Israel en die spook van apartheid

Israelies kyk na ʼn lugskou in Tel Aviv om dié land se onafhanklikheidsdag te vier. Die staat het in 1948 tot stand gekom. Foto: wire.africannewsagency.com/AP Photo/Dan Balilty

Israelies kyk na ʼn lugskou in Tel Aviv om dié land se onafhanklikheidsdag te vier. Die staat het in 1948 tot stand gekom. Foto: wire.africannewsagency.com/AP Photo/Dan Balilty

Pres. Donald Trump se onlangse aankondiging, dat sy administrasie nie meer noodwendig die tweestaat-opsie vir Israel en die Palestyne voorstaan nie, het ʼn stortvloed mediakommentaar ontlok, wat meestal krities is.

Wat opval, is dat hierdie kritici dikwels die eenstaat-opsie met apartheid vergelyk en meen daardeur word apartheid na Israel gebring.

Ook die Suid-Afrikaanse regering, geswore vyand van apartheid, steun die tweestaat-opsie. Is dit blote onkunde oor wat die beleid van afsonderlike ontwikkeling was, wat veroorsaak dat waarnemers nou die Israelse opsie, wat die minste daarmee ooreenstem, naamlik die eenstaatopsie, daarmee vergelyk? Die tweestaatopsie met afsonderlike state vir Palestyne en Jode, vergelyk immers veel meer met die model van afsonderlike ontwikkeling.

Uit die besprekings is dit duidelik die ontleders se siening van apartheid is dat dit ʼn stelsel van wit bevoorregting was en dat swart mense erg onderdruk is. Die staatkundige hoeksteen daarvan is vergete.

Omdat die Palestyne vinniger as die Jode aanwas, meen hierdie ontleders die Joodse regeerders sal allerlei maatreëls instel om te voorkom dat Israel, wanneer die Palestyne die meerderheid word, die bewind oorneem.

Om te bepaal wanneer so iets ʼn werklikheid sal word, is baie ingewikkeld, omdat die syfers nie vir alle groepe ewe akkuraat is nie en ook nie dieselfde jaartal sʼn is nie. In breë trekke het Israel ʼn bevolking van 8,6 miljoen, waarvan 6,4 miljoen, oftewel 74,8 persent, Jode is. Die Palestynse bevolking is sowat 1,8 miljoen sterk, of te wel 20,8 persent. Sou die eenstaat-opsie ʼn werklikheid word, moet egter nog sowat 2,5 miljoen Palestyne van die Wesoewer ingesluit word en 1,5 miljoen van die Gasastrook.

Dit gee ʼn samestelling van ongeveer 8,4 miljoen Jode teenoor 5,8 miljoen Palestyne, met die Palestyne van veral die Gasastrook wat teen ʼn geweldige tempo aanwas.

Nog ʼn faktor is die Palestyne in diaspora, wat op byna 10 miljoen geraam word. Baie, veral diegene wat in lande soos Chili en die VSA hervestig is, wil nie na hul oorspronklike gebied terugkeer nie. Daar kan egter verwag word dat baie van die meer as 3 miljoen in Jordanië en die bykans halfmiljoen in Libanon, sal wil terugkeer. Ook die Palestyne in Sirië en Egipte sal waarskynlik wil terugkeer.

Of sal Israel steeds probeer keer dat hierdie diaspora-Palestyne, wat na oorloë uit Israel gevlug het, terugkeer, terwyl Joodse immigrasie na Israel steeds aangemoedig sal word?

Hoeveel mense kan Israel werklik dra? Die grootste ontsoutingsaanleg, wat aan ongeveer ʼn derde van Kaapstad se behoefte kan voldoen, tel onder Israel se indrukwekkende waterbenuttingsprogramme. Maar iewers gaan ʼn perk kom.

Maar wat ook al Israel se opsies is, die begrip apartheid kan nie sommer omgekeerd daarop van toepassing gemaak word nie. In Suid-Afrika gebeur iets soortgelyks – om bloot op internasionaal erkende en grondwetlike minderheidsregte aanspraak te maak, beteken dikwels dat die persoon met ʼn “hunker na apartheid” om die nek getooi word. Dit het ʼn strooipop van die werklikheid geword.

En so word ʼn regverdige, werkbare oplossing nie net hier nie, maar ook elders, in die wiele gery.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jean ·

Dit is belaglik om altyd te se mense hunker na ‘apartheid’. JA ons hunker na die verlede, nie omdat daar Apartheid was nie, maar omdat daar MISDAADBEKAMPING was, ons kon in die strate loop, ons kinders kon in die strate speel, ons kinders is nie bedreigd deur kwotas en BEE nie. Kom ons erken Apartheid was VERKEERD, hoekom is BEE en KWOTAS na 22 jaar nog reg? As die regering in 10 jaar bv alles ‘reggestel’ het, hoekom lei jong kinders nou nog onder ‘apartheid’ waarvan hulle nie deel was nie? Hoekom mag ‘n kind nou nie medies studeer of ‘n beurs kry omdat hy WIT is nie? Dit was apartheid, swartes kon nie toegang kry nie, as WIT apartheid verkeerd was, hoekom is SWART apartheid dan reg? En moet tog nie met die belaglike redenasie kom dat apartheid 400 jaar geduur het nie, dis tipies mense wat 20% in Geskiedenis en Wiskunde het wat so redeneer. Prakties gesproke was apartheid 40 jaar ‘aktief’. Demokrasie is al 22 aktief, en omgekeerde apartheid word al 22 jaar toegepas, maar nou is dit reg? Nooit kan jy een verkeerde konsep met ‘n ander verkeerde konsep regmaak nie. Daar is GEEN wenners hier nie!

