Jacaranda se Tumi-sage: 1989 – die ander kant van die saak

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die opmerkings van Jacaranda FM se Tumi Morake, is tekenend van die proses waardeur die ANC se “meesterverhaal” die amptelike meesterverhaal van die land gemaak word. Volgens hierdie selfgeskepte ANC-meesterverhaal, is die verlede én die toekoms baie eenvoudig die verhaal van rassistiese wit skurke en swart onderdrukte helde. Witmense het swartmense in die verlede boosaardig verdruk, en hulle moet in die toekoms nou daarvoor boet. Maar dan moet hierdie meesterverhaal eers deur swart en wit erken en aanvaar word, sodat dit in die praktyk gestalte kan kry. Witmense moet hulle plek leer ken. Vandaar die propaganda van mense soos Tumi Morake. Marx het immers gesê die “idees van die regerende klas word die regerende idees van die samelewing”.

Hele verlede

Maar die verlede is nie so eenvoudig as wat die ANC en ander aktiviste wil toegee nie. As ons oor die verlede wil praat, moet ons oor die héle verhaal praat, en nie net oor die ANC se helfte daarvan nie.

Kom ons vat net een jaar, soos 1989, uit die geskiedenis om makliker te kan verduidelik dat die saak twee kante het. Die NP van oudpres. PW Botha word deesdae alleen verantwoordelik gehou vir die politieke doodloopstraat van die tagtigerjare. Daarteenoor word die ANC se rol in die destydse vertraging van ’n grondwetlike skikking totaal onderspeel.

Die ANC se uitgesproke strategie was destyds om nie aan politieke onderhandelinge deel te neem voordat die regering só verswak was dat die gesprekke net oor die oorhandiging van mag sou gaan nie. Die party het destyds nog grootskaalse steun van die Sowjetunie geniet en is eers tot onderhandelinge gedwing toe kommunisme in duie gestort het. Die Koue Oorlog het vuurwarm in Suid-Afrika gewoed.

Rewolusionêre oorname

Die beste bewys van die ANC se aandeel in die politieke stagnasie was die ontmoeting van dr. Van Zyl Slabbert met die ANC in 1985. Daar het die ANC bevestig dat die gewapende stryd steeds sy amptelike beleid was. Onderhandeling is gesien as ’n proses waartydens die (verslane) regering die mag aan die seëvierende “demokratiese magte” sou moes oorhandig.

Die ANC het ook nie destyds geveg vir ʼn grondwetlike demokrasie, menseregte en ʼn vrye ekonomie nie. Sy uitgesproke doel was om met ʼn rewolusionêre oorname ʼn “Oos-Duitsland in Afrika” te vestig. Mens kan maar net kyk wat van menseregte, burgerlike vryhede en ʼn moderne ekonomie in al die ander “demokratiese volksrepublieke” geword het waar die ANC se medebevryders hulle sin gekry het.

Die laaste uitgawe van die ANC-blad Sechaba in Desember 1990 was steeds gedruk deur die Erich Welnert-pers van die Oos-Duitse geheime polisie, die Stasi. Op die voorblad was ʼn foto van hulle onversetlike Kommunistiese president, Erich Honecker. Die redaksionele kommentaar gaan oor die goeie ANC-Oos-Duitse verhoudings, en betreur die verlies wat die ANC ly met die verdwyning van die Kommunistiese regime in Oos-Duitsland.

Hervorming teen rewolusie

Die Botha-regering het geen sin daarin gesien om in sulke omstandighede te onderhandel nie, omdat dit net tot die verwoesting van die land sou lei. Daarom het hulle ʼn vierbeen-strategie gevolg om die dooiepunt te verbreek. Die eerste been was die stelselmatige aftakeling en hervorming van die apartheidsbestel. Die tweede stap was die begin van ʼn proses van onderhandeling om gematigde swart mense in die regering te begin betrek. Die derde stap was om met grootskaalse swart ontwikkelingsprojekte en ekonomiese opheffing swart mense se lewe te verbeter. Die vierde been was om met die afkondiging van ʼn noodtoestand die rewolusionêre toestand wat in dele van die land geheers het te onderdruk.

