Israel moet eerder vrede nastreef

Kinders sit op ʼn tenk voor die viering van die jaarlikse gedenkdag ter nagedagtenis van gesneuwelde soldate en slagoffers van terreur by die gedenkteken vir gewapende magte in Latrun, Israel. (Foto: Ariel Schalit, AP)

Oor die afgelope ses weke het duisende Palestyne elke Vrydag op die grens tussen die Gasastrook en Israel betoog. Hierdie betogings wat reeds tot die dood van byna 50 Palestyne aanleiding gegee het, sal op 15 Mei afgesluit word. Die Palestyne herdenk op 15 Mei die sogenaamde Nakba, of groot katastrofe, presies 70 jaar nadat die meeste Palestyne uit gebiede wat vandag deel van Israel is, gedryf is as deel van die totstandkoming van die moderne staat Israel.

Sowat 70% van die inwoners van Gasa beskou hulself as vlugtelinge, of die nageslag van vlugtelinge, wat in 1948 na die Gasastrook moes vlug. Die afgelope weke se spontane betogings is hard deur die weermag van Israel onderdruk. Hoewel talle betogers klippe gegooi en probeer het om oor die grensheining te klim, was die betogings grootliks vreedsaam. Tog is byna vyftig Palestyne, insluitende talle joernaliste, deur Israel se veiligheidsmagte doodgeskiet.

Daar is groot simpatie met die vrese in Israel vir geweld, veral terwyl die internasionaal-erkende terroristegroep Hamas steeds in Gasa regeer. Die geskiedenis sedert 1948 is egter veel meer ingewikkeld en dit sou dom wees om slegs die vrese van Israel en sy burgers in ag te neem in ’n poging om die Israel-Palestynse vraagstuk nader aan ’n oplossing te bring.

Terwyl die Palestynse owerheid onder leiding van die Fatah-party in beheer van die grootste deel van die Wesbank is, kan daar nie oor die Palestyne gepraat word sonder om ook na Gasa en Oos-Jerusalem te kyk nie.

Die staat Israel is vandag ’n werklikheid. Dat daar enigsins ’n staat soos Israel bestaan, moet deur Afrikaners as ’n positiewe gegewe beskou word. Dit is egter alles behalwe wys om onkrities na Israel, sy rol in die Midde-Ooste en die wyse waarop die huidige regering in Israel vrede met die Palestyne benadeel, te kyk.

Die beste oplossing vir die Israel-Palestynse vraagstuk bly die totstandkoming van ’n Palestynse staat wat in vrede naas Israel bestaan. So ’n staat kan egter nie net in die Wesbank gesetel wees nie en Gasa en Oos-Jerusalem – waar onderskeidelik twee miljoen en 300 000 Palestyne woon – sal in enige onderhandelingsproses ingesluit moet word.

Intussen gaan Israel voort met die blokkade van Gasa, die onderdrukking van Oos-Jerusalem en die bou van onwettige Joodse nedersettings in die Wesbank. Daarmee saam word grootliks vreedsame protes deur ernstige geweld onderdruk.

Nog ’n groot probleem tans, is die wyse waarop Israel spanning met Iran aanjaag. Deur in die sektariese konflik tussen die Soennitiese – en Sjiïtiese Moslems in die Midde-Ooste betrokke te raak, probeer Israel vriende met, onder meer, Saoedi-Arabië, Egipte en die Verenigde Arabiese Emirate maak. Wat Israel egter ook doen, is om Amerika by hierdie konflik in die Midde-Ooste in te sleep. ’n Oorlog tussen Israel en Amerika aan die een kant, en Iran aan die ander kant, kan Israel se magsposisie in die Midde-Ooste versterk, maar kan katastrofiese gevolge vir die streek inhou.

Die sewentigste herdenking van die totstandkoming van die staat Israel is iets om te vier. Israel sal egter deur sy vriende en bondgenote gemaan moet word om meer verantwoordelik op te tree en om met erns, ywer en ’n bereidwilligheid om toegewings te maak, na die onderhandelingstafel met die Palestyne terug te keer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Arak ·

Dankie Jaco,
ek is bevrees Israel het geen belang in vrede nie. Soos jy tereg opmerk kan mens ook verwys na hulle konstante onregmatige aanvalle teen Sirië en hulle ondersteuning van Isis. Wat vir my jammer is, is dat baie Christene dink Israel kan net maak wat hulle wil, want hulle is mos “die volk van God” en hulle kry basies ‘n blanko tjek. Dit is tyd dat mens ook die boom se vrugte toets en besef dit is maar baie vrot.

