Is permitte vir kos-uitdeel nodig en reg?

dr-theuns-eloff

Dr. Theuns Eloff. (Foto: Facebook)

Die afgelope paar dae het verskeie regeringsinstansies op provinsiale en plaaslike vlak “riglyne” uitgevaardig dat kospakkies verkieslik by ’n sentrale punt in die dorp (Emalahleni/Witbank) of die provinsie (Gauteng en Vrystaat) afgelewer moet word – en nie meer self deur nieregeringsorganisasies by armes en hongeres afgelewer moet word nie.

Die redes wat gegee word, wissel, maar sluit in dat dit “beter koördinering” sal meebring, dat die regering kan sorg dat die kos nog reg is vir gebruik, dat die regering kan sorg dat die verspreiding “eweredig” sal wees en dat dit volgens die regering se “pre-qualified” databasis gedoen kan word. Die enigste alternatief wat vir hierdie sentralisering van kosvoorsiening gestel word, is dat organisasies vooraf (ten minste 48 uur) vir ’n permit vir elke kosaflewering moet aansoek doen, dat die SAPD by elke kosaflewering teenwoordig moet wees en dat daar vir elke kosaflewering ’n gesondheidsinspekteur teenwoordig moet wees wat kan sertifiseer dat die kos (nog) reg is menslike gebruik. ’n Gauteng-riglyn het selfs gesê dat kos wat nie op die pakkie ’n vervaldatum het nie (soos vrugte en groente wat van boere af kom), nie uitgedeel mag word nie.

Hierdie soort riglyne het onmiddellik twee gevolge gehad: ’n uitbarsting van frustrasie en selfs woede by organisasies wat al jare lank (en voor Covid-19) arm gemeenskappe bedien; en dat duisende (en waarskynlik nou reeds honderd duisende) kinders die afgelope paar dae huil van honger. In een geval is selfs berig dat polisielede kospakkies wat by ’n (wit) plakkerskamp afgelewer sou word, afgevat het.

Die skrywer Robert Hanlon het gesê: “Never attribute to malice that which is adequately explained by stupidity”.

Hierdie riglyne moet in daardie lig gesien word. Voordat ’n mens die riglyne beskou as ’n kwaadwillige aanval op een of ander rassegroep of organisasie, moet mens vra hoekom dit dan nodig geag is? Daar kan etlike redes uitgewys word.

Omdat daar wel enkele gevalle was waar kos afgelewer is waarvan die vervaldatum reeds gekom en gegaan het, het politici en amptenare dadelik aan “beheer en kontrole” gedink. In plaas daarvan om daardie enkele gevalle na te gaan en dié wat daarvoor verantwoordelik was, te vervolg en te stop, moes daar ’n burokratiese beheermaatreël ingestel word wat vir almal sal geld. En dat hierdie nuwe burokratiese maatreël die baie dringende en noodsaaklike kosaflewering sal vertraag, kom nie eens by hulle op nie – of hulle steur hulle nie daaraan nie.

“Ons is die regering en weet die beste en moet dinge beheer en kontroleer!”

Tweedens besef hulle nie eens dat hulle eie administratiewe vermoëns, in die meeste gevalle, so swak en onkapabel en aan korrupsie onderworpe is, dat die teoretiese maatreëls nooit sal werk nie – in elk geval nie in die tydgleuwe wat vir kosaflewering nodig is nie. Waar het enige staatsdepartement al ’n permit in 48 uur goedgekeur en teruggestuur? En onthou dat die Gauteng-riglyne vereis dat vir elke afsonderlike kosaflewering daar ’n nuwe permit verkry moet word!

Daar is wel twee sake wat dalk op moontlike kwaadwilligheid dui: die “eweredige” verspreiding van kospakkies en die verspreiding op grond van ’n vooraf goedgekeurde databasis. Dit lyk of regeringsinstansies dink dat hulle die beste weet waar die nood die grootste is en wie kos moet kry en wie nie. Dit is onaanvaarbaar in ’n oop en demokratiese samelewing. Die staat behoort nie middele (lees: kospakkies) aan almal te versprei nie, maar moet daar help waar burgerlike gemeenskapsorganisasies en kerke nie (kan) help nie. Veral op provinsiale vlak weet die regering bitter min waar die nood in gemeenskappe die grootste is. Die staat vorm maar net een deel van die samelewing en nie die allesoorheersende een nie.

