Israel word 70 jaar oud

Israelies kyk na ʼn lugskou in Tel Aviv om dié land se onafhanklikheidsdag in 2016 te vier. Die staat het in 1948 tot stand gekom. Foto: wire.africannewsagency.com/AP Photo/Dan Balilty

Deel 1: die aanloop tot en met onafhanklikheid

Die staat Israel vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar. Die onafhanklikheidsverklaring was op 14 Mei 1948, in die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog waar meeste gebiede onder Europese beheer na onafhanklikheid gestrewe het. Indië en Pakistan, byvoorbeeld, het net ’n jaar vroeër onafhanklik geword. Israel het egter ’n heel ander ontstaansgeskiedenis. Dit is ’n staat wat spesifiek geskep is, grootliks uit die niet, om die tuiste vir die Jode – ’n geloofsgroep eerder as ’n volk – te wees. Die Jode was (en is nog steeds) oor die wêreld versprei, in meeste gevalle as ongewilde en dikwels onderdrukte minderheid, ’n toestand wat sedert antieke tye voortduur. Met Israel het hulle egter vir die eerste keer in ’n baie lang tyd hul eie tuisland gekry.

Theodor Herzl, ’n Joodse skrywer en uitgewer wat in die destydse Oostenryk-Hongarye gewoon het, het reeds in die laat 19de eeu die rigtinggewende boek Der Judenstaat geskryf, onder die indruk van die anti-Joodse gevoelens van daardie tyd. Sy kerngedagte was dat die Jode moet konsentreer en hul eie staat in hul oorspronklike heimat, Palestina, moet hê. Die gedagte, wat Sionisme genoem is, is deur hom en sy medestryders deur publikasies en vergaderings gepropageer. Op die eerste Sioniste-kongres van Basel (waarop nog ander sou volg) in 1897 is die Zionistiese Wêreldorganisasie gestig met die doel om die ideaal in die praktyk uit te voer. Steunwerwing by politieke leiers vir die beskikbaarstelling van ’n gebied en die insameling van geld om grond aan te koop, was deel van die aktiwiteite. Die suksesse was nog beskeie, ook weens die politieke omstandighede: dit was die era van imperialisme en van die groot ryke. Palestina was onder beheer van die Turks-gedomineerde en hoofsaaklik Moslem Osmaanse Ryk wat geen simpatie met die Jode gehad het nie. Alternatiewe gebiede, soos in Uganda, wat Groot-Brittanje aangebied het, is nie as aanvaarbaar gesien nie. Herzl is in 1904 oorlede, maar sy idee en organisasie het voortgeleef en gegroei.

Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het die politieke toneel gunstig vir die Sioniste verander. Die Osmaanse Ryk was een van die verloorders en Brittanje het die mandaat oor Palestina gekry. Met die idee om Jode vir Brittanje gunstig te stem, het die Britse minister van buitelandse sake, Sir Arthur Balfour, reeds in 1917 (toe die militêre oorwinning oor die Osmaanse Ryk binne bereik was) met die Balfour-verklaring die groen lig vir die vestiging van Jode in Palestina gegee. Daar was reeds enkele Jode in Palestina gevestig, maar ná die totstandkoming van die Britse mandaat het die immigrasie versnel.

Soos in enige gebied waar mense van verskildende geloof, afkoms, kultuur en mentaliteit op mekaar tref, veral as dit in groot getalle is, kon konflik nie uitbly nie en is Joodse nedersettings gereeld aangeval en moes hulle die selfverdedigingsorganisasie Haganah in die lewe roep. Dit is ’n oneindige debat oor wie reg en wie verkeerd was en wie eerste waar was (dink maar net aan Suid-Afrika), veral met die oog op grondbesit. Die gebied was yl bevolk en ná die Eerste Wêreldoorlog het talle Palestyne uit ander dele na die huidige Israel geïmmigreer. Net soos in die geval van Suid-Afrika is dit ’n ope vraag of die feit dat jy uit ander dele van dieselfde vasteland immigreer, jou meer reg op die grond gee as wanneer jy per skip van ’n ander vasteland kom. Die Jode, aanvanklik feitlik almal uit Europa, het ook deur middel van kollektiewe landbounedersettings (kibboetse) dele ontwikkel wat voorheen onbenut of onderbenut was. Die Palestyne was in meeste gevalle nie grondeienaars nie, maar pagters van afwesige Arabiese grondbesitters.

