Is ons besig om kunsmatig ʼn nuwe generasie wit rassiste in Suid-Afrika te kweek?

middelkas

Foto: Iwf.org

Gert Kruger

Ná die die laaste xenofobiese aanvalle in April 2015 wil dit voorkom asof ons land agteruit geboer het ten opsigte van rekonsiliasie tydens die Mandela-era. Regses uit die wit geledere soos Steve Hofmeyer en Sunette Bridges is meer uitgesproke, terwyl radikalisme uit die oord van die EFF ʼn soortgelyke verharding van standpunt ingeneem het. Voorvalle van rassisme op voormalige wit universiteite, van sowel Engelse as Afrikaanse oorsprong en die “Rhodes must fall”- en “Fees must fall”-beweging, is tekens van groeiende frustrasie omdat normalisering van die Suid-Afrikaanse samelewing teen ʼn slakkepas vorder. Asof dit nie genoeg is nie, het die geduld in sommige kringe opgeraak toe die Springbokke begin verloor het.

Ek rig hierdie pleidooi vanuit die agtergrond van ’n tiende geslag wit Afrikaan in Suid-Afrika. Ons voorgeslagte en my generasie het aktief deelgeneem aan elke interne and eksterne konflik oor die afgelope 300 jaar, soms aan opponerende kante (Smuts en die 1914 rebellie). Ons staan nie bekend as mense wat weghardloop vir ons probleme nie. Ons mense is hardkoppig en droë wit menslike gebeentes is soms nodig voordat ons besef dat almal (swart en wit) in die hiernamaals gelykes is. Meeste van ons erken dat apartheid verkeerd was en ondanks hardnekkige ontkenning van sommige, het baie van ons sover gekom om openlik vergifnis te vra vir die pyn en lyding wat apartheid veroorsaak het. Ek wil graag glo dat die meeste van ons onsself en ons kinders sien as deel van die toekoms van Suid-Afrika en Afrika as geheel.

Durban is waarskynlik die geïntegreerdste en vriendelikste stad in Suid-Afrika en dit was opmerklik dat ons kinders tot op ouderdom vyf of ses jaar nie tussen Indiërs, swart of wit mense onderskei het nie en almal gewoon oom en tannie genoem het. Ongelukkig verskyn daar onvermydelik hindernisse in die weg van opvoeding van ons kinders in die nuwe Suid-Afrika, ten spyte van die relatief bevoorregte omstandighede wat baie van ons steeds geniet. Party van die uitdagings is subtiel, maar waarskynlik baie ernstiger as wat ons besef. As gevolg van statistieke is die algemene voorkoms van misdaad in Suid-Afrika swart. Almal van ons het eerstehandse ervarings of ons het familie en vriende wat slagoffers was van alledaagse misdaad en selfs uiters wrede aanvalle. Hierdie realiteite en ook “onregverdige” regstellende aksie, ten spyte van algemene konsensus dat ongelykhede van die verlede reggestel moet word, veroorsaak te veel negatiewe gesprekke rondom braaivleisvure. Dit word ongelukkig waargeneem deur ons kinders, ook daardie private gesprekke van ʼn ongelukkige ouer wat oor die hoof gesien is vir ʼn meer onervare persoon met die regte kleur. Kinders het ʼn fyn aanvoeling vir regverdigheid en hulle kom soms hoogs ontsteld tuis ná belewing van onreg tydens sportproewe. Die ouer jeug is sat daarvoor om deur gedurig met apartheid gekonfronteer te word, omdat hulle voel dat hulle niks daarmee te doene gehad het nie. Die ongelukkige aftakeling van Afrikaans aan universiteite wat deur ons voorvaders opgebou is, skep ook ʼn toenemend vyandige atmosfeer vir ons opgroeiende kinders. Wie kan die invloed van hierdie blootstelling op die psige van ons kinders deurgrond?

My honneursstudente, waarvan meer as 95% swart en Indiërs is, het onlangs vertel hoedat die lewe buite die universiteit krioel van korrupsie en omkopery. Bestuurslisensies, verkeersoortredings en werkgeleenthede in die staatsdiens is daagliks blootgestel aan verskeie vorms van korrupsie. Geen wonder nie dat emigrasie van die swart middelklas deesdae ʼn ongemaklike realiteit is.

Ek aanvaar dat ouers uit die middelklas moeite doen om hul kinders onder hierdie uitdagende omstandighede reg op te voed en broodnodige perspektief te verskaf ten op sigte van die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing. Swart op swart misdaad is veel hoër as swart op wit misdaad en sindikaatleiers is meer dikwels wit mense en Indiërs. Die feit dat misdaad ʼn swart gesig het is gekoppel aan ʼn statistiese werklikheid in ons land waar omtrent 90% van die bevolking swart, bruin en Indiërs is, tesame met die ongelukkige toestand waar werkloosheid ongeveer 30% beloop.

