Is vryheid Suid-Afrika se voorland?

draad-heining-vryheid

Foto: Maxpixel.freegreatpicture.com

Deur Chris Hattingh

Daar is weer eens ʼn verkiesing in Suid-Afrika, en weer eens is daar ongelooflik baie op die spel. Voor enige verkiesing gaan die verskeie partye natuurlik hul bes doen om ons te oortuig om vir hulle te stem. Vir al hul verskille is daar een tema wat hulle in gemeen het: Stem vir ons, en ons sal vir jou iets verniet gee. Of ʼn huis, of elektrisiteit, of geld… Solank ons net vir die régte mense stem, sal hulle ons lewens vir ons vooruit beplan en seker maak ons ly nooit weer aan honger of koue nie.

Die groot probleem met hierdie perspektief is dat ons heeltemal te veel mag in die hande van die staat plaas. Ná die verkiesing gaan die staat nog ʼn keer hierdie mag gebruik om individuele regte te skend.

Die onlangse proteste in Alexandra is die nuutste voorbeeld van die staat se mislukking. Maar in plaas daarvan om te fokus op die rol en grootte van die staat, fokus ons op die mense en persoonlikhede wat in beheer is. Ons is gans te vinnig om te vergeet dat daar eintlike ʼn groter probleem is.

Elke Suid-Afrikaner moet besef dat hulle verantwoordelik is vir hul eie lewe. Om al hoe meer mag en beheer vir die staat te gee, moet nie ons voorland wees nie. In plaas daarvan om te wag vir die staat om alles vir ons op te los, moet ons self oplossings vind vir ons probleme.

Hoe groter die staat, hoe minder plek is daar vir die individu in die samelewing. Mense moet fokus op dit wat hulle vir hulself kan doen, sonder om te wag vir die staat om ons probleme op te los.

Kom ons fokus op ʼn spesifieke probleem wat tans talle Suid-Afrikaners in die donker dompel: Eskom.

Dié staatsentiteit geniet ʼn monopolie in die kragsektor. Daar is geen kompetisie vir Eskom nie, en mislukking ná mislukking gee die staat net al hoe meer belastinggeld oor. Daar is geen verantwoordelikheid verbonde aan Eskom nie, want hulle sal altyd hulp ontvang van die staat.

Eskom moet geprivatiseer word. Mits dit nie gebeur nie, moet kleiner kragmaatskappye toegelaat word om krag aan die verbruiker te verskaf. Kompetisie is die enigste manier om te verseker dat pryse laer sal wees en dat die verbruiker meer verskeidenheid sal geniet. As een maatskappy misluk, kan ons na ʼn ander een oorgaan. Kompetisie sal ook beteken dat daar meer werksgeleenthede is – iets wat Suid-Afrika dringend benodig.

Ongeveer 10 miljoen Suid-Afrikaners sit tans sonder werk. Daar bestaan soveel arbeidswette dat dit moeilik is om by te hou. Die nasionale minimumloon is die jongste voorbeeld hiervan. Hoe moeiliker die wette dit maak vir besighede en potensiële werknemers om ʼn kontrak te teken, hoe minder gaan mense werk vind. Om ʼn besigheid te stig en bestuur is nie kinderspeletjies nie; nou maak wetgewing dit net nóg moeiliker vir bestuurders en eienaars om mense werk te gee, want al die wette maak dit net duurder om nuwe personeel aan te stel. Die hoeveelheid arbeidswette beteken ook dat talle besighede oorsee kyk, waar hulle aangemoedig word om sonder staatsleiding te funksioneer. Suid-Afrika moet ʼn land van besigheidsgemak wees, waar so min as moontlik struikelblokke in werknemers en werkgewers se pad staan.

chris-hattingh

Chris Hattingh van die Vryemarkstigting. Foto: Verskaf.

Suid-Afrikaners is baie bang vir een woord: korrupsie. Ons vrees dit om elke hoek, en ons plaas alles, veral Eskom se probleme, op korrupsie binne die staat. Maar ons moet besef dat die Suid-Afrikaanse staat en regering só groot is, dat enige iemand dit kan kaap. Hoe groter die staat, hoe meer geld is daar betrokke, en hoe meer geleentheid is daar vir mense om ʼn kans te sien om hulself te verryk deur ons belastinggeld te steel. Ons geskiedenis is gekenmerk vir die plasing van belangrikheid van die groep of die staat, bo die individu. As Suid-Afrika wel gaan herstel en miskien groei, moet die individu bo die staat geplaas word.

Ongeag watter spesifieke party die algemene verkiesing wen, moet ons elkeen begin om ons eie mag en beheer terug te vat van die staat. Ons moet nie meer wag vir iemand om goed te kom regmaak vir ons nie – ons moet dit sélf doen. Elke individu se lewe is hulle s’n om mee te doen soos hulle bes dink. Om te verseker dat elke persoon hul lewe ten beste kan benut, moet die staat uit die pad kom. Ons kan duidelik sien wat gebeur as ons die staat met ons lewens en ons geld vertrou. Mense gaan wel foute maak as hulle vry is – dit is deel van die realiteit van individuele vryheid. Ons moet meer vertroue in ons medemens plaas, en nie in die staat nie.

