Israel se plan met onwettiges

israel-se-plan-met-onwettiges

Die Israelse eerste minister “Bibi” Netanyahu by Israelse vroue soldate wat die grens met Egipte beveilig (Foto: Government Press Office (Israel) via Wikimedia Commons)

Onwettige immigrasie is naas terreuraanvalle deur radikale Moslems seker een van die grootste vraagstukke van ons moderne samelewing. Waar die VSA onder president Donald Trump alles in sy vermoë doen om onwettige immigrasie stop te sit, ten spyte van hewige opposisie in die Amerikaanse wetgewer en selfs binne sy eie party, probeer die Europeërs om die stroom van onwettige immigrante, onder die dekmantel van vlugtelinge, nou eers te verhoed om met bootjies met volgepakte onwettiges die Afrika-kus te verlaat op soek na ʼn beter lewe in Europa. Klaarblyklik met gemengde sukses.

In ander dele van die wêreld soos Australië, het die regering lankal ʼn plan beraam. Onderskep bootjies met onwettiges buite Aussie-gebiedswater en betaal die arm eilandstaatjies in die omgewing om die onwettiges in te neem terwyl hulle “geprosesseer” word. Volgens hierdie stelsel sal politieke vlugtelinge dan gekeur word voor hulle die kospotte van Kangaroe-land binnedring. Ander lande, soos Suid-Afrika, het ʼn lukrake laat-maar-gaan-benadering. Tienduisende, selfs honderdduisende onwettiges stroom SA jaarliks binne en slegs ʼn paar honderd word jaarliks teruggestuur. Weens wanadministrasie, korrupsie, aandrang op vlugtelingstatus en ellelange regsprosesse is die SA regering blykbaar glad nie in staat of gemotiveerd om die oneindige stroom van onwettige immigrante te keer nie.

Bibi se plan

Daarteen vind jy sommige regerings se unieke metodes om van onwettiges ontslae te raak. Die Israelse regering van eerste minister Benjamin Netanyahu het pas deur ʼn unieke skema ʼn ultimatum aan onwettige immigrante van Afrika gerig: Israel gee elke immigrant $3 500 (so R40 000) en ʼn eenrigtingkaartjie terug Afrika toe. Maak hulle nie gebruik van hierdie rojale aanbod nie, is dit vanaf 1 April vanjaar eenrigting verkeer tronk toe of deportasie sonder enige vergoeding.

Netanyahu, oftewel “Bibi” soos hy in Israel bekend staan, se regering vat nou nie juis nonsens van kabouters nie. Behalwe reuseslote en heinings en/of mure wat Bibi se “regse” koalisieregering gebou het om die Palestyne uit dié klein landjie te hou, het hulle ook ʼn 400 km lange staalheining in die Negev-woestyn op die grens met Egipte gebou, van waar die Afrika-immigrante woestynlangs na Israel gestroom het.

Daar word bereken dat ongeveer 60 000 Afrikane, meestal van Eritrea, Soedan en Ethiopië, Israel op hierdie manier binnegekom het voor die heining in 2012 opgerig is. Al die Afrika-immigrante het voor die voet vlugtelingstatus geëis, en moes daarna jare in kampe in die Negev woon voordat hulle oplaas toegelaat is om in die samelewing te verdwyn. Die meeste is na die groot kusstad, Tel Aviv, waar baie van hulle laagbetaalde werke in kitskosrestaurante of meer informele bedrywe gekry het. ʼn Hele klomp het hulle ook aan misdaad skuldig gemaak en sekere dele van Tel Aviv onveilig gemaak. Inwoners het geëis dat die regering optree.

Die onwettige immigrante word as ʼn sekuriteitsrisiko beskou en ʼn “bedreiging vir die Joodse karakter van die samelewing”. Bibi se regering beskou die immigrante glad nie as vlugtelinge nie, maar as onwettige ekonomiese immigrante. Blykbaar het slegs 10 vlugtelingstatus gekry. State is verplig volgens internasionale ooreenkomste om vlugtelinge te huisves, maar nie onwettige immigrante nie.