As gevolg van die sistematiese en sistemiese ongeregtighede van die verlede is dit onrealisties om regstellende aksie in geheel te verwerp, selfs as omgekeerde diskriminasie tans as gevolg van die blindelingse implementering daarvan deur ʼn nuwe generasie oorywerige burokrate aan ons afgesmeer word. Hoewel die normalisering van ons sportspanne nie daadwerklik sal verander voordat die regering begryp dat ingryping en befondsing op laerskoolvlak nodig is nie, is dit noodsaaklik dat ouers hul kinders opvoed omtrent die opvatting dat 90% van die bevolking nie in staat sou wees om 50% of meer van ons provinsiale en nasionale sportspanne te vul nie. Só ʼn siening is inherent op naakte rassisme geskoei. Net so is die algemene siening dat transformasie noodwendig gedoem is tot ʼn verlaging van standaarde die gevolg van rassistiese ondertone; ten spyte van veels te veel voorbeelde waar dit jammerlik misluk het (verwoesde plase na grondhervorming, Escom, SAA).

Drie toonbeelde van hoogs suksesvolle normalisering van Suid-Afrikaanse instansies is die banke, die departement van binnelandse sake (hernu ID’s en paspoorte by banke) en die suksesvolle samesmelting van die UKZN. Kort ná die samesmelting in 2004 was die UKZN sesde op die lys ten opsigte van bruto navorsingsuitsette. In 2013 het die UKZN die eerste keer ander universiteite soos UK, Wits en UP uitgestof (almal bekend as groter universiteite). Let wel dat ʼn per capita-analise van navorsingsuitsette ʼn beter maatsaf is en dat kleiner universiteite soos Stellenbosch, Rhodes and UJ dan meer prominent presteer. Daarna het die navorsingsuitsette van die UKZN sodanig toegeneem dat die universiteit se voorsprong in 2014 en 2015 verder vergroot het. Aangesien die UKZN sekerlik die mees getransformeerde universiteit in Suid-Afrika is, sal hierdie voorsprong in die afsienbare toekoms verder vergroot; ook omdat die vernaamste mededingers ongelukkig hulle verantwoordelikheid in dié verband verwaarloos het. Hoe langer hulle hiermee sloer, hoe moeiliker sal die proses wees, en hoe meer skade sal die navorsingskulture op hul onderskeie kampusse skade ly.

Die vraag is of die relatiewe suksesverhaal van die UKZN (met die wete dat veel meer nog gedoen moet word) en die amper ondenkbare onlangse aanstelling van ʼn Afrikaanse rektor, uitsluitlik op meriete, kan dien as ʼn uiters belangrike katalisator vir die res van die land. Is die droom van ʼn genormaliseerde samelewing binne ons bereik? Ek sien uit na die dag wanneer ons mense kan aanstel volgens meriete, ook waar ons sportspanne op meriete alleen gekies kan word.

ʼn Vuisvoos regering (as gevolg van selfsugtige Zumafikasie op alle vlakke) behoort kennis te neem dat die lof vir die gedeeltelike sukses van die UKZN die visionêre leierskap van minister Kader Asmal uit die Mbeki-era toekom (met al sy ander mislukkings soos die MIV/vigs-ontkenning en Eskom), aangesien hy die samesmelting geïnisieer het.

Ek lees Sowetan die afgelope 30 jaar gereeld. Gedurende die 1980’s was ons verteenwoordigend van twee politieke uiterstes. Deesdae kan ek my met ongeveer 90% of meer van die standpunte in dié koerant vereenselwig. Dit is ook gerusstellend dat vele swart joernaliste gematigde sienings handhaaf oor ongemaklike sake soos xenofobie, rassisme, “Rhodes must fall”, korrupsie en selfs transformasie in sport. Gedurende die afgelope jaar het ek verskeie kere langs persone uit die swart middelklas gesit op vlugte tussen Johannesburg en Durban. Ons stem grootliks ooreen oor hierdie sake. Terwyl sekere meer radikale groeperinge in ons land ongetwyfeld die rug keer op rekonsiliasie, het die lewensuitkyk van die middelklas ongesiens die afgelope dekade of meer grootliks begin konvergeer. Ongelukking het my nuwe vriende uit die swart middelklas nog nie die gevaar ingesien dat Zoeloe as taal binne ʼn halfeeu ernstig bedreig gaan wees nie, as gevolg van hul slaafse keuse vir Engelse opvoeding en ook die invloed van ʼn globale televisiekultuur. Ek hoop van harte dat ou wonde mettertyd sal heel sodat ander taalgroepe dit sal oorweeg om by die Afrikaners te leer in dié verband. Dan is dit seker nie verbasend nie dat ons ook heelhartig saamstem oor sake soos e-tol en die rol wat dit waarskynlik in die politieke toekoms van Gauteng gaan speel.

