Is SAPD grootste verskaffer van onwettige vuurwapens?

Deur Ian Cameron

Ian Cameron.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het tans geen manier om te weet presies hoeveel van hul eie vuurwapens nog onder hul beheer en in hul besit is nie. Die vuurwapenpermitstelsel (FPS) is al vir amper twee jaar lank afgeskakel. Vuurwapens en ammunisie word tans per hand deur polisiebeamptes vir skofte bespreek, wat natuurlik ʼn groot ruimte laat vir menslike foute, maar selfs meer so, ʼn geleentheid skep vir kriminele.

Bheki Cele, minister van polisie, het verlede maand gesê die digitalisering van die SAPD se vuurwapenstelsel is die sleutel vir beter beheer weens ‘n veronderstelde opdraande stryd. Dit is egter ʼn blatante leuen, aangesien Cele en Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, die rede is dat die meer as voldoende vuurwapenpermitstelsel afgeskakel is weens wanbetaling.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die getal vuurwapens, wat by die Norwood-polisiestasie gesteel is, van 158 tot 175 gestyg het en selfs verder kan styg terwyl ʼn ondersoek na die diefstalle voortduur. Ek het vroeër gesê die Norwood-vuurwapenskandaal is net die oortjies van die seekoei rakende hierdie nasionale krisis met betrekking tot SAPD-vuurwapenkluise.

Dit laat die vraag ontstaan of die SAPD besig is om die grootste verskaffer van onwettige vuurwapens aan misdadigers in Suid-Afrika te word. Of dit nou gewillig is of nie, dit is ‘n absolute skande dat Suid-Afrika op hierdie punt is waar die polisie self die botoon voer om misdadigers in die land te bewapen.

Daar is diegene wat mag redeneer dat niemand regtig weet of hierdie vuurwapens wel in die hande van misdadigers beland nie, maar ja wie flous ons? Hierdie vuurwapens is ongetwyfeld in die hande van gewelddadige boewe wat hulself soms ook as wettige polisiebeamptes voordoen.

In 2014 is daar in ‘n huis in Norwood, wat aan ‘n bejaarde Oekraïense egpaar behoort, op 112 aanvalsgewere, handwapens, kommersiële springstof en ontstekers beslag gelê. Daar is ontdek dat die vuurwapens waarop beslag gelê is, uit die stasie se bewyskamer verwyder is. Hierdie vuurwapens is deur burgerlikes ingehandig om vernietig te word; ander was polisievuurwapens; en van die vuurwapens is uit die bewyskamer gesteel. Dit is ʼn duidelike teken dat hierdie onwettige praktyk binne die stasie steeds aan die gang is.

Dit het ook ʼn redelik gereelde gebeurtenis geword dat misdadigers op polisiestasies toeslaan en vuurwapens steel en ek glo dat dit in die komende weke, maande en natuurlik jare sal toeneem. Ons is in vir ʼn rowwe rit in 2022 en dit is van kardinale belang dat burgers verstaan dat hulle in die meeste gevalle op hul eie aangewese sal wees sou hulle ʼn soort gewelddadige aanslag ervaar.

Die SAPD het in 12 jaar meer as 26 025 van sy vuurwapens verloor, maar gaan steeds voort met pogings in die proses om wetsgehoorsame burgers te begin ontwapen. Die polisie moet ophou om die blaam te verskuif en eerder deur die feite in die gesig gestaar word.

Hou hierdie spasie dop: sou die vuurwapenpermitstelsel weer aangeskakel word en ‘n nasionale vuurwapenoudit in die SAPD gedoen word, glo ek ons sal sien dat daar oor die afgelope 24 maande rekordgetalle vuurwapens gesteel of deur korrupte polisielede verkoop of verskaf is aan kriminele.

Dit is nog maar net die oortjies van die seekoei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

krodedil ·

Daar is net een “Antwoord.”
JA die SAPD verskag onwettige wapens aan die verkeerde mense.

George ·

Die SAPD is die grootste krimineel organisasie in Suid Afrika.

B-Man ·

Ons kan begin sê dat die SAPD altyd eerste op die misdaadtoneel is…

casper ·

SAPD is eerste, SANDF tweede en Mosambiek derde !!
Dit gaan nou al vir 10 jaar so aan !!

Windhond ·

Ontbind die SAPD en privatiseer die polisieering van die land, –

Corne123 ·

Ja verseker.Hoe lank gaan cele nog bly.Qls onder hom is papvort en werk nie misdaad die hoogste esv esv maar dan wil hy kom praat en en en fire die ou my magies

Danny ·

Sommer op die opskrif alleenlik – JA. Dit is deur die jare BEWYS, en net so gelos. So dankbaar vir organisasies soos Afriforum wat help en bystaan sodat ons stemme nie wegraak in die korrupsie nie.
Waarheen gaan al die wapens wat veronderstel is om vernietig te word.. Hoeveel van die wapens en oud-polisie wapens word op straat in hande van bendes, boosdoeners en moordenaars gekry. Die wat wel ‘gevind’ word en verklaar word.. Dit stel hulle in staat om menigte aanvalle en plaasaanvalle te loots. TRAGIES. Wys jou steun en sluit aan by Afriforum!!!! Saam staan ons sterker!

Smurf ·

En verdedig ons , ons self in so n “situasie” dan word jy die krimineel en word soos n misdadiger deur die saps en regstelstelsel behandel ! Wat n pot gemors ! Julle het nog nie gesien hoe gaan die polisie lede tekere op n toneel waar daar suiwer selfverdediging was nie…. Enige ding wat n wapen op jou rig het geen regte meer nie en behoort voelvry verklaar te word…

annie ·

Uiteindelik gaan die groot onderonsie tussen boewe in die polisie en boewe in die samelewing plaasvind en die liewe goeie samewerkers in die polisie gaan sterf van koeëls uit die wapens wat hulle verskaf het. Sela.

Herman L ·

Die polisie moet verbied word om vuurwapens in hulle besit te hê. Die bestuur van die wapenregister moet deur ‘n onafhanklike liggaam gedoen word wat bevoeg is.

Gerrie ·

260000 vuurwapens dis n groot mag wat ons kan bestorm,ons het geen kans,SAP het geen andwoord op hul swak bewaring vir hul vuurwapens nie,n groot skande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.