Is Suid-Afrika se grondwet voldoende vir sy diverse samelewing?

grondwethof2

Foto: Reint Dykema

At Lamey

Die Suid-Afrikaanse grondwet van 1996 en sy handves van menseregte is met die finalisering en inwerkingtreding daarvan wyd geloof en word steeds geloof as een van die wêreld se mees progressiewe grondwette. Die gevoel van genoegdoening oor die Suid-Afrikaanse grondwet raak effens minder indien gekyk word na die nuwe Keniaanse grondwet, veral as jy jou onder een van die minderheidsgroepe in die land bevind.

In 2010 is die nuwe Keniaanse grondwet met ’n handves van mensregte uiteindelik aangeneem ná ’n jare lange stryd en pogings tot grondwetlike hervorming sedert onafhanklikwording in 1964 en wat voorafgegaan is deur gewelddadige politieke en burgerlike konflik in 2007 en 2008.

Soos Suid-Afrika het Kenia ’n diverse en multikulturele samelewing.

By die lees van die Keniaanse grondwet, wat sover min aandag geniet het in Suid-Afrika, val dit op dat die opstellers daarvan nie net heelwat oorgeneem het uit die Suid-Afrikaanse grondwet nie, maar baie verder gegaan het om aandag te gee aan die uitbreiding en verskansing van sekere regte en vryhede. Onder meer is die uitbreiding en beskerming van kulturele vryhede en minderheidsregte opvallend binne ’n veelparty grondwetlike demokrasie.

Mail & Guardian berig op 24 Februarie 2012 dat prof. Christina Murray van die Universiteit van Kaapstad wat betrokke was by die opstel van sowel die Suid-Afrikaanse grondwet as die nuwe Keniaanse grondwet, sou gesê het dat die Keniane nou ’n lys van regte geniet wat 50% meer uitgebreid is as Suid-Afrikaners s’n.

Reeds vroeg in die grondwet van Kenia (hierna “KG” genoem) in art. 7(3) word ’n verpligting op die staat geplaas om die diversiteit van die taal van die mense van Kenia te bevorder en te beskerm.

“The State shall –

(a) promote and respect the diversity of language of the people of Kenya”…

Art. 10 van die KG bevat sekere nasionale waardes en beginsels wat alle staatsorgane, die regering en amptenare bind. So bepaal art. 10(2) dat die nasionale waardes en beginsels van die regering onder meer insluit magsdeling en afwenteling van mag, benewens ander kernwaardes soos die oppergesag van die reg, demokrasie en deelname deur die mense.

Hierdie nasionale waardes en beginsels, volgens art. 10(2)(b), sluit benewens menswaardigheid, gelykheid, menseregte en nie-diskriminasie, ook die beskerming van gemarginaliseerdes in die samelewing in.

Op meer as een plek word in die KG verwys na die erkenning en beskerming van kultuur.  So bepaal art. 11(1) die volgende:

“This constitution recognises culture as the foundation of the nation and as the cumulative civilisation of the Kenyan people and nation.”

Art. 11(2) plaas verder ’n verpligting op die staat om alle vorme van nasionale en kulturele uitdrukking deur middel van letterkunde, die kunste, tradisionele vieringe, wetenskap, kommunikasie, inligting, media, publikasies, biblioteke en ander kulturele erfenisse  te bevorder.  Art. 11(3) gaan selfs sover as om ’n verpligting op die parlement te plaas om wetgewing in te stel wat verseker dat gemeenskappe vergoeding ontvang vir die gebruik van hul kulture en kulturele erfenisse.

Die handves van menseregte in die KG bepaal verder in art. 19(1) dat die handves ’n integrale deel vorm van Kenia se demokratiese staat en die raamwerk is vir sosiale, ekonomiese en kulturele beleid. Weer eens sien ons hoe kultuur een van die belangrike boustene van die demokratiese staat is.

In art. 21 word gefokus op die fundamentele verpligting van die staat en elke staatsorgaan om die handves van menseregte te beskerm en te bevorder. So bepaal art. 21(3):

“All State organs and all public offices have the duty to address the needs of vulnerable groups within society, including women, all the members of society, persons with disabilities, children, youth, members of minority or marginalised communities and members of particular ethnic, religious or cultural communities” (eie beklemtoning).

Weer eens sien ons uit hierdie bepalings die spesifieke insluiting van lede van minderheidsgemeenskappe asook lede van onder meer godsdienstige en kulturele gemeenskappe.

Besondere aandag is by die opstel van die KG gegee om uitdruklik voorsiening te maak vir die beskerming en erkenning van kulturele diversiteit en dit te weerspieël in die gees en bedoeling daarvan. Art. 44 van die KG bevat verdere bepalings ter ondersteuning van taal en kulturele regte, waarvan die bepaling soortgelyk is aan artt. 30 en 31 van die Suid-Afrikaanse grondwet. Maar soos hierbo reeds aangetoon, is hierdie soortgelyke bepalings nie die enigste in die KG en sy handves van menseregte nie en gaan die KG beduidend verder om hierdie regte te beskerm.