Daar is basies drie probleme met die riglyne vir sentralisering en permitte vir kosaflewering. In die eerste plek het dit geen regskrag en kan dit nie regtens afgedwing word nie. Die reg om regulasies oor die ramptoestand uit te vaardig, is deur president Ramaphosa aan nasionale ministers gedelegeer (“afgewentel”). Daardie mag is nie aan provinsiale en munisipale politici en amptenare gedelegeer nie. Die provinsies en munisipaliteite moet dus met die nasionale regulasies werk – en in die nasionale regulasies word dit duidelik gestel dat ’n organisasie wat noodsaaklike dienste lewer (soos kos aflewer), sy eie permitte moet goedkeur en uitreik en in ooreenstemming met die nasionale regulasies (soos om sosiale afstand te hou) moet optree.

Dit is wat tientalle organisasies tot dusver gedoen het en steeds doen. Dit is om hierdie rede dat daar regsbriewe deur Helpende Hand gerig is aan die instansies wat hierdie riglyne uitgegee het, om hulle daarop te wys, en ook te vra volgens watter regulasies hulle só optree. Dit kan selfs wees dat hul riglyne teen die grondwetlike reg op lewe (art. 11 van die Grondwet) kan wees – indien dit veroorsaak dat mense van honger sterf. Hierdie riglyne is in alle waarskynlikheid ook teen sekere dele van die Wet op Ramptoestande.

Die tweede probleem met die riglyne is prakties van aard. Die nood van mense onder alle bevolkingsgroepe vir kos is hemelhoog. Die stil van honger is nie iets wat vir ’n week of selfs net vir ’n paar dae kan wag nie. Indien hierdie provinsiale en munisipale riglyne gevolg word, sal dit die aflewering van kos aansienlik vertraag – met tragiese gevolge. Die bekwaamheid van die staatsdiens om vinnig, effektief en sonder korrupsie op te tree, is allerweë baie verdag – die koerante en sosiale media is vol voorbeelde daarvan. ’n Mens kan nie die hongersnood van mense onderworpe maak aan die hopelik vinnige en effektiewe optrede van ’n onkapabele staatsdiens nie. En dan praat mens nie eens van die korrupsie waaronder groot dele van die staatsdiens gebuk gaan nie. Kortom, selfs al sou die riglyne regskrag hê of kry, sal dit die hongersnood van gewone mense vererger.

(Foto: Verskaf.)

Die derde probleem is ’n etiese en morele probleem. Hierdie soort permit-vir-kos-regulasies aanvaar dat die staat die allesoorheersende en almagtige entiteit in die land is, en dat alle ander aan hom ondergeskik is. Hierdie siening, wat baie maal by politici voorkom, misken die reformatoriese beginsel van die gelykheid van alle samelewingsverbande; en dat elkeen sy eie taak en roeping het. Die feit dat die staat (deur die parlement) wette vir die samelewing maak, en dat die staat dit deur die uitvoerende gesag (onder andere, die polisie) kan afdwing en die oortreding daarvan deur die regsprekende gesag sanksioneer, maak geen verskil hieraan nie. Welsynsorganisasies, Christelike kerke en ander geloofsgenootskappe het hul eie doel en roeping in die samelewing. Hulle bepaal hierdie doel en roeping en het nie die staat nodig om te bestaan nie of hulle toestemming te gee om te bestaan nie. Die reg op vryheid van assosiasie word ook in art 18 van die Grondwet gewaarborg. Die doel en roeping van nieregeringsorganisasies mag nie deur die staat oorgeneem, ondermyn of onmoontlik gemaak word nie. Die staat moet trouens juis die ruimte daarvoor skep.

Die morele onderbou van die permit-vir-kos-riglyne is dus totaal gebrekkig.

Selfs meer basies vir Christelike kerke is die Christen se roeping om sy/haar geloof uit te leef – waarvan “goeddoen” aan ander, en veral aan die armes, inherent ’n deel is. Geen staat of owerheidsinstansie mag ’n Christen belet om goed te doen om só sy/haar geloof uit te leef nie.