John ·

Ja, almal op aarde weet hoe om die kwessie rondom Israel op te los en veral hoe om die Palestyne wat uit duisende mense van oraloor saamgestel is, gelukkig te maak. Gee Jerusalem vir die Palestyne en deel die res van die land soos wat na 1994 so suksesvol hier gebeur het en steeds nog besig is om verder te gebeur. Jerusalem se toekoms le nie in die hande van enigeen op deeske aarde nie en om te glo dat die Jodedom dom genoeg is om uit eie wil, nie soos party ander lande op aarde nie, hul geboortereg wat vir duisende jare hulle ontneem is en nie uit eie wil nie, nie soos party ander lande nie (ekskuus ek herhaal myself) sommer so daarvan af te sien is nie net wensdenkerye nie maar brute onkunde ook tov die Bybel. Inteendeel dit bevestig net die Woord, en die belangrikheid van gebeure rondom hierdie besonderse stad wat so begeer word deur nie-eienaars.

Gerhard ·

Daar is natuurlik ‘n groot fout met die hele argument. Dit is dat die een groep onder die Palestyne wat betrek moet word, weier om Israel te erken. Verder het Israel verskeie kere voorheen probeer om vrede met die Palestyne te onderhandel. Dit is iets wat hulle selfs met Egipte kon doen en ook gewillig was om te doen, maar met die Palestyne nooit kon nie. So wat doen jy as jy nie vrede kan maak nie? Jy wen die oorlog. Natuurlik kan dit enige tyd verander, maar totdat jou vyand gewillig is om vrede te maak kan daar tog nie oor vrede onderhandel word nie. Natuurlik is die Jode nie so dom soos die Afrikaners van die laat tagtigs/vroeë negentigs nie.

Sover dit gaan oor Israel wat kamstig spanning aanjaag met Iran sit Jaco Kleynhans weer die pot mis. Daar is geen voordeel daarin vir Israel om spanning met Iran aan te blaas nie. Iran en die terreurgroepe wat dit ondersteun hou ‘n bedreiging vir Israel in en is aktief besig om Israel te ondermyn. So eenvoudig as dit. Hulle het rede om bekommerd te wees en die passiewe Obama het ernstig droog gemaak deur Iran se losprys te betaal. Ten minste het Donald Trump meer insig.

Eish ·

Wat verstaan julle nie?
Daar is 3000 jaar oue dokumentêre bewys dat dit Israel se land is. Lees die Bybel.
Argeologiese opgrawings vind 2000 jaar oue munte met die woorde Israel in Hebreeus daarop. Hul was onderwerp aan gedwonge verskuiwing vanweë hul sonde. Maar boetie, dis steeds Israel. Dis byvoorbeeld nie die Wesbank of Gaza nie, maar Judea en Samaria.
Selfde probleem as hier by ons, wie was eerste, die Khoisan of die res van die Noorde.
Nou gryp die Noorde die Khoisan se geboortereg.
Israel sal n brandpunt wees tot die wederkoms.

Oop oge ·

…inderdaad sal die Here nie sy belofte aan Israel verbreek nie. HySelf sal dit beskerm en op daai einste grond weer aan Sy volk verskyn in oorwinning teen Babilon en sy gevolg….

Pietman ·

Israel het nog altyd vrede nagestreef. Toe die staat gevorm is in 1948 het al die omliggende arabiese lande oorlog teen Israel verklaar. Die gevolg was dat Israel ‘n oorlog moes veg en het die Sinai skiereiland ingepalm. later is die Sinai skiereiland teruggee aan Egipte in ruil vir vrede. In 1936 is 85% van Palestiena aan die arabiere aangebied met slegs ‘n klein gedeelte aan die Jode, Die Arabiere het die aanbod van die hand gewys. In 1947 is weereens besluit om 2 state te skep, waarna Israel dit weereens aanvaar het en die arabiere weereens dit verwerp het en oorlog verklaar het. In 1967 is daar weereens oorlog verklaar teen Israel. In die ses daagse oorlog het die Israelis die wesbank aen Gaza gebied ingepalm. In 2000 het Israel ook aangebied om 95% van die wesbank terug te gee aan die palesteine. In antwoord was daar ‘n vlaag van selfmoordbomaanvallers na Israel gestuur wat meer as 1000 Israelis vermoor het. IN 2008 het Israel weereens ‘n palesteinse staat aangebied wat weereens van die hand gewys is. In 2005 het Isreal Gaza verlaat. die gevolg was dat gaza as ‘n terroriste basis gebruik is en het duisende vuurpyle na Israel afgevuur. Hoeveel keer moet Israel die aanbod maak? Die patroon is tog duidelik. Moet die Palesteine en ander Arabiese lande nie eerder Israel erken as ‘n staat nie?

