Is rampokkerstaat ons voorland?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Met dié dat talle politieke kenners meen die ANC kan sy volstrekte meerderheid in die volgende algemene verkiesing van 2019 kwytraak, moet ’n mens ernstig kyk na die moontlikheid dat die party deur bedrog en intimidasie aan die mag probeer vasklou. Die voorbeeld is immers daar net noord van die Limpopo in Zimbabwe.

Daar kan aanvaar word dat daar in hierdie dae ook in ANC-geledere gekyk word na nóg twee voorbeelde, te wete Turkye en Venezuela. In albei lande is partye aan die bewind met wie die ANC broederlike betrekkinge onderhou.

In Turkye het pres. Tayyip Reçep Erdogan laas Sondag ’n referendum laat hou waarin die kiesers hulle oor 18 grondwetwysigings kon uitspreek. Die wysigings kom neer op ’n drastiese uitbreiding van sy mag: Die ampte van president en premier word verenig. Hy mag as uitvoerende president tot 2034 aan die bewind bly. Hy kan regters en staatsaanklaers (met inbegrip van die konstitusionele hof) aanstel en afdank, en parlementêre wette veto.

Terselfdertyd word die parlement se bevoegdhede beperk: Parlementslede mag geen vrae meer aan die president stel nie, hul vermoë om wetgewing in te dien, word beperk, ensovoorts.

Luidens berigte was die uitslag van die referendum nogal ’n skok vir Erdogan. Die ja-kamp het gewen met 51,5% teenoor 48,5%. Die groot stede, Istanboel, Ankara en Izmir, het massaal nee gestem.

Erdogan het ’n veel groter oorwinning verwag, eenvoudig omdat hy dit vir sy teenstanders byna onmoontlik gemaak het om ’n nee-veldtog te voer. In Julie verlede jaar het elemente in die weermag die fout gemaak om ’n mislukte militêre staatsgreep te waag, wat Erdogan die ekskuus gegee het om as ’t ware sy eie staatsgreep uit te voer.

Hy het die noodtoestand afgekondig, duisende egte en vermeende politieke teenstanders – offisiere, regters, aanklaers, polisiebeamptes, staatsamptenare, joernaliste, selfs opposisie-parlementslede – in hegtenis laat neem.

Kritiese media is gesluit of met geweld deur die Erdogan-kamp oorgeneem. Elke drie maande is die noodtoestand verleng.

Dis in dié noodtoestand dat die referendum plaasgevind het. ’n Naelskraap-oorwinning van 51,5% – en dit terwyl die opposisie ook beweer daar is met die tellery geknoei – sê iets.

Neem verder in ag dat die groot stede juis tradisioneel Erdogan se magsbasis is. Nadat hy in 1992 burgemeester van Istanboel geword het, het hy nog nooit ’n verkiesing in dié stad verloor nie, en nou het die stad se inwoners hom in meerderheid verwerp.

Erdogan het ’n tipies populistiese veldtog gevoer deur die Turke tot ’n nasionalistiese raserny te probeer opsweep. Die land word geteister deur allerlei dodelike bedreigings, en nét hy kan Turkye red, was sy boodskap.

Meer nog, hy het die nasionalistiese kaart met oorgawe gespeel. Maak Turkye weer groot, het hy – sonder apologie aan pres. Donald Trump van Amerika – geroep, en onophoudelik verwys na die Turkse sultanaat se beweerde glorieryke verlede.

Dit kan vergelyk word met wat die eerste rykskanselier van die verenigde Duitsland, Otto von Bismarck, destyds met die Duitsers gedoen het: Bismarck het die begeerte na meer individuele vryheid en demokrasie by baie bevredig met nasionalisme. Dis essensieel wat Erdogan hier probeer doen het.

Die ander voorbeeld is Venezuela, waar wyle pres. Hugo Chávez sy land in ’n populistiese afgrond gestort het. (Onder dié wat die charismatiese Chávez vereer, is twee bekende Suid-Afrikaners – pres. Jacob Zuma en EFF-leier Julius Malema.)

Chávez het by sy verkiesing in 1998 egte wantoestande – korrupsie en magsmisbruik by die politieke elite, skrynende armoede te midde van obsene rykdom – met sosialistiese metodes aangepak. Hy het duisende ondernemings genasionaliseer en geld soos confetti onder die armes uitgedeel.

