegaan het soos altyd nie. Die stedelike swart teenwoordigheid van daardie tyd het ’n totaal ander prentjie van Suid-Afrika geskep as waarmee Verwoerd in die vyftigerjare gewerk het.

Maar gesprekke oor selfbeskikking; oor hoe die internasionale wêreld minderheidsregte hanteer; oor hoe Spanje en Kanada met federasies hul taal en kultuurverskille hanteer; oor die rol van gemeenskappe en oor lokalisme is met een penneveeg as “verkramp” afgemaak en in dieselfde snippermandjie as ekstremiste se kru rassistiese uitsprake gegooi.

Ek is oortuig daarvan dat as die begrippe hierbo genoem, tydens die onderhandelingstydperk in die negentigerjare toegelaat was om deel van die hoofstroom politieke debatte te wees, die Grondwet van hierdie internasionale voorbeelde gebruik kon maak om só beter voorsiening te maak vir die beskerming van minderhede.

Destyds was daar goeie en billike Afrikanerkritiek oor hoe die destydse regering die onderhandelinge gehanteer het. Destyds was daar sinvolle Afrikanerkritiek oor die voorstelle wat hulle op die onderhandelingstafel geplaas het. Hierdie kritiek was die “irritasie van die sand in ‘n oester” wat dalk ’n pêrel kon voortbring; ’n wen-wen-Grondwet waar ons nou ’n wen-verloor-Grondwet het. Destyds is die “irritasie” met minagting en snedigheid deur die Nasionale Party-regering en die hoofstroommedia van die tafel gevee.

Deel van generaal Viljoen, en so ook die Vryheidsfront wat hy help stig het, se nalatenskap is dat hulle oor baie jare en met groot moeite ’n sekere geloofwaardigheid en respek gegee het aan wat die koerante destyds as “verkrampte” politiek afgemaak het.

Maar nou is dit 2020. Dit is moeilik om te voorspel wat die politieke effek van die virus op ons samelewing gaan wees. Skielik is globalisering ’n probleem. Lande sluit hul grense.

Identiteitspolitiek word sterker. Plaaslike gemeenskappe, wat partykeer net ’n woonbuurt en sy WhatsApp-groep is, word gedwing om na hulself te kyk.

Lees Simon Jenkins se artikel in The Guardian oor hoe die virus die klem terugplaas op plaaslike gemeenskappe. Lees Tim du Plessis se voorspelling dat dit “veiliger is om te wed daarop dat die gety aan’t draai is in die guns van Solidariteit en ander se inisiatiewe, ná die lokalisme van gemeenskappe van vlees en bloed.”

Tyd vir ’n “oop gesprek”? Dis nooit te laat nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael 1 ·

Dr Mulder jy is heeltemal reg ek het nie van die vorige regering gehou nie ek hou ook nie van hierdie een nie .Dit het tyd geword om te onderhandel vir n onafhanklik tuis staat nie n Orania wat nog steeds onder die anc regering en wette is nie.Ek praat van n plek waar die leiers bevoeg is om n land te ly,waar misdaad minimaal is waar jy jou kinders in hulle moedertaal en dissipline kan opvoed,waar eiendomsreg gewaarborg is,waar media vryheid bestaan en ware feite gegee word soos dit. Ek praat van n land waar almal aan n sterk ekonomie kan bou sonder onredelike vakbonde en voor ek weer n rasis genoem word ek praat van n onafhanklike tuis staat vir almal wat siek is vir SA soos hy is.

Kosie ·

Wie het in die 80’s vir die verslaggewers vertel wat hulle moet skryf en hoe hulle gebeure moet verdraai? Wie het vir ons dominees in die kerke voorgeskryf wat om te preek en vir wie daar gestem moet word? Die Afrikaner gaan nêrens kom, voor ons nie ontslae raak van die verrotting in ons midde nie. Wat is die verrotting? Dit is die Afrikanerbond (Broederbond) en die Vrye Messelaars wat ons tot hier uitverkoop het. Voor ons nie vrot in ons midde identifiseer en verwyder nie, gaan ons nêrens kom nie.

Cherokee ·

Pieter, jy praat van Tim du Plessis. Onthou ek reg dat hy een van die voorosse was wat met oogklappe agter die touleier aangestap het? Natuurlik dra trekosse nie oogklappe nie, maar liberaliste wel.
Destydse ‘verligtes’ wens nou dat hulle maar verkramp was. Die Vryheidsfront behoort verder uit te reik na die bruin stem, ander sal daar geen groei wees nie.

Tienie ·

Blah blah blah is al wat ek lees.

Ja. Die Broederbond/Afrikanerbond het ons gefaal….

Helizna ·

Die mandaat vir selfbeskikking was vir julle gegee, en hier sit ons nog. Is die sitplek in die reënboognasie se parlement nog gemaklik, dr Mulder?

Pieter J ·

Ek dink Dr. Mulder is van die min politici wat werklik die situasie in ons land verstaan. Hy verdien meer erkenning hiervoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.