Die doel hiervan was om ʼn vreedsame klimaat te probeer skep vir die hervormings om te werk, en met onderhandelings te begin. Hierdie strategie van die NP is bemoeilik deur die verskerping van die ANC se “People’s War”, wat op ʼn gewelddadige oorname en die sabotering van vreedsame hervorming gerig was.

Die Botha-regering se strategie om demokratiese swart plaaslike regering in te stel, het bykans totaal misluk deur ANC-gesinde ontwrigting en selfs gewelddadige aanvalle op die raadslede. Jare lange belastingboikotte het ook die beskikbare geld vir die ontwikkelings van hierdie gebiede gekortwiek, om nie van die skoolboikotte se verwoesting van swart onderwys te praat nie. Die IVP-leier, mnr. Buthelezi, het die ANC vergeefs gewaarsku dat daardie strategie om die land onregeerbaar te maak, gaan veroorsaak dat die land ná die ANC se oorname steeds onregeerbaar sal wees.

Vanuit die Botha-regering se gesigspunt het die ANC se weiering om te onderhandel voordat die magsbalans in sy guns was, die gepaardgaande geweld en terreur, kommunistiese beleid, alliansie met die Kommunistiese Party en noue verbintenis met die Sowjetunie, onderhandelinge wensdenkery gemaak. In die tagtigerjare was sowat driekwart van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee lede van die SAKP.

Geweld

Teen middel 1990 het die geweld in die land onheilspellende afmetings aangeneem. Dit het gespruit uit die ANC se veldtog om mededingende swart groepe uit te skakel om só sy bedingingsposisie by ’n onderhandelingsproses te versterk.

Die ANC se aandeel in die politieke geweld word vandag totaal onderspeel. In April 1992 het regter Goldstone ’n verslag uitgereik waarin hy tot die gevolgtrekking kom dat die “primêre oorsaak” van die geweld die “politieke stryd tussen ondersteuners van die ANC en die IVP” was. Vanaf September 1984 tot April 1992 is 455 mense deur die polisie gedood, teenoor 8 825 deur die opstandelinge. Altesaam 801 mense is lewend deur rewolusionêre aan die brand gesteek en verbrand.

Daar word deesdae aanvaar dat die noodtoestand en onderdrukkende maatreëls van die tagtigerjare bedoel was om swart mense te onderdruk en ortodokse apartheid in stand te hou. Maar die werklike doel was om wet en orde te handhaaf om vreedsame onderhandelinge moontlik te maak. So teenstellend soos dit mag klink, was die doel van die noodtoestand nie om apartheid af te dwing nie, maar om die omstandighede te skep om apartheid af te skaf.

ANC-aandeel in probleme

Dit kan nie betwis word dat die Botha-regering belangrike foute begaan het nie, maar die ANC se aandeel in die doodloopstraat kan nie oorgesien word nie. PW Botha was beslis nie die enigste “Krokodil” nie! Die vraag kan gevra word of die land nie ʼn groot deel van die konflik van die tagtigerjare gespaar kon wees, as die ANC self ʼn paar hervormings aan sy beleid en strategie aangebring het nie. Hier kan gedink word aan die verbreking van sy bande met die Kommunisme en die Sowjetunie, die afswering van geweld, die aanpassing van beleid om vir die outonomie van kultuurgroepe voorsiening te maak, en aanvaarding in goeie trou van die Botha-regering se aanbod om te onderhandel.

Die ANC het egter ’n ander pad gekies en die strategie om die land onregeerbaar te maak dra nou nog wrange vrugte, soos mnr. Buthelezi gewaarsku het. Die ANC-in-regering sit inderdaad met baie van die probleme wat die ANC-in-struggle help skep het.