Op kort termyn het dit hom baie gewild gemaak. Maar dié benadering het berus op die strome geld wat olie laat instroom het – teen ’n olieprys van $100 per vat kan jy nogal baie doen.

Maar die olieprys het tot $40 per vat in duie gestort. Chávez het kanker gekry en is oorlede en het dit aan sy oninspirerende opvolger, Nicolás Maduro, oorgelaat om die kastaiings uit die vuur te krap.

Maduro het ’n haas diktatoriale stelsel van Chávez geërf wat hom ongekende mag gegee het. Maar die land het steeds vinniger in ’n ekonomiese gat afgestort, en kort voor lank het die ekonomiese groeikoers tot -10% gedaal, terwyl die inflasiekoers tot 475% (die IMF meen dit kan vanjaar tot meer as 1 600% styg) en die werkloosheidskoers tot 17% (die regering beweer dis net 7%) toegeneem het.

Die gevolg is leë winkelrakke, honger, ellende en groeiende politieke ontevredenheid. In Desember 2015 het die kiesers Maduro se sosialiste gestraf deur hul parlementêre meerderheid aan die opposisie te gee, maar deur die diktatoriale Chávez-grondwet kon die president aanbly.

Bowendien het die grondwetlike hof, ongetwyfeld op Maduro se aanstigting, die parlement onlangs van sy magte gestroop. Dit het ewenwel op soveel weerstand in die burgerlike samelewing gestuit dat die regters hul dekreet ná ’n paar dae haastig moes herroep.

Die gemene deler in sowel Turkye as Venezuela (en Zimbabwe) is die verskynsel dat nasionalistiese populiste geneig is om die demokrasie nekom te draai, hul eie mag te oorskat en hul land dan haas onherstelbare skade te berokken. (Elemente hiervan sien ’n mens ook by pres. Donald Trump van Amerika, met twee verskille: Die demokrasie daar is te sterk gevestig, en dit het die laaste week of twee gelyk of Trump begin leer hoe om met die beperkings van die Amerikaanse stelsel saam te leef.)

Nou het Suid-Afrika nog verreweg nie so diep gedaal soos Turkye en Venezuela nie. Die Grondwet (selfs mét sy onbetwisbare gebreke) fungeer tot dusver taamlik goed as skans tussen die regstaat en die ANC se magswellus, en die burgerlike samelewing is sterk en goed georganiseer. Zuma en die ANC het al agtergekom dis nie ’n kwessie van eenvoudig doen wat jy wil nie.

Zuma se metode is dié van ’n sluipende staatsgreep. Die Zuptafisering van die land tot ’n rampokkerstaat wat deur die ANC en die families Zuma en Gupta regeer word, is ’n proses wat stil-stil by die agterdeur ingesmokkel word.

Die uitwerking gaan egter dieselfde wees as in Turkye en Venezuela: politieke, maatskaplike en ekonomiese rampspoed.

Dit mág nie slaag nie. Dis ons almal se plig om hande te vat om dit hok te slaan. Die groot toets lê voor in 2019.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

aP ·

Dit herinner sterk aan Saddam wat totalitêre mag en sy eiesoortige dissipline toegepas het. Na die verwydering van saddam was daar weer ‘n nuwe soort chaos. Ek glo dit het bygedra tot die vorming van groepe soos Isis

Boerseun ·

Die skapies is al van die 60’s gewaarsku. Niks nuuts om te leer hier nie.

Elizabeth ·

As die ANC 2019 se verkiesing verloor, sal SA in ñ volslae oorlog verval. Alreeds kan daar duidelik gesien word die anc raak ontslae van enige iemand wat hul posisies bedreig, hetsy met ñ koeël of ñ baksteen. Hul mag sal geensins so maklik gevat kan word nie, al gebeur n wonderwerk en Zuma staan op uit sy stoel, gaan hy baie beslis nog die snare slaan! Hy, sy familie en die Guptas se hande is ver te diep in alles in SA! Verseker gaan hy sorg dat hy beheer behou, al is hy nie meer die president nie!

Anoniem ·

Die ANC is heel gediend met demokrasie as hulle die meerderheidstem het. Sodra hulle demokraties uitgestem word en iemand anders wettiglik by hulle oorneem (bv DA in Johannesburg), wend hulle hul tot geweld (slaan met baksteen oor die kop by vergadering). Hul beskaafdheid sit net veldiep.

