Ja, Trump is steeds die nie-gunsteling, maar…

Pres. Donald Trump. (Foto: Cory Morse, AP)

Hoe het Donald Trump die Amerikaanse verkiesing in 2016 gewen? Daar het hoofsaaklik vyf dinge gebeur. Eerstens het heelwat Demokrate, wat in 2012 nog vir Barack Obama gestem het, in 2016 tuisgebly. Dit sluit veral jongmense soos studente en swart kiesers in. Een voorbeeld is die stad Detroit in Michigan waar 60 000 minder swart mense – die meeste van hulle getroue Demokrate – gestem het. Trump het Michigan met slegs 10 900 stemme gewen.

Tweedens het Trump die eerste Republikein sedert Ronald Reagan geword wat ʼn meerderheid van die bloukraag-werkersklas se stemme in die ou vervaardigingsgordel van die VSA van Pennsilvanië deur Ohio, Indiana, Michigan en Wisconsin kon wen. Die derde rede was Trump se ongelooflike sterk afsluiting van sy veldtog. Ontledings ná die 2016-verkiesing het getoon dat Trump meer as 50% van kiesers wat in die laaste dae van die veldtog eers hul keuse gemaak het, se stem gekry het.

Trump het ook 4% meer steun as Hillary Clinton van onafhanklike kiesers, kiesers wat nie as Demokrate of Republikeine identifiseer nie, gekry. Vyfdens kon Trump daarin slaag om, ten spyte van groot verdeeldheid in sy party, steeds 88% van die Republikeine te oortuig om vir hom te stem. Sowat 89% van die Demokrate het vir Hillary Clinton gestem. Afvallige Republikeine wat teen Trump se kandidatuur gekant was, was heelwat minder as wat baie mense verwag het.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Trump sal vanjaar in baie opsigte dieselfde moet regkry indien hy tot ʼn tweede termyn herkies wil word. Hoewel Joe Biden se veldtog ʼn baie ruim begroting tot sy beskikking het en in die meeste beslissende deelstate drie tot vier keer meer televisie-advertensies as die Trump-veldtog koop, was die Biden-verkiesingsveldtog die afgelope week selfs meer onindrukwekkend as dié van Hillary Clinton in 2016.

Terwyl Trump twee tot drie groot verkiesingsbyeenkomste per dag reg oor die land toespreek en tussen 80 000 en 100 000 mense in totaal per dag by hierdie byeenkomste opdaag, het Biden die afgelope week slegs elke tweede dag ʼn byeenkoms gehou wat gekenmerk is deur klein gehore, min energie en met ʼn boodskap wat grootliks oor die gevaar van ʼn tweede Trump-termyn handel.

Daar is duidelik groot selfvertroue onder die Demokrate dat hulle eintlik reeds die verkiesing gewen het. Meer as die helfte van die totale getal kiesers wat vanjaar gaan stem, het reeds deur vroeë stemme by distrikskantore of deur posstemme hul kruisie getrek.

Tradisioneel is die meeste mense wat vroeg gaan stem of deur posstemme stem Demokrate. Die Republikeine was in die verlede nog altyd geneig om eerder op stemdag self te gaan stem. Vanjaar is natuurlik anders weens die Covid-19-pandemie, maar daar word steeds verwag dat baie meer Republikeine Dinsdag eers hul kruisie sal gaan trek.

(Foto: AP Photo/Mark Humphrey)

Tot dusver was breedweg 50% van mense wat vroeg gaan stem het geregistreerde Demokrate, 30% geregistreerde Republikeine en die res onafhanklike kiesers of kiesers wat met kleiner partye identifiseer. ʼn Mens moet egter versigtig wees om té veel hierin te lees. In verskeie deelstate, waarvan Pennsilvanië ʼn goeie voorbeeld is, stem honderde duisende Demokrate vir jare reeds vir Republikeinse kandidate.

Die tipiese demografiese tendens in die VSA is dat jonger mense oorweldigend die Demokratiese Party ondersteun, maar dat baie mense veral in hul 40’s vir Republikeinse kandidate begin stem. Wanneer jy byvoorbeeld op 18 of 20 as kieser gaan registreer, registreer jy as Demokraat, maar teen die tyd wat jy 45 is, stem jy vir ʼn Republikein sonder dat jy jou registrasie gaan verander het.

Wat egter duidelik is, is dat die Demokrate baie sterk staatmaak op hul huidige voorsprong in die vroeë stemme. Hierdie voorsprong het egter oor die afgelope paar dae reeds heelwat gekrimp. Twee weke gelede was slegs 25% van vroeë kiesers geregistreerde Republikeine. ʼn Paar dae gelede het dit reeds tot 33% gestyg.

Die Demokrate maak dus staat op die sterk afkeer vir pres. Trump wat omtrent die helfte van alle Amerikaanse kiesers het. Hulle glo dat hierdie kiesers se afkeer in Trump, gepaardgaande met ʼn enorme advertensieveldtog vanjaar meer kiesers na die stembus gaan stuur om vir Biden te stem as wat in 2016 die geval vir Clinton was.

Joe Biden en Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Biden se veldtog het bekend gemaak dat hulle oor die laaste sewe dae van die veldtog U$51 miljoen aan televisie-advertensies bestee. Daarteenoor het die Trump-veldtog U$11 miljoen se televisie-advertensies gekoop.

Die Trump-veldtog se hoop op ʼn oorwinning is op entoesiasme in die laaste dae van die veldtog gebou. Entoesiasme verhoog die stempersentasie onder tradisionele ondersteuners van die party en verhoog ook vrywilligers se betrokkenheid by pogings om kiesers op stemdag by die stembus te kry.

