Is tronk die oplossing vir renosterstropery?

bonne-de-bod-ivoor-juwele-in-burma

Bonné de Bod by ivoorjuwele waarop beslag gelê is. Foto: Susan Scott/Verskaf.

Sosiale media het onlangs uit sy nate gebars met die nuus dat 365 stropers tot dusver hierdie jaar aangekeer is. Natuurlik is dit positiewe nuus, maar terselfdertyd ook geen rede om die vreugdevure aan te steek nie. Dit is duidelik dat die instroming van stropers binne ons nasionale parke nie besig is om af te neem nie. En vir elke stroper wat agter tralies beland of selfs tydens ’n kontak met veldwagters doodgeskiet word, is daar altyd nog een wat gereed staan om sy plek in te neem.

Stropers is vervangbaar.

Ons veg ’n komplekse oorlog en daar is baie meer agter die aanslag as bloot die inhegtenisneming van stropers op die grond. Hierdie grootskaalse probleem moet laag vir laag afgeskil word soos ’n ui.

Daar is twee slagvelde in hierdie oorlog: die bron hier in Suid-Afrika, die tuiste van die meeste renosters in die wêreld, en die aanvraag in Asië, waar die verbruikers van renosterhoring is.

Op voetsoolvlak begin dit met armoede, aangesien die meerderheid van stropers van die plaaslike gemeenskappe aangrensend ons nasionale parke afkomstig is. Die Krugerwildtuin sien die meeste stropers, met ’n geraamde twaalf tot vyftien bendes wat elke dag aktief in die park besig is. Miljoene rande word vir bekamping in die park aangewend en die nuutste tegnologie geniet gedurig publisiteit, en tog stroom die stropers binne.

Die 365 stropers is ’n aanduiding dat die beloning steeds swaarder weeg as die risiko. Wat die plek van aanvraag betref: daar is ’n eeue oue geloof van miljoene mense duisende kilometers ver oor die oseaan, wat onwrikbaar glo dat renosterhoring siektes genees en status gee. Die vraag na renosterhoring is nimmereindigend.

Wildlewe-misdaad in die algemeen is ’n “gewilde” misdaad. Die groot getal beslagleggings op onwettige ivoor, ietermagogs en renosterhorings by lughawens is genoeg bewys dat hierdie gentlemans crime, soos wat die Asiërs dit noem, aan die toeneem is. Net vroeër hierdie maand is daar op 50 renosterhorings, wat na Viëtnam onderweg was, by Kuala Lumpur-lughawe beslag gelê. Dit was die grootste beslaglegging in die geskiedenis van Maleisië wat betref die aantal horings en hul waarde. Deel van die besending was ook beendere van tiere en luiperds.

Wildlewe-misdaad is uiters lonend en het ontaard in een van die wêreld se grootste oorgrens-georganiseerde kriminele aktiwiteite, tesame met dwelm- en wapensmokkelary asook mensehandel. Sindikate gebruik dieselfde roetes en tegnieke vir wildlewe-misdaad as vir hul ander onwettige aktiwiteite. Indien hierdie sindikaatnetwerke nie uitmekaar getrek word nie, sal stropingsbendes onverpoosd met hul aktiwiteite in ons parke voortgaan. Dit is die realiteit.

Nog ’n probleem wat ons in die gesig staar, is dat die meerderheid van inhegtenisnemings en gepaardgaande skuldigbevindings op die stropers en middelmanne fokus, eerder as op die groot rolspelers wat baie hoog op in hierdie kriminele netwerke sit. Die baasbreine maak nie self hul hande vuil nie en daarom is dit moeilik om die sindikate te ondersoek en te vervolg.

Hier speel die inwin van inligting en die volg van die geldroete ’n baie belangrike rol. Ons moet ook indringend kyk na ’n minimum vonnis vir renosterstropingsake. Waar Chinese en Viëtnamese burgers by die lughawe aangekeer is met renosterhorings in hul bagasie, word daar skuldig gepleit en ’n boete opgelê. Die horings waarop beslag gelê word, word egter vir miljoene rande op die swartmark verkoop en die misdadiger spring vry met ’n R500 000-boete. Dit is kleingeld uit hul diep sakke en hulle gaan eenvoudig voort met hul bedrywighede. Die misdaadnetwerke buit die regstelsel uit.

