Is nuwejaarsvoornemens die moeite werd?

Nuwejaarsvoornemens

Elke Januarie hoor ons van nuwejaarsvoornemens.  Nie net ons nabye familie en vriende verwys na hulle planne nie, maar selfs in Beeld en op RSG vertel deelnemers wat hulle vir die volgende twaalf maande beoog.  Dit maak die vraag aktueel:  Is nuwejaarsvoornemens die moeite werd?

Tussen verskeie vriende en vriendinne, het veral twee jong vroue – Fransie en Lana – die afgelope jaar, die verskil tussen ‘n meer gemaklike en ‘n meer ernstige benadering tot nuwejaarsvoornemens illustreer.  Kom ons hou hulle ‘n oomblik dop.

Op die eerste Maandag in Januarie 2012 trek Fransie haar regterkantste bruin lessenaarlaai oop.  Naby bo ontdek sy vier A4-velle waarop sy presies ‘n jaar vantevore notas in potlood geskryf het:  Nuwejaarsvoornemens 2011.  Hoe langer sy na die papier kyk, des te meer vroetel sy met haar lang bruin hare.  Sy begin hardop lees:

  • Los jou huidige woonstel.  Is onveilig en onaangenaam hier
  • Gaan vir ‘n roetine-ondersoek by ‘n dokter en by ‘n tandarts 
  • Moenie vir ewig by Nedbank werk nie 
  • Spaar geld vir ‘n oorsese vakansie 
  • Hou op sukkel met jou sel; vra Johan hoe werk sy fabulous Apple-apparaat 
  • Moenie elke aand voor die TV lê en videos kyk nie; lees ernstige boeke 
  • Kry ‘n muurbord vir al die foto’s wat Pa en Ma jou gee 
  • Om hemelsnaam:  Maak jou graad klaar; dit word elke jaar moeiliker om die nuwe handboeke te verstaan 
  • Moenie so baie kla dat jy oorgewig is nie; los die hamburgers en gaan swem by Planet Fitness

Fransie lees nie verder as bladsy een van haar ongeordende lys voornemens nie.  Sy val moedeloos terug in haar draaistoel en snap sy het in 2011 by amper niks uitgekom nie!  Hoe is dit moontlik?  Sy onthou ontnugter:  So gaan dit elke Januarie; sy spring weg met baie planne en na ‘n jaar het niks gebeur nie.  Wat het al haar nuwejaarsvoornemens gebaat?

watter stappe maak nuwejaarsvoornemens maklik?

Die minder impulsiewe en meer planmatige Lana, wat tans in Bloubergstrand woon, het aan die begin van 2011 aansienlike méér voornemens as Fransie gelys, maar omdat sy die grondbeginsel begryp – snoei om te groei – het sy haar sterkste behoeftes op slegs een blad aangeteken, en byna almal uitgevoer!  Watter stappe het sy gevolg?

stap 1: lys!

Anders as Fransie, besef Lana dat ernstig bedoelde voornemens dikwels deur onbeplande bedrywighede verdring word.  Om presies te weet wat haar tyd beset, doen sy moeite om deur die loop van die jaar soveel as moontlik van haar aktiwiteite aan te teken.  Omdat sy haar uiteenlopende behoeftes inderdaad reeds deur die loop van 2010 gelys het, was sy nie beperk deur enkele wense wat sy by die jaarwending haastig op papier gegriffel het nie.  Sy het al ‘n lywige bundel gehad.

stap 2: konkretiseer!

Voorts, anders as Fransie, weet Lana presies wat sy wil hê.  Hulle het albei ‘n behoefte aan eietydse kommunikasiemiddele.  Waar Fransie geskryf het:  “Hou op sukkel met jou sel; vra Johan hoe werk sy fabulous Apple-apparaat”, lui Lana se vooneme: “Stop Saterdag by Canal Walk se iStore om ‘n iPad2 te koop en te aktiveer.”  Sy maak haar behoefte dus sowel positief as konkreet, sodat dit plek, tyd en aksie bevat.

stap 3: orden!

Lana vind gou-gou uit:  as sy al haar potloodlysies met bestaande aktiwiteite en nuwe take in ‘n rekenaarlêer tik, word dit ‘n hele bundel!  Blaaie en blaaie vol.  Só?  Om haar weg daardeur te vind, klassifiseer sy haar voornemens volgens hoofdoelstellings.  Dit gebeur in ‘n japtrap, want sy knip en plak dit op haar skootrekenaar.  Sy deel haar take onder breë doelstellings in, soos dié wat byvoorbeeld te doen het met:

Geniet musiek!

