Is privatisering ʼn oplossing vir SAL?

SAL-SAA

Foto: Commons.wikimedia.org

Selfs die woorde “skrikwekkend” en “diabolies” voldoen nie aan die wanbestuur van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) waarvan ons elke dag in die media lees nie. En dan kom die vraag op: Hoekom móét ons ʼn nasionale lugdiens in staatsbesit hê as die kundigheid ontbreek? Wat van privatisering?

SAL sit nou met sy hoeveelste uitvoerende hoof, en dié is maar net waarnemend.

Die regering oorweeg dit om 39% van sy winsgewende aandele in Telkom te verkwansel om die lugdiens van ʼn deel van sy skuld te verlos – ʼn verlies van R1,335 miljard tot op datum vir 2017, wat darem R428 miljard minder is as verlede jaar. Staatswaarborge beloop al R20 miljard, die regering se belang in Telkom is R14 miljard en daar word nou gepraat om die staatspensioenfonds vir SAL se skuld te melk.

Die lugdiens moet einde September R6,8 miljard se lenings terugbetaal. Malusi Gigaba, minister van finansies, stel die syfer op R15,963 miljard voor die einde van die jaar. Daar word tans onderhandel oor verlengings, wat maar net beteken ʼn uitstel van die pyne.

Legio redes vir bankrotskap

Die redes vir die lugdiens se bankrotbestaan is velerlei: Oorregulering, te veel personeel, politieke inmenging, algehele swak bestuur en te veel niewinsgewende bestemmings is ʼn kort opsomming van die dilemma.

Die gesaghebbende Ernst & Young berig dat 28 van die 48 kontrakte wat SAL gesluit het, swak onderhandel was en swak bestuur word.

Russell Loubser, ʼn voormalige raadslid van SAL, het dit geboekstaaf dat dit vir SAL nie daaroor gaan om ʼn kontrak sluit met ʼn instansie wat diens kan lewer nie, maar oor watter maatskappye in die regering se dampkring is.

In een geval is voorraad van R1 miljard aangekoop en toe weer vir R1 miljoen van die hand gesit!

Volgens Moneyweb het die lugdiens in die eerste 11 maande van die finansiële jaar sy vorige jaar se verlies verdriedubbel tot R4,3 miljard. Nog ʼn rede vir die dilemma, sê hy, is dat Suid-Afrika drie lugdienste besit – SAL, Mango en SA Express – wat teen mekaar wedywer en mekaar se kele afsny.

Dudu Myeni, voorsitter van die SAL-raad. Foto: ANA

Lugdienste wat wins maak

Waarom moet ʼn land sy eie lugdiens hê? Een van die hoofredes is skynbaar nasionale trots – ons vlag moet op ʼn vliegtuig se stert pronk – en werkskepping, hoewel België (sonder Sabena) en Griekeland (sonder Olympic) twee van baie voorbeelde is van lande wat nié vlagdraers het nie. Die beste voorbeeld sonder ʼn vlagdraer is die VSA, wat juis so lief is om die Stars and Stripes te vertoon.

Kleine Nieu-Seeland het – deels vanweë sy afgesonderdheid – dalk ʼn goeie rede vir ʼn vlagdraer en hy bedryf dit darem teen ʼn wins van $382 miljoen. Dit is wel 17% laer as die vorige jaar, maar Air NZ het nietemin bonusse van $1700 aan talle personeellede betaal.

So anders as in Suid-Afrika waar bonusse uitgedeel word aan onbekwame mense wie se instansies groot verliese ly terwyl ʼn aansienlike getal van hulle selfs aan misdade skuldig bevind is.

Die lugvaartbedryf se winsmarges is maar dun en daar was al baie bankrotskappe, soos Swissair en Sabena.

American Airlines het ʼn wins van $14 miljard verklaar, Delta $12 miljard en United $10 miljard. Lufthansa is in die sewende plek op $3 miljard. Baie van dié lugdienste tel ook onder die sowat 200 wat die afgelope 20 jaar bankrotskappe omgedraai het na winsgewende ondernemings.

Emirates, met gereelde vlugte na Suid-Afrika, toon ʼn wins, terwyl Ethiopian Air ʼn groter wins toon as al die lugdienste in Afrika gekombineer. Sy goeie ligging op die landkaart is natuurllik ʼn bydraende faktor.

Is privatisering ʼn oplossing?

Intussen maak SAL darem die regte besparingsgeluide, soos om van Desember af sy binnelandse vlugte (met 37%), sy streekvlugte (11%) en internasionale vlugte (4%) te verminder en vliegtuie te wil verkoop. Dié inkomste en meer sal egter opgeslurp word deur nuwe vliegtuigaankope wat noodsaaklik geword het.

Geluide oor die privatisering van SAL het ook al in die parlement opgeklink, maar die regering het dit duidelik gestel dat dit nié ʼn opsie is nie.

