Is SA op pad na ’n rampspoedige grondtragedie?

Argieffoto.

Die retoriek en ideologies gedrewe uitsprake en feller wordende “afvat”-dreigemente rakende grond, en meer spesifiek plase, kan nie langer geïgnoreer word nie.

Sekere landbou-organisasies en kundiges het tot onlangs nog glad nie histeries hewig gereageer op opruiende uitsprake rakende grond deur sekere politici en ander magshongeres en magsdronkes binne die ANC-regering nie.

Miskien kan dit toegeskryf word aan ’n naïewe hoop of persepsie dat Suid-Afrika nie dieselfde pad as Zimbabwe sal loop nie of dat daar darem ’n paar “regdenkendes” binne die ANC is wat betyds sal besef dat ’n verbreking van grondwetlike beginsels soos die beskerming van eiendomsreg fataal vir die toekoms van die land, die ekonomie en die sogenaamde demokrasie sal wees.

Soos die ekonoom Dawie Roodt dit egter onlangs oor die voorgestelde wetwysigings oor grond gestel het: “Eers was dit net sotlike idees, maar nou begin dit werklikheid word.”

Die voorgestelde wetwysigings, wat pas gepubliseer is, beklemtoon die staat se bedoeling om in die toekoms baie, baie meer mag en sê oor grond te hê.

Dié omstrede wetgewing wat onder meer deur die sakeregte-waghond AfriSake teengestaan word, het ten doel om die grootte van plase te beperk, grond te verdeel en te onteien wat (kwansuis) “onwettig” bekom is asook ’n verbod te plaas op buitelanders om enige grond te besit.

Soos soveel keer in die verlede probeer die ANC-regering voorhou dat die bedoeling met dié nuwe wetgewing en grondhervorming die regstelling van “ongelykhede” is.

Suid-Afrikaners het egter die afgelope paar jaar gesien hoeveel bereik is met die “regstelling van ongelykhede” en tot watter mate dié praktyke tot die verdere benadeling, uitsluiting en absolute verarming van die kwesbaarste van die kwesbares gelei het. Die ANC-regering doen en voel niks vir die land se burgers nie.

As Suid-Afrika enigsins ’n positiewe rekord gehad het oor hoe suksesvol “grondhervorming” die afgelope dekade was en iets kon wys vir die miljarde rande wat hieraan bestee is, sou ʼn mens seker nog ’n flou argument vir die saak kon uitmaak.

Die werklikheid is egter dat niemand meer glo dat die korrupte, oneerlike, sosialisties ingestelde staatskapers en plunderaars binne én buite die ANC ’n snars vir die land of die armes omgee nie. Dit gaan suiwer oor selfverryking en wat diegene in magsposisies vir hulself kan inpalm voor hulle die gemakstoele moet ontruim of daaruit gelig gaan word. Dit sluit pres. Jacob Zuma, wat die afgelope weke onder enorme druk is en ook deuntjies van grondonteiening sonder vergoeding sing, in.

Ekonome waarsku al jare dat ondemokratiese en onwettige besluite rakende grond, eiendomsreg en grondonteiening beleggers sal afskrik en die land onberekenbare skade sal berokken.

Dit is toenemend duidelik dat Zuma en sy ondersteuners grondonteiening sonder vergoeding as die voorkeuroplossing vir die grondhervormingsprobleem sien. Die ander opsie is natuurlik om die Grondwet vir dié doel te wysig, soos wat adjunkpresident Cyril Ramaphosa onlangs in die parlement opgemerk het én wat die tradisionele leiers Zuma ook aanbeveel om te doen.

Dis uiteraard die maklike uitweg, want dis makliker om ANC-volgelinge op grondvlak met leuens oor gronddiefstal aan die neus rond te lei as om te moet verduidelik waarom soveel van die regering se grondprojekte totale mislukkings is en waarom die regering nie daarin slaag om die lewensgehalte van mense in die algemeen te verbeter nie. En natuurlik kan dit ook sommer die aandag aflei van die miljoene hektaar staatsgrond wat die ANC nie doeltreffend kan bestuur, beheer oor het, of erger nog, selfs kennis van dra nie.

