Israel kry nuwe regering

Verkiesingsbaniere met die gesigte van Benny Gantz (links) en Benjamin Netanyahu (regs). Foto: (AP Photo/Oded Balilty, File)

Ná drie onbesliste verkiesings in bykans ’n jaar (April en September 2019 en Maart 2020) het Israel nou uiteindelik ’n ooreenkoms vir die vorming van ’n regering bereik. Die ooreenkoms kom neer op ’n “groot koalisie” tussen die twee grootste partye, die sentrum-regse Likud Party van eerste minister Benjamin Netanyahu en die sentrum-linkse Alliansie Blou-Wit (genoem na Israel se nasionale kleure) van Benny Gantz, ’n voormalige generaal.

Dié twee leiers het nou al in drie verkiesings teen mekaar gestaan en het min ooghare vir mekaar. Trouens, mnr. Gantz het nog onlangs belowe dat hy nooit in ’n regering saam met mnr. Netanyahu sal dien nie. Maar in die politiek het beloftes ’n kort rakleeftyd. Mnr. Gantz het die ommeswaai daarmee geregverdig dat die huidige koronakrisis dit noodsaaklik maak dat die land nou ná talle vergeefse pogings ’n stabiele regering moet kry. Dit gaan dus by implikasie om ’n tipe noodregering soos tydens ’n oorlog, en ideologiese verskille word eers op die agtergrond geskuif. Verder is nog ’n verkiesing onder die omstandighede van die koronapandemie moeilik deurvoerbaar en boonop is dit ná drie onbesliste verkiesings onwaarskynlik dat die vierde een nou die deurbraak lewer.

Foto: (AP Photo/Ariel Schalit)

Die laaste verkiesing was aan die begin van Maartmaand vanjaar. Likud het die sterkste party geword met 36 setels (uit 120) en effens gewen teenoor die vorige verkiesing. Saam met sy alliansievennote, bestaande uit verskeie godsdienstige partye wat saam 22 setels het, het mnr. Netanyahu se regse blok 58 setels. Daar kort dus drie vir die meerderheid van 61 setels. Die sekulêr-nasionalistiese party Yisrael Beiteinu (Ons huis Israel) van Avigdor Liebermann, wat sewe setels gekry het en in die verlede deel van mnr. Netanyahu se koalisie was, het egter geweier om verder saam met die godsdienstige partye in ’n regering wees.

‘n Verkiesingsbanier van Benny Gantz. Foto: (AP Photo/Ariel Schalit)

Die Blou en Wit Alliansie het 33 setels, ’n linkse alliansie waarvan ook die eens magtige Arbeidersparty deel is, het sewe setels en die partyalliansie van die Arabiese minderheid, die Verenigde Lys, 15 setels. Die Verenigde Lys bly vir eers uitgesluit van koalisievorming, omdat niemand met hulle wil saamwerk nie. Beide Netanyahu en Gantz is deur die president Reuven Rivlin ná mekaar opdrag gegee om ’n koalisie te vorm, maar sonder sukses. Die laaste opsie was nou om die twee grootste partye te laat saamwerk.

Omdat die twee partye feitlik ewe sterk is, is beslis dat die twee leiers mekaar as eerste ministers sal afwissel. Die eerste jaar en ‘n half is dit die beurt van mnr. Netanyahu, en daarna sal mnr. Gantz oorneem, wat nou minister van verdediging en vise- eerste minister sal word.

Benjamin Netanyahu. Foto: (Gali Tibbon/Pool via AP, File)

Mnr. Netanyahu wat nou al vir meer as 10 jaar ononderbroke regeer, is die langs regerende eerste minister van die moderne Israel. Hierdie sal nou sy vyfde termyn wees, maar waarskynlik ook die laaste een. Bo sy kop hang die swaard van ’n korrupsie- en bedrogverhoor. Die huidige koronakrisis, wat na sterk leierskap roep en waar mense geneig is om eerder te staan by die leiers wat hulle ken as om te eksperimenteer, kom as ’n geskenk vir mnr. Netanyahu. Vir die geslepe politikus sal daar dalk nog ’n moontlikheid wees om polities te oorleef. Die verdrag om nou ’n koalisie uit die twee teenstanders te vorm, was ’n slim skuif van mnr. Netanyahu, want dit het die eensgesinde blok links van die middel, wat rondom mnr. Gantz versamel het, skielik verdeel en verhoed dat Israel vorentoe ’n linkse regering, dalk met die Arabiese partyalliansie as deel van die koalisie, sal kry. Mnr. Netanyahu se sukses is veral gesetel in sy uitgesprokenheid as dit kom by veiligheid, asook ’n goeie ekonomiese beleid wat algemene voorspoed verseker.

’n Groot koalisie waar die twee leiers mekaar as regeerders afwissel, is nie iets wat dikwels in die politiek voorkom nie, maar is in Israel in die verlede al beproef. In 1984 was daar ook ’n verkiesing waar Likud en die Arbeidersparty feitlik gelykop geëindig het en die Arbeidersparty-leier Shimon Perez en die Likud-leier Yitzchak Shamir elkeen die helfte van die termyn as eerste minister regeer het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Kan daar ‘n artikel geplaas word oor die geloofs demografie van Israel of gaan dit dalk skok?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.