Is verpligte inenting juis Christelik? 

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Wat is die verskil tussen ʼn pandemie en ʼn endemie? Ek het nie geweet nie en moes dit naslaan. ʼn Pandemie is ʼn dodelike siekte wat wêreldwyd versprei. Met die Spaanse griep van 1918 het 50 miljoen mense na berekening gesterf! In die sewe weke van September tot Oktober van daardie jaar het 140 000 in Suid-Afrika weens die griep omgekom. Wanneer so ʼn toestand net nie wil weggaan nie en telkens met nuwe variante na vore kom, soos tans met die koronavirus, word daar egter van ʼn endemiese toestand gepraat. Dit wil sê: Dit het gekom om te bly en die wêreld sal moet leer om permanent daarmee saam te leef.

Wetenskaplikes maan dat dit nog te vroeg is om van ʼn endemie te praat, maar die tekens is daar. Daar is egter tóg redes waarom die waarskynlikheid van ʼn volgehoue toestand nie vergesog is nie. Dit is tyd om daaraan aandag te gee. In hierdie rubriek word, soos gewoonlik, met Bybelse beginsels gewerk om afleidings te maak.

Oor die meriete van hierdie afleidings moet elkeen maar self besluit. Die artikel moet gelees word teen die uitdruklike doel om die Skrifbeginsels vir die Christelike etiek te positiveer. Geen filosofiese grondmotiewe, soos byvoorbeeld die sosiale kontrakteorie speel hierin ʼn rol nie.

Die artikel ondersoek die meriete van ʼn aandrang op menseregte teenoor die Skriftuurlike beginsel van naasteliefde. Teksverwysings definieer die Bybelse betekenis van naasteliefde. Daar is daarom geen oorgawe van individuele regte aan die staat om na willekeur oor mense te besluit nie. Die verwysing na Paulus se teks dui aan dat gelowiges vrywillig die reg en vryheid ter wille van die welsyn van die naaste opoffer.

Die staat en instansies soos universiteite, skole, besighede en privaatondernemings se vereiste om op verpligte inentings aan te dring, word daarom vanuit ʼn Christelike etiek vrywillig aanvaar.

Die gedrag van die algemene publiek bewys dat die pandemie nie maklik onder beheer gebring gaan word nie. Ons sien elke dag op televisie hoe groot byeenkomste bygewoon word sonder dat maskers gedra word. Mense volhard om mekaar met die hand te groet of te omhels. Baie hou partytjie en is vrolik terwyl mense daagliks sterf.

Die huidige diskoers oor verpligte inenting bevestig dat die algemene publiek nie verstaan hoe menseregte behoort te funksioneer nie. Duisende mense weier om hulle ten spyte van soveel mediese bevestiging te laat inent en beroep hulle op hulle individuele mensereg om sélf te besluit. Dit is egter om verskeie redes ʼn ongeloofwaardige argument. Die samelewing funksioneer eenvoudig met algemene besluite wat vir almal geld, of hulle daarmee saamstem of nie. Pad en verkeersreëls moet deur almal gehoorsaam word; rokers mag nie binne geboue rook nie; openbare gedrag word deur sosiale, maatskaplike en juridiese reëls gekontroleer. Niemand sal durf waag om daarop aan te dring dat dit ʼn mensereg is om oor alles in die lewe sélf te besluit nie. Menseregte impliseer immers dat ook ander mense regte het. Het eienaars van besighede nie die reg om toegang te weier indien iemand die welsyn van die besigheid of die veiligheid van ander klante bedreig nie? Volg dit nie logies dat toegang geweier moet kan word indien iemand nie ingeënt is nie?

Menseregte mag nie deur selfsugtige en eiegeregtige motiewe verabsoluteer word nie. My reg om my arms te swaai, eindig waar my naaste se neus begin. Ons woon met miljoene ander mense saam en die orde in enige samelewing kan alleen gehandhaaf word as die orde gekontroleer word. Die algemene welsyn van die bevolking moet eenvoudig swaarder weeg as die individuele reg van ʼn enkele persoon. Jammer, maar ek meen dat Novak Djokovic se weiering om ingeënt te word, verkeerd is.