  • Chris Hattingh is ’n navorser van die Vryemarkstigting. Hy het ʼn MPhil in Business Ethics aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy is die skrywer van gepubliseerde artikels wat fokus op verbruikersregte, ekonomiese vryheid, ongelykheid en individuele vryheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Goed gestel, Chris, behalwe vir een belangrike punt: ONS BETAAL DIE REGERING OM GOED VIR ONS TE DOEN!!! Neem jy jou motor na die handelaar om te laat diens, betaal jy hom en gaan doen dit dan self by die huis? Nou waarom doen ons dit met die regering? Loop jy by ‘n kettningwinkel in, koop R1000,00 se kruideniersware en stap met net R100,00 s’n uit? Nou waarom doen ons dit met die regering? Ek sal ALLES self doen…..sodra jy my die geld terug gee wat ek jou betaal het om die diens te lewer!! En daaroor het ek nie ‘n keuse nie….ek MOET betaal vir ‘n diens wat nie gelewer word nie, anders is EK die verkeerde een? Praat nou van ‘n “kamtige demokrasie”….Hierdie is eerder ‘n Kleptokakistokrasie…..

Pieter v H ·

Presies. Jou voorbeelde klink belaglik, maar dis presies wat die ANC én die DA aan ons doen. Ons is net te slapgat om ons rûe reguit te maak!

George in Bloem ·

Verkoon tog as ek enige iemand se bubble bars maar ek dink nie die gemiddelde SA belastingbetaler kan nog ‘n verdere dosis van die huidige “vryheid” wat ons tans “geniet” bekostig of oorleef nie.

Sarel ·

Maak soos ander ” demand” dat Mboweni belasting verminder. Onderwys word ook bedryf deur Ouers se geld en daarom moet gestuur van skool aan ouers oorgelaat word.

Bekommerd ·

As daar een ding is wat hulle nie sal verminder nie, is dit belasting. Inteendeel, dit word al hoe meer, want die regering soek net meer geld uit ons … suikerbeladting, VAT verhoog, belasting op petrol, CGT, nou die nuwe belasting op die inkomste wat burgers in die buiteland verdien. Nee wat, hulle is gierig en diewe wat buite beheer is.

willem Botha ·

Die onderwys,polisie,medies het gefaal in SA oor onbevoegdheid en dom besluite waarvan ons nou die rippel effek beleef as n drastiese verandering nie binnekort gebeur nie sal suid afrika totaal verval en n tweede zimbabwe, somalië, sirië word en dan is burger oorlog n groot realiteit.

Jerry ·

Vir solank as wat ons die ANC staat se doelbewuste mislukkings as mislukkings sien, sal ons, onself en ons kiesers deur die ANC laat mislei. Sien die ANC se mislukkings vir wat dit is, doelbewuste revolusionere suksesse! As jy nie deur die ANC se misleiding kan sien nie, kan jy nie die ANC se doelbewuste mislukkings keer nie. Alle mislukkings van die staat ontstaan deur kaders te ontplooi wat veranderinge implementeer wat doelbewus presies die teenoorgestelde van die bestaande is. Dit is hoe die ANC kolonialistiese denke asook stelsels verander na wat ons sien as mislukkings, maar wat inderwaarheid revolusionere suksesse is vir die totstand bring van ander denke en n nuwe of sosialistiese orde! Die regte denke en regte stelsels word verander na verkeerde denke en verkeerde stelsels deur dit voor te hou as diskriminerend en so kan alles na die teenoorgestelde verander word wat inderwaarheid n nuwe ongelyke samelewing skep! Dit wat reg was is nou verkeerd en dit wat goed was is nou sleg. Die goeie mense is nou die slegte mense en die slegte mense is nou die goeie mense. Gaan vertel vir die revolusionere massas dat die ANC as n staat misluk het en die kiesers gefaal het, soos bv in Alexandra, hulle sal jou uitlag, want hulle weet iets wat jy nie weet nie! Hulle is geskool in iets wat jy duidelik nooit sal verstaan nie!