Voordele van privatisering

Die hoofargument is dat private maatskappye op wins ingestel is. Hulle sal dus makliker kostes (ook personeel) besnoei. Regerings is weens moontlike negatiewe publisiteit minder geneig om te besnoei, hoewel die SAPD van 3 000 lede ontslae gaan raak in ʼn land wat deur misdaad oorweldig word.

Omdat private instansies druk van hul aandeelhouers kry, moet hulle winsgewend wees of ʼn oorname beleef.

Die verkoop van staatsmonopolieë het byvoorbeeld in die 1980’s baie geld in Brittanje se staatskoffers laat vloei. Dis egter ʼn eenmalige voordeel en kanselleer toekomstige inkomste, soos in die geval van Suid-Afrika se moontlike verkoop van sy aandele in die winsgewende Telkom.

mango

Argieffoto.

Nadele van privatisering

 ʼn Openbare monopolie geskied wanneer die voordeligste getal firmas in ʼn bedryf een is, soos die verskaffing van gesondheidsorg, skoolopvoeding en openbare vervoer teen vasgetelde pryse. Meer deelnemers wat meeding kan die verbruiker benadeel hoewel ons dit nie in byvoorbeeld selfoon- en internetdienste sien nie. Soos economicshelp.org dit stel: Wanneer dokters pasiënte behandel is hulle waarskynlik nie op bonusse ingestel nie.

Staatsbesit maak regulering makliker. In Brittanje het die privatisering van byvoorbeeld treinnetwerke, beteken dat die beheer en regulering nie in een instansie gesetel is nie en niemand verantwoordelikheid vir byvoorbeeld treinongelukke neem nie.

Onbevoegde beheer

In Suid-Afrika ly miljoene mense onder ʼn regering wat alles verpolitiseer en weinig reg uitvoer.

In die geval van SAL hou pres. Jacob Zuma aan om die onbekwame Dudu Myeni te beskerm met die motivering dat die probleme reeds van ver af kom en nie haar maaksel is nie. Reg genoeg, maar is sy in staat om dinge om te keer?

Miskien is die ANC se eintlike probleem dat hy vasklou aan SAL, pleks van te erken dat hy onbevoeg is om die lugdiens te bestuur. Vir die regering is SAL net nóg ʼn ego-projek waarmee hy ʼn plekkie op die soustrein bied aan mense met die regte konneksies, sonder die inagneming van hul vaardighede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

m.d.r ·

Die antwoord is eintlik eenvoudig—vergelyk die winste van SAL/SAA tydens die vorige bewind met vandag se aanhoudende baster bankrotskappe en die maklik—PRIVATISEER.

Moet die belastingbetaler , wie miskien nooit van SAL sal gebruik maak nie, betaal vir die ego van hierdie regering…?

‘n Verlangse familielid wat in die vorige bewind ‘n senior amptenaar was by SAL vertel dat SAL daardie jare gemiddeld R300 miljoen wins gewys het.

Ongelukkig is hy, en baie ander ingevolg die rassistiese Regstellende Aksie beleid “uitgetransformeer”…….en vandag pluk ons die vrugte..!

Die enigste pad vorentoe is: verkoop die bankrotspul onmiddellik..!

Paul ·

MDR, jy moet onthou wat die rede was waarom SAL “winsgewend” was destyds.

Die destydse regering het bykans geen mededinging teen SAL toegelaat nie. As jy nie mededingers het nie, is dit maklik om winsgewend te wees, terwyl die verbruiker maar moet opdok wat die prys ook al is.

Grassie ·

Maak voorbrande in sterk wind en laat alles verbrand……………

John ·

Privatisering is presies waarheen gewerk word en dus die oogmerk. Drie raaie wie die lugdiens sal aankoop. ‘n Wenk is, die bekende groep besit reeds vliegtuie wat gereeld met sakke vol ¥€£ na Dubai vlieg en huwelike in Sun City help voltrek op die koste van Suid-Afrikaners… maar natuurlik weer onder ‘n vrome dekmantel terwyl baba-Zoempie aan hul jaspante hang. Of dalk ‘n Sjinese broeder wat vinnig renosterhoring oor die grens wil kry. Dinge gaan net erger word in hierdie land me ‘n Z in ons leier se van.

Andre ·

Terwyl SAL en sy twee mede-lugdienste in die artikel genoem word, wil ek weet: wanneer gaan daar in hierdie lugdienste soos streng BEE vereistes gestel word ten aansien van loodse? Hoekom vlieg blanke loodse die grootkoppe rond? Kom nou, pas BEE toe! Of is daar ‘n rede waarom dit nie gedoen word nie …?

johnny_walker ·

ek stem Andre , meer swart loodse , ek dink dit moet sommer 100% swart wees veral die wat ons leiers rondvlieg , hulle moet mos n voorbeeld stel

Eish ·

Gee die bloeier sommer weg. Minstens spaar ons die verliese.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.