Kyk mens na die huidige radikalisering van die ANC, kan mens nie anders as om te vra of mnr. PW Botha dan heeltemal verkeerd was om die ANC te wantrou. Nee, ek verlang nie terug na die verlede onder PW Botha se NP-regering nie, maar ek sien ook nie uit na die toekoms onder die Zuma-ANC nie! Daarom is die oplossing om eerder deur die “voorruit” as die “truspieël” te kyk as ons die land vorentoe wil vat. Want dit is nie reg om wit mense te benadeel oor dinge wat voor hulle geboorte gebeur het, terwyl geen woord gerep mag word oor die onbillikhede wat nou gebeur nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Eish ·

Weereens Mnr. Buys, baie dankie vir die welkome perspektief wat ek ook byna vergeet het agv die oordonderende aanslag op die blanke deel van die bevolking tans. Afgesien van wie se navorsing wat sê, ons is midde-in n aanslag op ons voortbestaan.

Pierre ·

Baie dankie Flip vir nog ‘n insiggewende stuk kommentaar. Dit is so dat ons die NP blameer vir dit wat vandag gebeur, maar as ons vir een oomblik net objektief sal moeite doen en verder delf is daar ook ‘n ander deel wat ons beslis mis kyk. Persoonlik dink ek dat Buthelezi baie meer insig gehad het oor wat sou gebeur, ongelukkig was hy nie ‘n faktor gewees nie omdat hy as minderheid beskou was.

John ·

Die beeld wat die ANC deur die jare voorhou, die’ van ‘n verskriklike onderdrukte groep mensies deur wrede wittes wat hulle nie gun wat hulle s’n is nie, wil ten alle koste beskerm word. Die buitelandse strafkampe en die dood van baie van hul eie uitskieters, heel ontnugter deur agterbakse werkswyses, is onder die mat gevee. Nou weer hamer die ANC-topbestuur op geheimhouding; die interne hantering van probleme sodat die beeldsending na die wereld mooi en vlekloos bly. Sedert ou Jan se koms het die Europeers hierdie siek speletjie aangemoedig, nl die aftrap van mede-setlaars se bestaansreg om hul eie voet in die deur na beheer oor die gebied te verstewig. Kyk waar trek ons nou. Dr Philip hoof van die destydse Britse Sendinggenootskap het woede laat ontketen teen die Boere-trekkers met sy volgehoue leuens. Hy het glo teen sy einde ‘n visioen gehad van sy nalatenskap. Daar is ‘n digte gordyn getrek oor sy laaste woorde. Wat sou dit wees? Wat wel seker is, is dat ons nou sit met oorgaar gebakte pere van te baie jare in die te warm oond… En ons weet hoe lyk en ruik sulke ‘versuikerde’ heerlikhede wanneer alles oordoen is… G’n wonder nie dat die rommelhoop self gewalg word deur die SA-regering se daaglikse goor-geliegte slinkse spel en magsvergrype nie. Watter volgende plan voer hierdie roekelose kok nou in sy ou stink-geswete mou?

Piet Pompies ·

En hoe sal ALMAL mekaar se punt kan insien en die konteks verstaan as daar nie gepraat word daaroor?
(Verwys bv na bostaande baie insiggewende meningstuk – ek het iets daaruit geleer wat ek nie sou weet as die debat wat tans heers nie begin is deur Tumi nie)
So dis goed dat dialoog plaasvind, sodat opgekropte wanpersepsies hanteer kan word aan al die kante van die spektrum.

Anoniem ·

Persone het nie nodig om vanaf arrogansie iets te leer nie. Persone moet net n boek oopmaak en lees of hierdie is die 21ste eeu gaan lees berigte met relevante, vetroubare bronne. Nie die snert wat geskryf word op die media en sosiale netwerke nie.

Gatvol verby ·

Dankie Mnr Buys. Dit kon nie beter gestel gewees het nie. Ons kan net in geloof lewe, want ons dien ‘n lewendige God en ja, hulle kan ons liggaamlik verniel, maar ons gees behoort aan die Almagtige en Hy sal vir ons wag . Trots Afrikaner.