Die Israelse regering verwys na die onwettiges as “insypelaars”, wat eintlik terminologie is wat eerder met terrorisme verbind word. Bibi se regering het groot gewag gemaak van die immigrante wat die sekuriteit van Israel bedreig en het reeds ʼn paar jaar probeer om van hulle ontslae te raak deur die inisiatief om hulle na Afrika te stuur met ʼn paar duisend dollar in die sak. Sowat 20 000 het reeds van die aanbod gebruik gemaak, hoewel hulle nie na hul tuisstate toe gestuur is nie, maar eerder na Uganda en Rwanda. Laasgenoemde is twee groot bondgenote van Israel in Afrika. Vandaar het heelwat weer probeer om via Libië na Europa te “vlug”, en waarskynlik het party daarin geslaag.

Bibi se beleid om diegene, wat nie vrywillig vertrek nie in die gevangenis te stop of bloot te deporteer, het natuurlik heelwat negatiewe reaksie in Israel en wêreldwyd ontlok. Soos dit maar met onwettige immigrante gaan, het die media heelwat individuele tranetrekker-stories van die onwettige immigrante geplaas om simpatie te ontlok. Dit sluit in mense se oorwinning oor die armoede waarvan hulle weggevlug het, oënskynlike bydraes tot die samelewing en hoe hulle die Joodse staat en kultuur bewonder, terwyl ʼn afkeur in die stuur van die onwettiges na Rwanda/Uganda uitgelig word. Die feit dat die onwettiges van Afrika afkomstig is, het uiteraard ook beteken dat die rassekaart uitgeruk is en die Israeli-regering van rassisme teen swart immigrante beskuldig word.

Israel se “apartheid”

Daar is ook gepoog om ʼn ooreenkoms tussen die vlug van die Jode uit Europa voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog te tref met die Afrikane wat uit Israel geskop word. Die argument is dat die Israelse staat gebou is op ʼn stroom van vlugtelinge wat voor die Nazi-besetting van Europa moes vlug en ʼn heenkome in Israel gevind het. Netanyahu se teenargument is egter dat Israel se Joodse karakter ook beskerm moet word en dié land nie ʼn arbeidsburo vir werklose mense van Afrika kan wees nie.

Jode van oor die hele wêreld het sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog veral na Israel gestroom. Dit sluit meestal Jode van Europa in, maar ook baie van Arabiese state waar hulle onder druk verkeer het. Baie Jode het van Suid-Afrika ook na Israel geëmigreer. Eers as gevolg van politieke onstabiliteit tydens die apartheid tydperk, en daarna weens sogenaamde regstellende aksie en die vlaag van gewelddadige misdaad wat Suid-Afrikaners ervaar. Die ANC-regering se openlike afkeur in Israel het beslis ook ʼn rol gespeel. Die Joodse bevolking in SA het van ongeveer 140 000 in die 1980’s gekrimp tot sowat 60 000 tans.

Die ANC-regering en ʼn verskeidenheid organisasies soos die Ekonomiese Vryheidsvegters en ʼn swetterjoel menseregte- en ander organisasies beskou die Israelse beperking van Palestyne tot enklawes as ʼn vorm van apartheid. Daar is gereeld veldtogte in Suid-Afrika teen Israelse produkte en die SA regering oorweeg dit voortdurend om diplomatieke bande met Israel te verbreek. Die nuutste pogings van Israel om van swart onwettiges ontslae te raak, word ook, soos genoem, as rassisties beskou.

Die “swart Jode” van Abessinië

Ironies genoeg het die Israelse regering oor die jare met groot moeite probeer aantoon dat hulle nie rassisties is nie. Hulle het bv. in die 1980’s sowat 90 000 “swart Jode” van Afrika deur lugbrug-operasies van hul spioenasiediens, die Mossad, na Israel gebring. Dié “swart Jode” was afkomstig uit Ethiopië.