Terwyl Trump al groter fanatiese skares na sy byeenkomste lok, hoop hy en sy veldtogbestuur dat hierdie mense die Republikeine wat twyfel of hulle weer vir Trump moet stem na die party sal teruglok, terwyl onafhanklike kiesers en konserwatiewe Demokrate na Trump toe geswaai kan word soos wat die geval in 2016 was.

In belangrike deelstate soos Pennsilvanië, Michigan, Wisconsin en Florida is daar enorme entoesiasme vir Trump. Dit kan meebring dat die stempersentasie onder Republikeine tot Dinsdag nog die hoogte kan inskiet. Om ʼn oorwinning vir Trump te bewerkstellig, moet meer Republikeine as Demokrate eenvoudig gaan stem; moet onafhanklike kiesers in die doodsnikke van die veldtog weer na hom toe swaai; en moet Biden se oncharismatiese en flou veldtog genoeg Demokrate afgesit het om te gaan stem. Soos in 2016 benodig Trump ʼn perfekte storm om te wen. Dit lyk tans na ʼn groot en moeilike uitdaging, maar ʼn Trump-oorwinning Dinsdag is heeltemal moontlik.

Amerikaanse buitelandse beleid ná die verkiesing

Bill Clinton. (Foto: Democratic National Convention via AP)

Amerikaanse presidente wat tot ʼn tweede termyn verkies word, is in hul tweede termyn geneig om meer op buitelandse beleid en skakeling te fokus as tydens hul eerste termyn. So het Bill Clinton in sy tweede termyn baie aandag aan konflik in die Balkan gegee en ernstige pogings aangewend om vrede tussen Israel en die Palestyne te bewerkstellig.

Pres. George W. Bush se tweede termyn is gekenmerk deur die oorloë in Irak en Afganistan en ook deur onderhandelinge om vrede tussen Israel en die Palestyne te bereik. Obama het in sy tweede termyn die omstrede Parys-klimaatooreenkoms onderteken en het saam met ander lande ʼn kernooreenkoms met Iran gesluit, terwyl hy ook by konfliksituasies in Sirië en Libië betrokke geraak het.

Internasionale suksesse verleen prestige aan die nalatenskap van ʼn president. Hoewel die meeste dinge anders werk met pres. Trump, kan ʼn mens steeds verwag dat hy ook heelwat aandag aan buitelandse beleid sal gee as hy tot ʼn tweede termyn verkies sou word.

Tydens ʼn tweede Trump-termyn sal hy waarskynlik probeer om China finaal in ʼn hoek te dryf deur dié land verder in Asië te isoleer en deur die Chinese ekonomie ʼn knou te gee deur ʼn handelsoorlog. Trump hoop waarskynlik om wesenlike handel- en ander toegewings van die Chinese af te dwing. Intussen sal Trump die VSA nog nader aan Indië posisioneer en ook groter steun aan Taiwan verleen.

Donald Trump, president van die VSA. (Foto: Alex Brandon/AP)

Trump kan tydens ʼn tweede termyn verdere druk op Europese leiers plaas om hul militêre besteding te vergroot, terwyl hy die VSA se bande met Brittanje deur ʼn handelsooreenkoms sal wil versterk.

Trump sal ook verdere druk op Arabiese lande uitoefen om hul bande met Israel te normaliseer. Die groot vraag is wat Trump met Rusland gaan doen, en of hy bereid sal wees om die risiko te neem om direk met Wladimir Poetin te skakel in ʼn poging om die verhouding tussen die VSA en Rusland te normaliseer.

Sou Biden die verkiesing wen, sal die VSA se buitelandse beleid grootliks terugkeer na die Obama-era se globalistiese benadering van multilaterale reëlgebaseerde benaderings tot globale uitdagings. Dit sal ook beteken dat die VSA hom weer sterk sal verbind tot die Verenigde Nasies en sy verskeie filiale.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jacobus ·

Goeie opsomming. Mens kan sien jy is nie HSM-gedrewe nie. Met J o aan die stuur gaan daar weer gepoog word om die VSA se familie juwele te verkwansel vir persoonlike gewin. Vader Behoede die VSA.

Paul ·

Besondere insiggewende artikel. Miskien moet ek my “Vrye Weekblad” lidmaatskap heroorweeg.

Chris ·

Paul waarom het jy in die eerste plek op Vrye Weekblad ingeten?

FrankfromCpt ·

Een van die mees insiggewendste en gebalanseerdste artikels oor die verkiesing in VSA wat ek nog in die plaaslike media gelees het.
By oppervlakkige Netsnert24 vra hul bloot of Trump die antichris is

Therese ·

Puik, soos altyd!

“VSA: Nuwe kiesstelsel nodig”- Jaco Kleynhans
Dié opskrif in die betaalkoerant het opgeval en ietwat teleurgestel.
Gelukkig nie ‘n leser daar nie.

Dewald ·

Baie interessante artikel met skerp insigte.

Wanneer skryf Nico Stegmann weer vir ons? Vier jaar terug was hy die een wat die moed van sy oortuiging gehad het om te skryf dat Trump sal wen en hoekom en hy was redelik ‘spot-on’.

Therese ·

Sal dit waardeer as Jaco Kleynhans, op die vooraand van die verkiesing, aan sy Maroela-lesers ook sal duidelik maak óf hy van mening is dat die Amerikaanse kiesstelsel moet verander, en waarom.

Die kieskollege-stelsel verhoed die oorheersing van groot stede oor kleiner gemeenskappe.
Dit is by verre meer demokraties as die een party-oorheersing in Suid-Afrika.

Miljoene Amerikaners is nog al die jare tevrede met die Grondwet deur die Stigtingsvaders daargestel.
Moet reëls verander wanneer die ‘gunsteling’ nie wen nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.