Is parlement of Konstitusionele Hof die hoogste gesag?

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Oor die vraag welke instansie die hoogste gesag in Suid-Afrika moet wees – die parlement of die (Konstitusionele) hof – word daar nou al lankal gestry. Die debat het pas ’n stroomversnelling bereik deurdat verskeie ANC-swaargewigte (’n mens dink aan Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, en Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal en provinsiale ANC-voorsitter) standpunt ten gunste van parlementêre soewereiniteit ingeneem het.

Die saak is nie so esoteries en akademies as wat dalk met die eerste oogopslag lyk nie. Dit het ’n lang historiese agtergrond wat uiters relevant is as ’n mens die implikasies van die teenoorgestelde standpunte wil verstaan.

In Brittanje, waar Suid-Afrika se staatsreg grotendeels vandaan kom, dateer die debat al van die Middeleeue. Toe was die groot vraag wie die hoogste gesag het – die koning of die parlement.

Dit het tot ’n magstryd aanleiding gegee wat eeue lank geduur en wat uiteindelik op die soewereiniteit van die parlement uitgeloop het. In die Brittanje van dié tyd was dit ’n oorwinning van die demokrasie, want dit het die regering van één man – die koning – aansienlik beperk deurdat veral die verkose House of Commons toesig oor die regering kon hou.

Dié stelsel is ná die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika ook by ons ingevoer. Ook by ons was die parlement soewerein. Die howe het hul gesag van die parlement afgelei.

By ons het dit egter teen ’n ander historiese agtergrond ontwikkel. In die jare vyftig het die parlement die bruin stemgeregtigdes op ’n aparte kieserslys geplaas, een wat slegs ’n beperkte getal parlementslede kon aanwys.

Daarmee is die bruin Suid-Afrikaners se politieke mag duidelik verminder. Oorvereenvoudig het dit op ’n reeks hofsake voor die Hooggeregshof uitgeloop, wat aanvanklik téén die destydse regerings van premiers DF Malan en JG Strijdom besluit het.

Uiteindelik het die hof die magstryd egter polities verloor en daarmee het die parlementêre soewereiniteit ’n Suid-Afrikaanse staatsregtelike dogma geword.

Dit het dus met die ontwikkeling van apartheid en die inperking van nie-wit politieke regte saamgehang. Toe daar dus ná die wettiging van die ANC/SAKP opnuut oor ’n nuwe grondwet onderhandel word, was daar teen dié historiese agtergrond ’n behoorlike konsensus: Die demokrasie beteken méér as die tel van stemme; dit beteken ook die verdeling van die politieke mag tussen die parlement en die regsinstansie wat spesiaal vir dié doel geskep is, naamlik die Konstitusionele Hof.

Soos sake nou staan, kan die parlement dus enige wet aanvaar wat hy maar wil, solank dit binne die grense van die Suid-Afrikaanse regsorde val. En die instansie wat dáároor toesig moet hou, is die Konstitusionele Hof.

Die oppergesag van die reg, soos beliggaam deur die Konstitusionele Hof, hang daarenteen saam met die wegbeweeg van apartheid en die ontwikkeling van ’n behoorlike konstitusionele demokrasie.

As dié historiese agtergrond in ag geneem word, is dit behoorlik ironies dat die terugkeer na parlementêre soewereiniteit juis deur ’n aantal ANC-swaargewigte bepleit word.

In ’n artikel ’n paar weke gelede het Sisulu ’n paar punte gemaak wat, oppervlakkig gesien, nogal iets om die lyf het. Wat het die grondwetlike demokrasie vir al die straatarm Suid-Afrikaners wat daagliks van die hand na die mond leef beteken? het sy gevra.

“Reeds baie jare lank,” het sy geskryf, “hanteer Afrikane armoede terwyl ander rykdom hanteer.” Erger nog, die regbanke word deur ’n koloniale mentaliteit oorheers. “Mense wat vrede gemaak het met die wêreldbeeld en instelling van diegene wat hul voorvaders onteien het.”

