Is Suid-Afrika op ʼn koers vir hervorming?

dr-frans-cronje-sairr

Dr. Frans Cronjé. Foto: Youtube.com.

Deur Frans Cronje

Dit is te vroeg om te sê of die gebeure van die afgelope ses weke daarop dui dat die ANC sal hervorm om te kan oorleef en Suid-Afrika op die pad na groei en stabiliteit kan stuur, maar as die party nalaat om dit te doen kan die ANC homself in dieselfde probleme bevind waar hy enkele weke gelede was – en om dieselfde redes.

Twee stelle aanduiders moet gebruik word om te bepaal of Suid-Afrika op ʼn koers van hervorming is: die een hou verband met die oppergesag van die reg, korrupsie en verantwoordbare regering. Dié aspekte verdien die meeste aandag. Maar die tweede stel is selfs nog belangriker: beleidshervorming op die terrein van bemagtiging, die arbeidsmark, eiendomsreg en onderwys.

Ons meen dat die aanvanklike post-1994 ekonomiese herstel – die gevolg van gelyke mate voorspoed en tot ʼn sekere mate sinvolle beleid – gelei het tot ʼn veel groter verbetering in die lewenstandaard as wat algemeen aanvaar word.

Van dié koers is afgewyk in die nadraai van die 2007 Polokwane-konferensie en later die wêreldwye finansiële insinking. Openbare frustrasie (gemeet in terme van peilings en die verkiesingsdatum) wat voortgespruit het uit verwagtings waaraan nie voldoen is nie, het gelei tot benoudheid by politici van die regerende party wat wal probeer gooi het met ideologiese dogma en populistiese beleid.

Die uitkoms was geheel en al teenproduktief en het Suid-Afrika se post-krisis herstel vertraag, selfs toe ander ontluikende markte uit die greep van die krisis begin kom het.

Die swak ekonomiese vertoon wat hieruit gevolg het, het ʼn beduidende verlies aan vertroue in die regerende party tot gevolg gehad, wat op sy beurt gelei het tot toenemende populisme – en gevolglik die stadige draai van ʼn gevaarlike negatiewe spiraal aan die gang gesit het. Dit is in wese waar Suid-Afrika in November verlede jaar gestaan het.

Toe is Cyril Ramaphosa tot leier van die ANC verkies en sedertdien het optimisme bly toeneem.

Maar ʼn ware omkeer sal berus op hoe die nuwe regering aandag gee aan twee grondliggende kwessies:

  • Herstel van die oppergesag van die reg: Die tekens is belowend, maar die toets sal kom wanneer hierdie vroeë optrede omgesit word in ʼn voorstel vir suksesvolle vervolgings, ʼn belangrike katarsis en teken dat die paradigma inderdaad geskuif het.
  • Ekonomiesebeleidshervorming: Die hindernisse hier is groot. Daar is in besonder drie wat oorkom moet word en as enigeen daarvan misluk sou dit hervorming vertraag, selfs al sou mnr. Ramaphosa daarin slaag om korrupsie en ampsmisdrywe suksesvol te takel en die oppergesag van die reg te handhaaf.

Die eerste is die begrotingstekort. Regeringsinkomste sowel as -uitgawe as ʼn onderdeel van die bruto binnelandse produk (BBP) het voortgegaan om skerp te styg – ten dele gefinansier deur die lening wat die skuld-tot-BBP-verhouding verdubbel het, en deur die instel van ʼn bykans ondraaglike las op individuele belastingbetalers.

As gevolg daarvan mag mnr. Ramaphosa se nuwe regering nie onmiddellik die geld hê vir die ontwikkeling van die infrastruktuur om ekonomiese herstel te steun nie, terwyl voldoen moet word aan die maatskaplike en diensleweringseise van etlike miljoene huishoudings.