Veral beduidend en interessant is Deel 3 van die handves van menseregte van KG wat sekere spesifieke bepalings bevat vir die toepassing van sekere regte, met die uitdruklike verklaarde bedoeling in art. 52(1) om groter duidelikheid oor die toepassing van sekere fundamentele vryhede van sekere groepe of persone uit te brei.

Volgens hierdie bepalings mag hierdie deel van die handves nie beperkend uitgelê of gekwalifiseer word nie.

Hierdie regte wat spesifiek uitgebreid beskryf word en spesifieke beskerming verdien is onder meer:

  • die regte van kinders;
  • die regte van persone met gestremdhede;
  • spesifieke maatreëls ter bevordering van opvoeding en opleiding van die jeug, insluitende ook die beskerming van die jeug deur skadelike kulturele praktyke en uitbuiting;
  • die beskerming van die regte van ouer persone in die samelewing;
  • regte van minderhede en gemarginaliseerde groepe.

Artikel 56 lê ’n plig op die staat om minderhede en gemarginaliseerde groepe te beskerm. Hierdie bepaling lees soos volg in die oorspronklike Engelse teks:

“The State shall put in place affirmative action programs designed to ensure that minorities and marginalised groups:

  • participate and are represented in governance and other spheres of life;
  • are provided special opportunities in educational and economic fields;
  • are provided special opportunities for access to employment;
  • develop their cultural values, language an practices; and
  • have reasonable access to water, health services and infrastructure.”

Indien art. 56 van die KG in ag geneem word, sou dit byvoorbeeld ongrondwetlik wees indien die ontwikkeling van enige minderheidsgroep se taal nie bevorder word nie. ’n Mens sou dink dat sodanige taalbevordering sou insluit die bevordering daarvan op skool- en tersiêre vlak.

Dit is opmerklik dat die KG die diversiteit van taal van die mense van Kenia bevorder. Dit is ongeag die feit dat daar slegs twee amptelike tale in die Republiek van Kenia is, naamlik Swahili en Engels. Ondanks die feit dat slegs twee tale as amptelike tale erken word, word grondwetlike beskerming ook vir ander tale gebied wat nie amptelike tale is nie.

In Suid-Afrika het die tyd dalk aangebreek dat al die vorme van staatsgesag, naamlik die regering, die parlement en die howe by die inagneming van en verdere ontwikkeling van grondwetlike regte in Suid-Afrika kennis neem van die Keniaanse grondwet. Die Suid-Afrikaanse grondwet bevat ’n spesifieke bepaling in art. 39  dat by die uitleg van die handves van menseregte, ’n hof onder meer die volkereg (“international law”) in ag moet neem en buitelandse reg (“foreign law”) in ag kan neem. Regsvergelyking is al meermale deur ons howe toegepas veral wanneer grondwetlike regte uitgelê en toegepas moet word.

Met die totstandkoming van die nuwe grondwet in Suid-Afrika het ’n visie vir ’n reënboognasie ontstaan. Hierdie visie het in die vooruitsig gestel ’n harmonieuse samelewing waarin die taal en kulturele diversiteit van die samelewing erken en wedersyds gerespekteer word en dat hierdie ideaal deur die staat bevorder sal word.

Daarenteen het politieke kommentators en ontleders in die onlangse verlede gereken dat die reënboognasie-visie dood is. Die miskenning deur die staat van die taal en kulturele regte van minderhede as deel van die diversiteit van ’n multikulturele Suid-Afrikaanse samelewing het as resultaat ’n nuwe stryd ontketen. ’n Nuwe stryd vir die beskerming van taal en kulturele regte en vryhede en in sekere gevalle ook godsdienstige regte en vryhede, het ontstaan. Dit sal alles onnodig word indien Suid-Afrika maar net begin kyk na die jongste grondwet in Afrika wat ook ’n handves van menseregte bevat en die belang van die beskerming van taal en kulturele vryhede in ’n multikulturele samelewing met aandag uitgespel het.

  • At Lamey is ‘n praktiserende advokaat en lid van die Pretoria-balie

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Johann Marx ·

In Kenia het hulle ‘n grondwet, en dit word gerespekteer, uitgeleeg en toegepas. In Suid Afrika het ons ‘n konstitusie….waaraan min mense hulle steur….en ‘n regering wat besig is om die ANC se Vryheidsmanifes tot die letter toe uit te leef en te laat realiseer. DIT is die verskil.

Sarel Strydom ·

Daarom is ek van mening dat Roelf meyer die verkeerde person was om namens ons te onderhandel.

Johann Marx ·

Gelukkig het ons nou ‘n demokrasie….’n politieke bestel waar die minderheid kan deelneem aan hulle ondergang.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.