Is staatsamptenare nog diensknegte van die nasie?

(Argieffoto)

Miskien is die woord, staatsamptenaar nie ’n goeie vertaling vir die Engelse “public servant” nie. Of is dié twyfel grootliks ’n Suid-Afrikaanse probleem? Want hoewel daar werklik baie staatsamptenare in Suid-Afrika is wat as diensknegte van die nasie beskryf kan word, word die openbare beeld dikwels oorskadu deur persepsies dat dit ’n ekonomies onvolhoubare entiteit is, hoofsaaklik bestaande uit visielose kripvreters. En sedert 1994 het die persepsie boonop verskuif na een waar die fokus skerp op korrupsie van enige denkbare formaat val.

Dit word aangevul met verskeie bewese praktyke soos dat amptenare wat weens laksheid of wanpraktyke deur hul hoofde aangespreek word, vals klagtes van rassisme teen die kop van hul hoofde gooi, en sake eers reggeruk word as dit met vakbondhulp in die howe gaan draai. Talle amptenare wat eens bewys het wat in hulle steek, loop nou die stofpaadjie na sielkundiges, psigiaters en predikante vir hulp om te kan kophou. Talle bedank of probeer vervroegde pensioen beding.

Oneindige probleme word ook ervaar met korrespondensie wat eenvoudig net nooit hul bestemmings bereik nie, en dus ook nie beantwoord word nie. ’n Man wat, volgens hom, valslik aangekla is van ’n misdaad, moes op eie koste twee beëdigde verklarings uit Afrikaans na Engels vertaal (al is hy, die landdros én die klaer Afrikaans). Dit omdat die staatsaanklaer skynbaar nie Afrikaans verstaan nie.

Die Mangaung Metro se reeds buitensporige salarisrekening skiet, volgens die jongste voorgestelde begroting, met nog R200 miljoen die hoogte in, en word opdragte vanuit talle oorde om te besnoei, bloot geïgnoreer. Volgens die opposisiepartye word dié verhoging genoodsaak deurdat die burgemeester nog meer politieke adviseurs aangestel het. Voor die begroting was daar reeds meer as 100 adviseurs. Dit is veral ANC-lede wat tydens munisipale verkiesings hul setels verloor het, en in hierdie gekussingde poste aangestel is. Die uitbreiding het gekom ondanks die feit dat die munisipaliteit reeds onder administrasie geplaas is.

Nie dat daar nie ook talle ongerymdhede voor 1994 bestaan het nie. Seker een van die mees ontwrigtende probleme was die praktyk dat iemand wat in ’n personeelpos bevorder is, dan in ’n vakkundige pos in ’n lynfunksie bevorder is. Heelwat van hierdie funksies het dan effektief tot stilstand gekom. Rang-inflasie is ook ’n groot probleem.

Veral in die jongste tyd het heelwat kundiges in artikels die mond goed uitgespoel oor die onbekwaamheid en baasspelerigheid van ministers, wat dan noodwendig ’n uitkringeffek op die amptenary het. Vakbonde rig soms enorme skade aan, en veral sommige onderwysvakbonde word reguit daarvan beskuldig dat hulle die funksies saboteer.

Gelukkig is daar vakbonde soos Solidariteit wat knaend ’n stok in die speke van die onregte steek. Met die onlangse inhegtenisneming van senior lede van die VBS-bank, lyk dit darem of die Nasionale Vervolgingsgesag op dreef begin kom. Nuwe maatreëls word beplan om die roete van die Zondo-kommissie na die vervolgingsgesag te verkort.

Deur vakbonde en belangegroepe moet die druk egter volgehou word tot dit te warm word vir parasiete en skelms. In plaas van radikale vakbonde sal dit wonderlik wees as werkers hul lot eerder inwerp in gildes wat op trots, moraliteit en kundigheid klem lê. Sodat ons amptenare ook hul diens met trots kan lewer – en dankie aan daardie wat reeds ’n voorbeeld aan die ander stel. Dan kan ons werklik meedoen aan die VN se dag vir Staatsamptenare wat jaarliks op 23 Junie herdenk word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Scalla

Neeee, dis onbevoegde boetie boetie kaders wat aangestel word teen buitenporige vergoedingspakette wat net sit en wag om te plunder en afdelings in die grond te stuur.

LANA is ELANè

Neeeee, lankal nie meer nie. Hulle is eerder boelies wat deur ‘n onbevoegde instelling bestuur word waar korrupsie en omkoopgelde hoogty vier met ‘n goeie skoot rassisme daarby. Ek is altyd angstig as ek enige staatsinstelling moet besoek oor die openlike antagonisme waarmee mens ontvang word danksy jou velkleur!