In Junie 2018, ná langdurige onderhandelinge, het twee sogenaamde populistiese partye in Italië – een van die sleutellande van die Europese Unie – ’n regering gevorm. Dit het skokgolwe deur die media en die politieke elite in Europa gestuur omdat dit die praktyk is dat populiste geïsoleer moet word en nie mag regeer nie, allermins nog in ’n regering wat net uit populiste bestaan.
Vir ander was dit die begin van ’n nuwe Europa wat weer die belange van sy mense eerste stel. Die twee koalisievennote was wel albei populiste, uit gebrek aan ’n beter term, maar tog heel verskillend: die eerder links-populistiese Vyf Sterre Beweging met sy basis in die arm Suide, en die regse Lega met sy meeste steun in die welvarende Noorde.
Die Vyf Sterre was die groter party met 33% en amper dubbeld so groot soos Lega met 17%. Ná taai onderhandelinge het die twee partye se leiers tot ’n ooreenkoms gekom. As kompromiskandidaat vir eerste minister, is die ongebonde universiteitsprofessor Giovanni Conte gekies (wat na Vyf Sterre geneig het), omdat nie een van die twee leiers, Luigi di Maio van Vyf Sterre, en Matteo Salvini van Lega, vir die ander een wou terugstaan nie.
Di Maio het minister van buitelandse sake geword en Salvini minister van binnelandse sake. Al twee het ook vise- eerste minister geword.
Die samewerking tussen die twee partye het eintlik heel goed verloop en hulle het ’n nuwe selfvertroue teenoor die Europese Unie geopenbaar en ’n beleid van “Italië eerste” gevolg, byvoorbeeld in die fiskale beleid en in die vlugtelingspolitiek. Conte het die onervare di Maio en die volbloedpolitikus Salvini mooi uitgebalanseer. Veral Salvini het onverpoosd voortgegaan om sy party se nasionalistiese beleid onverdund toe te pas en het die getal onwettige immigrante drasties verminder. Hy het seker die bekendste politikus van Italië geword. Vir linkses is hy die duiwel omdat hy vlugtelingskepe verbied het om in Italië aan te land. Om dieselfde redes het hy onder regses heldestatus verwerf. In sy eie land het sy aksies hom ontsettend gewild gemaak, terwyl di Maio en die Vyf Sterre Beweging nie veel hond haaraf kon maak nie. Dit terwyl hulle eintlik die senior vennoot in die koalisie was.
Salvini was ook ʼn voorvatter van ’n Europese regse alliansie vir die verkiesing tot die EU-parlement en het vir Lega ’n merkwaardige sukses behaal. Trouens, die magsverhouding tussen Lega en Vyf Sterre was ná die EU-verkiesing einde Mei vanjaar net mooi omgeruil teenoor die laaste Italiaanse verkiesing in Maart 2018: 34% vir Lega en 17% vir Vyf Sterre.
Dit, asook sekere onvermydelike wrywings en irritasies in die koalisie, veral oor fiskale beleid, moes Salvini oortuig het dat die tyd nou ryp is om na die hele mag te gryp: hy het, nogal midde-in die somervakansie, aangekondig dat hy die koalisie sal beëindig, met effens gefabriseerde griewe as rede.
Conte het woedend sy bedanking as eerste minister ingedien en die verhouding tussen die twee koalisievennote is onherstelbaar beskadig. Salvini se hoop is dat dinge vlot en in sy guns sal verloop: die regering sou ontbind en ’n nuwe verkiesings spoedig plaasvind, terwyl Lega op die golf van sukses ry. Lega sou wel geen volstrekte meerderheid kry nie, maar as regse blok saam met Forza Italia en Fratelli d’Italia, aldus die verwagting.
Altans, in die politiek gebeur dikwels die onverwagse. Die besluit oor ’n nuwe herverkiesing lê by die staatspresident, Sergio Mattarella, geen vriend van Salvini en Lega nie. Pleks van ’n verkiesings, lyk ’n oorgangsregering nou meer waarskynlik – moontlik tussen die Vyf Sterre en die linkse Demokratiese Party, die amptelike opposisie.
Of Salvini sy momentum buite die regering en sonder die pos as minister van binnelandse sake (wat hom soos ’n handskoen gepas het) sal behou, is ’n ope vraag.
Malema is ‘n populis. Hierdie mense is nasionaliste.