John ·

Suid-Afrikaners is beslis nie bang vir korrupsie nie, inteendeel. Eskom, die SABC et al ken net een woord en dit is reddingsboei en dit is die naaste aan wat die knoeiers skynbaar aan enige vasvataksie sal kom… Indien vryheid SA se voorland is, is die nuwe tipe, die eenparty-liberale-demokrasie sekerlik oppad, soos in die VSA… human rights out of bounds… Almal doen wat hulle wil, gryp wat hulle wil, moor wie hul wil, glo wat hulle wil… alles onder die gee-gee-dekmantel van ‘n paradyslike me-me-lewe…

Vader Abraham ·

Nee Jan…gedeeltelik korrek (moet nou nie die poel onder die swaan uitruk nie).

marco polo ·

Ons gaan eers vry wees wanneer ons nie meer n werk of eiendom het nie, en nie Eskom of Multichoice hoef te betaal nie, en nie hoef vas te klou aan materiele besittings nie. Dan kan jy doen wat jy wil, gaan waar jy wil. Ek en duisende ander is al lankal vry, want ons het die ellende en negatiwiteit van SA agtergelaat.

Jerry ·

Die enigste vryheid vir die Afrikaner is op die ou einde wat marco polo en duisende Afrikaners reeds gedoen het. Emigreer na al die uithoeke van die wereld, na daar waar julle welkom is, veilig kan voel, n nuwe toekoms kan bou!

marco polo ·

Regstelling, Jerry. Ek het nie geemigreer nie, daarvoor is ek te oud, ek bly n (regse) Afrikaner in murg en been. Maar behalwe vir my kinders en vriende is daar geen rede meer hoekom ek wil teruggaan na die chaos en verwoesting nie, daarvan het ek genoeg gehad. My tyd in China loop uit en ek sal eersdaags n nuwe land moet soek, maar ek het geen vrese of bekommernis daaroor nie, want as jy vry is, is jy oral vry en jy kan kom en gaan soos jy wil. Ek voel jammer vir diegene, baie van my vriende ingesluit, wat in ontkenning lewe en trots die slawe bly van hulle verbande en nuwe Fortuners, terwyl hulle moet agteroor buig vir hulle BEE base en neerkyk op volksgenote wat swaarkry en nie meer n werk het nie. Ek droom van n land waar ons n volk kan wees, en is bereid om terug te gaan en daarvoor te veg, maar ek is bevrees dat ek dit nie in my leeftyd gaan sien nie, daarvoor gaan dit nog te lekker met baie Afrikaners. Intussen geniet ek maar my avontuurlike, vrye en veilige lewe. Dalk Thailand volgende… of wat van Georgia..

Vryheid met verantwoordelikheid ·

Die globale superrykes misbruik ongelukkig vryheid en dan word dit vryheid sonder verantwoordelikheid wat tot die ondergang van n samelewing lei soos wat die uitbuiters en misdaadsindikate oorvat. Aan die ander kant gebruik hulle die staat om almeer klein besighede en individue in te perk om hulle eie invloed te vergroot. Die oplossing is n gouemiddeweg, maar waar die globsle elite hulle hande uit ons koffers en besighede hou.

Hans Richardt ·

Kollektiewe selfbeskikking vir elke etniese groep? Elke gemeenskap sal eie bestuur moet oorneem, ten einde individuele regte bv vryheid van keuse en assosiasie, te beskerm.
In huidige klimaat van geforseerde etniese amalgamasie politieke beleid, moet alle sg bevoordeeldes betaal, vir sg agtergeblewenes, dikwels onwettige immigrante uit Afrika. Die staat sisteem is oorlaai met maatskaplike ondersteuningstelsels. Ubuntu beteken net almal kak en betaal vir swak of geen diens…. Die kleptokrate sit in parlement se woonbuurte en het nie LOADSHEDDING of riool in strate nie. Dis tyd vir hersiening van die tirannie van demokrasie in SA.

Andreas ·

Ek, verseker, is nie bang vir daardie woord nie, die slang vreet hom uiteindelik van sy eie agterkant af op.

Anneli ·

Dankie Anton, dit was ‘n baie insiggewende toespraak wat ons almal behoort na te luister- dan sal die gekheid wat on ons gebeur volledig sin maak

aj ·

Jerry is reg!

Die ANC implementeer ‘n kommunistiese agenda wat ons naïewes hier op Maroela steeds nie verstaan nie.

Hulle (ANC) is vasberade om ‘n ‘werkersparadys’ in ons leeftyd tot stand te bring.

Die probleem is dat miljoene SA mense vatbaar is vir kommunisme omdat hulle ‘oorbodig’ en ‘onvanpas’ is, vir die moderne wêreld ekonomie.

Daarom, uit desperaatheid vanweë hulle netelige situasie, gryp die armes wanhopig na die strooihalms … wat die EFF en die ANC bied.

Die ANC/ EFF se plan vir die HERVERDELING VAN RYKDOM is eenvoudig!

Die ‘rykdom’ sal vanself oorbeweeg vanaf die HAVES na die HAVE-NOTS as jy net die regstelsel verlam.

Geen sigbare regeringsaksies is nodig nie … “speel” maar kamstig ” onbevoeg” om die omvangryke misdaad te beheer.

Misdaad en korrupsie is nie misdaad en korrupsie nie – dis herverdeling van rykdom! … reg van die begin af só beplan.

En hulle is ontstellend op skedule!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.