Ons vertrou dat die leiers in ons regering dringend kennis sal neem van die kompleksiteit van die rassesituasie in ons land en dat hulle sal terugkeer na die verantwoordelike beginsels van staatmanskap wat Nelson Mandela toegepas het, sodat Suid-Afrika ʼn huis vir al sy Afrika-kinders sal wees. Mag ons nie net die dag beleef wanneer die gematigde middelklas die keuse “ander” uitoefen as die “normale” aansoekvorm aandring om jou ras te beskryf nie, en dan trots verder “menslike ras” in te vul; maar mag ons ook die dag sien wanneer hierdie obsessie oor ras normaliseer om aan te pas by die wetenskaplike realiteit dat die gene wat verantwoordelik is vir die kodering van die uiterlike verskille wat ons by mense waarneem, minder as 0,01% van die totale menslike genoom beslaan.  Ons is uit een bloed.

Die gesonde toekoms van ons land rus op die skouers van die middelklas en verantwoordelike private maatskappye om die mite dat transformasie noodwendig ʼn verlaging van standaarde aan die orde bring, die nek in te slaan. Die proses sal versnel as meer universiteite die voorbeeld van die UKZN volg, terwyl laasgenoemde sy leierskapsrol behou deur onverpoos te streef en te werk om ʼn leidende Afrika-universiteit te wees. In die afwesigheid van verantwoordelike staatsmanskap in die ANC-beheerde regering, lê daar ʼn  geweldig belangrike verantwoordelikheid op die wit middelklas (en waarskynlik ook Indiërs en bruin mense) om te voorkom dat kunsmatige en sistemiese faktore daartoe lei dat ʼn toekomstige geslag wit rassiste in ons huise as gevolg van komplekse sosio-ekonomiese en swak politieke leierskap in die nuwe demokratiese Suid-Afrika gekweek word.

  • Gert Kruger is verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Durban.

Eposadres: [email protected]  URL: http://www.researcherid.com/rid/B-1687-2009  

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

33 Kommentare

Knersus D ·

Gaan ons regtig saam in die hemel wees? Ek wonder of Hofmeyr en Bridges dit weet? Nou wonder ek regtig of hemel gaan hemel wees dan…

Gideon Jones ·

Gert, ek is bly oor jou positiewe siening en rasionalisering van die Afrikaner se posisie in die huidige Suid-Afrika. Ongelukkig verskil jou realiteit met baie ander Afrikaners s’n wat die skerp en slegte kant van die wonderlike land daagliks ervaar. Jy klink vir my baie soos McMillan wat Hitler se waarborg op papier omhoog gehou het met die woorde “peace in our lifetime”. Kort daarna val Hitler Pole binne. Jy glo aan vrede tussen wit en swart – Kain en Abel was broers, en daar was moord tussen hulle.

Maryna ·

kan jy asb die brief vertaal in Zulu gee dit vir Zuma om te lees in Parlie in sy eie Zulu taal dan vra vir hom of hy dit verstaan en kan hy asb antw gee daarop in dien nie moet hy bedank want soos n kind opkyk na die ouer so kyk n nasie op na n president MAAR ongelukkig leer die nasie die slegste van die slegste van ene Zuma !

Reinhardt ·

Fantastiese skryfstuk Gert! Ek kon dit nie beter bewoord het nie. Ek praat net laasweek met ‘n Xhosa kollega (siviele ingenieur) van my oor die taalbeleid op universiteite. Dit het my toe vreeslik verstom toe hy nie die erns van die saak kon insien nie. Oor hoe belangrik moedertaal onderrig is vir ‘n kultuur en ‘n taal se vooruitgang. Toe ek vir hom vra of hy nie liewer alles in Xhosa sou wou leer nie was sy antwoord eenvoudig: “Nee, want almal verstaan Engels.” My mond het amper oopgeval.

Maddox ·

Aan die skrywer:
Na 21 jaar probeer julle nog steeds hierdie mandelatopia goedpraat, ten spyte van die feit dat die hele land in ‘n katastrofiese gemors is, en niks sal verbeter nie. Nee dit gaan net 1000% slegter word. Maar hou maar aan om te vertel hoe alles die wit man se skuld is, ek is seker iewers is daar nog ‘n brein gestremde wat jou sal glo. Die res is besig om wakker te word.

Paul ·

Ek is so bly om darem een stem van realisme te hoor. Die ander ouens sal eendag agterkom dat die madiba wat hulle regop probeer hou lankal dood en vrot is .

Johan 2 ·

Dankie Maddox…die ou is vas aan die slaap. Hy sal ook nog een nag wakker skrik in sy madibatopia met n pistool teen sy kop, en raai wat dan gaan jammer sê vir apartheid hom niks help nie….droom maar lekker Gert.

