Is Saoedi-Arabië die volgende kernwapenstaat?

‘n Satelietfoto wat na die aanval geneem is. Foto: (Planet Labs Inc via AP, File)

Die aanval op twee Saoediese olieaanlegte op 14 September 2019 vanuit die grondgebied van Iran bied lesse oor die toekoms van die internasionale politiek wat veel wyer kring as bloot die vraag oor toekomstige energieveiligheid.

Alhoewel dit ongetwyfeld waar is dat dié aanval die kwesbaarheid van die internasionale gemeenskap aan aanvalle aan energie-infrastruktuur duidelik blootgelê het, is die lesse wat hiér geleer moet word, van ’n polities-militêre, eerder as ekonomiese, aard. Daar is veral drie prominente lesse vir die toekoms van die internasionale politiek wat duidelik sigbaar word.

Saoedi-Arabië is kwesbaar – so ook bykans elke ander staat

Gedurende 2018 was Saoedi-Arabië die wêreld se derde grootste militêre spandeerder en die wêreld se grootste wapeninvoerder. Om dinge in perspektief te plaas: bykans 22% van alle Amerikaanse wapenhandel word na Saoedi-Arabië uitgevoer.

Ondanks die Saoediese regering se buitengewone hoë besteding aan nuwegenerasie wapentuig en missielverdedigingstelsels (onder meer, die F-15-aanvalsvliegtuig, die Apache-aanvalshelikopter en die gevorderde Patriot-missielverdedigingstelsel), blyk dit dat dié toerusting nie hond haaraf kon maak om kritieke infrastruktuur te beveilig teen die kombinasie van kruismissiele en gewapende hommeltuie nie.

Die probleem is nie noodwendig dat die uiters gevorderde tegnologie nutteloos is nie – inteendeel, die gebruik van dié tegnologie teen ’n konvensionele bedreiging (soos, byvoorbeeld, aanvalsvliegtuie) sal Saoedi-Arabië sterk ten gunste wees daarvoor. Wat ís die probleem dan? Die aanval op die Saoediese olieaanlegte is tekenend van een van baie veranderinge in die aard van oorlogvoering, met kenners eens dat onkonvensionele oorlogvoering toenemend belangrik word.

Dink hiér aan die gebruik van onbemande gewapende hommeltuie (beide in die lug en in die oseane), kuberoorlogvoering en die toename in outonome wapenstelsels. Konvensionele oorlogvoering word derhalwe nie geheel en al uitgedien nie; dit word eerder meerdimensioneel met konvensionele en onkonvensionele oorlogsvoering-vermoëns wat saamwerk. Hiér is ʼn belangrike les van die geskiedenis van die internasionale politiek wat in gedagte gehou moet word, één wat in ons tegnologie-gedrewe wêreld meer prominent as ooit vantevore is: wie nie byhou nie, raak agter – en wie agter raak, plaas hul eie oorlewing op die spel.

Gegewe dat ontwikkelinge in vermoëns in kuberoorlogvoering, onbemande gewapende hommeltuie en outonome wapenstelsels deur slegs ʼn handjievol state oorheers word, spel dit gevaar vir dié state wat die belangrikheid van dié vermoëns geringskat.

Missielverdedigingstelsels werk nie

Dr. Eben Coetzee.

Ondanks die verkryging van gevorderde Amerikaanse Patriot-missielverdedigingstelsels kon Saoedi-Arabië nie daarin slaag om die kombinasie van kruismissiele en gewapende hommeltuie af te weer nie.

Vir bykans veertig jaar – sedert die voormalige Amerikaanse president, Ronald Reagan, se aankondiging van die Strategiese Verdedigingsinisiatief (in kort, ’n missielverdedigingstelsel om die VSA teen Sowjetunie-gelanseerde interkontinentale ballistiese missiele te beskerm) – is die VSA behep met die moontlikheid van missielverdediging. Miljarde Amerikaanse dollars is sedert dié tyd aan missielverdedigingstelsels spandeer. Hoewel daar oor die afgelope dekades vordering gemaak is met die doeltreffendheid van dié stelsels, is die donker waarheid van missielverdedigingstelsels eindelik goed verwoord deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, in reaksie op die aanval op Saoedi-Arabië: “Selfs die beste missielverdedigingstelsels misluk somtyds”.

Terloops, enige ontwikkeling in die doeltreffendheid van missielverdedigingstelsels kan eenvoudig ondermyn word deur óf meer missiele af te vuur óf missiele teen ʼn laer vlakbaan af te vuur. Vir die Saoediërs, maar ook vir die breër internasionale gemeenskap, is die vrees duidelik: daar is weinig doeltreffende verdedigingsmaatreëls om die probleem van missielaanvalle (én aanvalle deur gewapende hommeltuie) te kelder.