Toe president Cyril Ramaphosa haar hieroor aanspreek, het sy basies te kenne gegee dat die president lieg as hy sê sy het ekskuus gevra.

In Zikalala se daaropvolgende toespraak (wat ironies genoeg op Menseregtedag gelewer is) het hy gesê die tyd is ryp dat Suid-Afrika wegbeweeg van die stelsel van grondwetlike demokrasie.

Uiteraard is Sisulu en Zikalala nie alleen in die ANC/SAKP nie. Maar laat hieroor geen misverstand bestaan nie: Hul standpunt is buitengewoon gevaarlik.

Hul basiese fout is tweërlei.

Ten eerste, die onontkenbare voortbestaan van swart armoede naas wit welvaart het op aarde niks te make met die bestaan van die grondwetlike demokrasie en die wyse waarop ’n gewetensvolle Konstitusionele Hof magsmisbruik beperk nie. Sonder die Konstitusionele Hof en die regstelsel wat daarmee saamhang, sou ’n magsbeluste, korrupte en ondoeltreffende president soos Jacob Zuma Suid-Afrika in ’n kloon van lande soos Zimbabwe, die Kongo, Kuba, die Filippyne, Rusland – noem maar op – kon omskep. Almal lande waar die regerende party ál die mag besit en bitter min, indien enige, beperking van sy mag ervaar.

Dit sou in ons omstandighede op ’n staatsgreep neerkom.

Wat is die demokrasie? Baie mense koppel die essensie van die demokrasie steeds aan algemene stemreg en basta.

Dis ewe begryplik as verkeerd. Algemene stemreg is een van verskeie belangrike instrumente om die mag (en dus magsmisbruik) van die regering aan bande te lê.

Ander sluit in die rol van ’n parlementêre opposisie. Of van vryheid van spraak en van die media – dat ons as burgers die reg het om wantoestande in die regering aan die kaak te stel.

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Dalk die heel belangrikste is ewenwel die bestaan van ’n doeltreffende en gewetensvolle regbank onder aanvoering van die Konstitusionele Hof. Dis hul taak om daarom toe te sien dat die regering nie die grense wat die Grondwet en die reg in die algemeen aan hom toeken, oorskry nie. Met ander woorde, die skeiding van magte en die ewewig tussen hulle.

Natuurlik moet die rol hiervan nie oordryf word nie. Geen wet, geen regter, geen koerant kan ’n regering dwíng om doeltreffend en sonder korrupsie te regeer nie. Hulle kan die prys wat die regering vir sulke oortredings betaal wel beduidend verhoog.

Nou is dit juis hierdie reeks beperkings op regeringsgesag wat mense soos Lindiwe Sisulu en Sihle Zikalala wil ophef. Sonder omhaal van woorde: Dis ’n ramp wat ’n plek soek om te gebeur.

As ons nie omgee vir ’n Jacob Zuma tot die tiende mag in die presidensie nie, moet ons dié twee en hul aanhangers die ruimte gee om te doen wat hulle wil. Maar dis óns – die gewone mense – wat die prys daarvoor gaan betaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manie ·

In SA beskou die ANC homself as die hoogste gesag, nie die die Konstitusionele hof of Parlement nie. Die ANC kan nie onderskei tussen die party en die staat nie, dus het SA ‘n eenparty staat geword, waar alles in die hof beveg moet word. Ek het ook sterk bedenkinge oor of ons howe werklik onafhanklik is.

Esme ·

Die Oppergesag van die land het geld geword. Daar is in werklikheid geen gesag binne die Regerende Party of binne enige Hof nie. Ek stem saam met Vaal Donkie oor Dr Dlamini Zuma wat ongesteurd deur die lewe gaan – sy het beheer oorgeneem en niemand gaan haar tee nie.

MT ·

Ek het so uitgesien na LS se interpretasie van die 180 grade ommekeer wat die Washington Post mbt Hunter Biden se moontlike belastingontduiking en ander kriminele optrede gemaak het.

Maar nou bederf hy ons met ‘n skrywe oor die SA regstelsel. Ek sal maar aanhou hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.