PvZ ·

‘n Twee staat opsie in Suid-Afrika is, ‘n werkbare, regverdige plan. Die ding is, as ons wag vir die regering om dit te implementeer sal dit ‘n ewigheid duur. Dink maar aan die SASSA debakel. Hulle weet al van 2014 dat hulle moet tenders uitsit, nou ‘n maand voor die tyd word daar geskarrel. Ons moet met die plan kom oor onafhanklikheid. ‘n Werkbare plan. Indien die plan op die tafel is, begin ons net die regering druk, op alle maniere, totdat ons dit het. Dit is pro-aktief. So kan ons die agenda bepaal en nie die regering nie. So kan ons as Afrikaner ‘n toekoms vir ons nageslag bewerk.

Johann ·

Ek verlang nie terug na apartheid nie, maar na die dae toe ek nog werk gehad het en nie bevrees was vir my toekoms nie, die toekoms het my ingehaal met regstellende aksie, BEE en wat nog, en vandag sit ek in sak en as.

John ·

Israel is ‘n perd van ‘n ander kleur. Die geskiedenis van Israel is seker die mees gedokumenteerde op aarde. Indien die Bybel nie as bloudruk dien nie kan baie stories, redes en planne voorgele word as die sg waarheid. En dis juis by die waarheid waar die probleem le. Die grense van Israel is deur die Hemelvader self uitgestippel. Die Jode kon na jare se diaspora en vervolging terugkeer, maar ‘n paar Engelse en Europeers het die grense verstel en massas plakkers vanaf orals wil nou die land beheer. Die Moslems erken nie Christus as Seun van God nie ook nie die Drie-Enigheid nie. Mohammed se moskee staan nou waar Dawid se tempel gestaan het en Mohammed het glo ook opgevaar net daar waar Jesus na die Hemel opgevaar het. Dis chaos ten beste. Israel sal nooit as te nimmer Jerusalem aan die Moslems afstaan nie. Die oplossing le in geen geniale waarnemer hetsy van CNN, BBC of ander wyse akademici of magtige mens se hande nie… Lees maar Openbaring…

Nico K ·

Nee John, Openbaring praat nie van die aardse Jerusalem nie.

PIET ·

Dit praat juis van die aardse Jerusalem waar die Vader en Jesus sal regeer. Onthou Jesus se woorde. “laat U koningkryk kom”. Lees gerus ook die boeke van die Profete in die ou Testament. Die aarde gaan vernuwe word met ‘n nuwe Jerusalem.

Gerhard ·

‘n Tweestaatoplossing vir Palestyn en Israeli is nie nader aan Apartheid wat ‘n Eenstaatstelsel was nie. ‘n Eenstaatstelsel waar Palestyn minder regte as Israeli het en die staat deur Israeli beheer word sal wel nader aan Apartheid wees.

chrisp ·

Ek het al genoem ons moes apartheid gepatenteer het(alhoewel dit nie die Afrikaner se uitvindsel was nie). Daardeur sou en sal ons baie geld deur tantieme verdien het. Die westerse wereld gaan dit nog toepas en indien nie gaan die westerse beskawing verdwyn.

Gerhard jy verstaan nie die beginsel van apartheid nie,glad nie.Die stelsel is eintlik maar net elke volk regeer homself in sy eie grondgebied.So eenvoedig soos dit. Moenie die patetiese wette wat deur die NP daar gestel is verwar met die oorspronklike basis beginsel nie.Die hele Europa is ‘n apartheids kontinent wat die liberale politiek juis wil verander deur “een” Europa te skep. Kyk gerus na Brexit en die geweldige opgang van politieke partye wat juis landsgrense wil bevestig en beveilig(eintlik is hulle ook apartheids aanhangers). Dus elke nasie of volk dan wat homself regeer is apartheids state en pas apartheid toe.

Gerhard ·

Dink klink soos wanneer jy met ‘n kommunis redeneer oor wat kommunisme was. Hulle almal dink hulle weet wat dit eintlik was, moes gewees het, sou gewees het, kon gewees het.

chrisp ·

Gerhard bewys my skrywe verkeerd of beredeneer dit ten minste.

Wat sou jy gedink het van my as ek jou dieselfde niksseggende antwoord gee?Dit is net so van toepassing op jou.Duidelik weet jy dan mos wat dit “was,moes gewees het ,sou gewees het,kon gewees het”, aangesien jy verskil van my.

Jy kan beter doen as dit in die debat ek is seker.

Gerhard ·

Apartheid was wat dit was, ‘n eenstaatstelsel waar een groep ander groepe oorheers het. Dit maak nie saak wat dit veronderstel was om te wees of wat dit kon gewees het nie.

Johann ·

En die realiteite gaan by die boom met die klein vruggies verby, want die editeure staan by met hul besems om die vruggies weg te vee sodra dit op die grond val en vrot word, so ‘n suur reuk afgee.

Wat? ·

Apartheid? Dit gaan seker binnekort ook appartheid wees as die kat kleintjies kry…

Johanna Botha ·

Kyk maar gerus na n video op youtube van atlah world ministries en sien hoe erenstig die ds praat oor die tiepe probleme en probeer sin uitmaak en antwoorde gee .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.