KOBUS ·

HOE MEER ONS KUBBEL OOR ALLES HOE ERGER WORD DIT .ONS MOET NET VERGEET VAN ALLES EN DIT HOU VER GESKIEDENIS, ONS VOEL ALMAL DIESELFDE OOR RADIKALISME ENS. MAAR ONS HET ONS KONING EN HY SAL SORG VIR ALLES

Domvraag ·

Sê die Bybel nie daars is tyd om te bid en n tyd van aksie. Dit beteken dat deur passief hande gevou te sit en sê laat dit oor aan die Koning is nie Bybels korrek of hoe?

Hoekom nie? ·

Ek stel voor.. vertaal die stuk in al die amptelike landtale, vergroot dit, versprei dit sodat almal van die “druppel in ‘n emmer” waarheid kan lees. Dis omdat mense oningelig is dat die arme beeld van die “verdruktes” nog erger lyk en gemaak word.

Benito Odendal ·

EEN TRILJOEN LIKES…..vir die stuk om vertaal te word….Rian het op expats wat buite SA woon ‘n belaglike post gaan maak….soos NET hy kan…..dit is verwyder maar weer is die skade gedoen…….NIKS soos in ABSOLUUT niks het te doen met Jacaranda se goeie dade in die gemeenskap as dit kom by DIE debat nie……die goeie dade is fantasties, dis ongelooflik ,dis sooooo wonnerlik…… MAAR WAARAGTIG…………It is totally and utterly pathetic to use the ” good ” to justify and shoving the constant white , Afrikaner and say sorry because you are normal garbage down listeners throats on a daily basis……Whites , Afrikaners and normal people are sick and tired and totally and utterly gatvol to be judged and labeled for every damn bad thing possible under the sun that race-baiters and leftists can come up with to create ,diversity , hate and opportunities to commit crime…………….. No matter how hard the ” normal ” lot try to cope with this liberal garbage , political correctness and constant race-besottedness and race-baiting……Who REALLY wants to be bashed every time you turn on the radio to listen to your favourite station…..’n Wors het darm waaragtig ALTYD 2 punte !!!!

1+1 ·

Mense lees nie meer sulke lang artikels nie. Daar moet ander maniere wees om die waarheid by mense te kry

Knikkebollen ·

Baie goeie arrikel Flip. Net ‘n paar algemene opmerkings:
1. Rian is ‘n Radio-boelie. ‘n Gemene een…
2. Jacaranda se liefdadigheid, is soos die klinkende simbaal van die Bybel- vir hulle gaan dit net oor die publisiteit en die volgende groot emosionele skouspel wat hulle skep uit die tragedie van een of ander arme mens se ellende.
3. Die media kan op niks meer aanspraak maak as om ‘vermaaklikheid’ te wees nie.
4. Regdeur die 80’s en 90’s tot nou, het die ANC die propaganda stryd gewen. As ons hierdie feite soos in hierdie artikle vervat, in die openbaar wil kry sal ons ‘n grootse ‘propaganda’ veldtog moet loods wat berekend genoeg is om nie as blote ‘white supremacy’ propaganda afgemaak te word nie.

Henry ·

Afgesien van Flip se artikel wat soos gewoonlik pitkos aan lesers verskaf, beskik Knikkebollen se kommentaar mynsinsiens ook oor al die waarhede wat aan ore geknoop kan word.

Oom Kosie ·

Dankie Flip. Ons het dit so nodig om gereeld stimulasie van die soort te kry, om nie moed op te gee nie. Ons moet asb Solidariteit en AfriForum se vermoens gebruik om bestek te neem en voorentoe te beplan. Akademia en Sol-tech is voorbeelde van ekonomiese planne wat werk om menslike kapitaal te skep. Ek dink aan mediese toerisme. Dis n geleentheid om werk te skep vir verpleegsters ens. Die Wes Kaap, waarheen so baie Afrikaners van Rustenburg verhuis, het nie myne nie, maar as die jeug as medici en toerisme werkers (kokke, gaste huise ens) opgelei kan word sal dit hoop skep in areas waar die regering se kwota 80,9,9,2 nie Afrikaner werkgeleentheid ontneem nie.