Peter ·

Ek dink baie van die mense wat hier so kla moet naweek of so in Brooklin se arm gebiede in die VSA deur bring en kyk of hulle dink hulle lewe is so in gevaar of hulle het so slegte lewe. Die gemiddle wit persoon hier in Suid Afrika het beter lewens standart as die meeste ander minderheids groep in die werld. Die probleem met Afrikaners is dat ons het soveel tyd om te kla plaas daar van om ons tyd te gebruik om iets daar omtrent te doen. Raak liewers by jou gemenskap betroke en bou hom op as om hier te sit en kla oor alles wat verkeerd is. Ons as Afrikaners glo to vandag to nog dat dit is die reggerings se werk is om my self en my afrikaner groupie mense op te bou plaas daar van dat ons dit self doen. Ons kan in ons taal fees hou, kerk toe gaan en by die huis praat. Niemand kan dit keer of probeer did keer. As ons saam staan agter projekte soos Solidariteit se Universiteit sal ons kinder tot in hulle eie moeder taal kan naskoolse onderrig kry maar nee ons gaan hier op n hoopie sit en kla wand did is mos die staat se skluild en hulle moet dit reg maak. Die afrikaner vandag gaan agteruit nie weens die staat nie maar weens die vuit dat hy net kan kla en niks doen en die handjie vol wat probeer word afgekraak want hulle is nie regte Afrikaners nie weens die vuit dat hulle sit en kla or die staat nie maar probeer its uitrig.

Koos ·

Gert ek was regtig verbaas om te sien jy werk vir die universiteit wat jyself as ‘n sukses beskou, wie sou nou kon raai. Stem saam met van die goed wat jy kwytraak maar ek sal net wil uitlig waarmee ek verskil. Jy gee voor dat ras sommer ‘n nikseggende konsep is agv ‘n klein variasie in die gene. jy kon nie meer verkeerd wees hieroor nie. ‘n mense en ‘n muis deel 97% dieselfde DNS , ‘n mens en ‘n piesang 50%. Om DNS te gebruik om so ‘n wyse is dus ‘n groot fout. Dis algemeen bekend dat sekere rasse meer vatbaar is vir sekere siektes en medisyne, weens die verskille in DNS. Dis algemeen bekend dat sekere rasse beter presteer in sekere sportsoorte weens verskille in DNS. Bv witmense sal weens DNS nooit weer die 100 meter naelope kan wen nie. Ek kan so aangaan op basies elke fasset, van geslagsorgaan grootte to breinmassa tot ouderdom waar pupuriteit bereik word. DNS sal ook verantwoordelik vir 70% van die verskille in IK . IK is ‘n baie belangrikke maatstaf omdat dit baie akkuraat ‘n jong persoon se suksesse in die lewe kan bepaal. Dit bepaal ook ander veranderlikes soos hoe vatbaar mense is om risiko’s te neem, die kanse om tronk toe te gaan ens. Baie belangrik dit bepaal ook jou inkomste tot op ‘n sekere vlak. Jy sal vind dat in Amerika wat grootliks nog wit is, die Asiers se gemiddelde inkomste die hoogste is. ( Oos-Asiers se IK is omtrent 3 punte hoër as die van blankes). Ras speel dus ‘n enorme rol in die samelewing. Die tweede fout wat jy maak is om apartheid met ‘n swart en wit kwas te wil verf as “reg” of “verkeerd”. My groot probleem met mense wat erken dat apartheid verkeerd was is dat hulle maak iets van apartheid wat dit nie was nie. Bv. swartmense is opvoeding ontneem, daar is algemeen teen swart mense in die werksplek gediskrimineer en dis waarom swart mense vandag arm en onopgevoed is. Dis growwe veralgemenings wat van “apartheidsondes” ‘n klug maak. Die opvoeding stelling sou slegs reg gewees het indien swart mense ‘n hoër opvoedingspeil gehad het voor apartheid (voor 1948 of dalk selfs voor 1910) wat ons weet nie die geval was nie. Werksreservering was maar van toepassing op sekere ambagte in die mynbedryf vir ‘n baie kort tydjie. Soos os weet uit ander multi-rassige samelewings soos die VSA en Brasilië waar daar geen rassewette ( aldus nie wat wit mense bevoordeel nie) vir ‘n baie lang tyd was nie speel DNS die belangrikste rol ( soos die oos-asier blanke IK en inkomste bewys). Ek sou dus sê, ja apartheid was verkeerd omdat dit nie menswaardig is dat mense apart op ‘n bus moet ry nie, of dat mense aparte toiltte of skole moet gebruik nie. Maar die growwe veralgemenings en leuens van die gevolge van apartheid is net te veel vir my.

Henry ·

Gert, ek dink dat Koos tot ‘n groot mate dieselfde standpunte huldig waarmee my pelle en ek onsself so lank terug as die sestiger en sewentiger jare vereenselwig het.
So tragies dat ons die Transformasie windmeulens moet bestorm met behulp van die agtergeblewe vermoëns van die Natalse universiteit waar die Laagste Gemene Deler (LGD) klaarblyklik die belangrikste maatstaf vir akademiese “uitnemendheid” is.