  • Leef gesond en fiks
  • Koop besittings en bestuur dit doeltreffend
  • Studeer – vir ‘n kwalifikasie én op jou eie
  • Geniet musiek
  • Beoefen godsdiens
  • Dokumenteer gebeure en neem foto’s en films
  • Voer die opdragte van jou werkgewer pliggetrou uit
  • Gee leiding aan kollegas, oorgeskiktes en ondergeskiktes
  • Berei voor vir aanbiedings oor aktuele kwessies
  • Handhaaf en ontwikkel ‘n opwindende liefdeslewe
  • Skakel deurlopend met jou familie en vriende

Lana besef hierdie is tipiese oorkoepelende doelstellings en is nie geskik as voornemens nie; dis heeltemaal te algemeen, maar dis ‘n noodsaaklike raamwerk.  Vir 2011 het sy onder elkeen van hierdie doelstelling verskeie konkrete voornemens ingeskuif.

stap 4: kies!

Nadat Lana haar bestaande en nuwe behoeftes (in stap 3) binne ‘n sinvolle raamwerk georden het, wik en weeg sy oor en oor en oor aan watter aktiwiteite sy op elke terrein moet voorkeur gee.  Dié skuif sy tot onder die opskrif.  Omdat al die take wat sy in 2010 gelys het, vir haar noodsaaklik voel, verg hierdie stap van beplanning ‘n diep insig in wat werklik vir haar eie selfuitlewing noodsaaklik is.

Diegene wat ‘n begroting uitwerk, het altyd meer behoeftes as hulpbronne, en moet dus heeltyd kopkrap oor voorkeure.  Op ‘n soortgelyke wyse besef Lana, terwyl sy haar nuwe jaar beplan:  sy het veel meer behoeftes as tyd.  Byvoorbeeld:  Binne die doelstelling van aankope het sy vir 2011 minstens dertig items gelys.  Nou worstel sy met wat tans haar grootste behoefte vir die nuwe jaar is:  Moet sy nuwe skoene en klere koop?  Of ‘n JVC-klankstelsel vir haar woonstel?  Of gordyne vir haar sitkamer, met die uitsig op Tafelberg?  Of moet sy ‘n Sony Cyber-shot-kamera aanskaf?  Of ‘n iPad 2?  Of moet sy eerder die ander materiële behoeftes laer af skuif tussen haar voornemens en ‘n Opel Corsa tot bo skuif?  Nadat sy deeglik kopgekrap het, het Lana onder meer skoene, klere en die iPad2 as hoogste voorkeure tot bo geskuif, en dit inderdaad in 2011 aangekoop.

Anders as die onrealistiese Fransie, wat al dikwels aan wensdenkery skuldig was, weet Lana sy mag binne elke doelstelling hoogstens een of twee voornemens uit elke tien, as prioriteite identifiseer, dus, nooit meer as twintig persent nie.  Die ander tagtig persent is býtake.  Sy besef prioritisering is uiters senutergend.

stap 5: fokus!

Om haar beplanning af te rond, kopieer Lana uit elke doelstelling slegs die hoofprioriteite en plak hulle, met ‘n groot glimlag op haar gesig, in ‘n aparte lys op een enkele bladsy, wat sy heel voor sit:  Nuwejaarsvoornemens 2011.  Sy weet:  dis hierop wat sy sal fokus!  Om intellektuele beheer oor haar lewe te kan uitoefen, los sy die magdom take van ‘n laer voorkeurorde egter agter-in die bundel.

Lana begin haar eerste driekamp by die Brandvleidam

stap 6: handel!