Sputnik ·

Baie dankie Flip vir nog ‘n insiggewende, uitstekende skrywe. Ek stem heelhartig saam met “Hoekom nie?” se kommentaar.

Susan ·

Vertaal en stuur aan almal.. so keel vol dat ek wn my kinders oor die kole gehaal Moët word omdat ons wit is. Ek het hul niks aangedoen nie…, inteendeel ons voor Ouers was baie arm en daarna almal het hul alies afgewerk vir wat hul het vandag…. maar hul ken net van staak en afbreek en nie opbou nie…. nie my en my kinders se skuld nie… weet van swaarkry en pas jou goed op

Theresa ·

Dankie Flip. Soos altyd is jou artikels deurspek met insig en waarheid.
GEEN volk kan gestraf word vir dinge gedoen in ‘n sekere tydsvak en era nie. Die afgelope 23 jaar is stampvol blamering en vingerwys na ‘n klein stuk geskiedenis. Terwyl daar in dieselfde 23 jaar geen noot gepiep word deur dieselfde vingerwysers van die wreedhede wat in die verlede, maar ook nou in die hede uitgevoer word onder elke vaandel wat nader gesleep kan word nie. Grashalm grypend. So ‘n regering sal nooit in der ewigheid sukses behaal nie. Mens kan hoop op regverdigheid en geregtigheid vir hede en toekoms. Tans is daar nie so iets in sig nie.

jaco ·

dis jammer die ANC het nie ‘n “Oos-Duitsland in Afrika” geskep nie. In Oos-Duitsland was die volgende goed total ONBEKEND:
Nkandla-tipe paleise vir die staatshoof
beurtkrag
slaggate in paaie wat amper nooit reggemaak word nie
staatshospitale met patetiese diens
plakkerskampe
swak onderwysstandaarde
gebrekkige openbare vervoer waarop mense gedurig aangerand en besteel word
en so kan my lys aangaan en aangaan en aangaan. Oos-Duitsland het wel nie godsdiensvryheid gehad nie, maar dit was n bitter klein prys om te betaal in ruil vir n land waarin al die ander goed behoorlik gewerk het. Selfs vandag nog verlang mense wat daar gebly het na “die goeie ou dae”

Jacques ·

Als hierdie kom voor in die Video “Tainted Hero’s” kyk gerus op youtube. Baie insiggewend. Mens is al soo oorval deur ‘n alternatiewe geskiedenis dat mens al die ware feite vergeet het ..

alwyn burger ·

Die oorsake van apartheid het sy oorsprong in die moord op Van Riebeeck se beeswagtertjie op Sondag, 19 Oktober 1653. ( Die eerste plaasmoord).
Ons is nog nie gereed om objektief te praat oor die oorsake van Apartheid nie. Wat logies is, is dat alles veroorsaak word. Apartheid is nie ingevoer van Holland nie. Dit is plaaslik vervaardig, Hoekom??

Ou Vlakvark ·

Die onmeetbare meerderwaardigheidskomplekse in die mens se denke kan hom uiterlik lelik vergestald in vele uitinge en gedaantes. Dieselfde geld vir diegene met minderwaardigheidskomplekse.
Net soos jy nie motiewe in die mens se denke direk kan meet of lees nie, netso kan jy nie meerderwaardigheidskomplekse en minderwaardigheidskomplekse in die mens se denke meet of lees nie. Baie mense met meerderwaardigheidskomplekse skaar hul by soortgelykes. Dieselfde geld vir baie mense met minderwaardigheidskomplekse. Hulle voel geborge in getalle: soort soek soort.

Marisa ·

Lanklaas so aandagtig ‘n meningstuk gelees. Wens méér mense kan dit onder oë kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.