Die Skrifbeginsel van naasteliefde geld in hierdie beslissing baie uitdruklik. Doen aan ander soos wat jy aan jouself gedoen wil hê (Lukas 6:31). Niemand sal daarvan hou om in ʼn hospitaal of ʼn lewensbedreigende situasie deur ander se toedoen te beland nie. Tog verwag mense dat ander deur hulle versuim met dodelike gevolge aangesteek moet kan word net omdat hulle weier om ingeënt te word. Dit is eenvoudig onmoontlik om dit met naasteliefde te rym.

Prof. Johan Janse van Rensburg.

Volgens die Skrif verteenwoordig ʼn Christelike spiritualiteit na die voorbeeld van Christus dat ons ons eie reg en gemak ter wille van die naaste sal prysgee. Paulus skryf in Filippense 2:3: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”. Dit is veel gevra maar die Christelike motief is duidelik: “Dieselfde gesindheid moet in ons wees wat in Jesus Christus was” (Filippense 2:5-8). In dieselfde gesindheid skryf Paulus dat as die eet van vleis sy naaste sal laat struikel, hy van sy vryheid om vleis te eet, afstand sal doen (1 Kor.8:13). Toegepas op die pandemie impliseer dit dat ons ter wille van die welsyn van almal in die land afstand van ons vryheid sal doen. Ter wille van ons naaste sal ons alles wil doen wat binne ons vermoë is om die welsyn van ons naaste te bevorder.

Waarskynlik sal daar meer as een wees wat sal terugkap dat nie almal hierdie Christelike perspektief sal aanvaar nie. Nie almal is Christene nie. Natuurlik! Tog is daar ook baie Christene wat die menseregte-houding téén inenting gebruik sonder om ter besef dat dit teen die grein van die naasteliefde ingaan. Moet die Christelike (Bybelse) perspektief dan nie toegelaat word om ook ʼn bydrae tot die gesprek te lewer nie?

In ʼn briljante program Civilization, wat jare gelede deur Sir Kenneth Clarke op BBC oor die beskawing aangebied is, is Clarke aan die einde van die reeks gevra wat die belangrikste les is wat die opkoms en val van beskawings ons geleer het. Clarke het met een woord die briljante reeks opgesom: “courtesy”. As bedagsaamheid die kern van ʼn beskawing is en dit is presies wat die Skrif ons leer, is daar geen dringender tyd as nou om die selfsugtige gesindheid van menseregte ter wille van die Christelike gesindheid van die liefde te laat vaar nie. Hoeveel mense moet dan in die naam van menseregte nog sterf voordat ons tot besinning kom?

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n NG Kerk-predikant. In 1994 het hy ook ’n pos aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Professor, juis omdat ek my naaste liefhet sal ek NOOIT OOIT verpligte inentings met eksperimentele middels ondersteun nie. Veral nie gesonde jongmense wie se risiko van hartkwale groter is as dood aan COVID nie.

En terloops: die spuit beskerm net jouself, nie jou medemens nie. En waarom sou ‘n oninge-ente persoon ‘n gevaar vir ‘n ten volle gewakste persoon wees eerder as andersom?

Skoenmaker, hou jou by jou dwaalleer.

Dr Pieter

Baie dankie vir ‘n sinvolle en goed deurdagte beredenering. Mag ek byvoeg? Soos geïmpliseer in die artikel, naas “bedagsaamheid” en “naasteliefde” ook “respek” vir ander. Selfs ongelowiges moet dit insien?

MT

Ek het hierdie tipe oorredingsargumente – vanuit Die Bybel en daarom veral gemik op Christene – lankal verwag. En ek moet erken, ek is nie teleurgestel nie.

Al wat ek nog in spanning voor wag, is dat liggamlike integriteit (soos ook in Die Bybel vervat) tot sonde verklaar sal word , en dan spesifiek deur teoloe uit een van die drie susterskerke.

Ons leef voorwaar in ongekende tye.

Mienie

Stem!

Werner

Die uitgangspunt van hierdie artikel is dat inentings die verspreiding van Covid beperk. Ons weet nou al ‘n geruime tyd, van bronne soos die CDC en navorsing uit Suid-Afrika self, dat dit onwaar is. Dit is dus nie nodig om die artikel te ontleed nie, maar ek wil graag hierdie stuiwer in die armbeurs gooi: God het nie aan mense menseregte gegee nie en dit (menseregte) behoort glad nie deel van die gesprek te wees nie. Wat naasteliefde (wat natuurlike gerus deel van die gesprek moet uitmaak) betref, ek dink nie dit is naasteliefde wanneer ek my naaste dwing om… Lees meer »