Brittanje het die Joodse immigrasie aan bande probeer lê, maar soos wat anti-Semitisme in Oos-Europa toegeneem het, het ook die immigrasie na Palestina toegeneem. Veral ná die verskrikking van die Nazi-bewind in Duitsland – voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog – was daar geen keer aan die Joodse instroming nie. Dit het tot ’n Arabiese opstand gelei, sowel teen die Britse besetting asook teen die Joodse vestiging. Die Verenigde Nasies (VN) het ná die onttrekking van Brittanje in 1947, ’n plan voorgestel hoe Palestina in ’n Joodse en ʼn Arabiese deel, feitlik ewe groot, verdeel kon word, met Jerusalem onder internasionale beheer. Transjordanië, terloops, wat ook deel van die Britse mandaat was, was reeds tot ’n suiwer Arabiese deel verklaar en van Palestina geskei. Die Jode was bly oor die verdelingsplan van die VN, die Arabiere het dit verwerp en onmiddellik tot aanval oorgegaan, ondersteun deur Egipte en ander. Die Jode, deur middel van die Haganah wat deur Dawid Ben-Gurion georganiseer is, kon hulle hul man staan en selfs hul grondgebied konsolideer.

Op 14 Mei 1948, toe die laaste Britse troepe Palestina verlaat het, is die Joodse staat in Tel-Aviv uitgeroep, te midde van ’n oorlog, met Dawid Ben-Gurion as eerste minister en Chaim Weizmann as president. Theodor Herzl se portret het prominent bo die geleentheid gehang. Die eerste staat om Israel te erken, was die Sowjet-Unie en sosialistiese Oos-Europese state (weens Israel se sosialistiese neigings). Die VSA het eers ’n jaar later gevolg en die meeste state daarna, maar die meeste Arabiese en Moslemstate weier erkenning tot vandag toe.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

…. grootliks uit die niet geskep? Nee, dit is steeds vir duisende jare Joodse gebied waaruit die volk verskeie kere gedryf/weggevoer is. Israel se huidige bestaan is ingewikkeld en veelvoudig dog niks gebeur sonder die Vader se Wil nie… maar Brittanje ea Europese lande, veral Brittanje, se hantering van die kwessie het groot nagevolge vir die huidige Zionistiese staat, gerig op die antieke Joodse geloof wat Christus as Seun van God misken. Dit is nie vir alle Jode oopgestel na’ die Nazi-gruwels nie, net vir sekere gelowiges. Hiervolgens woon daar nou ook reeds hordes oppertunistiese Oosterlinge/Afrokane wat die Sionistiese geloof… Lees meer »

Gerhard

As die Afrikaner meer vir homself gedink en gedoen het soos die Jode van Israel en minder verwag het dat antwoorde uit die hemel neerval sou hulle vandag dalk self hul eie staat gehad het. Nou staan hulle by die voordag van hul verdelging.

Henry

Vir wat dit werd mag wees, Gerhard… Met die uitsondering van jou laaste sin, stem ek 100% met jou saam. Dit is tragies dat die piete wat minderhede in die algemeen en Afrikaner belange in besonder tydens die Kodesa onderhandelinge ten alle koste moes beskerm het, so jammerlik gefaal het. ‘n Mislukking wat ten beste beskryf kan word as ‘n naïewe en half gebakte poging deur siele wat hoegenaamd nie opgewasse was vir die SAKP se leiersgroep olv Slovo en Mandela nie. Laasgenoemdes het veral met die hulp en leiding van hul Oosblok raadgewers en veral die intelligensie vermoëns van… Lees meer »

Gerhard

Henry, as ‘n mens nie in jou eie staat kan oorleef nie kan jy glad nie oorleef nie. Ek kan eenvoudig nie verstaan hoe so baie mense regtig dink dat die Afrikaner soos die “Jode” kan en moet as oorleef as volk nie. DIT IS ONMOONTLIK! Eers maak hulle hulself met drogredenasies wys dat die Jode dit so gedoen het, dan aanvaar hulle dat Afrikaners dit dan so kan doen. Uiteindelik is dit natuurlik een van die redes waarom die onderhandelinge by KODESA uitgeloop het op wat dit is. Die mense wat daar onderhandel het natuurlik gedink dit kan so… Lees meer »

Henry

Gerhard ‘n Onafhanklike Afrikanerstaat sal sonder enige twyfel dieselfde vyandigheid, isolasie, boikotte en veel groter teenstand ondervind, as wat die daaglikse brood voor 1994 was. Op ‘n kleinerwordende planeet waar die wit bevolking hand oor hand inkrimp, is dit tog duidelik dat ‘n nuutgeskepte “eie” Afrikanerstaat – soos sy voorganger – geen hoop het om voort te bestaan, of om enige ondersteuning en/of beskerming buite so ‘n “eie” staat se grense te ontvang nie. Dat die Jode as ‘n identifiseerbare/ invloedryke volk – sonder ‘n eie staat – wat vir digby 2,000 jaar oor die planeet heen versprei is, daarin… Lees meer »