Die ANC verkondig graag dat wit kommersiële boere nog steeds feitlik alle bewerkbare landbougrond besit. ’n Omvattende oudit het egter onlangs aangedui dat 34,5% van die landbougrond in die land in swart besit is. Swart eienaars besit tans 34,5% van die bewerkbare landbougrond, terwyl wit kommersiële boere 65,5% bewerk en verbou.

Johann Bornman, ’n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions (ADS), het die oudit in samewerking met Landbou.com en Landbouweekblad gedoen.

Uit die navorsing en ontledings wat gedoen is, dui syfers daarop dat nagenoeg 59 miljoen hektaar landbougrond, oftewel 48,8% van die totale landoppervlakte, in kommersiële boere se besit is. Swart mense besit na raming altesaam sowat 48 miljoen hektaar, of 39,6% van die land se oppervlakte.

Bornman het gesê as die staat as teiken 40% van die landbougrond in Suid-Afrika – tans in wit hande – in swart mense se besit wil stel, nog 23,8 miljoen hektaar grond oorgedra moet word. Dit sal swart mense dan, in terme van landbougrond, met 60,7% van die grond laat, terwyl wit kommersiële boere se aandeel in grondbesit in die land tot 39,3% sal daal.

Ondanks dié insiggewende inligting is dit ’n uitgemaakte saak dat dreigemente en aanhitsing rakende grondonteiening sonder vergoeding en selfs onwettige grondgryping in die komende maande, in aanloop tot die verkiesing van die nuwe ANC-leierskap in Desember en die algemene verkiesing in 2019, ongekende afmetings gaan aanneem.

Ons het immers met politici te doen wat nou ’n stryd om lewe en dood vir politieke oorlewing voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Francois ·

Baie dankie vir n baie reguit artikel oor grond.

Dit was nog altyd TLU se standpunt dat die regering oneerlik is oor n klomp sake. Jakkalse verander nie van streke nie.

Kan die artikel in Engels vertaal word, sodat dit oor die hele wêreld heen versprei word.

apie ·

ja vertaal en versprei. Dit vertel eintlik maar die skreiende verhaal van onbeskaafde hebsug teen alle waardes en denkbaarheid in. Ek glo nie enige buitelander sal hande saamslaan en verbaas wees nie

Charles Rossouw ·

Die dag vir onrus en “burger” oorlog kom al nader.

Johnny ·

My groot vrees word waar. Om aan bewind te bly doen die anc dieselfde as wat bob mugabe gedoen het.
Aanvanklik het almal vir mandela gestem, toe kom mbeki en hy begin regstellende aksie en nou zuma met grond grype. Afrika Iis Afrika.

sê-maar-net ·

drie kern woorde in hiedie artikel is besit, bewerk en verbou! …en dit is die verskil van grond besit deur boere en vorige benadeelde persone! boere bewerk en verbou dit! …en al besit ons net op die ou einde 10% van die bewerkbare grond in die land sal ons dit nog steed bewerk en verbou(met die hulp van mense wat wil werk!)
en nie net besit nie…

Theresa ·

Absoluut! Die boere het nog altyd hul plase bewerk en boonop WIL hul boer en al die drama wat daarmee saamgaan maak boerdery nie ‘n speletjie nie. Praat nie nou van die moorde nie – maar van beplanning, strategie, kennis, hoop, geloof en liefde vir jou grond. Besit ja, sit – bitter min.

Boerseun ·

Ons is al hierna toe oppad sedered 1992. Dat dit vir mense nou n skok is wys net die intilligensie tekorte van die meerdeheid Afrikaaners, of is dit die globaliste se media huise wat so goed is in hulle oortuigings?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.