Die kuur is groei, hoewel die voorspellings is dat groeikoerse vanjaar sal onderpresteer met die ontluikende mark wat ʼn gemiddeld van 70% behaal. ʼn Ekonomiese groeikoers van tot 2%, soos beleidmakers voorspel, is nie naastenby naby ʼn waterskeidingvlak om die strukturele werkloosheidskrisis op te los nie – die tweede beduidende hindernis waarvoor die regering te staan kom.

Die derde struikelblok is onderwys. Om maar net een aanwyser te gebruik: Net meer as die helfte van die gr. 10-klas van 2014 het gevorder tot matriek in 2016, en van hulle het minder as 3% matriekwiskunde geslaag met punte van 60% en hoër – ʼn kwalifikasie wat ʼn jong mens die redelike vooruitsig bied om binne ʼn dekade tot die middelklas te vorder. Sonder om die slaagsyfer vir matriekwiskunde elke vyf jaar te verdubbel gaan dit besonder moeilik wees vir die regering om te voldoen aan die eise van toetrede tot die middelklas.

Die boodskappe van die afgelope ses weke is besonder welkom, maar dit is ʼn veel groter uitdaging om te voldoen aan mense se verwagtings as wat die meeste kommentators aandui – ʼn uitdaging wat veel verder strek as die probleem van staatskaping.

Daar is drie redes waarom daar twyfel bestaan of die regering spoedig aandag sal gee aan dié hervormings:

  • Eerstens strook die magsbalans in die ANC-leierskap nie ten volle met openbare mening nie – peilings dui daarop dat mense meer geneë mag wees ten opsigte van hervorming in bepalende beleidsrigtings as wat sommige regerings- en partyleiers is.
  • Tweedens is daar die verlammende effek van die ideologiese dogma dat markte, beleggers, eiendomsregte, entrepreneurs, vryheid van spraak, onafhanklike instellings, grondwetlike beskerming en die oppergesag van die reg tussen mense en die verwesenliking van hulle hoop op ʼn beter lewe staan.
  • Laastens, bevoegdheid. Hervorming is baie moeilik en selfs met die beste bedoelings sal ʼn hervormingsagenda misluk as die mense wat dit moet bestuur nie opgewasse is daarvoor nie.

As hierdie struikelblokke oorkom is, wat sal ʼn voldoende ambisieuse en effektiewe hervormingsagenda insluit?

Marksentiment het keer op keer drie terreine van beleggingsontmoedigings uitgewys.

Die eerste is bemagtigingsbeleid wat, soos dit bedryf word, dikwels gesien word as belasting op belegging en ʼn poging om rykdom te bekom ten behoewe van ʼn klein politieke elite. Tensy grondliggende veranderings aangebring word aan die bemagtigingsbeleid gaan Suid-Afrika nie daarin slaag om weer ʼn mededingende beleggingsoord te word nie. Deur die fokus, totdat die bemagtigingsbeleid hersien is, te plaas op die insette (waarvan onderwys en entrepreneurskap die bepalende is) wat nodig is om die tempo te versnel waarteen benadeelde mense in die hoofstroomekonomie opgeneem word (met begunstigdes geïdentifiseer op grond van bevestigde sosio-ekonomiese benadeling eerder as ras), gaan die voordele behoeftige gemeenskappe nie so intensief gaan raak soos dit veronderstel is om te doen nie.

Die tweede gebied van beleggingsbesorgdheid is die bedreiging van eiendomsregte, wat Suid-Afrika onafwendbaar voorstel as ʼn land waarin belegging nie so veilig is as wat dit in ander mededingende lande mag wees nie. Verwatering van die grondwetlike beskerming van eiendomsreg – selfs na bewering met grondhervorming as oogmerk, wat op sigself roekeloos sal wees – sal vir dekades ʼn rooi lig laat flikker bokant die toegang tot die ekonomie.