Zach Coetzee ·

RW Jonston beweer van die teendeel oor UKZN, nl dat die transformasie in bestuur tot heel onlangs die institusionele kultuur en akademiese diepte ge-erodeer het en dat daar ‘n skuldlas van by R1,8 miljard opgebou het. Hy treur openlik daaroor in sy stuk:”The myth of transformation” op Politicsweb. Die verrassende aansteling van ‘n Afrikaanssprekende was myns insiens gerig op die redding van die byna verlore saak. Ook weet ek persoonlik van Departemente wat tot ‘n paar jaar gelede leeggeloop het van kundigheid en dit wyd betreur is. Graag hoor ek meer van die deugdige suksesverhaal van die instelling, wat voorgeloop het met entoesiastiese transformasie vanuit die ou liberale vertrekpunt van: “Change is good”- ‘n stelling wat ek tot vervelens in my jeug in Durban moes aanhoor van dieselfde mense wat nou beweer dat die ‘change’ nie so ‘good’ was nie.

Gerhardt ·

Jammer maar UKZN se studente kry nie werk nie ou. So “navorsingsuitsette” ten spyt, wat van kwaliteit opleiding?

Dan, hoekom MOET ‘n sportspan sekere kleur hê? Hoekom is Tiger Woods swart en Ernie wit? Of moet ons hulle kleurlinge maak?

Sarie ·

Ek is bly as dit so goed by die UKZN gaan. Ongelukkig lyk dit of die blanke Engelssprekendes nog nie van die uitnemendheid van die universiteit bewus is nie, want hulle oorstroom die Universiteit van Stellenbosch en neem die plek van bruin Afrikaanssprekende agtergeblewende potensiële studente in die Wes en Noord-Kaap in.

Dewald Alberts ·

Ek hoop `n menigte Suid Afrikaners van alle kultuurgroepe kan hulself in `n neutraal genoeg denkspasie plaas en hierdie lees, `n paar keer, dit is aangenaam om te vind ek voel nie alleen so oor ons land nie. Alles draai om syfer agenda`s, hetsy geld of siele…maak nie saak onder watter dekmantel dit versteek word nie. Ons het `n wonderlike land, met wonderlike mense.

FC ·

Goeie kommentaar. Ek het nie geweet dat Steve Hofmeyer regsgesind is nie ? Volgens jou eie opermerkings moet jy en die joernaliste by die Sowetan dan ook mos regsgesind wees. Hulle spreek hulle dan uit teen rassisme, korrupsie ens. Of is die onderskeid dat jy regsgesind is wanneer jy jouself uitspreek teen plaasmoorde ?
Jou opmerking oor Zoeloe as taal wat bedreig gaan wees binne 50 jaar het ek nog nie gehoor. Is daar enige navorsing wat dit bevestig ?

Maddox ·

FC,
Jy is net regsgesind as jy opstaan vir die wit man of enige iets wat met sy kultuur of lewenswyse te doen het, altans die liberale. Jy kan bomme plant en wittes op plase vermoor, dan is dit nie ‘n problem nie, maar behoed jou as jy opstaan vir blankes en hulle regte.

Dawie ·

Puik gestel Gert. As ons publiek net kan insien hoe die media daagliks openbare mening manipuleer en liewers die waarheid gaan soek. Alles word mos vir soetkoek opgevreet. Ons verhoudings met mekaar sal ook radikaal beter wees. En hier praat ek van alle kante van die spektrum want almal het ‘n agenda maak nie saak hoe onskuldig nie.

Frans ·

Eerder asom ‘afsonderlike ontwikkeling’ later apartheid voor die voet as net sleg en asom ‘n misdaad teen die mensdom te veroordeel moet eerder vasgestel word waarom die opheffing van mense misluk het.

Die Apartheidprobleem het nie ontstaan toe die NP aanbewind gekom het nie.Daar was omtrent 50 stukke wetgewing van 1856 en pogings tot wetgewing voor die tyd.

Daar is bv gepoog om die Mixed marriages act is bv reeds in 1937 op die wetboek geplaas te kry.Die Wage amendment act van 1930 was ‘n voortsetting van die 1925 wetgewing. Die wetgewing het sekere ambagte net beperk tot Blankes.

Toe die NP dus aanbewind kom was daar reeds ‘n stewige onderbou van apartheidwetgewing ,dus ‘n fondament waarop verder gebou en uitgebrei kon word.Dat nie almal met die wetgewing gediend was is duidelik uit daarvan getuig die totstandkoming van die ANC op 8 Januarie 1912 duidelik.

Die Organisasie het gegroei omdat die dat die verskillende sg ”African Kingdomds’ deur die Britte verslaan is tussen 1860 en 1900, wat gelei het tot ‘n oproep om saam te staan omdat verdelldheid tot die ondergang gelei het.

Die tot standkoming van die Unie van Suid Afrika agv onderhandelinge tussen Blanke strydende magte het verder tot frustrasie en opstand van die swart bevolking gelei.