Die apostel Petrus het dit in Handelinge 5:29 só aan die Joodse Raad (hul “owerheid”) gestel: “Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense (julle)”. Dit geld vir alle tye en onder alle omstandighede. Dit vorm die basis van Christene se optrede. Natuurlik moet dit ordelik geskied en ons moet ons “in die orde van die owerheid stel” (Rom. 13).  Maar as ’n Christen moet kies tussen goeddoen aan veral die armes, en gehoorsaam wees aan ’n verbod om goed te doen, kan ons nie anders as om ons God meer gehoorsaam te wees nie – al kan dit teenspoed en moeilikheid bring.

Miskien moet daar ‘n E-posveldtog begin word waarin minster Cele en die hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) versoek word om Christene nie te keer om hul geloof uit te leef en aan die armes goed te doen nie.

Ten slotte: waar organisasies en kerke die regte pad volgens die regulasies gevolg het, moet hulle aanhou om kos uit te deel waar die nood hoog is – ongeag ras of kleur of taal of geloof. Waar sulke instansies verhinder word om kospakkies uit te deel, moet hulle hulle nie (veral met geweld) teësit of raas en vloek nie, maar dit aanvaar – en môre terugkom om dieselfde te doen; en weer, en weer… Dit is ’n Goddelike opdrag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ferryman ·

Die ANC sit met n probleem dat hulle nie hul kiesers gaan behou nie. Daarom is dit vir hulle nodig on rassisties te raak.

pieterweskaap ·

Baie dankie, dr. Eloff, jy het die saak vir CHRISTELIKE barmhartighed, baie goed gestel!

In Matt. 25 het Jesus gesê….”Vir sover julle dit aan gedoen het aan een van die geringstes…………..het julle dit aan My gedoen.”

Willem ·

Dis die grootste rassis lefusi wat alles wil beheer sodat net sy mense baat vind

JN ·

Dit is nie goed genoeg nie jammer ! Die anc sit met ronde pense vol gevreet van pap en vleis en wil dan hul voete sleep en nuwe regulasies afdwing terwyl mense dood gaan van die honger?? N honger persoon voel vere vir n verval datum op kos hy eet om te oorleef en hulle die Anc voel vere vir blankes se welstand.. Cyril se mos hard en duidelik blankes is nie deel van ” OUR NATION” nie so voorsien nie vir blankes nie en verhoed hul die wat wel na hul probeer omsien! Iewers langs die pad voel ek omdat blankes betrokke is probeer die Anc dubbel so hard om hul eie anti blank ideologie onder die dekmantel van die Covid 19 virus ten volle uit te voer!

OW ·

Uitstekende skrywe dr Eloff.Ek dink hierdie voorgestelde E-pos veldtog moet aan die Bevelsraad gerig word en nie aan die hoofde van Departemente en Ministers nie.Is die Bevelsraad nie die plek waar al hierdie regulasies gebore word nie?en of die goedkeuring daarvoor gegee word nie.Kan die hoofstroom Kerke in SA nie toetree tot hierdie aangeleentheid nie?Wat het geword van die leierskap strukture van die hoofstroom kerke?Mens hoor eenvoudig nie meer hulle stemme nie.As hierdie regulasies gaan regskrag kry sal die probleem net moeiliker word.Ek dink die tyd is oorryp vir die hoofstroom Kerk om hulle stem te laat hoor.Groetnis.

david ·

‘n Kommentator vra dat dieHoofstroom Kerke hulle stemme verhef teen hierdie poging van die regering —nie net die Hoofstroom kerke nie , ALLE kerke wat die Christelike geloof verkondig…want dis wat naasteliefde beteken Baie kerke =baie stemme wat die ANC nie kan bekostig om te ignoreer nie….
Wat die regering betref–dis juis julle inmengery in die Ekonomie van hierdie land wat veroorsaak het
dat ons in hierdie gemors sit–dis nie die Virus , Apartheid of selfs Jan v Riebeeck se skuld nie, dis JULLE skuld….
Gaan asseblief weg–ver weg !!

marius ·

Want die regering moet as die gesig gesien word wat die verarmdes help . Geen wit gesig of kerk mag gekoppel word daaraan nie .

Helizna ·

Nee, u onderskat steeds die boosheid van die regerende party, mnr. Eloff. Hulle NDR is baie duidelik. Hulle president is baie duidelik. RET is op die horison en dit vereis onder andere 100 % staatsbeheer oor alle aspekte van die samelewing. Ook, kyk na die kommunistiese #holodomor. Parallelle lyne kan getrek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.