Eiendomsreg moet onskendbaar wees as ons die beleggings wil lok wat ons nodig het en behoeftige huishoudings in staat te stel om bates te bekom. Titelaktes vir eiendom sal ʼn goeie begin wees, soos titelaktes en behoorlike finansiering vir ontluikende boere.

Die derde terrein is die beleid vir die arbeidsmark wat arm mense uit dié mark hou. Verre daarvan om die kwesbaarstes teen uitbuiting te beskerm is die uiteinde van Suid-Afrika se arbeidsbeheer-regime dikwels om arm mense uit te sluit van die belangrikste toegang tot maatskaplike en ekonomiese vooruitgang – die geleentheid om ʼn voet op die onderste sport van die arbeidsmarkleer te kry waar hulle die vaardighede kan bekom wat hulle ontsê word in ons power skoolstelsel, en om ʼn inkomste te verdien wat hulle maatskaplike toelae kan troef en mettertyd kan oortref namate hul vaardighede en produktiwiteitskapasiteit toeneem.

Hervorming ten opsigte van al drie hierdie beleidsterreine is nodig as Suid-Afrika die beleggings wil lok wat groei moontlik sal maak en, in ruil, sal lei tot hoër vlakke van werksgeleenthede.

Suid-Afrika se baanrekord vir die afgelope 20 jaar, en die korrelasie tussen belegging en groei en lewenstandaard, en die algemene vertroue in die ANC wat dié rekord onderlê, bied ʼn dwingende argument vir hervorming.

Maar ʼn magtige dwaling staan in die weg: die gedagte dat hervorming alleen die elite in die gemeenskap sal bevorder, ten koste van die armes.

Die valse argumente wat hieruit spruit – en wat die huidige beleids-malaise in die land onderlê – is waarop die gedagtestryd nou juis moet fokus.

Die dwaling dat die huidige bemagtigingsbeleid die enigste doeltreffende strategie is om betekenisvolle swart bemagtiging te verseker; dat die huidige arbeidsmarkregulasies in belang van die armes is; dat meer mag aan amptenare eindelik die probleem van toegang tot skole van hoë gehalte sal bied; en dat die eiendomsklousules van die grondwet geblameer moet word vir die lot van swart kommersiële boere, moet weerlê word voordat hervorming verwag kan word.

  • Frans Cronje is ʼn scenario-beplanner en uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede. Hierdie artikel is ʼn vertaalde uittreksel uit “South Africa State of the Nation in 2018: Prognosis for Reform”, geskoei op Cronje se toespraak voor die FW de Klerk-stigting tydens die 28ste herdenking van De Klerk se aankondiging in die parlement op 2 Februarie 1990.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Puik artikel. Ek deel heelhartig in die skrywer se optimistiese pessimisme.

Gestremde ·

Kan Dr. Frans Cronjè sommer ook die aangeleentheid ondersoek i.v.m gestremdes wat deur die Suid Afrikaanse Menseregte Kommunikasie saamgestel is in ‘n brochure oor gestremdheid “Disability Toolkit”:

The B-BBEE Scorecard
The definition of “designated” groups under the B-BBEE Scorecard differs from the definition of “designated” groups under the EE Act. Under B-BBEE, only Black people (African, Indian and Coloured) are categorised as beneficiaries. The EE Act considers all people with disabilities to be previously disadvantaged and they are categorised as designated groups. Points on the B-BBEE Scorecard are only awarded for Black people with disabilities and not all people with disabilities. Under the Generic Scorecard, there are five elements that companies can be measured on. These are Ownership, Management Control (including Employment Equity), Skills Development, Enterprise & Supplier Development, and Socio-Economic Development. Under the Management Control and Skills Development elements, organisations can attract up to six points for these two elements for affording opportunities to persons with disabilities.

HEVW ·

Hierdie is nou n deeglike studiestuk van die styl pad in die toekoms. Hierdie ontleding moet ons gereeld in die toekoms vergesel.