Die beleid van selfstandige ontwikkeling was dus van die begin af gedoem want daar moet ten minste gewillige deelnemers aan weerskante van die beleid wees.Waar sommige Munisipaliteite soos bv die Stadsraad van Benoni geesdriftig deelgeneem het en ‘n moderne dorp vir sy tyd tot standgebring het was ander Munisipaliteite minder geesdriftig
en is werkers gehuisves in wat nie anders as krotwoonbuurte beskryf kan word.

Dit niestaande die feit dat die NP regering ernorme bedrae in die vorm van goedkoop lenings vir die doel beskikbaar gestel het. Waar teen 1974 na mislukte streeksrade tot ‘n mate van onafhanklikheid van swart Owerhede gelei het,het korrupsie soos vandag begin hoogty vier nie net deur swartes maar ook blankes wat in die organisasies agtergebly het.

Hierdie mislukte stadsrade is later ingelyf by blanke stadsrade wat later saamgevoeg is om die huidige metropole te vorm.

Waar wetgewing in die verlede dus die Blankes bevoordeel het is die ANC besig met ‘n soortgelyke beleid deur RA en SEB.Dit moet dus duidelik wees dat beide beleide tot frustrasie lei. Waar die minderheid dus in die verlede deur wetgewing teen oorheersing van die meerderheid beskerm is ,word die meerderheid nou teen die sg. bedreiging van die minderheid beskerm, want die een het tot swart opstandelinge gelei en die huidige tot wit opstandelinge.

Die oplossing van Suid Afrika se probleme is dus nie te vinde in een van die beleide nie. As ek kyk na die houding van privaat instansies soos bv Absa wat sy borgskap aan die Bokke ontrek het omdat transformasie blykbaar te stadig plaasvind en sy kanse om vet regeringskontrakte te bekom in die wiele ry ,lyk dit nie of die oplossing daar te vinde is nie.

Dit lyk dus vir my dat almal dit min of meer eens oor die probleme wat Suid Afrika kniehalter maar dat daar groot onenigheid oor die oplossings is , as ek kyk na die groot aantal politieke partye wat deelneem aan Nasionale verkiesings.

Therese van Schalkwyk ·

Wanneer ‘n meningsvormer die geykte woorde “swart op swart misdaad is veel hoër as swart op wit misdaad” uiter, stol die bloed onmiddellik in my. Hoeveel keer nóg gaan die ongebreidelde aanslag deur sommige lede van die swart meerderheid op die wit minderheidsgroep in SA op hierdie manier vergoeilik of ‘weg-verduidelik’ word?
Dit is myns insiens onvergeeflik en ek sal my nooit met hierdie denkwyse kan vereenselwig nie. Lees daarom die res ook met ‘n knippie sout. Die Ja-stem meer as twee dekades gelede was veronderstel om ‘n taamlike duidelike aanduiding te wees van die mate van berou oor die lyding van apartheid. Dalk is die Suid-Afrikaanse samelewing reeds “genormaliseer”? Die statistieke wys dit mos, of hoe?

John ·

As ‘n mens teen 100 km ‘n uur in ‘n muur vasry slaan hy jou terug teen 100 km per uur. Dis ook waar dat ‘n ultra linkse groepering altyd ‘n ultra regse groep tot stand roep. In die Suid-Afrkaanse politiek geld dit ook, buiten dat die ultra linkse bewegings bly skree dat hulle ultra aksies en gevoelens eg en reg is maar dat die teenpool, boos is en op die brandstapel hoort. Net die een groep het regte en die ander groep net verantwoordelikhede. Dis interessant hoe daar deur die geskiedenis diegene was wat skuldgevoelens by die Afrikaners probeer kweek. Nou weer moet Afrikaners soos honde voel as hulle Afrikaans wil behou; vir meer as 300 jaar het die Britte gespot met die taal van die Boer, en wat het hulle reggekry? Daar is mense wat belangrik voel as hulle Engels besig, hoe krom en skeef ook al. Doen so voort. Die Afrikaners gun julle die vervreemding van julle eie kulture, as dit jul hartsbegeerte is.

chrisp ·

Ag nee regtig wat.
Ek kan so baie van die punte hierbo ongeldig bewys dit is net nie waar nie,maar Koos het al so ‘n paar sommer met die intrapslag uit die water geskiet.Ek laat dit dus maar daar.

Al wat ek vra is. Sou apartheid vandag op die Afrikaner toegepas word/ op presies dieselfde manier ,die uiterse swak dele(strande treine hotelle ) ja selfs die pasboek wat maar eintlik ‘n paspoort is. Ook die enorme geldelike bydrae van die ou RSA regering wat vandag die ANC is aan die tuislande, nou die Afrikaner tuisland l.Sou ons agteruitgaan?Ek glo nie ek dink ons sal dit verkies, ekself sal.
Indien ons(Afrikaner) dan vooruit sal gaan het apartheid niks met die hele reenboog RSA gemors te doen van die ene Madiba wat Gert so ophemel nie.Omdat jy die hele apartheid stelsel as boos verklaar(dat daar bose wetgewing was is gewis) beteken nie dit is of was net boos nie.Inteendeel die hele Europa is besig en gaan nog baie meer besig word om die reenboogdroom van soveel liberales te ontbloot vir dit is ,nl ‘n verterende moordende vuur. Gaan kyk gerus wat in Swede aangaan met verkragtings.Wat is die rede Gert dink jy?Dalk apartheid?