DewaldS ·

Dankie Jaco,

Elkeen se persepsie van die waarheid is verskillend van ‘n ander, maar dit vat nogal moed om dinge te skryf wat jou eie mense se ‘belief-system’ uitdaag. En om teen die amper fascistiese hoofstroom-media van vandag te gaan, bly maar ‘n uitdaging.

Maar doe so voort – hou aan met jou opvoedings-proses, al is dit moeilik – as die Afrikaners nie gaan politieke breins ontwikkel nie, is ons almal gedoem. En kudos vir jou skrywe, Arak. Ek dink jy raak aan die wortel van ‘n groot probleem wat by ons mense bestaan.

Phillip ·

DewaldS ek stem saam dat mens se sieninge partykeer uigedaag moet word. Maar in hierdie geval sal ek graag wil weet hoe Israel vrede kan maak met iemand wat as fundamentele beginsel nie eers Israel se bestaansreg kan erken nie. As jy vrede wil maak met iemand wat glo dat jy nie bestaansreg het nie is dit nie eintlik ‘n resep vir vrede nie of hoe? Totdat die Arabiere, Iranese en Palestyne se onblusbare haat teenoor Israel nie aangespreek word nie kan daar nie vrede wees nie, Die Israelies moes vanaf 1948 in konstante bedreiging lewe en is geforseer om op permanente verdedigings gereedheids grondslag te wees.

JC ·

Nee wat Jaco, Israel sal maak soos Israel wil om sy belange en sy verbond met God te eerbiedig, en niks of niemand gaan hom daarvan weerhou om sy Godgegewe bestaan (amper soos ons, behalwe dat ons skaamteloos gekapituleer het in die 1990’s) deur aggressiewe optrede, teenoor laakbare ultra aggressiewe aanvalle; en haatgevulde “VN- klub” retoriek; te verseker nie.

Vra maar vir Iran, wat so kapabel en aspris (waga ek se kens?) is as om Israel vanaf Damaskus te probeer aanval; en sopas LELIK op hul herrie gekry het.

Niemand gaan Israel iets maak nie…

#Ek staan met Israel!

Veritas ·

Die verbond met God was dat die Messias uit die volk van Israel sou kom. Toe Hy gebore is, wou die Jode Hom nie aanvaar nie en vandag sit hulle met die gebakte pere. Daar is geen oplossing vir die dilemma nie.

Rupert Ashford ·

Uhm Veritas, jy moet bietjie verder in die Bybel gaan lees jong. Jesaja, Daniel, Openbaring…

jaco ·

Israel gee die palestyne selfregering in die wesoewer en in gaza en noem dit die Palestinian Authority. dis maar dieselfde as die swart tuislande wat die ou SA vir SA se swart volke gegee het as deel van die apartheidsbeleid.
MAAR waar die res van die wereld apartheid veroordeel het en nooit die tuislande in SA aanvaar het nie, is hulle heel simpatiek teenoor die Palestinian Authority en sal hulle dus ‘n onafhanklike Palestynse staat ook steun.
China gee weer outonomie aan Hong Kong, wat deel van China is, en wil dit ook met Taiwan doen as Taiwan net weer deel van China wil word. hulle noem dit “one nation two systems”
So nou wonder ek maar net: die ANC is dik pelle met die Palestyne en met China. Dan kan hulle maar mos ‘n tuisland vir SA se wit mense ook skep.

koos ·

vanaf 1948 tot 1967 was Gaza onder egiptiese beheer. na die 6daagse oorlog in 1967 het Israel dit beset.Israel het in 1967 ook Egipte se Sinai skiereiland beset. wat vir my vreemd is, is dat Israel in 1979 Sinai aan Egipte teruggegee het, maar nie Gaza nie. Het Israel dus dalk in 1979 vir homself ‘n lat gepluk deur Gaza te behou?