Die eerste doel vir die misdadiger is om borgtog te kry en as dit eers gebeur het, doen hulle alles in hul vermoë om die regsproses so lank as moontlik te vertraag. Sake word gevolglik vir jare uitgestel en aangeskuif met die hofrol wat reeds oorlaai is.

Tans is daar sindikaatsake wat al vir langer as sewe jaar sloer. Die regstelsel werk dus ten gunste van die misdadiger en dit is een van die aspekte waarna gekyk sal moet word as ons enigsins wil voor kom in hierdie stryd teen renosterstropery. Ons het ’n regstelsel nodig wat daar is vir die slagoffer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Liberaal ·

Tronkstraf is aldus liberale linkse waardes nie goed nie, misdadigers se vryheid is belangriker as die regte van die onskuldiges.

Mandie ·

Hoekom nie??? Ons land stuur mense tronk toe vir alles so hoekom nie renoster stropery nie. Daar is baie mense wat misdaad pleeg wat eerder op ander maniere gestraf kan word as tronk, maar SA glo Tronk toe vir alles!!!!

OWO ·

Die stropers stroom die Krugerwildtuin binne omdat die Mosambiek grens oop is vir enige jan rap en sy maat.Hoekom nie die grens weer toemaak nie.Dit sal seker nie die probleem oplos nie,maar behoort te help in die stryd teen stropery.Dit is net logies dat daar tot vyftien bendes bedags daar aktief is.Dit behoort makliker te wees om die grens te patrolleer as om Vietnam te probeer beveg in die bosse.

LUKAS VD MERWE ·

Die sake sal nooit opgelos word nie want daar is derduisende regeringsamtenare wat skatryk word met renosterhoring. Seker net 3% van die herwinde horing word bewaar as bewyse, waar die res openlik verdeel en verkoop word vir eie gewin. Daar is nie meer verder aanklgte nie. Net die stropers wat privaat werk en nie ingeskakel by die geregsdienaars nie, word skuldig bevind. die ander stroper pione word so gou as moontlik vrygelaat om nog horing te oes en in te handig. Ek was daar. Hoekom word n stroper 4 keer gearresteer met horing en weer vrygelaat. EK DOEN NIE MEER DAARDIE OEFENINGE NIE WANT JY SKOP TEEN N OORMAG VAN MISDADIGERS.

Paul ·

Ek weet, om ‘n natuurlewe aktivis te wees, het mens spesiale kwaliteite nodig, ‘n fyn mens met gevoel. Maar ook iemand met deursettingsvermoë. Dikwels staan mens alleen teen die geldmagte, aanhouer wen, nie noodwendig in hierdie omgewing nie, maar hulle vorder so voetjie vir voetjie, sodat die aarde en dit wat aan ons toevertrou is, effe langer kan voortbestaan. En dan trek die geldmagte ook daaruit voordeel, hulle sien net die pennies val.

Paul ·

En die mense wat hulle in die omgewing van bewaring begewe, weet dit is ‘n lewenstaak.

Etienne Prinsloo ·

Die stropery sal ophou wanneer die laaste olifant en renoster vernietig is. Selfs dan sal die liberale verskoning maak vir diegene wat die wêreld van twee unieke spesies ontneem het.

Jimmy ·

In Botswana is daar geen renoster stropery nie, want hulle weermag skiet eenvoudig dood. Toegegee, hulle het n baie kleiner gebied as die wildtuin om te patrolleer.

Swanna ·

Jimmy dit is die antwoord. Die oomblik wanneer die doodstraf vir misdaad oortreding gebruik word stop dit ontmiddelik. Kyk maar die lande wat dit toepas ons weet van hulle en soos jy se van Botswana.

Nita ·

Doodstraf vir alle smokkelary. Perlemoen,verdowingsmiddels en stropery van diere. Maar ag dis darem te wreed want ons het mos ons menseregte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.