FT3 ·

Dankie Crisp en ander – ook verheug om te sien ons mense raak goed bewus en moeg warm oor die media indoktrinasies.
Wat my steeds ERG verbaas is dat geeneen vra waarom apartheid in die eerste plek ontstaan het nie. Het ons voorouers ( soos ons familie Skots, Duits en Franse bloed) nie hier aangekom in ‘n ongerepte land om in vrede te lewe met weinig bevolking en met geen een moeilikheid gesoek
nie..? Was ons nie gedurig aangeval, beroof en vermoor nie.? (lees gerus as voorbeeld Albert Schweitzer se skrywes oor Afrika & terloops, die eerste sensus vir suider-Afrika deur die Britte geloots in 1907 het aangedui daar was 1,23m blank en 3,1m swart inwoners in die totale gebied Suid Afrika, Swaziland, Lesotho, Noord- en Suid Rhodesie’ en Suid-Wes. ) So waar kom die talle nou vandaan..? Maar wou Verwoerd nie juis verhoed dat geen een volk meer oor ‘n ander heers nie want geen een stam of volk kan aanspraak maak dat hy die gebied oorspronklik besit het nie. Wou ons oudstryders nie juis verhoed dat ons ooit weer uitgebuit en verarm word soos die Brit herhaaldelik aan ons gedoen het nie.? My Skotse ouma was in ‘n Britse konsentrasie kamp met haar ma en sussie – een rokkie en bitter min om te eet tensy dit vrot kos of bullybeef met glasstukkies was wat sy eers moes uitkrap; geen huis om na terug te keer nie.. het ons mense dit ooit aan enige ander sterfling gedoen? Waarom het ons nie betoog vir gratis almoese en restitusie geeis nie? My hele loopbaan deur Helpmekaar en RAU met ‘n mediese fonds was alles deur my ouers betaal of deels self gedoen met sakgeld wat ek begin verdien het met werkies wat ek gedoen het sedert standard 6; my eerste langbroek en formele skoene ook eers in standard 6 ontvang. My oupas aldan al my voorouers het niks gratis ontvang nie, hul plase en huise was belas met bank- verbande, so waarvoor moet ons verskoning vra?! Vir die subsidie op bruinbrood of treinry wat tot almal se voordeel was.? Asb vertel my!! Is ons Afrikaners nie juis die slagoffers van Britse Imperialisme en swart swerfstam-moorde en plundering nie? Is ons as Suid Afikaanse gemeenskap nie immers in wese gehoorsame, geordende, goedgelowige, naiewe Christene gewees (en seker steeds is wat beskou word as ‘n swakheid) wat weer onderdruk en uitgemoor word (self ook waarskynlik weer met ‘n paar bloedgenote se samewerking) tot ons weer opstaan en terugveg MAAR dat ons as volk ONSKULDIG is aan enige wandade uit enige verlede. Buitendien, hoe kan ‘n hele volk soos ons, werklik verantwoordelik gehou word vir die ‘verkeerde’ optrede of onpopulere rigting/s wat die land se leiers gekies het.? Benewens dit het ons voorouers altyd na enige armlastige omgesien en het altyd altyd omgesien na hul werkers en hul kinders – nooit ‘n honger siel sonder klere of ‘n dak nie. Maar vir 300 jaar was ons onderdruk, misbruik, uitgebuit en misken deur die Brit en sy swart meelopers en steeds besteel en vermoor maar ons vergewe en gaan voort sonder vergelding – net soos die ou Afrkaner Os wat jy kan druk en stoot tot hy genoeg gehad het, dan stuit jy hom nie, al beteken dit sy einde.
Wat ek egter moet toegee is dat daar te lank steeds fout bestaan met die beheer van monopolie’ en eienaarskap van strategiese instellings.
Ongeag bly ons primere hunkering net om in vrede te leef sonder bedreigings, om ons lewens en kultuur as volk te geniet en te ontwikkel sonder ondermeining van verlopers en verraaiers en om ons met rus te laat om te floreer in ons eie rigting. So, as dit nie anders kan nie, gee ons dan soos Crisp uitwys, ‘n eie ‘tuisland’ en los ons met rus. Maar helaas, soos ouma gese’ het, ons kannie argumenteer met ‘n ‘siek’ brein of een wat satan se listigheid dra nie.