Die “swart Jode” is Joodse nedersettings in Ethiopië wat meer as ʼn duisend jaar gelede uit die huidige Israel na Ethiopië (destyds Abessinië) getrek het. Daar het hulle, as gevolg van integrasie met die plaaslike bevolking, min tradisies behou en grootliks hul Joodse godsdiens afgesterf. In die 1980’s tydens grootskaalse burgeroorlog in Ethiopië en gevolglike hongersnood, het die Israelse regering die sogenaamde “swart Jode” aangemoedig om na Israel te vlug.

Die Ethiopiërs, destyds genoem Falashas en tans die “Beta Israel-gemeenskap” is erg in Ethiopië onderdruk (soos ander gemeenskappe in Ethiopië) deur die Sowjet-ondersteunde kommunistiese diktator, Mengistu Haile Miriam. Die Mossad het deur geheime operasies daarin geslaag om duisende Ethiopiese Jode na Israel te laat vlug. Na Mengistu se omverwerping in 1991 (terloops, oudpresident Robert Mugabe van Zimbabwe het hom asiel daar verleen en die oud-diktator leef blykbaar luuks in Harare), het nog Ethiopiese Jode na Israel geëmigreer.

Die “swart Jode” in Israel is egter nooit werklik in die gemeenskap geïntegreer nie en woon meestal in sekere areas saam. Aangesien hulle nie Hebreeus magtig is nie en heelwat Joodse godsdienstige gebruike vir hul vreemd is, het hulle nooit werklik ingepas in die Joodse staat nie. Hulle is meestal arm en baie van hulle kry nie werk nie. Beskuldiging van rassisme en diskriminasie van die Israelse Jode teen inkomende Ethiopiërs is steeds algemeen.

Dis veilig in Israel

Terug by die onwettige immigrante: Die Israelse regering ontken enige rasse-aksies en wys daarop dat hulle in die proses is om sowat 20 000 onwettige Oekraïners en Georgiërs ook terug te stuur na hul oorsprong. Verder is die aksie teen die onwettige immigrante slegs van toepassing op enkel mans (die meerderheid van die onwettige Afrikane) en nie teen families of kinders van die onwettige immigrante nie.

Vir Israel, wat al vir soveel jare deur terrorisme en oorloë bedreig word, is dié manier om hul land te suiwer van onwettiges beslis kontroversieel. Nietemin het terreuraanvalle in só ʼn mate afgeneem in Israel dat dit heel moontlik veiliger is in dié land as in verskeie Europese stede wat die laaste paar jaar geteister is deur terroriste-aanvalle.

Hul beleid van enersyds die isolasie van die Palestynse enklawes en andersyds om selfs die woestyn-grens te beveilig, blyk baie suksesvol te wees. Terselfdertyd het Israel relatief goeie verhoudinge met bure soos Egipte en Jordanië, en die vuurpyl-aanvalle wat hulle vir jare ondervind het vanuit Sirië het gestop na die burgeroorlog in dié land reeds jare terug uitgebreek het.

Dit blyk dat Israel se grensbeheer-maatreëls baie suksesvol is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Natuurlik is hul grensbeheer suksesvol. Sedert die omstrede muur gebou is, het Moslem selfmoordbomaanvalle afgeneem van ongeveer 1000 per jaar na nul.
Die bewaring van die Joodse kultuur is myns insiens ook voldoende motivering vir hul optrede teen onwettige immigrante.
Israel was en sal altyd aan die Israeliete behoort.

Gerad ·

Eislike berekenings fout. Israel is nie gelyk aan jodedom nie. Laasgenoemde was net een van 12 stamme. Is ‘n wetenskaplike feit dat huidiges geen genetiese verband het met Israeliete nie. Sien dit op google. Is net polities. Soos grondbesit hier by ons.

Pietman ·

Let wel ” beskerming van Joodse kultuur en karakter” as motivering. Sou ‘n westerse land dit durf waag om hul europese kultuur te beskerm??? Israel is reg maar ai die dubbele standaarde.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Wens ons kon al die onwettige Afrikane terug stuut in Afrika in dan sal dit ‘n mate van verligtingm bring rondom ons ekonomie en misdaad/dwelms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.