Dit is waarskynlik verontrustend vir Amerikaners, en vir lande in die omtrek van die Suid-Chinese See, dat die slotsom van die onlangse Chinese militêre optog ter viering van die 70ste bestaansjaar van die Volksrepubliek China saamgevat kan word deur die volgende: missiele, missiele en nog missiele.

Saoedi-Arabië as kernwapenstaat? En wat van die res?

Hoe dan gemaak vir ’n Saoedi-Arabiese regering toenemend kwesbaar vir missiel- en hommeltuigaanvalle?

Saoedi-Arabië is kwesbaar, baie. Dié probleem gaan nie weggaan nie; eerder, dit gaan waarskynlik toeneem in frekwensie en intensiteit. Wat kan Saoedi-Arabië doen om toekomstige aanvalle, veral grootskaalse missielaanvalle, te voorkom? In die lig van toenemende kwesbaarheid (met inbegrip van die ondoeltreffendheid van missielverdedigingstelsels), sal die Saoediërs toenemend in die rigting van die vervaardiging van kernwapens gedruk word en glo dat dié wapens enige toekomstige aanvallers sal afskrik.

Die onomwonde boodskap van kernafskrikking is: Hoewel ons geheel en al weerloos is, sal enige aanval in so ʼn mate vergeld word dat dit enige moontlike voordeel skrap. So ʼn benadering mag dalk nie wees wat die Saoediese regering wil hê nie, maar die les uit die geskiedenis van die internasionale politiek leer duidelik dat state na hul eie veiligheid moet omsien aangesien daar niemand anders is wat dit vir hulle gaan doen nie. In só ʼn omgewing seëvier realpolitiek dikwels.

Hoewel die moontlikheid van Saoedi-Arabië as kernwapenstaat steeds ʼn toekomsvraag is, is dit interessant dat die Saoediërs onlangs te kenne gegee het dat hulle beplan om uraan te verryk vir hul toekomstige (burgerlike) kernprogram.

Te midde van ʼn uiters kwesbare omgewing sal ek nie verbaas wees as die Saoediërs mettertyd tot die kernwapenklub toetree nie. Miskien nie vandag nie, maar êrens in die nabye toekoms, sal ons ongelukkig dalk wéér die internasionale politiek geheel en al vanuit die perspektief van ʼn missielbuis beskou en beoefen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Arak ·

Hoe weet jy dit was Iran? Volgens ander berigte het die Huthis in Jemen skuld aanvaar vir die aanval en tot op hede het Iran dit ontken. As dit wel Iran was, hoe het hulle oor die Persiese golf gevlieg, met al die Amerikaanse vliegdekskepe en wapentuig sonder dat iemand hulle waargeneem het. Dan is die verhaal verder dat hulle 1200km vlieg, die die aanleg aanval en terug vlieg en niemand het hulle opgetel op satelliet of op radar nie. Klink hierdie scenario enigsins realisties? Was die bemanning aan die slaap op die skepe? Wat ek baie eerder wil weet is hoekom bevraagteken niemand die Iran samesweringsstorie wat vir ons opgedis word nie?

Kosie Kramer ·

Ek stem saam. Hierdie aanval wys duidelik dat Amerikaanse toerusting nie so goed is soos wat hulle spog dit is nie. In hierdie week het Saoedi-Arabië vir Rusland gevra om die aanval te ondersoek, omdat hulle steeds nie seker is wie dit was nie.

AW ·

Google :
“Distance from Iran to Saudi Arabia
Distance from Iran to Saudi Arabia is 1,268 kilometers.
This air travel distance is equal to 788 miles.”

“Drone and Missile strikes on oil infrastructure in Saudi Arabia……….”

So….
Possible or Probable ?

Lood Kurkprop ·

Al wie nog in daai olie-pypleiding se pad staan is Iran …Iraq is uit die pad uit…Afghanistan is uit die pad uit …nou net n verskoning maak of kry om Iran uit die pad uit te vat.

Jerry ·

Tegnologie wat missiele begelei is “for the time being”. Met die bedreiging wat tegnologie oorloggewys inhou sal die groot en dalk ook klein effektiewe moondhede gebeurlikheidsplanne in plek he om met die druk van n knoppie satelliete onskadelik te stel wat tegnologiese kommunikasie onmoontlik sal maak en GPS geleide kruismissiele en bewapende hommeltuie sal om die minste te se liederlik faal. Die enigste rede hoekom tegnologie toegelaat word om te vorder is omdat dit ontsettend baie ontwikkeling en geld vir ekonomiee inbring, so ook met wapentuig, maar die feit is dat dit is feilbaar en dit is vernietigbaar. n Aanvalletjie hier en n aanvalletjie daar sal nie die appelkar omgooi nie, maar wanneer dit buite beheer raak sal die moondheid wie besluit om n volle aanval te loods, direk daarna satelliete onskadelik stel wat tegnologiese geleide vergelding, dus sal uitskakel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.