Israel word 70: Van onafhanklikheid tot vandag

Benjamin Netanyahu, die Israeliese eerste minister, voor sy ontmoeting in Mei 2018 met die Japannese premier, Shinzo Abe, by sy kantoor in Jerusalem. (Foto: Abir Sultan, AP)

Te midde van die onafhanklikheidsverklaring in 1948 was Israel in ʼn oorlog gewikkel teen die Palestyne en verskeie Arabiese state (Egipte, Sirië, Jordanië, Libanon, Irak) wat met alle middele die totstandkoming van ʼn Joodse staat op hul voorstoep wou keer. Israel kon met sy haastig gevormde weermag (Israeli Defence Force IDF) die aanslag afweer en sy grondgebied vergroot en het selfs ʼn deel van Jerusalem verower. Die Palestyne het uit die verowerde gebiede gevlug of is verdryf. Israel het alleen gestaan in die streek, maar het wapens ontvang uit Oos-Europa en later toenemend van die VSA, soos wat Oos-Europa en die Sowjet-Unie bondgenote van die Arabiere geword het.

Oorlog het ʼn konstante deel van Israel se bestaan gebly, maar ten spyte van die geweldige getalleoormag van sy vyande, kon Israel die aanslae elke keer nie net afweer nie, maar selfs merkwaardige oorwinnings behaal.

Die mees opspraakwekkende een was die Sesdaagse Oorlog van 1967, waar Israel in ʼn blitsveldtog ná ʼn aanval deur Egipte en sy Arabiese bondgenote sy grondgebied geweldig kon uitbrei en die Wes-Oewer, insluitende die hele Jerusalem, die Sinai-skiereiland en die Golan-hoogland verower het. Nogtans het dit nie vrede gebring nie, en in 1973 is Israel tydens die Jom Kippoer-fees heel onkant deur ʼn gesamentlike Arabiese aanval betrap. Die aanval kon egter weer suksesvol afgeweer word. Die Arabiere het wel elke keer groot verlisse gely, maar hulle getalle was geweldig en menselewens het nie veel getel nie. Boonop is die bevolkingsaanwas van die Palestyne en ander Arabiere geweldig. Hulle kon oorlog ná oorlog verloor sonder dat hul bestaan bedreig was, en hulle was verseker van breë steun by die VN, wat in elke konflik Israel eensydig veroordeel het. Israel daarteenoor kon nie bekostig om ook net een oorlog te verloor nie, want dit sou hul einde beteken. Die bedreiging is afgeweer deur die uitbou van die IDF en die geheime diens (Mossad) tot twee formidabele organisasies.

Internasionaal was die steun van die VSA van groot waarde. Die VSA het ook vrede tussen Israel en Egipte in ruil vir die teruggawe van die Sinai-skiereiland in 1978 bemiddel, waarmee een belangrike vyand weggeval het. 1994 kon vrede met Jordanië beding word en is daar ook met die Palestyne oor outonomie vir die Gasa-strook en Wes-Oewer ooreengekom (Rabin-Arafat). Sowel Palestyne asook Israeli’s is egter nie werklik verbind tot die verdrag nie en wantrou mekaar te veel, sodat daar gereeld oortree word. Radikale aan beide kante probeer vredespogings ook ondermyn waar hulle kan. Jerusalem, wat beide kante as hoofstad opeis, bly daarby die grootste, maar beslis nie enigste twisappel nie. Enige toegewing van Israel word ook gewoonlik as swakheid gesien en misbruik om die doelpale te skuif, soos die onttrekking uit die Gasa-strook in 2007. Alhoewel die buurstate nie meer waag om Israel direk aan te val nie, gebeur dit deur middel van terroristiese organisasies soos Hamas, Hisbolla en ander. Iran bly ʼn geswore vyand van Israel, al grens hulle nie aan Israel nie en al raak die konflik met die Palestyne hulle nie. Die VSA bly Israel se beste en amper enigste vriend.

Om die demografiese druk te weerstaan het Israel immigrasie van Jode uit alle dele van die wêreld aangemoedig. Die eerste golf, voor die onafhanklikheidsverklaring, het uit Europa gekom. Daarna, soos wat die Jode in Arabiese lande dit moes ontgeld, het veral Midde-Oosterse Jode geïmmigreer en meer onlangs groot getalle uit Rusland en selfs Ethiopië. Dit het die Joodse bevolking meer divers gemaak en ʼn klasseverdeling en wantroue was die gevolg. Polities het die mag van die meesal sosialisties ingestelde Jode van Europese afkoms (Askenas) wat hulle in die Arbeidersparty (Mapai) gevind het, verskuif na die meer konserwatiewe, minder welvarende Jode van Midde-Oosterse afkoms (Sefardim) wat veral die Likoedparty ondersteun het. Die politieke landskap raak ook al hoe meer versplinter en koalisieregerings tussen uiteenlopende partye is die reël. Nogtans kon sekere sterk leiers die toneel oorheers, soos Shimon Perez en Yitzak Rabin van die Arbeidersparty en Ariel Sharon en tans Benjamin Nethanyahu van die Likoed.

Israel was aanvanklik sekulêr, maar die invloed van streng godsdienstige Jode het weens hulle groeiende getalle toegeneem en daar heers nie net spanning met die Palestyne nie, maar ook tussen die verskillende Joodse groepe onder mekaar. Die karakter van die land het ook drasties verander, die landbougerigte kibboetse wat so sentraal in die vestigingsfase was, het in belangrikheid afgeneem, die land het verstedelik en vinnig gemoderniseer tot ʼn hoë tegnologieland. Ten spyte van slegs 8 miljoen inwoners is Israel sterk wat uitvindings en prestasies op die gebied van wetenskap en kuns betref en Israeli’s is gereeld onder die ontvangers van Nobelpryse op verskeie terreine.

Suid-Afrika en Israel was bondgenote tydens die NP-bewind, maar die ANC-regering is vyandig teenoor Israel en sien die Palestynse stryd in die lig van hulle eie struggle. Daar is ook heelwat gemeenskaplikhede tussen Israeli’s en Afrikaners. Israel dien as ʼn voorbeeld dat jy ook in ʼn vyandige omgewing kan floreer en dat jy kan saamstaan oor wesenlike sake soos die voortbestaan van jou volk, al is jy verdeeld oor politiek, klas en denominasie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henry ·

Dankie tog.
Dit is veral die heel laaste sin van u skryfsel wat aan ons Afrikaanse ore geknoop kan word.

Marthinus Willemse ·

Verlede Sondag ry ek saam met my suster oor die Hartebeespoortdam se wal. As kind in die 1970’s het ek laas soveel hiasinte en alge op die dam gesien. En dit in `n tyd waar ons sukkel vir elke druppeltjie water.
Die oorsaak daarvan, verstaan ek, is omdat Adam Habib en ander `n petisie geteken het om ontslae te raak van die Israeliese wetenskaplike van die Tel Aviv Universiteit, wat die hiasinte in bedwang gehou het. Dit was nou `n misdaad teen die mense van Suid-Afrika.

Eish ·

Want so sê die Here van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sý oogappel aan.
SAGARÍA 2:8 AFR53
Mag ons Almagtige hemelse Vader Israel seën,
Mag Hy Jerusalem en die IDF seën.
Steeds die volk waaruit die redding vir ons almal kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.