Al was Lana bewus van haar minder belangrike behoeftes, het sy haar energie die hele 2011 op haar Nuwejaarvoornemens 2011 gekonsentreer, en die een na die ander bereik, dikwels presies soos sy dit voorheen gevisualiseer het!  Byvoorbeeld:

  • Gooi die simpel Toshiba weg wat al tien jaar oud is!  Dadelik!  Bestel teen April per internet ‘n nuwe breëskermrekenaar – ‘n HP of ‘n HBM Lenovo of ‘n Apple
  • E-pos Virseker oor jou Servelloresiesfiets 
  • Sel Lizette en gaan neem Saterdae deel:  kyk of jy weer die WP-fietryspan kan haal.  Dis moontlik! 
  • Skryf nou al in om in Desember deel te neem aan die Jailbreakdriekamp by die Brandvleidam buite Worcester
  • Vra Michelle en Vinessa om saam met jou by die burgerregte-organisasie AfriForum aan te sluit:  dis ‘n geringe debietorder om te betaal vir vryheidvegters
  • Lees die boeke wat besig is om op jou rak op te stapel, veral: The Clan of the Cave Bear; 13 Uur; Ons was daar; en Hiervandaan
  • En luister, as jy werk toe en terug ry, na oudioboeke soos Bill Bryson se A Short History of Nearly Everything; Kevin Leman se What Your Childhood Memories Say About You; en Jay Elliot se The Steve Jobs Way
  • Gaan stap Paasnaweek met Dirk by Die Baddens suid van Citrusdal.  Hy is mal oor die natuur.
  • Lana en Dirk besoek die gewilde Treviwensfontein in Rome

    Gaan hou in Julie 2011 met Dirk vakansie in Italië, veral in Rome en Firenzi.  (Toe Lana in Maart 2011 ‘n vaardige reisagent in N1-stad se Flight Centre besoek om kaartjies Italië toe te bespreek, hoor sy daar is ‘n spesiale aanbod vir Suid-Europese toere.  Gevolglik gaan maak sy en Dirk toe in Julie 2011 spotgoedkoop ook ‘n draai in die skouspelagtige Suid-Franse Provence!  Dat Lana met verskeie voornemens nog veel meer reggekry het as wat sy aanvanklik wou, is die gevolg van sulke toeval; die lewe werk so:  Hoe meer jy oefen, des te gelukkiger word jy!)

  • Trou voor Oktober met Dirk van Sonstraalhoogte langs Durbanville!  (Hou dié voorneme eers vir jouself.  Dis jou geheim.)

Hoekom kon Lana speel-speel hierdie en ander nuwejaarsvoornemens uitvoer?  Omdat sy die tagtig persent onbelangrike, aandagsoekende en tydrowende býtake besnoei het en hulle dus met selfbeheersing uit haar lewe kon weer.

slotsom

Soos Lana, neem iemand wat sy nuwejaarsvoornemens bereik, outomaties bepaalde stappe.  Hy skryf nie net enkele vlietende wense in Januarie neer nie, maar lys soveel moontlik indiwiduele behoeftes deur die loop van die jaar.

Hierdie behoeftes konkretiseer ‘n indiwidu eers met plek, tyd en aksie, en orden hulle dan volgens omvattende doelstellings soos om gesondheid te bevorder, eiendom te bestuur en ‘n liefdeslewe te geniet.

Waarskynlik die mees senutergende taak is prioritisering:  om die hoogste een of twee uit elke tien voorkeure te kies en die ander te besnoei.  Die tagtig persent besnoeide voornemens mag nooit uit die bundel verwyder word nie, want sodoende verloor die indiwidu intellektuele beheer oor laer prioriteite, wat hom of haar dan op ‘n onverwagte tyd en manier oorrompel.

Die prioriteite word ten slotte as nuwejaarsvoornemens op een enkele blad gelys as die keuses waarop die indiwidu sy aandag deur die jaar sal bly fokus.  Slegs een blad!  Ook Lana het besef:  Om te handel en voornemens uit te voer, is betreklik maklik as jy die selfdissipline het om te konsentreer, met ander woorde, om, tensy dit regstreeks vloei uit ‘n voorneme, nie in onbeplande aksies betrokke te raak nie.

Die vermoë om ‘n voorneme vir jouself konkreet uit te beeld en dit daarna stapsgewys uit te voer, vir een jaar of veel langer, geld natuurlik nie slegs vir ‘n indiwidu nie; dit geld ook vir maatskaplike kategorieë soos vir ‘n gesin en ‘n instelling, ‘n volk en ‘n beskawing.  Al word die eenheid wat handel groter, en die prioritisering en uitvoering dus aansienlik meer ingewikkeld, soos in talle bestuurskursusse ontleed word, bly die elementêre stappe vir sukses onvervangbaar.

Die antwoord op die titelvraag is:  Vir diegene wat kan fokus, lewer nuwejaarsvoornemens verstommende resultate!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.