Antipas ·

Kon ek maar daarin slaag om so simplisties soos Jaco te dink, sou die wereld dalk vir my ook ‘n baie makliker plek voorgekom het…

Etienne Prinsloo ·

Ek vind Afrikaanse joernaliste se beheptheid met die Palestyne baie verwarrend. Die Palestyne se “victim mentality” sal natuurlik aanklank by die liberale pers hê. As die Palestyne die biljoene in finansiële hulp in skole, industrië en universiteite belê het ipv tonnels, aankoop en bou van vuurpyle teen Israel en sou hul leiers nie soos biljoenêrs in Qatar geleef het nie, was die landskap anders. Uit die huidige SA perspektief is Israel skuldig. As hul hulself verdedigis hulle die agressor. Moet Israel dankie kaartjies aan Hamas skryf na elke vuurpyl aanval? Moet hulle miljoene Palestyne verblyfreg in Israel gee wat die einde van die staat Israel sal beteken? Moet hulle Iran se chroniese “Death to Israel” gesanik net ignoreer? Wie het 150000 plus vuurpyle om op Israeliese sagte teikens te vuur? Wie besit die VN se beleid makers? Die Moslem wêreld. Yahya Sinwar van Hamas het Israel met massiewe grens oorstroming gedreig op Nabka dag. Moet Israel doelbewuste minagting van hul grense ignoreer? Moet hulle al die terroriste aanvalle net gelate aanvaar? Israel is die mees suksesvolle land in die Midde Ooste, met van die meeste Nobel pryse vir Wetenskap op die planeet. Maar die Afrikaner joernaliste kies die kant van die Palestyne. Soos hulle in Engeland sê: Funny old thing, that.

Phillip ·

Perfek gestel Etienne! ‘n Mens sou dink dat alle Afrikaanse joernaliste behoorlik huiswerk oor die realiteite wat Israel in die gesig staar sou doen voor hulle ‘n opinie plaas. Jaco leef in ‘n droomwêreld as hy Israel blameer omdat daar nie vrede is nie. Die probleem lê duidelik by verskeie Arabiese lande, Iran, Moslem terreur groepe (Hamas, Hezbollah ens.) en die Palestyne se onblusbare haat teenoor Israel. Hoe kan Israel vrede maak as die beginpunt van die Palestyne, Iran, ensovoorts is om nie eers Israel se bestaansreg te erken nie. Aan die Palestyne se kant is daar geen bondgenoot wat vrede wil hê nie. Hulle word van kleins af geleer om die Jode en Israel te haat.

DC ·

Israel se resep is al wat ook hier sal werk. Die meerderheid Afrikaners beskou dit nie as opsie. Dis makliker om te dans na pype vd libs en n Grondwet. Onteiening sonder vergoeding bied nuwe geleenthede. Kyk gerus fyn na die saak.

Phillip ·

Dit gaan my verstand te bowe hoe blind sekere Afrikaners (Jaco inkluis) is oor die situasie met die Palestyne en Iran. ‘n Baie eenvoudige vraag, HOE moet Israel vrede maak met ‘n groep wat nie eers Israel se BESTAANSREG erken nie en wie se enigste doel is om Israel te vernietig. Vertel my gerus hoe gaan jy die doen Jaco? Ek is werklik nuuskierig om jou in so situasie te sien. Israel het onder Ehud Barak in 2000 oor 90% van die Palestyne se eise toegestaan en wat het hulle terug ontvang? Terreur aanvalle en selfmoord bomaanvalle op Israelies. Israel het onder druk die Gaza strook terug gehandig aan die Palestyne. Wat het gebeur daarna? Palestynse terroriste (HAMAS) gebruik die strook om vuurpyl aanvalle en terreur dade van daar te loods. Die miljoene dollars wat HAMAS ontvang word gebruik om tonnels te grawe instede van om die bevolking te help. Tereg het baie Israelse leiers al gesê, sodra die Palestyne hul eie kinders meer lief het as hul haat vir Israel sal daar vrede wees. Israel moet hulself verdedig om te oorleef vanaf 1948 teen ‘n ongekende haat van Moslem State wat hulle omring. Iran is wyd bekend as die aanblaser van haat en ondersteuner van globale terrorisme. Dit is skandelik dat sekere Afrikaners hierdie haatspraak teenoor Israel kan verskoon en Israel blameer wanneer hulle hulself moet verdedig. Israel soek vrede, die Palestyne se haat teenoor Israel is die probleem. Ek staan met Israel.

Casper Labuschagne ·

As Israel vrede nagestreef het, was daar vandag geen Israel nie. Nee, inteendeel is om vir oorlog voor te berei, Israel se enigste werklike strategie vir oorlewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.