tamboti ·

Ja Crisp, ‘n Afrikaner tuisland sou uitstekend werk – dit gebeur reeds op Orania wat steeds groei, maar die ANC sal nie waag om dit toe te laat nie wat dan kan bewys word dat ‘n volk in hul eie land suksesvol kan wees sonder om iemand anders te blameer vir moeilike omstandighede.
Gert Kruger: om verskoning en vergifnis te vra vir iets wat ek self nie gepleeg het nie is totaal sinneloos, en wat in jou oe verkeerd is, nie in myne nie. Al reken jy die meerderheid dink so – die meerderheid is nie altyd (min) reg nie! Jy en die meerderheid kla dan so oor die baie probleme in die NSA maar jul sal hardnekkig nie erken dat dit nie gewerk het nie.
Apartheid is nie die rede of verskoning van misdaad nie, moraliteit is die ding wat misdaad voorkom. Jou geleerde en middelklas vriende moet dit eers erken en dan sal dinge verander. Al is almal selfde vlees en bloed, ons waardes verskil. Armoede is ook nie die groot sondebok nie, as dit was, moes 90% van Afrikaners vandag almal misdadigers gewees het!
Lees FT3 se brief en glo dit, my pa wat nog leef het as kind nog met ossewa getrek en geen gunsies van staat gekry, nie eers die grond waar hul gebly het, en later verloor het a.g.v. landswette! Self in daardie tyd het blankes gevrees dat ‘n swart man nie met enige simpel grief hul by die polisie moet gaan aankla nie, want hul was toe reeds “Royal Game”
Die gesig van misdaad is wel swart omdat apartheid beskuldig word as oorsaak van al SA se probleme en as oplossing moet alle Afrikaner instelling/belange/welvaart afgebreek word. As jy dit nie besef nie gaan jou kinders gelukkig dit wel beleef, en hul gekleurde vriende ook. Apartheid is dood maar diskriminasie nie.

Dee Altenburger ·

Ai, ai, ai, Maroela Media, ek stem heeltemal met Maddox. Die artikel is bewys dat Maroela Media nooit lees wat in die land van Suid Afrika aangaan nie. Ek sal hierdie artikel nie deel nie, dis net pure onsin.

Suné van Heerden ·

Dagsê Dee

Dankie vir jou terugvoer. Ons stel dit egter baie duidelik bo-aan die berig:
“Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie.”

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Henry ·

Dee.
Indien jy slegs artikels wil lees wat met jou lewensbeskouinge ooreenstem, is Maroela waarskynlik nie ‘n tuiste vir jou nie.
Mag Maroela nooit huiwer om sy lesers aan die verskillende standpunte bloot te stel, wat hierdie planeet se inwoners tipeer nie.

Herman ·

Ja, dis baie maklik om in 2015 terug te kyk en Apartheid oor die kop te slaan. Maar wat sou ‘n mens in 1948 of 1962 of 1977 of 1980 gevoel het. En ja, rassisme het ‘n rol gespeel in Apartheid, maar daar is ‘n paar goed wat mense uit die oog verloor:
1) In 1960 was daar 5 lande in Afrika wat ‘n wit/ Europese bevolking van meer as 250,00 gehad het. In 1982 was dit 1 (Algerie, Mosambiek, Angola, Rhodesia/ Zimbabwe en SA). Afrika het Europeses uitgespoeg. In baie gevalle moes mense vlug met wat hulle in ‘n tas kon pak. Baie mense het ‘n lewe se bates en werk agter gelaat in 1 dag.

2) Dekolonisasie het gewissel van moeilik (bv. Uganda & Kenia) tot gaos (Belgiese Kongo). Dit was baie maklik vir mense in Europa & Noord Amerika om vir wit Suid Afrikaners te se “moenie bang wees nie”, maar in Afrika was dinge baie nader. Baie mense het Apartheid/ NP ondersteun want hulle het geglo dat dit is die enigste sisteem & regering wat ‘n beskawing sal kan handhaaf in Suid Afrika. Kom wees maar eerlik, die meeste Afrika state was (en is) nie a beskaafde plek nie. Kan jy jou self sien oud word in Kenia (of Zambia of…..)?

3) Die VSA het segregasie gehad tot in die sestigers, en dit was moeilik vir baie mense om dit te laat vaar. In SA het dit ons met ‘n Nie-blanke meerderheid 30 jaar langer gevat. Segregasie in die VSA & SA het vir eeue gegeld. ‘n Mens keer nie net sommer honderde jare se gewoontes/ stelsel in 2 of 10 jaar om nie.

Johan 2 ·

Ek lees anderdag n stuk wat n Duitser geskryf het oor die Kaap in 1820 van die Trekboere ” hul leef in soveel gevaar van dag tot dag dat selfs die kinders geleer word om n wapen te handteer”…hy kon dit netsowel vandag geskryf het. So ignoreer maar vir ou Gert en al sy drogdrome, die is nog Afrika waar ons elke dag moet veg vir oorlewing.

Rupert Ashford ·

1. Ek het nie geweet Steve is regs nie. Ek en Steve het dieselfde paadjie van idealisme na ontnugtering gestap. Hy is allermins regs. 2. Die ekstremiste van die EFF gaan jou volgende regering wees ou Gert…die born frees se so.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.