Rynhardt ·

Vergeet van 2019-verkiesing.Politieke ellende gaan SA na ellende neem.Daar word net vir tyd gespeel terwyl die grondwet geprys word.Chaos, voedsel -en hongerpyne, nikswerd rand (soos politici),is wat voorle vir land.Ek vind dit net verstommend hoe sekere joernaliste glo dat die grondwet dinge gaan reg toor.Hul gaan nog die ware kleure van kommunisme beleef!

Theresa ·

Dis eintlik skaamkry belaglik om te dink dat kommunisme in van die grootste wêrelddele nie meer bestaan nie, maar die plekkie hier in die Suidelike punt van Afrika sien reikhalsend daarna uit om die land daarin te dompel en te laat vergaan. Dit spreek boekdele.

Veritas ·

Nee Leopold, dit is nie ons voorland nie, ons is reeds die afgelope 10 jaar daar.

Helizna ·

Ai tog en wat kan die Blanke dan nou daaraan doen? Vir die DA stem? Die ou handjievol wit stemmers teen die oormag swart Zuma liefhebbers?
Geniet maar eerder julle lewens nou, terwyl julle nog kan. Die nag kom aan. God help ons.

MM ·

Interessant Leopold. Egter baie pessimistiese kommentare. Neem ons kosbare boere weg en die volgende dag is hier hongersnood. Ek is seker baie gematigdes besef dit. Die meeste mense in hierdie land is ordentlik en gematig en wil net beter doen vir hulself en vir hul kinders n beter toekoms bou. . Ek vertrou hierdie smartieboks middelklas sal uiteindelik die positiewe verskil maak. wees deel daarvan.

W Grobler ·

MM dis die ewige optimiste soos jy wat al van ’94 af vir almal wil wysmaak dat alles eintlik “okay” is – wel, ek het nuus vir jou: Ons land word voor ons oë vernietig, ons mense word soos vlieë vermoor en ekonomies word ons getap terwyl ons uitgevloek word vir alles wat sleg is. Nee, alles is beslis nié “okay” nie…

vermeende ·

Leopold ek lees graag jou skrywes maar wil graag op een punt van jou verskil.
Die gety het lankal teen ons gedraai, al word daar n geheime stem gehou in die mosie van wantroue dan moet ons die vraag vra, wie van die ANC sit in die parlement op meriete……niemand! Dit is dan veilig om te se dat daai stoele warm gesit word bloot uit Zuma se genade en die kaders weet dit, nou hoekom sal hulle teen Zuma draai in die stem en daai goue lepel wat hulle voer weg klap?

Ek kan verder nie sien dat die ANC ooit van hul mag sal afstaan sou hulle die 2019 verkiesing verloor nie, kyk maar gerus na die geweld wat gevolg het na hulle stadsrade verloor het, verder is daar ook in Afrika geen bewys om te staaf waar n terreur groep n regering oorgeneem het en met n demokratiese verkiesing afgestaan het nie.
Rampokkerstaat, ons is al van 94 af daar.

Leendert ·

Leopold, en ek sien Cyril Ramaphosa sê vandag, of ons nou daarvan hou of nie, radikale ekonomiese transformasie moet gebeur. Waar laat dit ons dan, en wat hou dit in?

Knikkebollen ·

Demokrasie: daardie politieke Baal wat eintlik soos die Keiser se nuwe klere is. Almal weet dit werk nie, maar niemand wil dit erken nie. Laat ons liewer ophou om elke land deur dieselfde tregter van oordeel te forseer want een ‘beste’ politieke stelsel vir almal is ‘n mite. Demokrasie het immers die ANC aan bewind gebring en sal die ANC vir die voorsienbare toekoms aan bewind hou.

Johan. H. ·

Wat verstaan julle nie, As daar gelyke hoeveelheid Blankes, Swartes, Indieers, Kleurlinge ens in die land is, en hulle stem, is die uitkoms van die stemmery, in my opinie DEMOKRATIES. Ons verkiesing was n terroriste/komunistiese OORNAME. Bewys my verkeerd!!!!!

Lampies ·

Ai, dit sal gaaf wees om vir ‘n verandering ‘n artikel van Leopold te lees waarin hy nie ‘n dwarsklap na Pres Trump inkry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.