Entrepreneur Vlakvark ·

Die beste artikel wat ek in jare gelees het. Dankie dr Cronjé.
Die staat moet die speelveld sodanig reguleer dat daar vrede, veiligheid, reg en geregtigheid heers, dat mense bemagtig word tot selfaktualisering deur te wil kreatief werk om inkomste, gebaseer op profytbasis, te bekom, en dat hul eerbaar verkreë eiendomsreg in bates beskerm sal wees. Mense wat geld of gronde pasella of Mahhala uit die staatskas kry (uitgesonderd pensioenarisse en gestremdes) ontwikkel ‘n “entitlement”-kultuur. Laat hulle dienste lewer in ruil vir toekennings. ALLE studente behoort te kwalifiseer vir staatsLENINGS vir latere terugbetalings mits hulle voldoen aan die akademiese standaarde, geen pasellas of mahhalas nie. En joernaliste en die opposisie partye behoort as waghonde sitting te hê op alle staatstendervergaderings. ‘n KULTUUR van ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid moet aktief gekweek word, nie ‘n kultuur van “entitlement” nie.

dejager ·

Puik artikel.Dit is vir almal duidelik dat die huidige regime se ideologïe
erger as sanksies is.Suid Afrika is ń land met ongelooflike ekonomiese
potensiaal.Dit is verbysterend tragies dat die klein segment van die bevolking wat die vermoëe het om die ekonomie om te draai en te laat groei altyd as die vyand gesien word.
Suid Afrika wag nou al ń kwarteeu vir ń president om te sê:
Alle rasgebaseerde(lees rasistiese)
wetgewing word geskrap.Wat geld vir die swart persoon geld vir die wit persoon.Ons is almal Suid Afrika.BBEEE is Nazitipe diskriminasie teen ń klein minderheid.
Alle eiendom behoort wettig aan die persoon wat kan bewys dat hy daarvoor betaal het.
Laastens sal dit help as die president op ń verhoog gereeld ons afhanklikheid van God kan belei.
Suid Afrika sal nie groei voor hierdie drie dinge gebeur nie.
Regeerder na regeerder sal verwyder word totdat dit gebeur.

Jerry ·

CR deel jou bekommernisse Frans daarom gaan werksgroepe van kundiges vir die verskillende probleemareas aangestel word om met werkbare oplossingsvoorstelle te kom. Ontspan, die regte president is nou in beheer.

Gerad ·

Helen Keller het gesê: “Optimism is the faith that leads to achievement. Nothing can be done without hope and confidence”.
Maar dit beteken nie alles kan gedoen word met hoop en vertroue nie. Veral in die lig daarvan dat ons in die middel inkomste groep en in die tegniese omgewing waar die tyre die teer slaan reeds erlike jare gelede besef het dat ons is “liberated beyond repair”. En dit geld alle openbare dienslewerings organisasie’s, self in Kaapstad
Die tragedie is dat die bestuur strukture in hierdie organisasies vernietig is. Jy kan al die beeeee in die wêreld toepas maar sonder behoorlike strukture kan jy niks doen nie. Nie nou nie en nie in tien jaar nie.
Die enigste manier hoe die nou ryk optimistiese liberale besigheids gemeenskap dit deurgedruk kan kry is om ‘n paar mandelas onder die tafel deur te skuif. Hoe anders gaan hulle dit in die liberated omgewing regkry?
Vertel my ek is verkeerd; maar na wat ek afgelei het was die hele doel van die liberation van die staatsbestel om die “sake sektor” toe te laat om sonder hindernis te wheel en deal!
Die hele doel agter nuwe SA was tog ter wille van die ekonomie! Nou het ons dit. CR het heftig geskep uit die liberale omgewing. So wat moet hy verder doen? Verder liberate? Hy kan tog nie in sy hoog heilige winsgewende liberale spore omdraai nie.
Die liberale redenasie proses gaan my verstand te bowe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.